Menu terloops
In Onderhoude [31 Okt 2025]

‘Kokkedoor: Son en see’ ’n kans om ‘groot te droom’ vir dié span


Dit was vir haar ’n eer om saam met haar tannie op ‘Kokkedoor’ te kook en só een van haar drome te help bewaarheid, vertel Ronelle de Klerk oor haar ervaring op ‘Kokkedoor: Son en see’ saam met haar tannie, Marianne du Plessis.

‘Kokkedoor: Son en see’ ’n kans om ‘groot te droom’ vir dié span
Kyk lokprent

Marianne du Plessis, ’n 64-jarige afgetrede verpleegster van Kuilsrivier is spontaan en eksentriek. Marianne het onlangs die veldkombuis vir die AfrikaBurn Bikers tydens die jaarlikse AfrikaBurn-fees bestuur. Sy hou daarvan om te improviseer as dit by kosmaak kom, en haar spesialiteit lê by vleisgeregte en broodbak. Appie (Duppie) du Plessis is vir die afgelope 43 jaar aan haar sy, en hulle het twee kinders: Isanel (41) en Christoff (38).

Haar susterskind, Ronelle de Klerk (39), is ’n argitek van Ballito, waar sy die afgelope 12 jaar haar eie praktyk het: RANFT Architects. Op haar beurt is Ronelle detail-georiënteerd, en sy hou van struktuur. As besigheidseienaar en ma van Joost, haar en manlief, Jan de Klerk, se vierjarige seuntjie, weet sy hoe om al die balle in die lug te hou. Sy en Jan is reeds 11 jaar lank getroud. 

Ronelle leef haar kreatiwiteit uit deur fotografie en skilderkuns, wat haar ’n natuurlike aanvoeling gee vir hoe om ’n bord kos mooi te laat lyk. Boonop is Ronelle ’n Kalahari-kind vir wie jy niks van gehaltevleisgeregte kan vertel nie. 

Marianne vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Ek is besig om brandhout vir my oudag bymekaar te maak, want dis nie meer lank nie, dan gaan ek in my assies van memories kan rondkrap. Ek het die geleentheid raakgesien om saam met jonger mense iets te doen. Hulle gee vir my ongelooflike energie.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek beskou myself as ’n baie positiewe mens. Ek hou daarvan om nuwe goed te beleef en is baie impulsief. Ek doen eers iets en dink later: ‘Sjoe, jy het dalk te groot afgebyt.’ Maar ek wil nie eendag spyt wees oor wat ek alles nie gedoen het nie. Eerder dit, as om spyt te wees oor iets wat ek dalk misgeloop het.”

Hoe sal jy jou susterskind, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“Ronelle is ’n baie kreatiewe en slim meisie. Sy’s iemand wat ander mense altyd eerste stel, selfs al is dit soms ten koste van haarself. Sy het ook ’n baie goeie sin vir humor.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Omdat ek die oudste was, was daar ongelooflike respek teenoor my, veral vanaf die jonger generasie. Ek het so spesiaal gevoel.”

…Ek wil nie eendag spyt wees oor wat ek alles nie gedoen het nie.

Marianne

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Hoe kies ek? Van tuinmaak tot meubels herstel tot kuns skep, ’n resepteboek saamstel tot hulp met die reël van troues, funksies en konferensies. Sjoe, daar’s nog baie meer.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“My gesin. My twee manne kook ongelooflike lekker kos. Dan is daar my wonderlike vriende – ons kook vir mekaar. En om te onthaal is ongelooflik lekker, veral die dekor wat by die kos moet pas.”

Wat is jou lewensleuse? 

“Werk sag met mense en diere om jou.”

Kokkedoor
Dié twee deelnemers hou beslis van lekker lag! Foto: Skermgreep

Ronelle vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Tannie Marianne, my ma se suster, het vir my ’n WhatsApp-boodskap gestuur: ‘Sussa, kom ons skryf in vir Kokkedoor: Son & see.’ Ek het nog nie voorheen Kokkedoor gekyk nie, maar nadat sy die inskrywingsvideo vir my gestuur het, het ek dadelik aanklank gevind by die tema van son en see en Struisbaai, aangesien Struisbaai my kindertydsee was. My ouma Issie, my ma se ma, het op Struisbaai gebly, en dit was ook waar my ouers getrou het. 

“Tannie Marianne is ’n groot ondersteuner van Kokkedoor. Sy ken al die reëls en al die stories van vorige reekse. Tannie Marianne het onlangs afgetree, en sy was baie lus om groot te droom. Sy het twee kinders, Christoff en Isanel (Nellie). Nellie is geestelik en liggaamlik gestremd. As ’n mamma met gestremde dogter was daar baie drome wat gegroet moes word – drome oor jou dogter se matriekafskeid, haar studies, haar werk, eendag se trou en uit die huis gaan om haar eie lewe te leef. 

“Kokkedoor was ’n groot droom vir my tannie, en ek wou nie hê sy moes dié droom ook groet nie. Daarom het ek ingestem om haar te ondersteun en saam met haar in te skryf.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek hou van mense, van stories, en van die mooi in die lewe – visueel én emosioneel. Ek is iemand wat diep denke koester, sag voel en met intensie leef. Ek is ’n vrou, ’n ma, ’n argitek en ’n mens wat altyd op soek is na betekenis. 

“Ek floreer wanneer ek kan skep – of dit nou ’n ruimte, ’n tafel, ’n oomblik of ’n gevoel is. Ek soek sin en skoonheid in alles wat ek aanpak. Ek het ’n agtergrond in argitektuur en liefde vir grafiese ontwerp en fotografie. Ek dink dus in konsepte en aan detail. 

“Ek het ’n begeerte om dinge mooier, rustiger en voller te maak. Ek hou van eenvoud wat eg voel. Ek wil bou aan iets wat hou. Ek hou daarvan as dinge betekenis het – of dit nou in  kosmaak, ontwerp of gesprekke is. Ek wil hê dat dit wat ek skep, ’n storie moet vertel en mense moet laat voel.

“Ek lees mense goed en sien hulle emosies raak. Wat my dryf, is die verlange na verbintenis – tussen mense, tussen idee en uitvoering, tussen geloof en die alledaagse lewe. Ek glo dat verhoudings sentraal is en dat dit dikwels my rol is om mense nader aan mekaar (en hulself) te help beweeg.

Selfs al kook ek nie meer so gereeld as wat ek sou wou nie, is dit steeds iets waarop ek trots is – iets wat ek aan my kind wil oordra. Dis hoekom ek hom toelaat om te mors in die kombuis. Want dis waar jy leer. Dis waar jy onthou.

Ronelle

“Ek het ’n sterk sin vir verantwoordelikheid, maar leer ook al hoe meer om sagter te wees met myself en ander – om ruimte te laat vir foute, vir groei en vir genade. My geloof in Jesus is my anker, en ek glo dat elke projek en elke uitdaging deel is van ’n groter storie.

“Ek is sensitief maar sterk; beskeie maar vasbeslote. En ek probeer elke dag leef met sagtheid, doel en liefde. Ek is dalk nie die hardste stem in die vertrek nie, maar ek is beslis die een wat mense verbind, struktuur bring en mense help om iets moois saam te skep.” 

Hoe sal jy jou tannie beskryf? 

“Tannie Marianne is my ma se suster. Sy is warm, eksentriek, lewendig en spontaan. Sy is altyd vol stories wat mense laat lag én dink. Wanneer sy ’n vertrek instap, bring sy lewe en lig saam met haar in. Sy is iemand wat gee sonder om te tel. Haar hele lewe lank het sy ander versorg – veral my niggie, Nellie. Tog het sy nooit haar lewenslus of humorsin verloor nie. Sy is iemand wat altyd ruimte maak vir ander – of dit nou om ’n tafel is of in haar hart. 

“Wat ek die meeste bewonder, is haar vermoë om mense tuis te laat voel – of dit nou met ’n kastrol vol kos is of met ’n grappie wat die ys breek. Sy is sterk, en sy dra haar liefde in dade oor. Dis vir my ’n eer om nie net saam met haar te kook nie, maar ook om hierdie ervaring vir haar moontlik te kon maak – want sy verdien dit om weer iets net vir haarself te beleef.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Ek dink ek het meer ooreenkomste as verskille met die ander deelnemers opgemerk. Ons almal bring uniekheid na die tafel – elkeen met ons eie stories en styl – maar ons is saam in die ding om vir Suid-Afrika te wys wat familie is. En dat familie belangrik is, veral ná Covid. 

“Wat my dalk onderskei, is my natuurlike drang om mense te verbind, selfs onder druk, en my liefde vir detail wat ek as argitek saamgebring het om elke gereg wat ek voorberei, ’n storie te laat vertel.”

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek is mal oor fotografie, veral makrofotografie. Ek het ’n kursus gedoen en hou daarvan om met ’n ander oog na die wêreld te kyk. Ek sien stories in die klein goedjies wat baie mense so maklik miskyk; ’n blom se tekstuur, die patroon op ’n blaar, die weerkaatsing in ’n waterdruppel. Ek het ook ’n passie vir abstrakte kuns en skets. Dis iets waarna ek hunker, en ek droom daarvan om dit eendag voluit te kan uitleef.

“Ek en my man, Jan, hou daarvan om saam kreatiewe projekte aan te pak. Ons het ons huis self gerestoureer – mure gesloop, self beplan en met ons eie hande gebou. En hoewel ek jonk lyk, moes ek op 29 ’n totale heupvervanging kry. Dit het my opnuut geleer om met pyn te leef, maar ook om diep dankbaar te wees. My seuntjie sê ek is nou sy transformer-mamma – en dalk is ek ook. Ek moes myself transformeer om weer vry te beweeg, en ek leef nou met ’n nuwe waardering vir elke tree wat ek kan gee.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“My liefde vir kos het begin in die Kalahari, tussen kameeldoringbome, langs die braaivleisvure en met asemrowende sonsondergange. Ek was nog in die laerskool toe ek begin het om op my eie aandetes voor te berei. As my ouers by die kerk besig was met vleisverwerking, het ek hulle tuis verras met rys, oondgeroosterde hoender en groente. Ek was so trots. Later het ek kinderkookboeke uit die biblioteek begin uitneem en ure spandeer om resepte te probeer.

“My ma het my geleer van presisie en netheid. Sy is baie akkuraat met bak en vleisverwerking. My pa het ook ’n liefde vir kook, en saam het hulle aan my die waardes van verantwoordelikheid én vaardigheid oorgedra.

“Ek het met my eie Jan Braai getrou! Hy’s tegnies, presies en baie kreatief met geure. Ons kook al van die begin af saam – hy doen die vleis; ek die bykosse en nagereg. Maar vir my gaan dit nie net oor die kos nie. Dit gaan oor onthaal. Ek wil hê mense moet lag, ontspan, gesels. Ek glo kos skep die ruimte vir verbinding.

“Inspirasie kom ook van aanlyn resepte, plaaslike restaurante en goeie ou RSG. My pa het die resepte probeer wat hulle uitsaai. Dis deel van my herinneringe. My twee oumas het elkeen hul unieke styl gehad: van Struisbaai tot die Kalahari. Hulle het elkeen iets in my wakker gemaak wat ek vandag nog saam met my dra.

“Selfs al kook ek nie meer so gereeld as wat ek sou wou nie, is dit steeds iets waarop ek trots is – iets wat ek aan my kind wil oordra. Dis hoekom ek hom toelaat om te mors in die kombuis. Want dis waar jy leer. Dis waar jy onthou.”

Wat is jou lewensleuse? 

“Skep ruimte vir ander om hulself te wees. Of dit nou aan tafel is, in my huis, tydens ’n gesprek op die konstruksieterrein of op ’n vliegtuig – ek glo elke mens dra iets besonders. As ons net luister en mekaar toelaat om te wees wie ons is, dan gebeur daar iets moois. Dis ook hoe ek kook en leef: nie om te beïndruk nie, maar om te verbind.”


Kokkedoor: Son & see begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Dié Kokkedoor-reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies