As jy al vergeet het van van die ‘ouer’ programme op die ellelange lys benoemings vir vanjaar se Safta-toekennings, sal jy vergewe word. Vanjaar se toekennings is immers van Oktober verlede jaar na Maart vanjaar uitgeskuif, met die gevolg dat dit 18 maande (1 Januarie 2024 tot 25 Junie 2025) se reekse, flieks en dokkies is wat in aanmerking vir ’n beeldjie kon kom. Dís egter ’n uitsondering, met volgende jaar se pryse wat weer die gebruiklike 12 maande-raamwerk inspan met produksies wat tussen 1 Julie 2025 tot 30 Junie 2026 gebeeldsend is wat in aanmerking vir die 2027-pryse kan kom. Die besluit om die toekennings uit te skuif was weens herstrukturering by die Nasionale Rolprent- en Video-stigting (NFVF), wat die pryse aanbied.
Die toekennings word vanjaar vir die 19de keer toegeken en sal oor twee aande, 13 en 14 Maart 2026, uitgedeel word.
Hoogtepunte
kykNET is voor in die koor by vanjaar se pryse met ’n gros van 74 benoemings – die meeste vir ’n lineêre kanaal. Daaronder tel ses benoemings vir Binnelanders, waaronder vir Hykie Berg en Je-Ani Swiegelaar se toneelspel, asook ses vir Suidooster, onder meer vir beste draaiboek en beste regie vir ’n sepie.

Niggies spog met sewe benoemings waaronder vir beste TV-drama, beste kostuums in ’n TV-drama (Mariechen Vosloo), en beste kunsregie (Rocco Pool). Pool is in dieselfde kategorie vir sy kunsregie vir M-Net se Recipes for Love and Murder benoem.

Die hoogs aangeskrewe reeks Nêrens, Noord-Kaap het vier benoemings ontvang waaronder vir Marion Holm vir beste vroulike byspeler en vir Frank Opperman vir beste akteur in ’n TV-drama.

Die heerlike kykNET-komedie uit die pen van Desiré Gardner, Magda Louw, het vyf benoemings ingeryg – een daarvan is juis vir beste draaiboek, terwyl Gardner en Hannes van Wyk ook albei vir hul toneelspel benoem is. Dié reeks is ook vir beste TV-komedie benoem.

Die uitstyger wat TV-komedies betref was egter die Showmax-reeks Mince Jou Hare met 11 benoemings, waaronder vir beste TV-komedie en beste draaiboek (Shimmy Isaacs en Tristram Atkins), asook asook benoemings vir akteurs Bianca Flanders en Lee-Ann van Rooi.
Verbasend het die briljante Koek net een benoeming – Loki Rothman vir beste oorspronklike liedjie in ’n TV-drama – ontvang. Só ook is net Celeste Loots uit die Wyfie-stal vir dié telenovela se uitmuntende toneelspel benoem.
Sê jou sê
Kykers kan ook hul stem laat hoor, maar net in een kategorie: stemlyne sal na verneem word binnekort oopgestel word vir kykers om te stem vir hul gunsteling-sepie of -telenovela. Kykers kan stem vir enige van die volgende:
- Amalanga Awafani (Stained Glass TV)
- Arendsvlei (Penguin Films)
- Binnelanders (Stark Films)
- Blood Legacy, seisoen 1 (Gambit Films)
- Champions (Tshedza Pictures)
- Diepe Waters (Penguin Films)
- EMPINI (Crystal Pics TV)
- Generations: The Legacy (MMSV Productions)
- GENESIS (Singavision Productions)
- GQEBERHA: The Empire (Tshedza Pictures)
- House of Zwide (The Bomb Shelter Film Company)
- Isiphetho: Destiny (Black Brain Pictures)
- Inimba, seisoen 1 (The Milton Empire)
- Isitha: The Enemy (Black Brain Pictures)
- IThonga (Tshedza Pictures)
- Kelders van geheime, seisoen 1 (KFilms)
- Queendom (Clive Morris Productions)
- Reënboogrant (Sonvelt Media)
- Scandal! (Ochre Media)
- Skeem Saam (Peu)
- Skemergrond (Penguin Films)
- Smoke & Mirrors (The Final Chapter Productions)
- Suidooster (Suidooster Films)
- Wyfie (Homebrew Films)
- Youngins (Tshedza Pictures)
- UZALO (Stained Glass TV)