Menu terloops
In Wat om te kyk [5 Jul 2022]

Fantastiese Afrikaanse reekse op Showmax: ‘Waterfront’ – unieke plek vir ʼn unieke storie, vertel Milan Murray


Een van die fantastiese Afrikaanse reekse wat tans op Showmax te sien is, is ‘Waterfront’, waarin die aktrise Milan Murray die rol van Julia Bruwer vertolk. Sy vertel waarom jy gerus die “kyk”-knoppie vir dié reeks kan druk.


Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou Waterfront

Fantastiese Afrikaanse reekse op Showmax: ‘Waterfront’ – unieke plek vir ʼn unieke storie, vertel Milan Murray
Kyk lokprent

Die paaie van drie susters, Julia (Milan Murray), Anna (Rolanda Marais) en Kate (Trix Vivier) het jare terug reeds geskei, maar ʼn familie-tragedie bring hulle terug na die plek waar hulle jeug en kinderdae afgespeel het, die Waterfront in Kaapstad. Dis hiér waar hul pa, Ben Myburgh (Dawid Minnaar), ʼn bootbou-onderneming bedryf. Ten spyte van die pragtige ligging, wag donker geheime en hartseer oral hier vir die susters.

Waterfront is ʼn donker, verweefde reeks wat ʼn mens vasgenael hou. Dit is ook op terloops se lys van die top-vier Afrikaanse reekse wat nou op Showmax is en ook Dwaalster, Afgrond en Fynskrif insluit.

Marida Swanepoel was die skepper en Jaco Bouwer het die regie gedoen. Bouwer het in 2018 ʼn ATKV Mediaveertjie vir sy werk op Waterfront gewen. Die bekroonde Leon Kruger, wat verlede jaar oorlede is, het die draaiboek geskryf.

Nog bekende akteurs in die reeks is Joanie Combrink as die Myburgh-susters se ma; Stian Bam as Ruan Jordaan en Edwin van der Walt as sy seun Stefan.

Die aktrise, skrywer en entrepreneur wat haar deesdae veral op kinders en tieners se emosionele ontwikkeling toespits met My Story Tribe, speel Julia Bruwer in die reeks.

Milan Murray
Milan Murray se karakter in Waterfront tel as een van haar gunsteling-vertolkings oor die duur van haar loopbaan tot dusver. Foto: Verskaf

Julia is ʼn komplekse karakter wat swaar dra aan haar eie emosionele trauma. Hier is wat Milan oor die reeks en haar karakter te sê het:

Waarom kykers Waterfront op Showmax moet kies

“Die Waterfront in Kaapstad bied ’n ongelooflike ruimte vir ’n storie om af te speel en dis boonop ’n baie unieke Suid-Afrikaanse storie.

Dit gaan oor ’n unieke groepering mense waaroor ons nog nie baie stories gesien het in Suid-Afrika nie: die seiljagbouers, hulle wêreld en hulle lewe. En ook die ryk mense wat die seiljagte besit en húlle wêreld en lewe.

So as jy deur jou Showmax-opsies scroll, is dít ’n storie wat jou sal verras. Nie net oor die karakters en die storielyn nie, maar ook oor die ruimte waarin dit afspeel. Dit is vreeslik mooi geskiet – mens sou kon sê ‘buierig’. So visueel is dit ook iets wat ’n mens aangryp en jou laat aanhou kyk. Dis regtig ’n reeks waarop ek trots is en wat ek self geniet het om te kyk.”

Milan se karakter Julia Bruwer is sinies, inkennig en wantrouig. “ʼn “Sneltrein vol chemikalieë wat die heeltyd dreig om te ontspoor”, lui ʼn persverklaring se beskrywing. Milan vertel wat haar aangetrek het tot dié karakter:

“Julia was een van my gunsteling-karakters nog ooit, juis omdat sy so kompleks was. Ek dink mense het gesukkel om van haar te hou. Hulle kon tog όόk vereenselwig met die storms binne-in haar.
Dit was vir my ’n lekker uitdaging om die nuanses van angs te ondersoek en te speel, omdat Julia ʼn angsversteuring het en medikasie daarvoor neem. Dit was vir my interessant om met kollegas en vriende te praat oor hoe húlle dit hanteer. Ek het self angs, so om daai gedeelte van haar persoonlikheid te ontsluit was vir my ’n lekker uitdaging.

Ek dink ’n groot aantrekkingskrag tot ’n rol is natuurlik ook die mense teenoor wie ’n mens speel. Ek het die rolverdeling van Waterfront baie geniet. Natuurlik kyk ons as akteurs na wie die regisseur en skrywer is. As al daardie boksies getiek is, is dit maklik om vir ʼn rol ja te sê. Sό was dit definitief met Waterfront.

Milan vertel van ʼn rare oomblik van energie tussen akteurs wat sy op die stel van Waterfront ervaar het

“Kyk, dit maak nie saak hoe lank ’n mens al ’n akteur is nie, ʼn mens het mos maar altyd jou eie helde en mense na wie jy opkyk. Vir my was dit baie, baie lekker om vir die eerste keer teenoor Dawid Minnaar en Joanie Combrinck te kon speel, al was dit kort tye en vir min tonele.

Ek onthou spesifiek een van die tonele waar die drie susters saam met Dawid en Joanie in die vertrek was. Daar was ʼn ongelooflike dinamika, ’n energie tussen al die akteurs. Dit is iets wat ek altyd sal onthou en iets waaraan ek terugdink as ek dink waarom ek doen wat ek doen. Dit is daai rare oomblikke wat uitstaan, waar jy ʼn klomp talent in ’n vertrek het, gestroop van ego’s, en almal is daar om die storie te dien. Dit was vir my baie, baie lekker.”

As Milan vir Julia ʼn storielyn kon byskryf, sou dit sό lyk:

“Regdeur die hele reeks is Julia se karakter donker en sy het ook ’n donker invloed op die mense om haar. Ek dink dit sal interessant wees om ’n storielyn te verken wat aan die lig sou bring hoe sy, met haar haar angs en neuroses, sou optree en dalk selfs ‘gered’ sou kon word, deur iets wat haar nader aan die lig bring.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies