Menu terloops
In Recaps & Resensies [20 Jul 2023]

‘Spoorloos: Die eiland’ – ’n TV-tuimeltrein van drama, raaisels


‘Spoorloos: Die Eiland’ stroom nou op Showmax. Nes vorige seisoene is die vierde aflewering van ‘Spoorloos’ weer propvol raaisels, spanning, gedoemde liefde, geheime, spoke van die verlede…en natuurlik iemand wat soos mis voor die son verdwyn.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

‘Spoorloos: Die eiland’ – ’n TV-tuimeltrein van drama, raaisels
Kyk lokprent

Hierdie keer is dit die beeldskone Emma Eloff, vertolk deur Dis ek, Anna-aktrise Izel Bezuidenhout, wat vermis raak.

Die hoofrol in Spoorloos: Die eiland word deur die sanger Bobby van Jaarsveld vertolk. Stefan is ’n ou liefde van Emma en ook die laaste persoon wat vir Emma voor haar verdwyning gesien het. Só word Bobster natuurlik die polisie se hoofverdagte. Om sommer vinnig die brandende vraag te beantwoord: Ja, Bobby kan toneelspeel. In die episodes wat vir resensente vooraf beskikbaar gestel is, kwyt hy homself goed van sy taak in sy eerste dramatiese rol. Hy wag al lank vir ’n ernstige rol (lees ons onderhoud met Bobby hier) en Spoorloos het vir hom die kans gegee om sy akteurspiere te flex.

Bobby van Jaarsveld as Stefan in Spoorloos: Die eiland op kykNET. Foto: Verskaf/kykNET
Bobby van Jaarsveld as Stefan in Spoorloos: Die eiland op kykNET. Foto: Verskaf/kykNET

As jy nie weet dat Bobby ’n bekende sanger is nie, sal jy nie sommer agterkom dat hy meer tyd op die verhoog as voor die kameras spandeer nie. Hy lyk gemaklik in sy rol en vertolk die karakter met oortuiging. Soveel só dat jy as kyker saam met hom nie sy slegte geluk kan glo nie. Stefan kan immers net nie wen nie. Elke keer as dit lyk asof sy lewe op dreef is, loop iets skeef en sy toekoms word weer in gevaar gestel. Ek is nie altyd ’n aanhanger van sangers wat wil act nie, maar anders as sy karakters in flieks soos Liefling en As jy sing, geniet ek dié keer sy karakter. Eintlik verkies ek vir Bobby in ’n ernstige rol.

Veelvlakkige Emma

Ons het nog nie baie van Emma gesien nie, maar ons het al genoeg gesien om te weet dat sy en Stefan ’n geskiedenis het. Dit is ook nie die eerste keer dat sy uit sy lewe verdwyn nie. Of die eerste keer dat Stefan van moord aangekla word nie…plot twist!

Izel (lees ons onderhoud met haar hier) trek kykers onmiddellik in Emma se wêreld in. Sy slaag daarin om reeds binne die eerste twee episodes vir Emma geweldige diepte te gee.

Soos met die vorige seisoene weet jy nooit regtig wat in Spoorloos aangaan nie en kan jy nie nou al voorspel hoe dinge gaan eindig nie. Oor Emma is dit egter amper dadelik duidelik dat daar baie lae aan haar is – much more than meets the eye.

Raaisels in oorvloed, maar terugflitse gee whiplash

Dit is beslis deel van Spoorloos se storielyn-DNA om raaisels te hê en daar is gewoonlik so baie dat ’n mens eintlik met ’n breinkaart moet sit en kyk net sodat jy kan byhou. Maar hierdie seisoen werk die terugflitse nie vir my nie. Ja, dit gee die storie meer konteks en help jou om die karakters en hul motiewe te verstaan, maar hulle spring net te veel rond. Dit gaan ’n mens whiplash gee en kan baie verwarring skep. Een oomblik is dit ses jaar gelede, dan is dit ses maande en skielik is jy weer in die hede. As jy nie die karakter se klere dophou nie, sal jy nie sommer weet ons het al weer gespring nie.  

Die span slaag wel weer met subtiele storievertelling en krummels wat vir kykers gelos word deur die karakters se dade en nie altyd hul woorde nie. Leidrade word orals gelos. Soos as Emma se skoonma, Cobie (vertolk deur Marisa Drummond), ’n foto van Emma se man soen; ’n foto van nog ’n vermiste siel op die plaas waar Emma woon; ’n kriptiese selfoonboodskap; ’n drukkie tussen Stefan se beste vriend (vertolk deur Tiaan Slabbert) en Stefan se verloofde (vertolk deur Leché Joubert) wat net té lank aanhou; of as ’n bekende rok skielik in Stefan se garage te voorskyn kom. Dit dra alles by tot die spanning en drama in Spoorloos: Die eiland. Dié krummelgooiery is iets wat elke seisoen tot die briljante storievertelling van dié reeks bydra en wat kykers op ’n slim manier intrek. 

Wie steek wat weg?

Die boekklub-akteur Armand Aucamp is Emma se man Lukas Eloff, ’n controlling en obsessiewe sakeman. Die Egoli-akteur Deon Coetzee is Emma se pa, Freek, en Lukas se voorman. Ons is dalk nog aan die begin van hierdie agt episode drama-tuimeltrein, maar ’n mens kom vinnig agter dat Lukas en Freek iets wegsteek. Lukas het ’n stewige houvas op Emma en Freek, maar wat presies is dit? En hoekom het Freek so hard probeer om sy dogter te oortuig om in ’n ongelukkige huwelik te bly?

Spoorloos: Die eiland
Wat steek Lukas (Armand Aucamp) weg? Foto: Verskaf/kykNET

In klassieke Spoorloos-styl beheer die verlede die hede. As kyker kan jy amper nie die twee van mekaar skei nie. Elke karakter, ongeag hoe klein of groot die rol, is ’n belangrike stuk van die legkaart, wat met tyd die reeks stuk vir stuk inkleur.

Hierdie seisoen begin ’n bietjie stadiger as vorige seisoene. Tog is jy teen die einde van die eerste episode ingekatrol. Die stukke van episode twee en drie word ook vinniger uiteengesit. Dit lyk egter asof die rolverdeling en produksie weer ’n wenresep is. 


Die vierde seisoen is vanaf Donderdag, 20 Julie 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies