Sowat halfpad deur die tiende seisoen van dié kosprogram, vervat een Kokkedoor: Son en see-deelnemer heel terloops die gestroopte kern van die nuutste aflewering: “Vandag se kos is môre se herinneringe.”
Uit die staanspoor is dit moeilik om dié iterasie van Kokkedoor as suiwer kompetisie-realiteitsreeks te beskou. Dít is deels omdat die deelnemers slegs uit huiskokke bestaan – daar is dus nie kinkelkokke (wat ’n professionele sjefsagtergrond het) soos in vorige Kokkedoor-seisoene nie – maar ook omdat Son en see se anderste invalshoek die reeks se wese ook verander. Die amperse kilheid van kompetisie wat die drama en spanning tot kookpunt gedryf het in die twee Kokkedoor Vuur & Vlam-seisoene, neem hier ’n tree terug. Die kollig is dus eerder op die rol wat kosmaak in familiekombuise speel. Hoe daardie rol van een generasie na die volgende oorgedra word, kom ook onder die loep.

Ons leer ken dus die agt spanne – wat elk uit twee familielede bestaan met minstens 20 jaar ouderdomsverskil tussen hulle – op ’n heel ander vlak. Dís ’n diepgaande kennismaking met mense wie se stories onthutsend bekend voel soos die ‘hoekom’ vir hul liefde vir kosmaak en die rol van die kombuis as ’n karakter in hul lewe stukkie vir stukkie, happie vir happie ontvou.
| Die deelnemers: |
| Anton (64) en Stefvan (37) Stemmet (pa en seun) Yvette Malan (60) en Francisca Momberg (35) (ma en dogter) Frans (51) en Una-belle (18) van Wyk (pa en dogter) Marianne du Plessis (64) en Ronélle de Klerk (39) (tannie en susterskind) Shireen (50) en Reuven-Jon (21) Kadalie (ma en seun) Andrew Anderson (57) en Leoné Smit (30) (pa en dogter) Caroline Linde (55) en Anél van Niekerk (32) (ma en dogter) Hanna (58) en Dirk (29) van der Westhuizen (ma en seun) |
Jou redes om as kyker in te koop, om week ná week in te skakel, is veel meer geheg aan die dik gelaaide emosionaliteit van sowel die deelnemers, as die familiedinamika wat uitspeel. Daar’s herinneringe wat oorvertel word en verdere verryking bied soos die onthou met ’n lag én ’n traan geskied. Die knop-in-keel-oomblikke is volop. Want sien, die ding is: of jy ’n familie het of nie, nog nooit een gehad het nie en nog altyd van een droom, of dalk verloor het en verlang na wat was, en of dit bloedverwant is of gekies en gevorm uit die juwele in jou lewe – dis die gevoel van familie wat hier iets rondomtalie laat roer in ’n mens. En dís waarvoor ’n mens so dikwels hoop as jy die TV aanskakel: om op reis te gaan op golwe van gevoel.

Herman Lensing en Yolani Abrahams, beide gekwalifiseerde sjefs en gerekende koskenners, werk in besonderse akkoord om die kompetisie-elemente van die reeks met die mensestories te balanseer. Hul terugvoer as beoordelaars is sonder die dun dun duuun!-agtigheid van vorige seisoene wat hier uit plek uit sou gewees het. Hul kritiek is eerder bondig en bied vir beide die kyker en die deelnemers geleentheid om te leer terwyl hulle ook telkens kosbare stories uit hul eie lewenservarings deel.

Op hul beurt ontvang die deelnemers dié kritiek – hetsy lof, ligte aanmaning of troos – met ’n lag eerder as ’n traan. Hul bereidwilligheid en die gemak waarop hulle vir hul eie flaters kan skater, dra by tot die warmte en verwelkomende atmosfeer van dié kykervaring. (Hier dink ek veral aan die giggelende ma-en-dogterspare, Caroline en Anél, asook Yvette en Fran, wat só lag vir hulself – en mekaar – dat die trane én maskara loop.) Die “kom maar binne”-gevoel wat die reeks wek, word verder verdiep deur die bande wat vinnig tussen die spanne gesmee word. Want, sê deelnemer Stefvan in ’n stadium, “vriende word baie gou familie.”
Maar dís dan juis ook hoekom dit baie, baie harder tref as ’n span die kombuis moet verlaat. (Want, ja, dit is tog steeds ’n kompetisie en daar is ’n heel paar rande op die spel.)
Agter die skerms
Die span wat dit reggekry het om die allerbelangrikste storie-elemente met mekaar te trou, word weer gelei deur vervaardigers Paul Venter en Jaco Loubser. Dis regisseur Sanet Olivier wat haar hand soos ’n towerstaffie oor die vertelling sweef. Die kinematograaf Chris Lotz en produksie-ontwerper Bathoni Robinson speel ook heerlik met die somerstema. Die stel is propvol kleur, geensins bedees nie. Dis ’n helder, vreugdevolle prentjie wat geskets word, gemik daarop om ons gedeelde herinneringe van somer – met sand op jou waatlemoenskyf op die strand of nie – te wek.
Kokkedoor se nuwe voorskoot is een wat die vermenging van nostalgie en vernuwing – juis daarom die generasiegaping tussen die spanlede – vervolmaak. Dis mooi se mooi, dié reeks. En die kos en die stories wat elke bord vertel, laat jou verlang… Al weet jy nie altyd presies na wat nie.
Kokkedoor: Son & see bestaan uit agt episodes en begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.