Wanneer daar sensitiewe storielyne in die gewilde sepie Suidooster getakel word, weet kykers dat dit met uitstekende navorsing gepaard sal gaan. Soos dit ook nou onlangs die geval was met die borrelende Angie (Char Carrie) wat in ’n toksiese verhouding met Tristan (Arno Greeff) gewikkel was.
Geslagsgeweld, persoonlikheidsprobleme en vurige gevaarligte in verhoudings is iets waarmee talle mense daagliks in ons land te doen kry. En dit tref hulle gewoonlik wanneer dit amper te laat is.
Juis daarom was dit van die begin af vir Char baie belangrik dat die storielyn met respek hanteer moes word omdat dit ’n baie sensitiewe en aktuele onderwerp is.

Terloops het vir haar oor dié storielyn uitgevra:
Die storielyn handel oor geslagsgeweld en emosionele manipulasie, kwessies wat ongelukkig vir baie kykers werklikheid is. Hoe het jy jouself emosioneel en geestelik voorberei om reg te laat geskied aan so ’n sensitiewe onderwerp?
“Hierdie was nie ’n storielyn wat ek blindelings getakel het nie. Ek het hope navorsing vooraf gedoen en het seker gemaak dat ek vertroud is met hoe mense in soortgelyke situasies sou optree. Narsisme was natuurlik een van die onderwerpe waaroor ek baie opgelees het.
“Reaktiewe mishandeling volg ook in gevalle waar mense mishandel word – hul reaksie daarop kan selfs wees dat hulle sélf mense begin mishandel en soms kom dit voor asof hulle eintlik die een is wat mishandeling van meet af aan uitgedeel het.
“Kykers sal byvoorbeeld die toneel onthou waar Angie en Tristan in ’n hewige woordewisseling betrokke is. Dis dan juis sy wat op hom skree dat hy nie weet wat sy wil hê nie. Waar ander mense soms ’n onderdanige houding sal inneem, was Angie reaktief. Ja, daar is so baie emosies.”
Hierdie word as jou uitdagendste storielyn nóg in Suidooster beskou. Wat het deur jou gedagtes gegaan toe jy die draaiboek gelees het en besef op watter reis Angie moes gaan?
“Ek was werklik opgewonde oor die uitdaging om Angie in hierdie situasie te vertolk want ek dink sy’s ’n lieflike karakter… Die borrelende een wat gereeld vir komiese oomblikke gesorg het. Dit was vir my ’n belangrike uitdaging om hierdie storielyn onder die knie te kry, deels omdat dit my vermoëns as aktrise uitgelig het, maar ook omdat ek nog altyd daarvan gehou het om stories te vertel, veral stories wat met my resoneer.
“Daarom is ek as ’n vrou so geseënd dat ek met hierdie storielyn toevertrou is en dat ek Angie se storie kon vertel.”
Angie het ’n uitsonderlike transformasie in hierdie storielyn ondergaan. Hoe het jy as aktrise ’n karakter uitgebeeld wat geleidelik in ’n toksiese verhouding en geslagsgeweld vasgevang word?

“Ek wou reg laat geskied het aan die storielyn en hoop dit het reg van my kant af oorgekom. Ek het waardering daarvoor gehad dat die storielyn nie baie vinnig ontwikkel het nie. Daarom moes ek baie seker maak dat elke toneel waarin Angie verskyn het, ook haar emosies en reaksies uitgebeeld het rondom dit wat besig was om met haar te gebeur.
“Soos byvoorbeeld die situasie waar Angie vir Riaan (Daniel Coetzee) gesoen het en hoe daardie klein gebeure oorgespoel het in die volgende groot gebeure. Dit het nie net alleen ’n impak op Tristan (Arno Greeff) gehad nie, maar ook van die ander karakters in Angie se sfeer. Hy wou byvoorbeeld nie met Reggie (Ettienne Gertse) praat nie, en dit het weer ’n impak gehad op die vriendskap tussen Reggie en Gary (Craig Adriaanse).
“Ek moes tred hou met alles wat vooraf gebeur het en hoe dit my as Angie laat voel het. Hierdie gevoelens moes ek in nuwe tonele inbou want dit was belangrik om vir die kykers te weerspieël wat die impak van Tristan se gedrag teenoor Angie was. Soos byvoorbeeld hoe mense wat in so ’n toksiese verhouding betrokke is, kan verander.”
Kykers het baie te sê gehad oor hoe hartseer dit was om te sien hoe Angie haar selfvertroue en haar menswees verloor het. Wat hoop jy sal kykers, veral diegene wat soortgelyke patrone in hul eie lewens ervaar, uit hierdie storielyn kan leer?
“Dit kan jou hart breek wanneer jy iemand sien wat eens sterk en vol selfvertroue was en nou skielik ‘klein’ en onderdanig optree. Omdat dit so ’n alledaagse gebeurtenis is, hoop ek werklik hierdie storielyn het mense se oë laat oopgaan.
“Baie van die vroue na wie ons opsien, is werklikwaar sterk mense. Maar dit is geensins onmoontlik vir iemand met Angie se karakter om by so ’n toksiese verhouding betrokke te raak nie.
Ek vind sommige van die kommentaar in die sosiale media vreemd… dis nou die mense wat Angie onnosel noem en kliphard wonder hoe kan sy wees soos wat sy is. Dís heel waarskynlik waarom baie vroue in soortgelyke situasies nie daaroor praat nie, want hulle voel onnosel omdat mense daardie etiket om hul nekke hang. Mense wat hulself nog nie in ’n soortgelyke situasie bevind het nie, lewer so maklik kommentaar…
Char Carrie
“Tydens ’n gesprek met ons vloerbestuurder het ons gewonder hoe iemand soos Angie wel in hierdie situasie beland het. Wat het in haar eie lewe gebeur dat sy gevoel het sy verdien die slegte behandeling waaraan Tristan haar onderwerp het?
“Sy was verlief op Wade (Dean John Smith), maar hy het eintlik nie baie van haar gehou nie. Hy was op sy beurt verlief op Zoë (Lauren Joseph). Toe daag Reggie op, maar hy het besluit om in Namibië te bly eerder as saam met haar. En sy’t geglo Lady Lillian (Michele Maxwell) was haar ouma, iemand wat bloedfamilie was en vir haar omgegee het. Toe die skok dat dít nie die waarheid is nie, en daar is Angie weer stoksielalleen op haar eie.

“Toe Tristan op die toneel verskyn het, was sy bewus van sy obsessie. Dit het haar egter nie ontmoedig nie want dit was baie maklik vir iemand in haar skoene om daardie obsessie met liefde te verwar.
“Ek vind sommige van die kommentaar in die sosiale media vreemd. Dalk nie skokkend vir almal nie, en ek vermoed dis maar hoe onse wêreld werk – dis nou die mense wat Angie onnosel noem en kliphard wonder hoe kan sy wees soos wat sy is. Dís heel waarskynlik waarom baie vroue in soortgelyke situasies nie daaroor praat nie, want hulle voel onnosel omdat mense daardie etiket om hul nekke hang. Mense wat hulself nog nie in ’n soortgelyke situasie bevind het nie, lewer so maklik kommentaar dat dit nie veel kos om iemand net te los nie. Of dat dit ewe maklik is om na haar vriende Kaashifa (Jawaahier Petersen) en Frankie (Mienke Ehlers) te luister . . . Maar dit is nie.
“Ek is verstom dat soveel mense daarbuite onbewus is van die impak van geslagsgeweld en wat dit werklik behels, alhoewel dit ’n globale kwessie is. Ons het weliswaar nog net die oortjies van die seekoei hier aangeraak.”
As ’n permanente aktrise op die stel het jy Angie reeds deur verskeie fases van haar lewe oor die jare uitgebeeld. Hoe het hierdie storielyn jou begrip van die karakter verdiep en het dit verander oor hoe jy na haar kyk?
“Ek weet wie Angie is en die storielyn laat mense in allerhande rigtings ontwikkel. Jy is wie jy is vandag, maar môre kan jy waarskynlik iemand anders wees, want môre kan jou dalk verander. Ervarings verander mense, en hierdie ervaring het werklik vir Angie verander.”
Om so na aan Arno te werk tydens intense tonele moes ’n hoë mate van vertroue vereis het. Hoe belangrik is samewerking en kommunikasie voor die kamera en agter die skerms wanneer daar so ’n gewigtige onderwerp getakel word?

“Wat die storielyn self betref, glo ek daar kon nie ’n beter akteur as Arno gewees het om die rol van Tristan te vertolk nie. Dit was werklik ’n ongelooflike ervaring om saam met hom te werk. Ons het van die begin af baie gepraat oor hoe belangrik hierdie storielyn is en dat ons albei dit met die grootste respek wou aanpak. Ons wou sáám hierdie storie vertel.
“Ek het so veilig gevoel, selfs wanneer van die tonele ’n bietjie rof was. Ja, ek glo ons het altwee sterk emosies ervaar wanneer daardie tonele geskiet is, maar die produksiespan het ook daartoe bygedra dat ek baie veilig gevoel het. Daar is deurentyd op die stel seker gemaak dat ons oukei is en daar is nie sommer net aanbeweeg na die volgende skote nie.
“Dit was hard, dit was hectic en dit was baie emosioneel – allesbehalwe maklik. Dit sou nie gewees het wat dit was sonder Arno se bydrae nie.”
As jy nou terugkyk, wat het Suidooster vir jou groei as aktrise beteken en hoe het dit jou loopbaan gevorm?
“Ek waardeer altyd die storielyne wat ek van Suidooster ontvang. Ek voel of ek deurentyd meer kan leer en ook daarvan werk maak om beter te wees.
“My eerste ernstige storielyn was toe ek en Wade se verhouding tot ’n einde gekom het. Hierdie een met Arno was my tweede, en ek glo dit mag dalk my gunsteling vir altyd wees.”
Het jy raad oor uithouvermoë, voorbereiding en hoe om getrou aan jou self te wees vir aspirant-aktrises?
“Die bedryf waarin ek myself bevind, is nie ’n maklike een nie. Solank jy jouself gereeld daar buite sit deur gewillig te wees om na soveel oudisies te gaan as wat daar is, sal mense jou raaksien. Bly net getrou aan dit wat jy werklik wil doen.
“Hoekom wil jy toneelspeel en wat wil jy daarmee bereik? Wéét wat dit is en dit sal jou dryf.”
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.