Vir bykans 18 jaar vertrek kykers seisoen ná seisoen van Boer soek ’n vrou saam met die hoopvolle boere in hul soeke na die liefde en ’n sielsgenoot wat net so passievol oor die plaaslewe is as hulself. Dit sit immers nie in almal se broek om te boer nie… En ook nie om aan ’n boer se sy te staan nie. Dit verg lang ure, toewyding, deernis met mens en dier, vasstaan wanneer dinge moeilik raak, juig wanneer wonderlike reënbuie die aarde seën…
kykNET se gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou, het nie net hoopvolle pasmaats nie, maar ook kykers deur die soet en die sout van die soektog na liefde meegesleur. En wanneer die liefde geseëvier het, het die kykers ewe luid die paartjies toegejuig – want daardie paar weke op die kassie het van elke boer en elke potensiële pasmaat ’n lid van die familie gemaak.
Nou, in die maand van liefde en met Valentynsdag op hande, is dit baie lekker om terug te kyk na ’n paar van die boere wat wel ware liefde gevind het – en bewys het dat alhoewel die pad na liefde nie met rose besaai is nie, die einde van die soektog elke sekonde werd was. Selfs al was daar soms diep in die nag groot gewroeg oor besluite, het kerkklokke in watter vorm ook al die boodskap luid uitgebeier: daar is liefde en dit kán gevind word.
Seisoen 1
Elma Postma was die aanbieder van die eerste seisoen wat op 30 Julie 2008 vir die eerste keer uitgesaai is.
Tickey en Selmé-Louise van Wyk

Dié twee het mekaar tydens die eerste seisoen ontmoet en is ’n jaar later getroud. Gereelde kykNET-kykers sal onthou dat Tickey verlede jaar ’n gas-beoordelaar tydens ’n Plaasjapie-kompetisie (S6) was toe deelnemers skape moes aanjaag. Hy boer steeds voltyds met merinoskape in die Loxton-omgewing, maar het ook ’n paar besighede op die dorp waarheen die paartjie getrek het sodat Selmé-Louise, die skoolhoof van haar eie skool (Vuurvliegie Akademie) met haar passie vir kinderontwikkeling en die onderwys, ook haar roeping kan volg. Hulle is die ouers van twee oulike kinders, George en Malea.
Seisoen 9
Hierdie was die eerste seisoen met Minki van der Westhuizen as aanbieder en dis vanaf 27 Oktober 2016 uitgesaai.
Hennie en Jacobu Lötter

Die pad na ware liefde loop soms met ’n kronkel, soos in die geval van Hennie en Jacobu.
Sy het in 2016 aanvanklik vir boer Arno van KwaZulu-Natal in dieselfde seisoen ingeskryf, maar Arno het vriendskap bo ’n verhouding verkies. Intussen het Hennie behoorlik sy hart “onverwags, onbeplan, maar amptelik” aan die jong onderwyseres verloor. Kort voor lank was hy en Jacobu ’n paartjie. Willowmore het gejuig toe die twee in Oktober 2017 op dié dorp in die huwelik getree het. Deesdae is hulle die trotse ouers van ’n dogtertjie, Lumé, en ’n seuntjie, Henco.
Seisoen 10
Hierdie was die laaste seisoen wat deur Minki van der Westhuizen aangebied is. Die eerste episode is op 12 Oktober 2017 uitgesaai.
Adriaan en Helene Geldenhuys

Dit was sommer liefde met die eerste oogopslag vir Adriaan, die boer wat in hierdie seisoen die meeste briewe ontvang het. En dit was nie lank nie, toe het die twee hul verlowing in September 2018 aangekondig – met ’n verloofring wat hy spesiaal vir haar laat ontwerp het. Tydens ’n intieme seremonie na afloop van lam- en saaityd het hulle in Oktober 2019 hul troubeloftes in Riversdal afgelê. Sedertdien het hulle die trotse ouers van drie seuntjies geword: De Villiers, Jacobus en Pierre.
Seisoen 12
Leah van Niekerk het hierdie seisoen, wat vanaf 12 Mei 2019 uitgesaai is, aangebied.
Willem en Sanel Pool

Willem en sy “mooi nooi van Mooinooi” in Noordwes het op 21 Julie 2020 verloof geraak en in Mei 2021 het die twee in Clanwilliam voor die kansel gestaan. Sy het erken dat haar inskrywing vir Boer soek ’n vrou destyds iets heeltemal buite haar gemaksone was. Maar kyk net waar het dit haar laat beland. Die twee was een van die gewildste paartjies van die seisoen. Die egpaar het verlede jaar vanaf Clanwilliam na Kuruman getrek. In November 2023 is hul dogtertjie, Anjo, gebore en binnekort gaan sy haar nuwe boetie ontmoet wanneer hy in Maart vanjaar sy opwagting maak.
Seisoen 13
Dit was Marciel Hopkins se eerste seisoen as aanbieder van dié seisoen wat op 19 Julie 2020 vir die eerste keer uitgesaai is.
Albert en Chanté Smit

Die pittige rooikop-teeboer het aanvanklik nie vir Chanté, wie hy van nader leer ken het tydens die vyf blitsafsprake, as een van sy kortlys-drie gekies nie. Afstand was waarskynlik een van die redes, maar toe die boer uitvind sy het Kaap toe getrek, was die spreekwoordelike koeël deur die kerk.
Die twee het op 6 Augustus 2022 op Albert se familieplaas trou aan mekaar gesweer en op 12 Oktober 2025 het hulle hul babadogtertjie, Christine, in die wêreld verwelkom. Wie weet, eendag dalk nog ’n boetie of sussie – maar vir nou is Christine die middelpunt van hul bestaan.
Mathys en Annamie Prinsloo

Boerwees loop sterk in die familie. Praat van indirek by die reeks baat vind. Eers het haar broer Albert – wat in dieselfde reeks as Mathys was – met ’n effense ompad by sy geliefde Chanté uitgekom. En alhoewel Annamie nie deel van die reeks was nie, was die ontmoeting met Mathys by Albert en Chanté se troue die oomblik toe Kupido se pyl altwee baie hard getref het. Hulle het op 30 Maart 2024 op Annami se familieplaas by Clanwilliam trou aan mekaar beloof. Vandag is hulle ’n trotse gesinnetjie met die aankoms van klein Amelia op 17 Junie 2025.
Niel en Cheréze Burger

Niel, ’n vrugteboer doer uit Prince Alfred Hamlet se wêreld, was nie net die gewildste boer van die seisoen nie, maar ook een van die boere wat liefde gevind het – in die vorm van Cheréze. In Julie 2021 het hy haar om haar hand gevra en tydens ’n pragtige seremonie is die twee in Januarie 2022 in die Koue Bokkeveld in die huwelik bevestig. Hul derde ligstraaltjie, Anche Louise, het in Junie 2025 haar opwagting gemaak. Sy het twee skattige ouer sussies, Catrine en Johané.
PF en Chantelle Theron

Die boer van Laingsburg het nie ’n kat se kans gestaan toe hy vir Chantelle Pretorius (Mej. Dowe Suid-Afrika) se brief ontvang het nie. Alhoewel hy nie onder die top-5 boere was nie, was daar iets in haar brief wat sy aandag baie deeglik getrek het. Dié twee se liefdesreis het behoorlik Boer soek ’n vrou-aanhangers se harte verower. Kort voor lank het hulle in September 2021 verloof geraak en op 19 Maart 2022 het hulle in die skilderagtige dorpie Tulbagh voor die kansel gestaan. Hul eersteling, Nina, het in September 2024 haar opwagting gemaak.
Seisoen 14
Marciel Hopkins was die aanbieder van die seisoen wat op 11 Julie 2021 afgeskop het.
Johan en Esmerélda Lombard

Weer ’n liefdesverhaal met ’n kinkel. Sy het aanvanklik met boer Nelis van die Vaal-Marina aan die einde van die reeks opgeëindig terwyl hy met Arina Toua van Vredendal as pasmaat weggestap het. Nie een van die twee verhoudings het lank geduur nie. Toe kom die reünie – en die liefdesvonke het behoorlik tussen die boer van Marquard en Esmerélda gespat.
In Augustus 2022 het hulle by Clarens trou aan mekaar gesweer. En op 27 Desember 2022 het klein Janru sy opwagting gemaak, tot groot vreugde van sy ouers.
Tyson en Alri Zunkcel

Tyson, ’n top-boer van KwaZulu-Natal, het die meeste briewe van die seisoen ontvang. Hy het dit van meet af aan duidelik gemaak dat hy bloot net aan Boer soek ’n vrou deelgeneem het vir vriendskapsdoeleindes, alhoewel ’n pasmaat nie heeltemal uit die prentjie was nie.
Min het hy geweet hoe Alri sy “vriendskapsdoeleindes” sou omverwerp. In 2022 het hulle voor die kansel gestaan en aan die einde van 2023 is hul eerste dogtertjie, Nina, gebore. Hul tweede dogtertjie, Emma Lily, het in April 2025 haar verskyning gemaak. En bedags rits Nina gereeld die plaas vol saam met haar pa wat nie net ’n uithalerboer is nie, maar ook iemand wat met sy eie helikopter die wêreld rondvlieg.
Seisoen 15
Marciel Hopkins was die aanbieder van die seisoen wat op 3 Julie 2022 afgeskop het.
Hennie en Eloïse de Villiers

Vir hierdie paartjie is daar heelwat simboliek gekoppel aan 27 Mei. Dit was die datum waarop Eloïse haar brief vir Boer soek ’n vrou, spesifiek vir die boer van Moorreesburg, ingestuur het. Toe word sy plaas toe genooi en hy het haar gevra om sy meisie te wees – op 27 Mei 2023. Die twee het in Desember 2023 voor sowat 100 trougaste hul huweliksbelofte in Cradock afgelê. Op 5 November 2024 het hulle hul seuntjie, Jandré, in die wêreld verwelkom.
Francois en Vanessa Fourie

As daar een paartjie is wat uitgesonder moet word vir die hoeveelheid sakke sout wat hulle saam moes opeet voordat die liefde en tweede kanse oorwin het, is dit hierdie volstruisboer van Oudtshoorn en die donkerkop Vanessa. Eers het daar ’n dekade oue geraamte uit Francois se kas geval wat later as bloot net ’n stoffie op skinder-steroïede ontbloot is. Die paartjie het op 9 Desember 2022 verloof geraak. Francois, pa van ’n volwasse seun, en Vanessa, ma van twee volwasse dogters, was duidelik halsoorkop verlief op mekaar – en toe gebeur die onverwagte! Vanessa was 45 toe sy moes hoor sy’s weer swanger . . . en op 19 Julie 2023 het Sion, die klein rakkertjie, sy opwagting gemaak.
Toe die twee op 27 April 2024 ewige trou aan mekaar gesweer het, was Sion ook amptelik daar, ewe deftig in ’n swart broek, onderbaadjie en strikdassie aan om die rol van strooijonker saam met sy nuwe ouboet vir die gelukkige paartjie te vertolk.
Seisoen 16
Dit was Marciel se laaste seisoen as aanbieder en dit is vanaf 29 Oktober 2023 uitgesaai.
Daandré en Marisca Coetzee

Die jong boer van Brits-omgewing het sommer met die intrapslag die vlinders gevoel – en Marisca het presies dieselfde ervaar. Die boertjie het ook nie gehuiwer om plannetjies te smee nie. Hy het selfs Marciel se hulp ingeroep om die “dag van die groot vraag” onder die dekmantel van ’n witleuentjie te organiseer.
Met ’n reënboog in die lug het hy op 27 Desember 2024 vir Marisca gevra om verloof te raak. En op 7 Junie 2025 het die twee hul eerste soen ooit gedeel toe hulle in die huwelik bevestig is. Die paartjie is deesdae druk besig met hul “eersteling”, ’n potgooi-reeks wat kwellende kwessies aanspreek.
Seisoen 17
Op 29 Oktober 2024 het Reandi Grey oorgeneem as programaanbieder.
Pieter Theron en Anzelle Pearson

In hierdie stadium het die amptelike trouklokkies nog nie ’n datum gekry nie. Maar die skamerige skaapboer van Richmond het nie gras onder sy voete laat groei nie. Hy het met die intrapslag sy visier op Anzelle ingestel en gereeld vir Reandi genoem dat hy reeds weet wat hy weet… En nou weet getroue Boer soek ’n vrou-kykers ook wat hy toe al geweet het!
Op 12 Desember 2025, ’n geseënde reënerige dag, het hy vir haar gevra om te trou. En niemand het vir een oomblik daaraan getwyfel dat die antwoord “ja” sou wees nie. Met Anzelle vir eers nog werksaam as bourekenaar in Pretoria en Pieter op die plaas, is daar nog nie vaste reëlings vir die groot dag getref nie. Maar dat daar ’n moewiese makietie in die Noord-Kaap gaan wees wanneer die twee voor die kansel staan, is gewis.
Boer soek ’n vrou sal vanaf Augustus 2026 oudergewoonte Donderdagaande om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees. Kyk solank seisoene 14, 15, 16 en 17 op Showmax.