Menu terloops
In Wat om te kyk [6 Jul 2022]

Fantastiese Afrikaanse reekse op Showmax: ‘Dwaalster’ – soos Wes Anderson in die Karoo, sê Tarryn Wyngaard


ʼn Dowe kelnerin op rolskaatse is maar net een van die karakters in die reeks ‘Dwaalster’ op Showmax. Die aktrise Tarryn Wyngaard vertel waarom jy moet kyk.

Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou Dwaalster

Fantastiese Afrikaanse reekse op Showmax: ‘Dwaalster’ – soos Wes Anderson in die Karoo, sê Tarryn Wyngaard
Kyk lokprent

Daar is definitief nie ʼn tekort aan Afrikaanse-televisiereekse wat op klein Karoo-dorpies afspeel nie – dit sal hopelik nie binnekort verander nie.

Die geheimsinnigheid van afgeleë plekke, die eksentrisiteite van die eklektiese inwoners en die eindelose moontlikhede vir drama en humor, gryp televisie-skeppers en kykers oënskynlik ewe veel aan.

As ongewone, onverwagse stories met ʼn magies-realistiese kinkel jou ding is, hoef jy nie twee keer te dink daaroor of jy Dwaalster wil kyk nie. Die reeks, uit die pen van die bekroonde dramaturg Nicola Hanekom, is een van die puik kykNET-reekse wat tans op Showmax te sien is. Die karakters het ʼn fassinasie met die sterre en sterretekens; onverklaarbare dinge gebeur en almal is so effens met die maan gepla.

Dit is ook op terloops se lys van die top-vier Afrikaanse reekse wat nou op Showmax is en ook Waterfront, Afgrond en Fynskrif insluit.

Bring dit terug, toe?

Toe dit destyds op die kanaal uitgesaai is, het sommige mense (wat dalk bang was vir ʼn effense kyk-uitdaging?) hul neuse opgetrek vir die weird en wonderful storielyne en karakters. Maar Dwaalster is net ʼn plesier – van knetterende romanse, tot ou wonde wat oopgekrap word en ʼn klomp leidrade vir kykers om te ontsyfer (gee asseblief vir die res van ons ʼn tweede seisoen…).

Buiten vir Annabel Loots (Tinarie van Wyk-Loots), ʼn ondersoekende joernalis wat ʼn groot storie in die stad oopgevlek het en huis toe vlug en haar eerste liefde Stian (Jacques Bessinger), wat saam die geheimsinnige verdwyning van kinders in die dorpsdam probeer oplos; is daar wonderlike karakters in die reeks, waaronder Gina Devine, ʼn dowe kelnerin op rolskaatse, wat by die dorp se enigste kuier- en oornagplek, Die Piering, werk. Sy was ookeens op ʼn tyd ʼn biker.

Gina word vertolk deur Tarryn Wyngaard, wat ook tans te sien is in die nuwe Showmax-reeks Pulse.

Tarryn was die afgelope jaar of wat baie bedrywig voor die kamera.

“Ek het laasjaar nogal baie rondgereis en was vir drie maande in Mauritius om Pulse te skiet. Ek was ook by ʼn rolprentfees in Amerika,” sê sy.  

“Vir nou sien ek daarna uit om net so bietjie by die huis te wees om te kook, te oefen en my vriende te sien – net weer bietjie my ritme kry. Ek  is bly vir bietjie meer Tarryn-wees-tyd, eerder as om heeltyd in karakter te wees.”

Sy gebruik egter ook die stiller tyd om voorbereiding te begin doen vir verfilming van die tweede seisoen van die Showmax-riller, DAM.

Tarryn het so ʼn bietjie oor Gina, een van die gunsteling-karakters van haar loopbaan, gesels en oor waarom Dwaalster jou tyd werd is.

Oor waarom kykers Dwaalster op Showmax moet kies

“Dis ʼn ongewone reeks, amper in ʼn Wes Anderson-tipe styl, wat in ʼn klein plattelandse dorpie, Maanhaarsdrif, afspeel. Die stories van al die mense is dalk oulik, maar daar is ʼn donker geheim onder al die oulikheid.

En jy kan mý sien op rolskaatse, met skinkborde want Gina is ʼn kelnerin! My karakter is doof, so ek moes gebaretaal ook leer. Ek moes baie hard oefen aan al daai skills! Dis nogal iets om te ervaar… ʼn dowe meisie op rolskaatse; en baie oulike klere, net so toevallig!”

Oor wat haar aangetrek het tot die karakter en steeds bybly

“Ek mis dit om haar te speel – sy was besonders. Gina was nogal vreemd… so ʼn bietjie anders – maar sy het haar andersheid deel van haar gemaak. Sy het haarself aanvaar. Sy probeer nie om haarself weg te steek nie.

Sy is ʼn baie unieke karakter, maar ook volledig haarself en dit is iets wat ek by haar geleer het.

Daar was baie voorbereiding vir die rol en baie daarvan is steeds deel van my lewe. Ek rolskaats nog steeds! Ek is nou deel van ’n rolskaatsgroepie, ʼn gemeenskap, wat op Donderdae en Sondae op die promenade in Kaapstad rolskaats. Ek het vir rolskaatse uit Amerika bestel – pragtige geles!

Met die leer van die gebaretaal, het ek ʼn dowe vriendin gemaak en ek probeer om steeds met haar in kontak te bly. Ek het ook ʼn vriend, JB, op dieselfde manier gemaak.

Ek is nou meer bewus van dowe mense se stryd en hoe mooi hulle taal is. Dit het my meer van ’n mensch gemaak.

As hulle kommunikeer, moet hulle vas in mekaar se oë kyk en direk aandag gee, want hulle kan nie net luister nie. Jy moet al jou aandag gee aan die persoon met wie jy praat. Vir my was dit nogal profound. Jy kan nie op jou foon wees nie, jy is in die oomblik met die ander persoon. Dit is ’n fantastiese gemeenskap mense.”

Oor wat sy altyd sal onthou van haar tyd op die Dwaalster-stel…

“Beslis om in Calvinia en die Noord-Kaap te kan skiet en ook in Bonnievale en Philadelphia. Daar is soveel karaktervolle, unieke dorpies en om die mense van hierdie klein dorpies te ontmoet was nogal besonders.

Om daai tyd saam met ʼn groep ongelooflike akteurs deur te bring, was ook van my lekker: June van Merch en Tinarie van Wyk-Loots en Terence Bridgett. Hulle is almal teenwoordig met jou – net goeie, lekker mense. Al is hulle briljante akteurs, is hulle steeds net super menslik. Ek dink dit is miskien hoekom hulle sulke goeie akteurs is, want hulle het daai empatie.

Dit was nie werk nie, dit was net lekker!”

As Tarryn vir Gina ʼn storielyn kon byskryf…

“Ek het die vervaardigers eintlik gevra of ons haar nie ’n spin off reeks kan gee nie! Almal was mal oor haar en ek ook – dit was heeltemal selfsugtig van my.

Ek wou ’n Gina-speurreeks hê, waar sy die geheimsinnige gevalle in die dorp probeer oplos. En sy het hierdie psychic-oomblikke wat gebeur waar sy leidrade kry. Dit sou niks te ernstig nie: dalk iets soos ʼn kind wat na ʼn boek soek wat verdwyn het. Dalk selfs ʼn TV-reeks vir kinders. Of dalk Gina as ʼn soort Benedict Cumberbatch-tipe Sherlock Holmes!  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies