Menu terloops
In Onderhoude [14 Jan 2026]

Gehate Suidooster-karakter oor omstrede storielyn: ‘Ek hoop om bewusmaking te skep’


“Tristan is loshande die uitdagendste karakter wat al aangepak het… Ek hoop werklik dat ons deur hierdie storielyn ’n diepe bewusmaking aanwakker rondom die werklikheid van geslagsgeweld,” vertel die akteur Arno Greeff.

Gehate Suidooster-karakter oor omstrede storielyn: ‘Ek hoop om bewusmaking te skep’

Suidooster skroom nie om storielyne oor moeilike onderwerpe, wat dikwels ongemaklike gesprekke of ’n taboe in die samelewing is, aan te pak nie. Só het dié kykNET-sepie al die tonge behoorlik laat klap met uiteenlopende storielyne oor onder andere poligamie, dobbelverslawing, skelm predikers en nageboortelike psigose.

Tans sien kykers hoe die eens borrelende Angie (Char Carrie) in ’n toksiese verhouding met Tristan (Arno Greeff) vasgevang word. In dié storielyn, wat ook op geslagsgeweld fokus, ondergaan Angie ’n gedaanteverwisseling en verander sy in iemand wat nou baie teruggetrokke is as gevolg van Tristan se ongesonde houvas oor haar. 

Arno, wat veral bekendheid in Getroud met Rugby verwerf het, vertel meer oor sy karakter, die storielyn en hoe hy kykers se reaksie hanteer.

Hoe sal jy jou karakter Tristan beskryf?

“Tristan is ’n sjarmante man wat doelgerig oorkom en dis ook hoekom Kaashifa (Jawaahier Petersen) hom as die bestuurder van Oos-Wes aangestel het. Hy weet hoe om mense te hanteer en hy draai hulle baie maklik om sy pinkie om te kry presies wat hy wil hê.” 

Arno Greeff, Suidooster
“Ek verstaan geheel en al hoekom die kykers ontsteld is,” sê die akteur Arno Greeff oor sy karakter se storielyne in Suidooster. Foto’s: Verskaf

Suidooster se aanhangers is warm onder die kraag oor die manier waarop Tristan vir Angie behandel. Hoe benader jy as akteur die uitbeelding van ’n karakter wat iemand verbaal, emosioneel én liggaamlik mishandel, terwyl jy terselfdertyd bewus is van die werklike impak van geslagsgeweld?

“Ek verstaan geheel en al hoekom die kykers ontsteld is. Sommige van die tonele was vir my baie moeilik, juis omdat jy as akteur soms goed moet doen wat soos in hierdie geval so teen jou grein indruis. 

“Jy vertolk maar net die aksies en woorde soos wat dit in die teks is sonder om dit te veroordeel, want jy weet dít waarmee jy nou besig is, kan ’n groot impak hê op mense wat hulself in ’n soortgelyke situasie bevind. 

“Tristan is loshande die uitdagendste karakter wat ek tot nou toe aangepak het. Ek moes diep gaan delf om die rol oortuigend te kon speel. Ek hoop werklik dat ons deur hierdie storielyn ’n diepe bewusmaking by ons kykers aanwakker rondom die werklikheid van geslagsgeweld wat ’n baie ernstige kwessie in ons land is.”

Tristan toon duidelike narsistiese en beherende eienskappe, en hy domineer Angie deur haar in sekere rigtings en besluite in te dwing. Wat dryf Tristan se gedrag?

“Tristan word hoofsaaklik gedryf deur sy verlede en die voorbeeld wat vir hom deur sy pa gestel is. Daar is ’n deel van hom wat graag beter wil wees, maar hy kan homself nie keer nie. Daarvoor is die skade te diep.”

Baie kykers is woedend en ontsteld oor Tristan se optrede. Hoe hanteer jy persoonlik sulke sterk reaksies, en sien jy hierdie reaksie as ’n teken dat die storielyn ’n belangrike, alhoewel ongemaklike, tema aanraak?

“⁠Ek vat gelukkig niks persoonlik op nie. Dis ’n voorreg om soms stories te kan vertel wat regtig ’n impak het op mense en bewusmaking tot gevolg het. Die feit dat mense so sterk op die storielyn reageer, wys dat ons dit reg aangepak het en dat die boodskap oorgedra word.” 

Arno Greeff, Suidooster
“Hierdie storielyn is soos ’n spieël, een waarin diegene wat dit nodig het, hulself in daardie weerkaatsing gaan raaksien,” meen Arno Greeff oor sy rol in Suidooster.

Sonder om te veel weg te gee, wat hoop jy kykers uit hierdie storielyn sal neem, veral dié wat moontlik soortgelyke patrone van mishandeling in hul eie lewens herken?

“Ek dink baie van ons kykers het reeds die manipulasie en narsisme in Tristan en Angie se verhouding begin raaksien. Hopelik, as jy dit in Tristan kan herken, gaan jy dan ook die tekens in jou eie moontlike toksiese verhouding begin raaksien. Hierdie storielyn is soos ’n spieël, een waarin diegene wat dit nodig het, hulself in daardie weerkaatsing gaan raaksien.”  

Hoe was dit vir jou om weer jou sepie-skoene aan te trek?

“Aanvanklik was dit uitdagend. Die pas waarteen tonele geskiet word en die hoeveelheid dialoog wat jy moet memoriseer, was ’n groot aanpassing gewees, maar na die eerste paar weke het dit weer soos ’n tweede huis vir my gevoel.” 

Wat het jy geniet daarvan om by Suidooster te skiet?

“Die mense. Almal het my só welkom laat voel en op my gemak gestel. Dis ’n ongelooflike lekker groep mense om mee saam te werk.”


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies