Die kenmerkende deuntjie van die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou se laaste episode het skaars vir oulaas gespeel toe die liefde vir van die boere hoogty begin vier het. Ja, daar was die verlorenes, die verliefdes en nou ook twee paar verloofdes!
Daar was wel ook heelwat stukkende harte, maar ook ’n paar boere wat met hernude hoop in die bestaan van die liefde bly glo.
Só gaan dit met Evert, Rudi, Willie, Pieter en Rudi H:
Boer Pieter
Vir talle kykers was dit duidelik dat Pieter Theron, die skaapboer van Richmond in die Noord-Kaap, rég was vir die liefde. Die aanvanklik-skamerige boer het erken dat hy sommer met die eerste kitsafsprake reeds geweet het daar is iemand in daardie groepie wat vir hom baie spesiaal is.

Hy was nie al een wat so gedink het nie. Kykers het vroeg reeds besef dat sy oujongkêreldae die trekpas gekry het toe hulle sien hoe beide Pieter en Anzelle Pearson se ogies geblink het wanneer die twee bymekaar was.
Die twee moes hard werk aan hul langafstandverhouding want Anzelle woon in Pretoria, meer as ’n aardige 800 km van mekaar af.
Maar die liefde oorwin alles en die twee het in Desember 2025, ’n jaar na daardie eerste blitsafspraak, verloof geraak. Om die oomblik meer perfek te maak, het daar boonop ’n geseënde reënbui op dieselfde dag uitgebreek. Dit het byna Pieter se voorbereiding vir die vraery in die hek laat duik, maar . . . ’n boer maak mos ’n plan! Eind goed, als goed.
Boer Willie
Willie Vos se alleenblyery in ’n huis op die familieplaas het hom laat wens vir iets meer. Daardie raar persoon wat dalk op ’n Saterdag saam met hom op die plaas sal rondry, ’n glasie wyn mee te geniet… Iemand wat lewensvreugde saam met hom kan deel.
Willie se onblusbare energie, sy liefde vir sy familie en hope ambisie maak van hom ook ’n merkwaardige jong man. Sake het nie vir hom en Cilmari Geldenhuys uitgewerk nie, maar van een ding is sy seker – en dit is dat hulle groot pelle geword het en veral die lawwe inner child deel.

Dinge het vinnig verwikkel toe Willie saam met twee ander boere van die reeks, Pieter en Rudi Halgryn, die Proteas se krieketwedstryd in die Kaap kom kyk het. En toe tree die noodlot in. En hy ontmoet iemand deur gemeenskaplike vriende: die meisie vir wie hy gebid het.
Karmen Groenewald is van Nelspruit en tydens hul afgelope vakansie by Keurboomstrand het Willie ’n knoets van ’n ring aan die pragtige brunet se ringvinger gesteek.
En Willie? Sy kuiltjies trek net al hoe dieper danksy die diep vrede te wyte aan die liefde in sy hart – met sy verloofde wat so knus onder sy arm inpas.
Boer Rudi
Rudi Delport was een van die reeks se top-5 boere met die possakke wat behoorlik gebult het toe die aanbieder van die reeks, Reandi Grey, by sy wildplaas opgedaag het.
Daar was natuurlik diegene wat geprut en mor het omdat Rudi nie die stereotipe boer-prentjie gevul het van ’n man op soek na ’n vrou nie. Maar selfs van die bitterbekke moes later toegee dat Rudi ’n besondere mens is. Die man staan ver bo die outydse ses voet in sy sokkies, en sy hart is net so ruim. ’n Ordentlike mens, sou die oues van dae hom beskryf.
Vergete is die tyd toe hy die skaal op 200 kg laat kreun het. Hy het sedertdien al meer as 70 kg afgeskud. Hy lyk al meer na die man wat eens ’n swemdrag- en onderkleremodel was. Deesdae huiwer hy ook nie om flambojant geklee in die kollig te verskyn nie.
Na afloop van die reünie was hy en Hannes nog vriende, maar Rudi was vaag oor die toekoms. Tot nou toe!

Hy het intussen iemand baie spesiaal ontmoet en hy is bitter opgewonde daaroor. En die liefde het nogal indirek vanweë sy deelname aan Boer soek ’n vrou kom klop. Rudi het die akteurspaar Werner en Marijke Coetzer deur Reandi ontmoet. Toe stel hulle hom aan een van hul vriende voor: Henri Claassen.
Ironies genoeg het Henri nie die vaagste benul gehad oor wat Boer soek ’n vrou behels het nie. En op sy beurt het Rudi gedink Henri is ’n beeldhouer wat byvoorbeeld met brons of hout werk… Henri het hom na ’n tydjie reggehelp. Ja, hy is soort van ’n beeldhouer – maar in sy geval fokus hy op mense se liggame op mediese gebied. ’n Body sculptor is hoe hy homself beskryf het.
“Henri is ’n moerse goeie man met twee ongelooflike seuns,” het Rudi verklap. En hulle twee is reeds byna twee maande lank “amptelik”.
Boer Rudi H
Die deelnemers aan Boer soek ’n vrou het hom eenstemmig as die stoutste en die grootste platjie in hul groep uitgesonder. Rudi Halgryn het beslis baie vroue se harte vinniger laat klop. So het die hoop ook hoog opgevlam onder die drie wat hy saam plaas toe genooi het. So hoog opgevlam dat die humeure ook dieselfde roete gevolg het…
Sy finale keuse met die afloop van die reeks was Lizelle, iemand wat hy as “agtermekaar” beskryf het. Maar ’n paar nekke is uit lit geruk toe Rudi by die reünie opgedaag het met iemand anders aan sy sy.
“Ek het van ’n klip af geval vir hom. Ek het baie hard vir hom geval,” het sy toe verklap. Dis natuurlik Lenmarie Stanton, ’n kliniese sielkundige van Kimberley, wat eintlik reeds van die begin af een van Rudi se keuses was. Maar omstandighede en koue voete het haar by die lughawe laat omdraai op pad na die kitsafsprake.

Maar Rudi is vir geen oomblik spyt dat dinge uitgedraai het soos wat dit wel gedoen het nie. Hy is net verlig dat Lenmarie baie van die drama op die plaas misgeloop het. En die twee kuier die nuwe jaar steeds al te lekker saam!
Dinge gebeur maar soos dit moet, dis mos wors . . .
Boer Evert
As daar nou een paartjie was, benewens Pieter en Anzelle, vir wie die kykers sommer vroeg in die reeks as ’n gunsteling gekies het wat liefde moes vind, was dit Evert van Deventer. Sjarmant, ’n goeie sin vir humor en die mooi manier waarop hy sy gaste hanteer het, het beslis ’n indruk gelaat.

Hy het erken hy was mal oor sy finale keuse, Lauren Broeksma, maar die twee se paadjies het ongelukkig ’n bietjie later verskillende rigtings ingeslaan.
“Ek het maar eers ’n bietjie tyd afgevat van liefde soek. Maar nou met die aanbreek van die nuwe jaar, is ek terug op die spoor,” het hy bekend gemaak.
Hoe die pad in die soeke na liefde vir elkeen van hierdie boere afgeloop het, was onvoorspelbaar. Maar die hoop beskaam nie dat die liefde vir elkeen van hulle, ook vir die volgende seisoen se boere, in verrassende vorms sal opdaag!