Menu terloops
In Onderhoude [4 Nov 2025]

‘Kokkedoor: Son en see’: Dié ma-en-seun-span g’n TV-vreemdelinge nie


Die een is flink op haar voete en die ander hou daarvan om te eksperimenteer in die kombuis – die ma-en-seun-span van Shireen en Reuven-Jon (RJ) vertel meer oor hul ‘Kokkedoor: Son en see’-ervaring.

‘Kokkedoor: Son en see’: Dié ma-en-seun-span g’n TV-vreemdelinge nie

Shireen (50) is ’n bedryfsbestuurder, en sy en haar seun, Reuven-Jon, woon in Burgundy Estate. Hulle is natuurlik geen vreemdelinge vir TV of kookkuns nie, want die twee spanmaats was die wenners van die kykNET&kie-reeks My ma kook beter as joune in 2024. Shireen is flink op haar voete en ’n kranige bakster. Sy glo sy het die vermoë om iets eenvoudigs te omskep in iets besonders en unieks. Vir haar is dit die lekkerste om tradisionele geregte byderwetse flair te gee. Sy en haar man, Reuben, is al byna 25 jaar lank getroud. 

RJ (21), ’n sagteware-ingenieur en voltydse model, hou daarvan om met Oosterse geregte te eksperimenteer en sê dat hy gereeld komplimente kry vir sy braaivleis en tuisgemaakte souse. Hy is die morsjors in die kombuis – iets wat sy ma, wat ’n baie netjiese mens is, soms teen die mure uitdryf. 

Shireen vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?  

“Toe ek hiervan te hore gekom het, het ek besluit om saam met my seun in te skryf, want ons albei hou baie van kosmaak. Dit was ook ’n geleentheid om ons reeds hegte verbintenis te verdiep en sommer net Free Willy te wees en te geniet wat ons na die tafel bring.  

“Ek is gek oor kosmaak, en ek werk om my kookdrome te ondersteun. Wanneer ek kook, ontspan ek, en dit laat my ook toe om my verborge talente te ontgin. Dit sorg ook vir ’n glimlag vir my familie en vriende, en dis boonop lekker om soveel komplimente oor my kos te kry. Kosmaak is my liefdestaal.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek weet ek moenie my eie trompet blaas nie, maar ek is opreg, eerlik, avontuurlik, baie humoristies en optimisties. O, ja, dan is ek ook ’n drama queen, perfeksionis en ’n uitstekende kok.

“Ek hou daarvan om mense te laat glimlag – of dit nou deur my kos, my humor of bloot net ’n kompliment of klein gebaartjie is. Dan is ek ook ’n bietjie obsessief-kompulsief, maar as jy my man vra, sal hy sê besonder obsessief-kompulsief.

“My seun noem my Speedy, want ek is bitter vinnig met wat ek doen, alhoewel dit nie so gelyk het in die Kokkedoor-kombuis nie. Ek is die partytjiegees en hou van lekker lag.” 

Hoe sal jy jou seun, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“RJ is supertalentvol, en hy het die perfekte balans tussen studies, die lewe, gimnasium, liefde en sommer alles. Hy is propvol energie en lag. RJ is ook baie bedagsaam en sal altyd ander se behoeftes en gevoelens voorkeur gee. Hy het ’n diepe verbintenis met God.

“RJ is hardwerkend en sal altyd iets klaarmaak waarmee hy begin het. Hy is ook gedrewe deur sukses, en niks sal hom stuit om sy drome en doelwitte te bereik nie. Sy liefde en respek vir ons as sy ouers is groot, en hy sal tot die einde van die wêreld daar wees vir ons. En nou het hy sy meisie net so lief.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Ek is Shireen met ’n dinamiese persoonlikheid, en jy moet eenvoudig net lief wees vir my. Ek is vol pret en gereed vir enige uitdaging. My kookstyl is ’n bietjie anders, met ’n vermenging van bruin en Kaap-Maleisiese erfenis wat dit uniek en geurig maak. Om saam met my 21-jarige seun te kook, maak dit ook interessant, want sy benadering is meer modern en so bietjie buite die boks.”

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek is een van ’n identiese tweeling, en dis nogal komies hoe maklik mense ons twee met mekaar verwar. Soms reageer ek dalk nie ewe entoesiasties op ’n groet of praatjies met iemand nie, maar wanneer ek verduidelik dat ek die ander een van die tweeling is, lag ons gewoonlik baie lekker daaroor.

“Ek is ’n ontwerper van beroep, en die maak van trou- en matriekdansrokke is een van my passies wat my kreatiewe kant aan die gang hou.

“Ek sing graag en is dol oor ’n goeie karaoke. Ek het al onder die topdrie in sangkompetisies geëindig.

“Sommige mense beweer my gebak is van die beste wat hulle nog geproe het. So, ek bak troukoeke, verjaardagkoeke en dan bak ek sommer net vir die lekkerte.” 

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“Ek het grootgeword op die Kaapse Vlakte waar die geure dekadent en uiteenlopend was, maar my ma het altyd eerste prys met haar kos gewen. Sy was ’n ongelooflike kok, en sy het met soveel finesse, styl, geur en intensie gekook. 

“Die eenvoudigste toebroodjie, ‘Ouma onner die komberse’, tamatiebredie, snoekbraai, curry bunny, pekelvis, melktert – dit het sy alles in ’n fees omskep wat met soveel genot en byklanke verorber is dat dit die bure verstom het.vJa, my ma was beslis die inspirasie waar my liefde en passie vir kook vandaan kom.

Wat is jou lewensleuse? 

“Deur my kos wil ek graag my familie en vriende laat glimlag. Kos stel my in staat om myself op ’n bord uit te druk. Kos is beslis nie net die pad na ’n man se hart nie – dis die pad na enige mens se hart. Dit bring familie en vriende bymekaar. Kos ontlok vreugde, vrolikheid, opwinding en alles wat lekker is, in my.”

Shireen (50) neem saam met haar seun, RJ (21) deel. Foto: Skermgreep

RJ vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Ek kook graag saam met my ma wanneer ek kan. Toe sy my van Kokkedoor vertel het, was ek baie opgewonde om hierdie nuwe uitdaging saam met haar aan te pak – nie net as ’n 21-jarige met ’n liefde vir kos nie, maar ook as ’n seun wat die hegte band met sy ma waardeer.

“Om te kook bring kalmte en balans in my mee terwyl dit ook die kreatiewe kant van my lewe aanvuur. Die geleentheid om hierdie passie in ’n kompeterende omgewing saam met my ma uit te leef, was iets wat ek nie kon laat verbygaan nie.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek beskou myself as iemand met selfvertroue wat avontuurlik, vol pret en liefdevol is. Ek glo ek is fisiek en geestelik sterk, alhoewel ek ’n bietjie van ’n bleeksiel is wat van my belangstellings (rekenaarspeletjies en -programmering) betref, maar ek is trots op dit waarvan ek hou.

“Ek hou van die gimnasium en kontaksport. Sommige mense mag sê ek is ’n bietjie obsessief, maar dit hou my gedissiplineerd. Ek is ook ’n voltydse model. Daarom is my voorkoms ook belangrik. Maar ek geniet die struktuur wat daarmee gepaard gaan.

“Ek het ’n goeie sin vir humor en geniet dit om komedie en aksente te doen. En ek is baie kompeterend – of dit nou in die gimnasium, voor die stoof of voor die sleutelbord is. Kook is deel van wie ek is.”

Hoe sal jy jou ma, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“My ma is die grootste ondersteuner in my lewe. Haar liefde is onvoorwaardelik, en sy wys dit daagliks op al die moontlike maniere waarop sy kan. Sy is ook die hardwerkendste mens wat ek ken en deur en deur ’n oorpresteerder.

“Daar is geen vergelyking wanneer dit by kos kom nie. Sy is die beste kok wat ek ken, en sy het my alles wat ek in die kombuis kan doen, geleer. Sy is takties in haar benadering – altyd vyf stappe vooruit. En wanneer dit by haar bakwerk kom, is sy loshande die beste bakker op aarde.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Ek is ’n jong man met ’n unieke mengsel van moderne energie en sterk familiewaardes. Ek het ’n dinamiese persoonlikheid, is gedrewe, gedissiplineerd, ’n bietjie onkonvensioneel en baie ekspressief.  

“My diep liefde vir kosmaak staan uit in alle aspekte van my lewe. My styl kombineer tradisie en modern. Terwyl my ma se invloed my voete op die grond hou, dryf my eie kreatiwiteit my ook om grense te verskuif. Ek benader kos met dieselfde fokus en nuuskierigheid as sagteware of sport.”

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek het ’n obsessie oor aksente en om mense na te boots. Wanneer ek tyd het en nie gewigte optel of kodeer nie, speel ek graag rekenaarspeletjies. Min mense verwag ook die kombinasie van voltydse model en sagteware-ontwikkeling.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“My ma. Sy het nooit babakos gekoop nie – sy het dit gemaak. Ek was nog baie jonk toe sy my aangemoedig het om my eie maaltye te maak. Ek was 5 jaar oud toe ek spek en eiers kon maak.

“Sy het my ook gedruk om geure uit te werk, nie net te aanvaar nie. Selfs wanneer ons wegneemetes bestel, sal ek altyd probeer om die geurprofiel te verbeter. Onder my vriende is ek bekend as die een wat altyd kook wanneer ons saamkuier. En hulle ken die reëls: As Reuven hier is, kook hy.”

Wat is jou lewensleuse? 

“Laat mense glimlag en neem God oral saam met jou. Ek glo God is die middelpunt van alles wat ek doen. Ek hou daarvan om mense te laat lag, deel graag idees en raad, en los probleme op – veral wanneer ander dit nodig het. 

“Ek glo probleemoplossing is een van my Godgegewe talente. Kook is een van die maniere waarop ek dit benut. Dit is hoe ek met mense kontak maak, en dit is my gunstelingmanier om liefde en teenwoordigheid te toon.”


Kokkedoor: Son & see begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Dié Kokkedoor-reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies