Menu terloops
In Wat om te kyk [5 Jul 2022]

Fantastiese Afrikaanse reekse op Showmax: ‘Fynskrif’ – soos ‘Law & Order’ in Afrikaans, sê Elana Afrika-Bredenkamp


Sy en haar karakter Gertrude Koopman in die regsdrama ‘Fynskrif’, wat tans op Showmax te sien is, verskil dalk soos dag en nag, maar dit was ʼn ongelooflike ervaring om dié ingetoë, perfeksionistiese karakter te vertolk, sê 
Elana Afrika-Bredenkamp.


Kyk nou Fynskrif

Fantastiese Afrikaanse reekse op Showmax: ‘Fynskrif’ – soos ‘Law & Order’ in Afrikaans, sê Elana Afrika-Bredenkamp
Kyk lokprent

Fynskrif was seker een van die gewildste (en beste) reekse op kykNET die afgelope paar jaar. As jy dit egter nog nie gekyk het nie (waar was jy?), of lus het om dit weer te binge, is al drie seisoene van dié regs- en familiedrama nou op Showmax beskikbaar.

Dié reeks is op ons lys van die top-vier Afrikaanse reekse op Showmax. Ons ander drie gunstelinge is Dwaalster, Waterfront en Afgrond.

In die eerste twee seisoene wentel byna elke episode om ʼn ander interessante hofsaak wat die prokureurs by Van Wyk en Vennote aanvat. Daar is liefde, wraak, venyn en hartstog op die spyskaart.

Die lewens van die prokureurs en ander werknemers by die firma (en hul families) is egter ook ʼn belangrike deel van wat die reeks so goed maak. Die derde (en laaste) seisoen word daar op die karakters se persoonlike- en familielewens gefokus.

Een daarvan is die verhouding tussen die regsassistent Gertrude Koopman, wat deur Elana Afrika-Bredenkamp vertolk word, en die sosiaal-ongemaklike Dolf Ungerer (Charlton George), ʼn vennoot by die firma. Die karakters is quirky, slim en fassinerend.

Elana, wat op weeksdae The Workzone op Jakaranda FM aanbied en die gewildste ouerskap-podcast in die land, Parent + Baby Brunch op die been gebring het, se vertolking van Getrude is deernisvol en snaaks. Hier is wat sy oor haar karakter en die reeks te sê het:

Waarom kykers Fynskrif op Showmax moet kies

Fynskrif is ’n tipe Law and Order wat ’n mens nog nie in Suid-Afrikaanse reekse gesien het nie.
Dan praat die karakters ook nog suiwer, ordentlike Afrikaans. ʼn Mens kon nogal lekker speel met die taal, want daar was geen slang nie en daar was geen perke rondom kultuur of identiteit nie. Dit was eintlik wonderlik.

Dit is ’n Afrikaanse drama vir álle Afrikaanse mense en dit is hoekom mens dit eintlik moet kyk.”
Dit was regtig ’n groot voorreg om deel te wees van die reeks want die skrywers en die regisseurs is baie kundig as dit kom by storie-vertel.”

Getrude hou van reëls en volg dit nougeset. Totdat haar hart ander planne kry. Elana vertel wat haar aangetrek het tot die karakter…

“Wat my aangetrek het tot Gertrude, is dat sy soveel anders is as ek. Sy is ingetoë; sy is gehoorsaam en sy werk as ’n regsassistent – alles wat ek nog nooit in my lewe was nie!

Wat my aangetrek het tot haar, was haar konserwatiwiteit… wat ek moet bieg, iets is wat ek nogal is. Mense dink nie so nie, maar ek is nogal konserwatief wanneer dit kom by my waardes. Ek en my man, Ian Bredenkamp, maak ons kinders baie konserwatief groot in terme van respek en hoe ʼn mens met ander mense praat en hoe jy jouself hanteer en ek dink dis nogal iets wat Gertrude en ek in gemeen het.

Dit was baie pret om haar te kon vertolk, want, net soos met Dolf, is daar iets ánders omtrent haar. Iets waarop ʼn mens net nie jou vinger kan lê nie. Ek praat baie (vir my ouerskap potgooi) van mense wat neurologies anders is; mense met ʼn klein afwyking van die normale wat hulle interessant maak, soos wat die meeste kreatiewe mense maar is.”

Ek geniet dit om ’n aktrise te wees en terwyl Fynskrif verfilm is, het ons nog voltyds in die Kaap gewoon. Nou is ons tussen Kaapstad en Johannesburg  en dit maak dit moeiliker om as aktrise te werk. Ek is in Johannesburg op die lug en wanneer ek in die Kaap is, is ek daar vir besigheid en vir potgooie.
Ek sou baie graag weer wou speel, maar dan moet ek iets opgee… maar hey, wie weet…”

Oor haar herinneringe op stel

Fynskrif
Regspraktyke neem oënskynlik ook ongemaklike klasfoto’s…Foto: Verskaf

Oh wow – ek moet sê, my lewe op stel was nogal ongelooflik. Ek sal nooit vergeet dat ons elke dag betyds begin het om te skiet nie – dit was ’n groot ding vir die produksiemaatskappy. Dit was verskriklik georganiseerd. Net soos die reeks en die teks, het alles volgens skedule verloop. Dit was nooit nodig om tot in die nag te skiet nie.

Die akteurs was wonderlik – almal van Edwin van der Walt, Neels van Jaarsveld tot Tinarie van Wyk-Loots – ek het hulle almal regtig baie geniet.

Ek en Charlton George, wat Dolf was, het régtig ’n goeie verhouding. Hy is ’n baie sterk man as hy nié Dolf speel nie. Al is hy kleiner van postuur as ek, sal ʼn mens altyd voel hy is groter as wat hy is as jy saam met hom in die pad stap – daar is net iets omtrent hom…

Hy het ’n ongelooflike liefde vir poësie en hy is ’n baie sagte, baie kunstige mens. As jy hom nie as sy Dolf-karakter sien nie, het hy ’n lang kuif en hy vát aan sy hare en hy kyk jou stip in jou oë om met jou te kan gesels. Hy is régtig ‘n wonderlike mens en ek het dit geniet om met hom te kan bond.”

Oor die skrywers en vervaardigers van Fynskrif, Albert Snyman en Louis Pretorius

“Ek ken vir Albert Snyman vir so lank as wat ek my man (Ian Bredenkamp) ken. Ons het almal ontmoet in my eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch. Ek praat maklik van iets soos 24 jaar terug! Ek sou definitief nie met Albert trou nie… grappie Albert… Maar jare later ken ons almal mekaar almal nog steeds.

Ek het Albert nog altyd interessant gevind. Hy was regtig een van die eerste mense met wie ek op kampus gesels het. Juis omdat hy het nie gediskrimineer het teenoor eerstejaars nie. Hy was al honneurs toe ek eerstejaar was en ek onthou hoe hy altyd waarde geheg het aan geskiedenis, storievertel en selfs die teater waar ons geleer het. Dit het my nie verbaas dat hy hierdie merkwaardige skrywer geword het wat hou van stories vertel nie.

Ek het dit verskriklik geniet om met hom en Louis te werk. Louis het die geduld van ’n saint. Ek onthou ek het baie foute gemaak. Ekke ís ’n aktrise, maar nie gereeld nie. So ek maak foute en hy was baie geduldig en het lekker met my gewerk om deur alles te kon kom.

Dieselfde met Albert. Baie keer in ons af-tye het hy met my gesit en dan gaan ons deur die teks, of ons eet net middagete saam. So dit was ’n regte όngelooflike ervaring en ek sê dit nie net nie.

Jy weet, baie keer blaas ’n mens doppies want jy wil nie hê mense moet ’n slegte reputasie hê nie. Maar ek kan regtig vérseker sê hierdie was een van my beste ervarings op stel en van die stel af. Dit was net regtig ongelooflik.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies