Menu terloops
In TV [23 Okt 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: Hier’s die kokke wat aan nuwe seisoen deelneem


Met die huidige seisoen van die maatsoekreeks ‘Boer soek ’n vrou’ wat binnekort ten einde loop, is dit ook amper tyd vir die volgende lipafleklekker seisoen van ‘Kokkedoor’ met ‘Kokkedoor: Son & see’ wat die fokus op kos en familie plaas.

‘Kokkedoor: Son & see’: Hier’s die kokke wat aan nuwe seisoen deelneem

Met Kupido wat binnekort sy laaste liefdespyle in dié seisoen van Boer soek ’n vrou skiet, kan kykNET-kykers solank hul lippe begin aflek vir die geïnspireerde disse en liefde vir kosmaak wat 16 Suid-Afrikaners binnekort gaan deel. Kokkedoor: Son & see word vanaf Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET uitgesaai.

Vir die tiende seisoen van Kokkedoor, trek die program nie net ’n ander voorskoot aan nie, maar kry dit ook twee nuwe beoordelaars, die gerekende koskenners Herman Lensing en Yolani Abrahams. Beide is gekwalifiseerde sjefs en het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap. 

In Kokkedoor: Son & see val die kollig op die nostalgiese rol wat kosmaak in ’n familieverband speel en die manier waarop dit soos ’n goue draad tussen die verskillende generasies loop.

Kokkedoor son & see
Kokkedoor See & Son is die tiende aflewering van dié gewilde koswerklikheidsreeks. Foto: Verskaf

’n Hand vol unieke bestanddele onderskei dit van die vorige Kokkedoor-reekse:

  • Die deelnemers is slegs huiskokke, en daar is nie kinkelkokke (wat ’n professionele sjefsagtergrond het) nie. 
  • Daar is agt spanne, wat elk uit twee familielede bestaan.
  • Spanlede het ’n generasiegaping van ten minste 20 jaar. 
  • Die reeks bestaan uit slegs agt episodes. 

Die deelnemers aan Kokkedoor: Son & see se ouderdomme wissel tussen 18 en 64, en hulle kom van dwarsoor Suid-Afrika – van plekke soos Aberdeen in die Oos-Kaap tot Vryheid in KwaZulu-Natal en van die Paarl in die Wes-Kaap tot Pretoria in Gauteng. Dié diverse groep deelnemers se beroepe sluit “snoepietannies”, ’n pastoor, padstal-eienaars en programmeerder in, en die oudste deelnemer bestuur ’n veldkombuis by die AfrikaBurn-fees.

Kokkedoor See & son
In Kokkedoor: Son & see is daar agt verskillende spanne.

Oor die volgende paar weke gaan die spanne in-diepte op Terloops bekend gestel word, maar vir eers is hier ’n oorsigtelike bekendstelling. 

Die deelnemers is: 

Anton (64) en Stefvan (37) Stemmet 

  • Pa en seun
  • Anton is ’n oud-onderwyser en afgetrede kommersiële visserman van Yzerfontein in die Wes-Kaap.
  • Stefvan is betrokke by bemarking en besigheidsregistrasies, en kom van De Tijger in die Wes-Kaap.

Yvette Malan (60) en Francisca Momberg (35)

  • Ma en dogter
  • Yvette kom van ’n plaas 45 km noord van Lephalale (Ellisras) in Limpopo en is ’n eiendomsagent.
  • Francisca bly saam met haar gesin op dieselfde plaas as haar ouers en is die bestuurder by ’n winkelsentrum.  

Frans (51) en Una-belle (18) van Wyk 

  • Pa en dogter
  • Frans, wat oorspronklik van Namibië is, is die eienaar van ’n koffie- en blommewinkel in die Paarl en is ook ’n geleentheidsbeplanner. 
  • Una-belle is ’n matriekleerling aan die Hoër Meisieskool Paarl.

Marianne du Plessis (64) en Ronelle de Klerk (39)

  • Tannie en susterskind
  • Marianne is ’n afgetrede verpleegster van Kuilsrivier in die Wes-Kaap en bestuur ook ’n veldkombuis by die AfrikaBurn-fees.
  • Ronelle is ’n argitek van Ballito, waar sy die afgelope 12 jaar haar eie praktyk het: RANFT Architects.

Shireen (50) en Reuven-Jon (21) Kadalie  

  • Ma en seun
  • Shireen is ’n bedryfsbestuurder en woon in Burgundy Estate in die noordelike voorstede van Kaapstad. 
  • Reuven-Jon, oftewel RJ, is ’n programmeerder en voltydse model en bly saam met sy ouers. 

Andrew Anderson (57) en Leoné Smit (30)

  • Pa en dogter
  • Andrew is ’n pastoor by AGS Lig & Lewe in Balito in KwaZulu-Natal. 
  • Leoné is ’n tuisteskepper en boervrou, wat op ’n plaas in die distrik van Vryheid in KwaZulu-Natal woon.

Caroline Linde (55) en Anél van Niekerk (32)

  • Ma en dogter
  • Caroline is ’n “snoepietannie” en gekwalifiseerde somatoloog van Pretoria in Gauteng. 
  • Anél is, soos haar ma, ’n “snoepietannie” by Laerskool Tygerpoort. 

Hanna (58) en Dirk (29) van der Westhuizen 

  • Ma en seun
  • Hanna is die eienaar van die kenmerkende goudgeel Kamdebo Padstal by Aberdeen in die Oos-Kaap.
  • Dirk bestuur die afgelope jaar die padstal, en hy is die mede-eienaar van Kamdebo Padstal | Bistro | Negosie.

Kokkedoor: Son & see bestaan uit agt episodes en begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies