Menu terloops
In Onderhoude [27 Okt 2025]

‘Kokkedoor: Son en see’: Dié ma-en-dogter-span leef saam-saam passie vir kook uit


Dis Yvette Malan en Francisca Momberg se huisie op Struisbaai, waar hulle tydens die verfilming van ‘Kokkedoor: Son en see’ gewoon het, wat die samekomsplek vir ál die deelnemers op stel geword het, vertel dié ma-en-dogter-span.

‘Kokkedoor: Son en see’: Dié ma-en-dogter-span  leef saam-saam passie vir kook uit
Kyk lokprent

Yvette (60) kom van ’n plaas 45 km noord van Ellisras waar sy die afgelope 20 jaar die eienaar van Yvette Malan Eiendomme is. Dis baie ver van die naaste winkel, en sy het geleer om goed plan te maak met dit wat in die kombuis beskikbaar is. Van haar bekende resepte is al in die Huisgenoot se reseptetydskrif gepubliseer. In haar vrye tyd gee sy kookklasse van haar huis af. Boonop is Yvette en haar dogter Francisca (35) die afgelope tien jaar bure, en die twee kook daagliks saam.

Yvette is al die afgelope 36 jaar met Frik Malan getroud. Benewens Francisca het hulle nog drie kinders: Hugo, Arnold en Marguerite.

Francisca is die bestuurder van Lephalale Mall. Sy reis graag en woon in elke land ’n kookklas by. Volgens Yvette het Francisca beter smaak en word sy gereeld geroep om te kom proe voor enigiets bedien word. Fran, soos Yvette haar noem, omskep dikwels haar stoep vir gesellighede om haar gemeenskap te bedien en te vermaak. Sy hou daarvan om haar geregte mooi te maak, en sy glo steeds mense eet eintlik met hul oë. 

Sy is die afgelope vier jaar met Leonard Momberg getroud – die man wat sy láát gevang het, maar volgens haar die regte een is. Hulle is die trotse ouers van ’n seuntjie, Leo-Carl (3), en dogtertjie, Yvette (1), wat na Francisca se ma vernoem is.

Kokkedoor

Yvette vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son en see ingeskryf?  

“Ek hou baie daarvan om kos te maak en te onthaal. En dan was dit natuurlik ’n ongelooflike voorreg om hierdie ervaring saam my dogter te kon hê. Ek wil ook baie graag ’n nalatenskap in die vorm van ’n boek met ons familieresepte vir my dogters, kleindogters en skoondogters laat.

“Ek het in 2023 begin om ons familieresepte bymekaar te kry, en ek dink in my agterkop het ek besluit Kokkedoor sal my help om te fokus op dié projek. En ja, dit het.

“Errieda du Toit se waarskuwing dat ons kinders gaan verleer om familiekos te maak, is beslis ’n groot dryfveer om daarmee te begin en dit klaar te maak.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek is ’n gelukkige en tevrede vrou, ma, ouma, vriendin en dogter. Wat my dryf, is om iets vir hierdie wêreld en sy mense te beteken. Geld is wel gerieflik, maar dis nie my dryfveer nie.

“My kinders, my kleinkinders – al my geliefdes om een tafel – is meer werd as enigiets anders. Ek is ’n kind van God, en Sy Woord bepaal my rigting.” 

Hoe sal jy jou dogter, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son en see deelgeneem het, beskryf? 

“Fran is my oudste dogter en my buurvrou. Sy is slim, gedrewe, baie mooi en baie pret. Fran is sag, maar sy kan beslis haar man staan. Sy is ’n uitstekende ma vir ons twee kleinkinders. Almal is lief vir Fran. Fran het baie respek vir ons as ouers. Haar naam beteken: the free one. En sy is vry.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Ons as deelnemers het so lekker saam gekuier, gelag en beplan. Dis moeilik om te sê. Ek dink dalk wat my van die ander onderskei het, was toe ek ons huis op Struisies (Struisbaai) oopgemaak het vir almal om elke aand met japonne te kom eet, te kuier en net te gesels. Ons tafel was die samekomsplek vir almal. Ek glo nie ek was anders as die ander nie. Of ek het dit nie so ervaar nie.” 

Is daar iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek is nogal trots op myself dat ek op 40 ’n eiendomsagentskap oopgemaak het sonder dat ek enigiets van eiendomme geweet het – en vandag is Yvette Malan Eiendomme ’n suksesvolle onderneming.

“Vanaf 2020 het ek begin kookklasse aanbied in my kombuis hier op die plaas, en ek geniet elke oomblik daarvan.

“Ek kan nogal iets besluit en dit net doen – soos om vir Kokkedoor in te skryf. Just do it!

“Dan is daar ook my groot passie vir Afrikaans as taal. Ek is vir die afgelope 30 jaar betrokke by ATKV-redenaarskompetisies en debat. Eers as ma met kinders wat aan redenaarskompetisies deelgeneem het, toe as skrywer en die afgelope 15 jaar as beoordelaar. Ek is absoluut versot op ons taal.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“Dit het begin met my tannies Wilna en Santa en ook my ma. Ons praat elke dag met mekaar oor kos, resepte, nuwe produkte en sommer net wat lekker is om te maak.

“My kookstyl word definitief beïnvloed deur die mense vir wie ek kos maak. My man is ’n klein eter, en hy is sommer net doodgelukkig met ’n konfytbroodjie en ’n stukkie kaas. My konkoksies is nie vir hom ’n bederf nie. Ek kook min, klein en eenvoudig, maar in die kookklasse kan ek my uitleef.

“En dan is daar die Suid-Afrikaanse kokke wat my inspireer en wie se resepteboeke ek soos storieboeke lees: Herman Lensing, Carmen Niehaus, Marinda Engelbrecht, Tannie Poppie en Errieda du Toit.”

Wat is jou lewensleuse?

“Die lewe is nie ’n resies nie. Net die rotte wen die resies. Die lewe gaan oor verhoudings. Wat is jou spoor wat jy agterlaat vir ander mense? Jy bepaal hoe ander jou sal onthou. Ek glo aan integriteit en etiese waardes.

“Yvette Malan Eiendomme se slagspreuk is dan ook: Where passion, integrity and properties meet.”

Kokkedoor
“My ma word hierdie jaar 60, en ek het gedink dit sal lekker wees om saam met haar op die Kokkedoor-avontuur te gaan, saam ons passie uit te leef en goeie herinneringe te bou,” vertel Fran oor hoekom sy en haar ma, Yvette, aan Kokkedoor: Son en see deelgeneem het.

Francisca vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son en see ingeskryf?    

“My ma het my gedwing. Nee, ek grap! As ’n ma van twee klein kinders met ’n voldagwerk, kan jy nogal in jou eie wêreld en roetine vasgevang word. Daarom was ek lus vir die uitdaging. My ma word hierdie jaar 60, en ek het gedink dit sal lekker wees om saam met haar op die Kokkedoor-avontuur te gaan, saam ons passie uit te leef en goeie herinneringe te bou.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Sjoe, as jy my tien jaar terug hierdie vraag gevra het, was my antwoord baie anders. Tyd en ouderdom leer mens so baie dinge, en die lewe leer mens so baie goed. Dinge wat in die verlede vir my belangrik was, dryf my nou nie meer aan nie en het selfs nie eers nou plek in my wêreld nie. My lewe is so tevrede en eenvoudig. 

“’n Goeie salaris, ’n kas vol klere, goud en silwer, ’n paspoort vol stempels bepaal nie my geluk nie en spoor my ook nie aan nie. Ek is op my gelukkigste op ons stoep in die hartjie van die Bosveld wanneer my ongelooflike goeie man vir ons iets lekkers braai terwyl ons kinders gesond en gelukkig om ons speel, met die DBV-hond wat blaf, my bure (my ouers) wat gou kom hallo sê, en dan sommer bly vir die braai. Dis dan wanneer die besef kom: Ons is gelukkig, ons is gesond, ons is geseënd.”

Hoe sal jy jou ma, jou spanmaat, beskryf? 

“Julle ken die verhaal van Jesus se besoek aan Marta en haar sussie Maria. Tydens die besoek was Marta bedrywig in die kombuis om vir Jesus ’n feesmaal voor te berei, maar Maria het by Jesus se voete gaan sit en na sy woorde geluister. In my ma se 60 jaar op aarde weet ek dat my ma ’n Marta én Maria is. Ek weet sy is ’n Marta, want my ma se liefdestaal was nog altyd kosmaak en kos uitdeel. Haar huis, haar hart en hande is altyd vir almal oop.

“Maar deur die jare weet ek ook dat sy nog altyd by Jesus se voete gesit het soos Maria, want my ma se lewe is ’n voorbeeld van iemand wat God se tien gebooie gehoorsaam. Deur haar aanbidding wys sy dat Hy Heilig is en dat sy vir hom eerbied en respek het.

“My ma hou die Sabbatdag heilig, want met groot vreugde in haar hart gaan sy elke Sondagoggend getrou na die Here se huis. Sy is die rede waarom haar man, agt kinders (aangetroudes ook) en ses kleinkinders getroue kerkgangers is.

“Sy het my geleer om my vader en moeder te eer. In haar huwelik wys sy vir ons hoe ’n huwelik behoort te wees wat nie net tot eer van God is nie, maar ook gelukkig is. Haar woord is haar eer, want wanneer sy praat, is dit met opbouende woorde, woorde om ander te help en woorde om die mense om haar te laat lag. Sy begeer niks nie, en vir die afgelope 60 jaar is sy tevrede met net dit wat sy uit die hand van die Here ontvang.” 

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Dat hulle beter kan kos maak as ek. Hoekom? The proof was in the trifle pudding.”

Enigiets interessants oor jou? Of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Net ná skool het ek aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Ek het reeds vanaf die eerste semester geweet dat ek nie LLB moes studeer het nie, maar met my deursettingsvermoë en my ouers wat ons geleer het dat jy alles wat jy aanpak, moet klaarmaak, en saam met ongelooflike baie hereksamens, het ek my graad behaal en is ek toegelaat as prokureur. Op dieselfde dag waarop ek toelating gekry het, het ek my huidige werk as Lephalale Mall se bestuurder aanvaar – en teruggetrek na my tuisdorp.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“My ma. As klein dogtertjie was my ma se kombuis ons kinders se gunstelingvertrek in die huis. Dis hier waar my ma op haar gelukkigste was. Dit was daar op haar kombuisvloer waar ons vier kinders bakke kon skoonlek en meel kon afmeet. 

“Soos wat ons ouer geword het, kon ons haar help om warm goed op die stoof te roer en te proe. En noudat ek ’n vrou is, is haar kombuis steeds my gunstelingvertrek. En omdat sy my buurvrou is, kuier of eet ek omtrent elke dag by haar. 

“Dis om haar kombuistafel waar ons geheime deel, lag en huil oor die lewe. Dit is voor haar stoof wat ek geleer het om kos te maak en lief daarvoor te wees. Sy het my geleer hoe om maklik en

vinnig kos te maak; dat kos mense bymekaar bring en dat ’n tuisgemaakte bord kos gebroke harte, harte wat rou en harte wat verlang, beter kan laat voel.”

Wat is jou lewensleuse? 

“Die meeste dinge kan wag. Spandeer jou tyd eerder op jou verhouding met God, jou ouers, jou man en kinders.”


Kokkedoor: Son & see begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Dié Kokkedoor-reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies