Menu terloops
In Onderhoude [4 Apr 2025]

‘Kokkedoor’ se sonnige Yolani Abrahams: ‘Ons vier die lewe om die kostafel’


Die glanssjef Yolani Abrahams is uit haar nate uit opgewonde om deel van die volgende ‘Kokkedoor’-uittog, ‘Kokkedoor: Son & see’ te wees. Sy vertel meer oor haar passie vir plaaslike koskultuur en wat sy graag van deelnemers wil sien.

‘Kokkedoor’ se sonnige Yolani Abrahams: ‘Ons vier die lewe om die kostafel’

Die passievolle kos-entoesias Yolani Abrahams (32) is saam met Herman Lensing een van die beoordelaars van die volgende weergawe van kykNET se gewilde Kokkedoor-koswerklikheidsreeks, Kokkedoor: Son & see.

Kokkedoor: Son & see is die vyfde lid van die Kokkedoor-familie waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & vlam, tans op kykNET uitgesaai word. Die wenspan van Kokkedoor: Son & see sal met R500 000 wegloop. 

Yolani, wat al in talle kosprogramme, waaronder Spyskaart en Kookpunt, op VIA verskyn het, is ’n bekende glanssjef en restaurateur. 

Sy en haar man, Anwar Abdullatief, besit twee restaurante: Happy Uncles in Soutrivier en Barakat by die Time Out-mark in die Waterfront. Yolani besit ook die Kole en Deeg-bakkery-en-eetplek in Tulbagh saam met haar broers, Etienne en Leolan Abrahams. 

Nog ’n mylpaal wat Yolani behaal het, was toe sy in 2017 as die wenner van SARIE se voorbladgesigkompetisie aangewys is. 

Yolani gesels oor haar nuwe uitdaging as beoordelaar van een van Suid-Afrika se top-kosreekse.

Yolani Abrahams, Kokkedoor, FOTO GYS LOUBSER
Yolani Abrahams. Foto: Gys Loubser

Wat beteken ’n reeks soos Kokkedoor vir die Suid-Afrikaanse én Afrikaanse koskultuur?

“Dis amper soos die Afrikaanse MasterChef, en vir die gewone huiskok is dit ’n reusevoorreg om aan ’n program soos Kokkedoor deel te neem. Jy het die platform om jou komvandaan ten volle ten toon te stel en sodoende natuurlik ook uit te leef. 

“Daar word baie klem gelê op die feit dat tradisionele kos as’t ware ’n splinternuwe baadjie kan kry. En dís die geleentheid wat ’n program soos Kokkedoor aan deelnemers bied. 

“Ons kan dus spog met ons eie land se koskultuur en letterlik met ons eie kruie. 

Suid-Afrika het so ’n lekker mengelmoes van kleurryke kulture, kos en agtergronde dat ’n mens lekker kan rondspeel met soveel geure oor verskeie kultuurgrense heen wat dit daai ekstra woema gee.” 

Hoekom moet mense inskryf vir Kokkedoor: Son & see?

“Enigiemand kan inskryf en jy hoef nie ’n professionele sjef te wees nie. As daar ’n passie vir kosmaak in jou brand en jy wil jou kulinêre talente met die hele land deel, hoekom dan nou nie? Hier is jou kans. 

“Boonop vereenselwig ons son en see met vakansie- en familietyd. Ons vier juis die lewe om die kostafel en as die vuurtjie knetter, des te beter. Kom show af met jou kookvernuf – of jou sterkpunt braai, kook, bak of al drie is.”

Wat soek jy in ’n Kokkedoor: Son & see-deelnemer? Wat moet hulle na die tafel bring?

“Ek hou van iemand wat ’n absolute passie het vir kos, iemand wat nie sommer skrik vir uitdagings nie. Ek soek iemand wat op sy of haar voete kan dink en al klaar ’n plan B in plek het. 

“Dis altyd wonderlik om te sien hoe iemand iets wat geflop het só kan omtower in iets heeltemal anders dat jy skaars agterkom daar het iewers ’n flatertjie ingeglip.  

“Ek soek ’n trotse Suid-Afrikaner wat hou van eksperimenteer met die geure en kleure van ons land se koskultuur. Iemand wat kan wys dat dit nie net die Franse of Britte is wat kan kook nie, want ons kan hulle beslis ’n ding of twee, selfs drie, wys.”

Yolani Abrahams, Kokkedoor, FOTO GYS LOUBSER
“Ek wou nog altyd my kosvernuf in die media deel. “Dis ’n groot veer in enigiemand se hoed om as ’n Kokkedoor-beoordelaar gekies te word, en dit beteken ongelooflik baie vir my as sjef,” vertel Yolani Abrahams. Foto: Gys Loubser

Wat beteken dit vir jou om ’n Kokkedoor-beoordelaar te wees?

“Ek wou nog altyd my kosvernuf in die media deel. Dis ’n groot veer in enigiemand se hoed om as ’n Kokkedoor-beoordelaar gekies te word, en dit beteken ongelooflik baie vir my as sjef. Dis beslis nie aldag dat so ’n geleentheid oor jou pad kom nie en ek gryp dit met albei hande – en sommer ook met my voete – aan. 

“Ek wil ’n sukses daarvan maak, en bowenal wil ek dit geniet. Wie weet, dalk leer ek self ook ’n ding of twee in die proses. Dit motiveer my ook om my kennis op te skerp en hou my op my tone. ’n Mens het altyd ’n bietjie ekstra kennis nodig om ’n goeie oordeel te kan vel as dit kom by die deelnemers en dit wat hulle op hul borde gaan plaas.”

Wat moet jy oorweeg as jy jou spanmaat kies?

“Kies strategies. As bak of braai nie jou sterkpunt is nie, kies dan ’n spanmaat wat ’n slag het daarmee. Daar gaan baie uitdagings wees – of jy nou gaan braai, kook of bak. Maak seker jy tiek al daai boksies gesamentlik. Julle moet vir seker mekaar kan aanvul en op mekaar se nommers kan druk. 

“Kies ’n staatmaker, want dinge kan warm raak in die kombuis. En daar moet goeie vibes, energie en, heel belangrik, goeie spanwerk en kommunikasie wees. Anders gaan daai kite nie vlieg nie. 

“Onthou jy kan nie jou spanmaats ruil nie. Jy moet enduit met die persoon wat jy gekies het, jou ding doen. Kies slim!” 

Skryf só in:

  • Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos na navrae@kokkedoor.tv
  • Sluitingsdatum vir inskrywings is 30 April 2025.
  • Die jongste lid van die span moet ten minste 18 jaar oud wees en die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet ten minste 20 jaar wees. 
  • Daar móét ’n familieverwantskap wees, soos ’n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs. 
  • Oudisies sal in Kaapstad gehou word tussen 5 en 9 Mei 2025. 
  • Verfilming is van 20 Junie tot 3 Julie 2025 in Struisbaai. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies