Menu terloops
In Onderhoude [24 Okt 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: Kosmaak is deel van dié pa-en-seun-span se DNS


Om saam aan ‘Kokkedoor: Son & see’ deel te neem was vir dié pa en seun “’n geleentheid wat net een keer in ’n leeftyd kom”. Anton (64) en Stefvan (37) vertel meer oor hul liefde vir kosmaak, waarom hulle vir dié seisoen van ‘Kokkedoor’ ingeskryf het en hoe die noue band tussen hulle iets unieks na die kombuis bring.

‘Kokkedoor: Son & see’: Kosmaak is deel van dié pa-en-seun-span se DNS
Kyk lokprent

Anton (64) is ’n oud-onderwyser en afgetrede kommersiële visserman van Yzerfontein. Vandag is daar niks in die see wat hy nie in ’n gereg kan optower nie. Sy kosmaakreise het by kampvakansies saam met sy familie begin, waar hy sy pa langs die vuur gehelp het – ’n herinnering wat hom vandag nog inspireer. Anton het ’n meer tradisionele benadering as dit by kosmaak kom. 

Anton en Hannelie, met wie hy die afgelope 40 jaar getroud is, het twee seuns: Stefvan (37) en Christopher (33). Hy en Stefvan het kragte saamgesnoer vir Kokkedoor: Son & see want alhoewel Stefvan geen formele opleiding in kosmaak het nie, het hy wel ’n onblusbare passie daarvoor.

Stefvan bly in De Tijger (Parow), en hy is betrokke by bemarking en besigheidsregistrasies. Alhoewel syfers Stefvan se daaglikse brood is, is hy lief vir woordkuns en skryf hy ook graag gedigte. En nes by sy pa, was dit ook sy oupa wat by hom ’n liefde vir kosmaak gekweek het. 

Hy beskou homself as meer avontuurlustig voor die potte, en hy hou daarvan om tradisionele geregte ’n moderne twist te gee. Stefvan en Che Vercueil is al sewe jaar bymekaar en die laaste vyf jaar daarvan as verloofdes.

Anton vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Ek het dit gesien as ’n geleentheid vir my en my seun, Stefvan. Ons is albei lief vir kosmaak en om saam te kook. Ons wou hierdie een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid saam ervaar.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek het myself as onderwyser bekwaam en die voorreg gehad om my stokperdjie, visvang, naweke te kon beoefen. Ek glo ek is ’n gebore onderwyser en het elke dag in die klas gepoog om ’n verskil in my skoolkinders se lewe te maak – tot waar ek in 1998 die geleentheid gekry het om visvang my voltydse beroep te maak. Ek het altyd gesê ’n slegte dag op die see was steeds beter as ’n goeie dag in die klaskamer. Ek het ’n negemanboot vir byna 20 jaar suksesvol bedryf, maar begin besef die landskap het so verander dat die plesier daaruit verdwyn het. 

“Ek het sowaar in 2017 die geleentheid gekry om terug te gaan na die onderwys, en wat dit meer spesiaal gemaak het, was dat ek terug is na die skool waar ek 13 jaar lank skoolgehou het. Ek het vyf wonderlike jare terug in die onderwys geniet omdat ek daar kon wees vir die kinders, en ek weet ek het by hulle ’n verskil gemaak. Einde-2022 het ek finaal ‘uitgetree’, want ek glo nie ek sal ooit aftree nie. Ek vang nou weer vis as ’n gewone visserman en geniet elke oomblik daarvan omdat ek nie die verantwoordelikhede het as booteienaar nie.

“Ek is ook nou bevoorreg om op Yzerfontein te bly ná my uittrede. Ek beskou myself as iemand wat hou van uitdagings en altyd bereid is om iets nuuts en onbekends aan te pak en met ywer te voltooi. 

“In 2008 het die lewe vir my ’n wrede hobbel in die pad gegee toe ek met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is en oornag verlam geraak het. In die hospitaal het ek besluit ek gaan deur hierdie helse beproewing kom, en sewe maande later het ek by my 30-jaar-skoolreünie by Kelvin Grove ingestap omdat ek geweier het om met hulp of krukke daar in te loop. 

“Hierdie ondervinding het my baie van myself geleer, en ek het besef ek kan enigiets aanpak as ek my kop daarop sit. Lewe elke dag voluit en met dankbaarheid, want jou gesondheid is jou grootste geskenk. Nou, 17 jaar later, herinner ek myself nog steeds aan die voorreg.”

Hoe sal jy jou seun, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“Stefvan is avontuurlustig in sy benadering, en dit is vir hom ’n uitdaging om verskillende lande se geregte te kombineer en sy eie stempel daarop af te druk. Hy is baie kreatief – ook met hoe daardie dis uiteindelik op die bord aangebied word.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Seker die feit dat ek die naas-oudste deelnemer is en met ouderdom kom beslis wysheid. My lewenservaringe het my gehelp om die druk te hanteer en myself te herinner, ongeag die stres, om die Kokkedoor: Son & see-ervaring ten volle te geniet.”

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Terwyl ek skoolgehou het, was ek gek daaroor om vis te vang en het van ’n baie jong ouderdom my eie boot besit. Ek het met elke denkbare geleentheid, ook naweke en skoolvakansies, gaan visvang, want dit was deel van my DNS. 

“Ek was ook in die bevoorregte posisie om byna 20 jaar kommersieel vis te vang. Dit neem besonderse vaardighede om ’n sukses daarvan te maak. En natuurlik, omdat die visvangery so ’n groot deel van my lewe was, was ek blootgestel aan soveel visvangstories van ons plaaslike vissersgemeenskap. Hierdie stories vertel ek graag oor aan vriende en familie met die tipiese vissermandialek, tot almal se vermaak. Hulle moedig my aan om ’n boek daaroor te skryf, maar vir nou is dit nog net op my to-do list.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“My oorlede pa was baie lief vir kosmaak, veral wanneer ons met vakansie was. Ek het maar altyd gekyk, en dit het my nuuskierigheid aangewakker omdat dit altyd so gesellig gelyk het. Gou het ek besef dat kosmaak my ontvlugting was ná ’n baie besige of stresvolle dag by die skool. Dit het my laat ontspan en het nooit soos werk gevoel nie.”

Wat is jou lewensleuse? 

Follow your gut. Ek het my twee seuns altyd herinner aan hul ‘veertjie’ in hul maag. Want as jy daai veertjie voel, is dit jou gut wat vir jou sê of dit wat jy nou gaan doen, reg of verkeerd is.”

Kokkedoor Son en see
“Om deel te wees van die Kokkedoor-span is ’n besonderse geleentheid. En om só iets saam met my pa te kon deel was ’n geleentheid wat net een keer in ’n leeftyd kom,” het Stefvan vertel.

Stefvan vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?

“Om deel te wees van die Kokkedoor-span is ’n besonderse geleentheid. En om só iets saam met my pa te kon deel was ’n geleentheid wat net een keer in ’n leeftyd kom.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek is ’n passievolle en gedrewe mens wat groot waarde heg aan familie, kreatiwiteit en die kuns van stories vertel. Ek werk voltyds in verkope waar ek elke dag mense moet verstaan, vertroue moet bou en oplossings moet bied. Ek geniet daardie uitdaging. Wat my dryf in die lewe, is ware verbintenis met mense en die geleentheid om stories te deel wat betekenis dra.

“My deelname aan Kokkedoor saam met my pa was ’n lewensveranderende ervaring. Dit het nie net my liefde vir kos en ons kultuur verdiep nie, maar my ook laat besef dat die eenvoudige dinge – familie, herinneringe en ’n goeie bord kos – dít is wat die lewe spesiaal maak. Nou wil ek daardie storie verder vat deur sosiale media om my pa se visvangverhale, ons kombuis-avonture en die uniekheid van ons Weskuslewe met ander te deel. Ek word gedryf deur die idee dat een storie of een bord kos iemand se dag beter kan maak.”

Hoe sal jy jou pa beskryf? 

“Ek sou my pa beskryf as ’n ware karakter en mense-mens. Hy is iemand wat baie praat, en dit werk tot ons voordeel. Of dit nou ’n storie oor die see, ’n ou familieresep of sommer net ’n grappie is, hy hou almal om hom aan die lag en luister. Hy het daardie tipiese Weskussjarme en met sy maklike manier van praat laat hy mense gou op hul gemak voel. 

“Sy liefde vir kos en visvang kom in sy stories uit, en jy kan dit proe in alles wat hy maak. In die kombuis bring hy ’n spontane energie. Hy dink vinnig op sy voete, en as iets verkeerd loop, praat hy ons sommer met flair daaruit. 

“Ons balanseer mekaar mooi uit. Ek bring die detail en afwerking, en hy bring die geur, die storie en die lewe. Ons is nie net ’n span nie – ons is ’n show op ons eie.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Ek dink wat my onderskei van die ander deelnemers is die dinamiek tussen my en my pa. Ons is nie net ’n span nie – ons is familie. Daardie band bring iets unieks na die kombuis: eerlikheid, vertroue en ’n gedeelde storie. 

“Ons styl kombineer die rou, egte geure van die Weskus met moderne idees en kreatiewe opdiening. Ek bring ’n jonger perspektief en fyn aandag aan detail, terwyl my pa tradisie, ervaring en karakter inbring. 

“En dan is daar natuurlik ons energie. Ons lag saam, praat baie (veral hy!), en ons bring ’n gemaklike maar gedrewe teenwoordigheid. Mense kyk nie net na wat op ons bord is nie – hulle kyk na wie ons saam is. 

“Dis dié kombinasie van kultuur, karakter en kreatiwiteit wat ek glo ons ’n unieke stempel gee.” 

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Iets wat dalk nie almal weet nie, is dat ek ’n groot liefde het vir kuns, skryf en gedigte. Dis my manier om die wêreld rondom my te verwerk en te verstaan, of dit nou deur ’n paar reëls poësie is, ’n vinnige skets, of selfs die manier waarop ek ’n bord kos voorberei.

“Ek sien kos as ’n kreatiewe uitdrukking, soos ’n gedig op ’n bord, waar geur, kleur en emosie saamwerk. Om op Kokkedoor: Son & see te wees saam met my pa was vir my nie net ’n kulinêre droom nie, maar ook ’n manier om ons storie, ons herkoms en ons kreatiwiteit te deel. 

“Ek is trots op die feit dat ek my liefde vir taal, beeld en smaak op so ’n unieke manier kan kombineer.” 

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“Ek het grootgeword in ’n familie waar kosmaak deel is van wie ons is, veral onder die mans. My oupa was ’n meester van eenvoudige, geurige, old school-geregte. Die res van die mans in my familie het net so natuurlik agter die stoof ingeskuif. 

“My pa sê altyd: ‘As die mans in ons familie nie kon kook nie, sou ons van die honger gevrek het!’ Dit som dit eintlik perfek op. Kook was nooit net ’n plig nie. Dit was ’n manier van kuier, liefde wys en stories deel. 

“My eie kookstyl is sterk beïnvloed deur daardie erfenis. Ek vat daai outydse geure en gee dit ’n moderne kinkel – ’n kombinasie van nostalgie en nuutheid. Dis vir my belangrik dat ’n bord kos nie net goed proe nie. Dit moet sexy lyk, want jy eet eers met jou oë, en dan moet dit ook nog ’n storie vertel.” 

Wat is jou lewensleuse? 

“Ek kook met hart, praat met siel, en leef vir die stories wat ons saam maak.” 


Kokkedoor: Son & see begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies