Menu terloops
In Onderhoude [29 Okt 2025]

Vir dié pa en dogter is ‘Kokkedoor: Son en see’ ’n geleentheid vir spesiale herinneringe maak


Om aan ‘Kokkedoor: Son & see’ saam met sy dogter, Una-belle, aan te pak, was vir Frans van Wyk ’n ‘geleentheid om memories te maak en tyd met my bestie te spandeer’. Dié pa-en-dogter-span vertel meer oor hul ‘Kokkedoor’-ervaring. 

Vir dié pa en dogter is ‘Kokkedoor: Son en see’ ’n geleentheid vir spesiale herinneringe maak

Frans (51), die eienaar van ’n koffie- en blommewinkel in die Paarl, is ook ’n geleentheidsbeplanner. Dié Namibiese boorling beskryf homself as ’n “jack of all trades” oftewel ’n “creative spanner”. Hy bak graag, kook baie en braai altyd. Verder organiseer en koördineer hy spogtroues en -funksies. 

Paarliete ken sy Kapanahoendervlerkies en Turkse slaaie baie goed. Familiekuiers langs Langstrand naby Swakopmund in Namibië was die bron van vele uithalergeregte en spesiale herinneringe. 

Hy en Ronel eet al die afgelope 20 jaar saam aan die spreekwoordelike sewe sakke sout, en hulle het drie kinders: die saggeaarde Una-belle (19), die perfeksionis Ane-beth (16), wat sterk voel oor vroueregte, en die gamer Gert (13), wat ook gek is oor sport.

Una-belle is ’n matriekleerling aan Hoër Meisieskool Paarl. Sy is resepgedrewe en neem tydsbestuur, asook kombuishigiëne ernstig op. Verbruikerstudies leer haar om goed in ’n span te werk. Haar tuisgemaakte koekies en brode is haar spesialiteit. Sy klassifiseer haarself as ’n mense-mens wat hou daarvan om te sosialiseer en om ’n oor te wees wat altyd bereid is om te luister. 

Frans vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“As jy 50 word dan besef jy tyd vir geleenthede raak min. Jy weet nooit wanneer die dag gaan wees wanneer Jesus jou roep nie. So, hierdie was die geleentheid om memories te kon maak en tyd met my bestie te spandeer en net te lag en ’n bietjie te kan ‘baklei’. 

“Ek wou haar passie vir kos saam met haar uitleef en haar wys dat alles nie maklik is nie – partykeer word jy gedruk op plekke wat nie lekker is nie. Dan moet jy besluite kan neem en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Ek wou saam met haar konkel en goed uitprobeer, maar bo alles wou ons net tyd leen vir mekaar. 

“Volgende jaar is sy klaar met die skool en die grootmenswêreld roep. Dan kom daar die volgende oomblik rooi harte oor haar oë, en sy is nooit weer myne nie.

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Dis ’n baie moeilike vraag, want as ek my lewe tot 46 sou beskryf, sou dit die hemel wees. Ek is toegelaat deur die hemelse Vader om ’n bitter mooi, verbeeldingryke lewe te lei. Ek love die korporatiewe funksies en troubedryf met my alles, maar daar kom ’n tyd wanneer jy besef mense soek nie die classics nie. Hulle soek eenvoudig, minimalisties en vervelig en nie soseer iets wat met klas geassosieer word nie. 

…Ek is soos groentee – dit neem meer as een koppie om daarvan te hou. Dis ek daai.

Frans

“Ek het besef daar moet meer en iets anders wees as om agter mense rond te dans van 7-11 elke dag en buiten ongelooflike foto’s, mooi herinneringe en seer voete, word goeie werk nie meer waardeer nie. 

“Ná 46 het Covid Namibië getref en my eerste en laaste oproep van my weggeneem – my broer. Hy was my beste pel. Hy het my crazy en mal idees verstaan, en hy was trots op die mens wat ek is. 

“Die skuif na die Paarl het my weer kom leer om in God te glo. Maar ek moes myself weer vind. Die lewe is net te mooi, kleurvol en bars uit sy nate met crazy om nie ook so vrypostig en voluit te leef nie.” 

Hoe sal jy jou dogter, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“Sy was ’n klein bruinoogmonstertjie wat ek moes grootmaak sonder enige kennis op die rype ouderdom van 31. Una-belle is ywerig. Sy is iemand wat alles wil probeer. Sy is ’n sagte siel en sien net mooi in almal. 

“Una-belle is ook ’n Maria – iemand wat drukkies uitdeel as mense seer het of hartseer is. Sy verstaan my wese, en sy het die plek van my broer geneem sodat ek net kan praat. Sy is dinamies, weet wat sy van die lewe wil hê en is bang vir niks nie. Sy lewe met die regte waardes, en alhoewel sy nie ’n prentjiemens is nie, weet ons hoe om mekaar se praat te voltooi. 

“Maar bo alles het sy saam met my deelgeneem oor haar liefde vir familie. As die oudste kind was sy die pop in ons klein familie en gesin se bestaan. Sy is sonskyn, sonneblomme, geel, sonstrale en lig vir almal wat dit nie het nie. Sy love ook kos en onthaal en hou van gee.” 

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen? 

“Ek is avontuurlustig en lus om kos beter, asook gesonder en visueel opwindend te probeer maak. Mooi kos is mooi kos. En as iets mooi is, gaan ek probeer om dit te eet, al is dit nie vir my maklik nie. Alles op die bord, garnering ingesluit, moet mooi wees. Anders is dit ’n dag wat gemors is.

“Ek dink my liefde vir kos, familie, see en sand het my laat voel ek is deel van iets spesiaals. Ek is ook nie bang nie. Nee is net nee, en ja is ja, en as jy dit nie as ’n ja of  ’n nee het nie, dan spanner jy jouself reg tot waar dit ’n positief is.

“Ek dink ek het groot idees en groot planne, en ek glo tuiskos kan ongelooflik spoggerig wees. Ons hoef nie daarvoor skaam te wees nie. Jy moet net 100% opreg wees en nooit om verskoning vra vir jou maniere, your way of doing things, nie.”

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek is regtig ’n jack of all trades and master of none, maar ek is ’n baie goeie strategiese korporatiewe funksiebeplanner. Ek droom, en ek droom groot. Ek is uitspattig, en ek hou van ’n show. 

“Ek is ’n ongelooflike goeie en kreatiewe bloemis, maar, weer, my opleiding is in die Britse klassieke en landelike styl. Ek kan ikebana in my slaap doen, en ek stem nie saam daarmee dat blommerangskikkings deesdae so ’n gepakte vorm van blomme moet wees waar jy nie die een van die ander kan onderskei nie. Tannie Elize Buys, van The Planted House, het gesê enige ontwerp is reg wanneer die vlinder daardeur kan vlieg. 

“Ek kan ongelooflik lekker kos maak, en ek is soos groentee – dit neem meer as een koppie om daarvan te hou. Dis ek daai.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“Ek het voor drie formidabele vrouens grootgeword: Ouma Tiekie,  Ouma Gerrie en my ma, Ina. Kos was ’n liefdestaal en dus het ek ook die taal by dié drie aangeleer. Ek voed nie mense nie – ek vertel ’n storie, of neem jou na ’n land of ’n plek deur ’n bord kos.

“Vandag kan ek terugkyk na ons tye saam en met hulle drie se stories en resepte vir my familie en vriende – en dan herhaal ek dit met vernuwende resepte. Natuurlik is daar ongelooflike sjefs daarbuite wat ek bewonder, en in my 40’s het ek ook fine dining geniet. Nou staan dit my glad nie aan nie. 

“Ek soek huiskos op steroïede, ek soek herinneringe van gister in elke hap – soos ons grootgeword het. Dít laat my die mooi en die lekker onthou van menswees, van Afrikaans wees.”

Wat is jou lewensleuse?

“Meer is meer; en totally over the top.”

Kokkedoor Son en see
“Ek wou haar passie vir kos saam met haar uitleef en haar wys dat alles nie maklik is nie – partykeer word jy gedruk op plekke wat nie lekker is nie. Dan moet jy besluite kan neem en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Ek wou saam met haar konkel en goed uitprobeer, maar bo alles wou ons net tyd leen vir mekaar,” vertel Frans oor hoekom hy saam met sy dogter, Una-Belle, aan dié seisoen van Kokkedoor wou deelneem. Foto: Skermgreep

Una-belle vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Ek het vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf omdat ek nie net ’n passie vir kos het nie, maar omdat ek ook besef het hoe kos mense bymekaarbring. Dis nie net resepte en bestanddele nie, maar ook ’n manier van storievertel, om te onthou en liefde te deel.

“Vir my was dit ’n kans om spesiale herinneringe saam met Pappa te maak; om saam te kook, te lag en regtig kwaliteittyd te spandeer op ’n manier wat ons nog altyd geniet het – en dit is deur saam in die kombuis te wees. 

“Ek wou ook myself uitdaag, groei in my eie kookkennis en selfvertroue kry in die kombuis. Ek is baie lief vir die adrenaliengevoel deur die hele kookproses en wou dit graag op ’n ander vlak ook beleef. Hierdie ervaring was vir my soveel meer as net ’n kompetisie. Dit was ’n reis van groei, familie, hartsmense ontmoet en stories wat nou vir altyd deel is van my hart.

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek is ’n mens wat met baie gevoel en intensie leef. Ek is sag van hart, maar sterk van gees; iemand wat baie omgee, diep dink en met my hele wese die wêreld instap. Ek gee baie aandag aan die klein goed: mense se woorde, hul gemoed, hulle stiltes. 

“Ek is ook iemand wat konstant soek na groei; of dit nou emosioneel, kreatief of geestelik is. Ek glo nie daarin om net te bestaan nie. Ek wil leer, ervaar, voel en elke dag nader beweeg aan die beste weergawe van myself. Wat my dryf in die lewe is ’n diep begeerte om betekenis te skep – of dit nou deur kosmaak, toneelspeel, musiek of gesprekke met mense is. Ek wil hê wat ek doen, moet mense aanraak en herinner dat daar altyd iets moois, iets egs is om aan vas te hou. 

“Ek is ’n dromer, maar ook ’n doener. Ek is iemand wat sterk staan in wat ek glo, maar wat ook bereid is om te luister en te leer. Ek vind sin in verhoudings, in kuns en in die vermoë om lig te bring waar dit dalk donker is. 

“My familie en vriende vorm die anker in my lewe. Hulle gee vir my die moed om aan te hou en die ruimte om ten volle myself te wees. Ek dra hulle diep in my hart.

“My verhouding met die Here Liewe Jesus is ook ’n pilaar van wie ek is. Ek glo vas dat Hy my rigting, my fondasie in die lewe en my roeping gee. Ek voel geroep om ander te inspireer, te bemoedig en ’n verskil te maak deur wie ek is – nie deur perfeksie nie, maar deur egtheid, empatie en liefde. Ek wil iemand wees wat nie net volg nie, maar wat lei met ’n sagte hart en ’n vaste geloof. Ek is ook ’n kombinasie van teenoorgesteldes: Ek is lojaal maar onafhanklik; kreatief maar gefokus. Ek probeer elke dag kies om met opregtheid, dankbaarheid en liefde te leef, selfs wanneer dit moeilik is.

“Ek glo dat as jy met ’n oop hart en ’n liefdevolle, vriendelike gees die wêreld betree, kan jy ’n groter verskil maak as wat jy dink. En dít is wie ek is: iemand wat wil leef met betekenis, liefde en lig.”

Hoe sal jy jou pa beskryf? 

“Pappa is my beste maatjie! Iemand wat altyd die beste vir my wil hê. Hy druk my tot my beste self. Hy is my grootste ondersteuner en my grootste inspirasie. Hy is hardwerkend, sagmoedig en een van die kreatiefste mense wat ek ken. Hy is my emergency call, my skouer om op te huil en iemand wat my die hardste laat lag. Pappa se opinie is een wat ek altyd nodig het en altyd vertrou.” 

Vir my was dit ’n kans om spesiale herinneringe saam met Pappa te maak; om saam te kook, te lag en regtig kwaliteittyd te spandeer op ’n manier wat ons nog altyd geniet het – en dit is deur saam in die kombuis te wees. 

Una-belle

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Iets wat my onderskei van die ander deelnemers is die groot ouderdomsverskille. Ek glo my jeug, entoesiasme en energie maak my uniek. Ek hou daarvan om te leer en is baie aanpasbaar.” 

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek is iemand met verskeie belangstellings wat my lewe op verskillende maniere verryk. Ek het ’n groot liefde vir drama. Dit gee my ’n stem en laat my toe om ander perspektiewe te verken en emosies deur stories tot lewe te bring. Wanneer ek op ’n verhoog is, voel ek die vryste. Ek is ook nogal trots op my dramaprestasies. 

“Hokkie is weer my hartsport. Ek is lief vir die spanwerk, die energie en die gevoel van saam wen of saam leer. Hokkie was altyd ’n groot deel van my lewe, veral toe ek in die laerskool was. Nou is dit meer ’n plek waar ek myself kan geniet en ander inspireer en motiveer, selfs al is ek nie in die eerste span nie. 

“Musiek speel ook ’n groot rol in my lewe. Dit help my om goed te verwerk, te droom en te ontspan. Of ek nou luister, sing of net stil-stil saamneurie, musiek het altyd ’n manier om met my hart te praat.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“My liefde vir kook kom van Pappa af. Van baie jongs af het ek altyd my hande in die mengbakke gehad en wou help waar ek kan. Ek wou altyd saam met hom kook en nuwe resepte probeer. Ek dink dit het my gehelp om nooit iets doodgewoons te maak nie – selfs al maak ek net een klein verandering. 

“Dan ook die speel-dates met my niggies, Lume en Leandri. Ons en Gert was ’n kombinasie wat niemand wou beleef nie. Dit was nooit ’n speel-date as die kombuis nie vuil was nie en ons nie goeters gemaak het wat eintlik walglik was om te eet nie. Dit het my tog geleer om te kook vir die lekker en die genot om ’n resep deur te léés. Ek hou baie meer van tradisionele kos kook, maar met ’n bietjie flair.”

Wat is jou lewensleuse? 

“Ek voel altyd mens kan nie genoeg lewensmotto’s hê nie. Maar as ek nou een spesifiekemotto moet kies om te deel, is dit hierdie lirieke van Twenty One Pilots se liedjie “Oldies Station” wat lui: ‘Push on through.’ Ek dink as mens beleef almal ’n tyd van donker en ’n pad vol skaduwees. ’n Paar mense loop lank op die pad, en ’n paar mense beleef die grys area elke nou en dan. Die lewensmotto is vir my so eerlik en rou. Dit sê vir jou dat selfs al loop jy draaie in die skadu, selfs al voel jy asof jy vedrink: ‘Push on through.

“Dit sê nie vir jou alles gaan regkom nie – dit sê net: Hou aan stap, hou aan asemhaal en hou aan voel. Dis die keuse om sag te bly in ’n moeilike wêreld. Om vriendelikheid te wys al het jy self seer. Om hoop te wees vir ander, selfs wanneer jy nie seker is van jou eie nie. Dit beteken nie jy glimlag altyd nie, maar dit beteken jy kies om warmte uit te straal omdat jy weet hoe koud dit kan wees wanneer daar niks is nie.”


Kokkedoor: Son & see begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Dié Kokkedoor-reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies