Sy het as kind haar debuut in die plaaslike vermaakbedryf gemaak, en vandag is Izel Bezuidenhout ’n bekende gesig wat intense karakters met gemak en oortuiging speel. Sy is voorheen in groot rolle in flieks soos Flatland en die treffende Dis ek, Anna (albei op Showmax) gesien, maar vir haar was daar net iets anders aan haar karakter Emma in die vierde seisoen van Spoorloos. Sy het uit die staanspoor gevoel dat dié ’n storie is wat sy móét vertel.
Wat het jou tot die rol van Emma gelok?
“Die teks is ongelooflik geskryf. Toe ek dit die eerste keer lees, kon ek dit nie neersit nie. Toe ek Emma se storie lees, was ek soos ‘wow, ek verstaan haar!’ Ek weet wie sy is. Goed wat sy op haar journey geleer het, het ek al op ’n jonger ouderdom geleer. Sy het bekend gevoel en ek sou enigiets gee om deel van die reeks – en Emma se storie – te wees.”
Jy het vir Emma soveel lae in jou vertolking gegee. Op watter reis gaan haar karakter vir kykers neem, en wat het die tyd in Emma se skoene vir jou geleer?
“Die gehoor sal sien dat sy meeste van die tyd net ’n glimlag op haar gesig sit. Sy probeer om haar emosies weg te steek en dinge uit haar verlede het ’n groot impak op die besluite wat sy as ’n 24-jarige neem. Dit is nogal ’n empowering journey vir haar. Sy leer later om nie haarself te judge nie.
Jy groei ’n bietjie as ’n mens met elke rol wat jy speel. Emma het vir my geleer om nie sleg te voel as jy jouself eerste kies nie. Daar is ook niks verkeerd daarmee om jouself ook gelukkig te wil maak nie. Ons almal plaas soms anders se geluk bo ons eie, maar jy hoef nie altyd laaste in die ry te wees nie.”
Jy is self ’n baie groot aanhanger van Spoorloos. Hoe was dit om saam met die onderskeie regisseurs te werk en om deel van die reeks te wees?
“Ek is ’n groot fan van al die ander Spoorloos-seisoene en ek het geweet hoe goed die regisseurs en skrywers op hierdie reeks is.
Dit was beslis ’n rol wat vir my uitgestaan het en ek is so dankbaar vir die geleentheid om saam met sulke talentvolle mense te werk. Christo Davids en Francois Coetzee (regisseurs) is meesters in die bedryf en hanteer jou as ’n akteur met respek en geduld.
Omdat ek so ’n groot aanhanger van die reeks is, en Christo by al drie die vorige seisoene betrokke was, het ek geweet die aksie op stel sou ewe opwindend wees – nes die aksie op kykers se skerms.”
Die veteraan-akteur Deon Coetzee vertolk die rol van Emma se pa en julle het baie skermtyd gedeel. Is daar ’n oomblik tydens verfilming wat vir jou uitstaan?
“Dit is altyd ’n seëning om saam met mense soos Deon te werk. Soms moet ek myself knyp en voel dit soos ’n outer body-ervaring om nou kollegas te wees saam met mense wat ek as kind op TV gesien het.
Daar is een aand van verfilming wat beslis uitstaan. Ek en Deon was besig met ’n toneel en toe moes ons stop sodat hulle ligte of iets kon omruil. Ons het op ’n plekkie gaan sit en Deon het toe na my toe gedraai en gesê hoe gelukkig ons is om hierdie werk te kan doen en om deel van so ’n spesiale storie en rolverdeling te wees. Ons het vir die res van daardie paar minute in stilte gesit.
’n Mens raak so besig dat jy soms vergeet om vir ’n oomblik stil te staan en alles in te neem. Jy moet soms stil raak en ’n minuut vat om te besef hoe wonderlik jou geleenthede is.”
Jy was maar tien jaar oud toe die vermaakgogga jou gebyt het. Hoe het hierdie ervaring jou siening rondom jou loopbaan beïnvloed?
“Omdat ek so jonk begin en vroeg van teleurstelling geleer het, het ek na skool geweet waarvoor ek myself inlaat. Dít het my besluit makliker gemaak en dit het ook gehelp met my finansiële beplanning, omdat ek al geweet het dat daar maande gaan wees wanneer daar minder of geen werk is nie. Ek het geweet hoe om rondom dit te werk en te beplan. Dit het die werk lekkerder en minder stresvol gemaak. Ek kon die teleurstelling ook makliker verwerk as mense wat ná skool eers in die bedryf begin het.
Ek is dankbaar dat ek al op skool aan my loopbaan kon werk en dat my ouers altyd in my drome geglo het. Ek was maar 14 toe ek my eerste film gedoen het. Omdat ek nog ’n kind was, moes my ma saam met my op stel wees. Dit het ons verhouding en band sterker gemaak. Dit is herinneringe wat ek altyd sal koester, veral omdat sy nou glad nie meer saam met my op stel is nie. Niemand in my familie is in die bedryf nie. Dit is regtig te danke aan my ma, wat ’n skaam Izel na dramaklasse toe gestuur het, dat ek vandag doen wat ek doen.”
Jy vertolk moeilike karakters met diep storielyne. Hoe belangrik is dit vir jou om ’n karakter af te skud om seker te maak dat Izel altyd Izel bly?
“Aan die begin sukkel jy om uit karakter uit te kom, maar dit is so belangrik dat jy nie daardie emosies huis toe vat nie. Ek het as tiener vir myself geleer dat ek onmiddellik ná ’n moeilike toneel moet lag. Ek dink mense dink soms dat ek mal is om so te lag, maar as ek lag, voel ek soos Izel en word ek weer myself. Dit help ook om letterlik uit daardie karakter se skoene te klim. Ek trek onmiddellik ’n karakter se skoene en klere uit. As jy huis toe gaan, moet jy weer soos jouself lyk en voel. Dit vat baie dissipline, maar dit is so belangrik vir jou emosionele welstand.”
As jy terugdink aan jou eerste rol en hoe baie jy oor die jare as akteur en mens gegroei het, wat sou jy nou vir ’n 14-jarige Izel sê?
“Ontspan! Jy hoef nie so skaam te wees nie en jy hoef nie alles perfek te doen nie. Maak nie saak wat gebeur nie, alles sal uitwerk. Judge jouself minder en wees geduldig met jouself. Jy het nog baie tyd om te leer.”
Die vierde seisoen is vanaf 20 Julie 2023 op Showmax beskikbaar om te stroom. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax.