“Aanvanklik was dit net ’n storie wat vir my interessant was, en soos ons deur hierdie vier jaar se proses gegaan het, het ek besef hierdie gaan oor die niggies en om hulle te vereer en ook om die storie van André te vereer.” Só vertel Willem van der Merwe, een van die vervaardigers van Niggies, ’n nuwe dramareeks wat vandeesweek op kykNET begin uitsaai.

Niggies is gegrond op ware gebeure en vertel die verhaal van die twee twaalfjarige niggies, Issie Fourie en Petro Nel, wat in 1966 in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor is. Issie se broer, André, sweer daarna om alles in die stryd te werp om die skuldige aan die pen te laat ry – ’n veldtog wat sowat 20 jaar sou neem. Niggies begin dus in 1966, maar die reeks strek oor die 1960’s en 1980’s.
Willem het op Sondag se episode van Kwêla op kykNET met Hannes van Wyk oor die reeks en die blywende impak op sy familie – Issie en Petro was sy ma se niggies – gesels. Sy ma sou daardie dag saam met haar niggies gaan swem het, maar haar pa het haar by die huis gehou weens ’n hartkwaal. Wat toe gebeur het, sê Willem, was ’n baie tragiese, tragiese uitvloeisel van so ’n doodgewone dag.”

Familieherinneringe
Willem het as vyfjarige van dié familietragedie bewus geraak toe hulle as gesin die nuus op die destydse TV1 gekyk het. “Daar het ek hierdie vreemde ervaring gehad van daar sit my familie saam met my in die sitkamer en ewe skielik is hulle op die TV en almal kom by die trappe van die hof afgestap.”
Dié dag in 1984 was die dag wat die hofuitspraak gelewer is nadat die skuldiges 18 jaar ná die gebeure aangekeer en vervolg is.
Volgens Willem kyk die reeks spesifiek na die impak wat die moorde op die families gehad het. Sy ma het reeds die eerste episode gekyk en Willem vertel dat dít ’n “wonderlike oomblik” was om met haar te deel. Willem het eers sy ma se goedkeuring gekry voordat hy sowat vier jaar gelede met die ontwikkeling daarvan begin het. Sy het oor die jare heen reeds van haar herinneringe met hom gedeel, soos toe sy as sesjarige saam met die polisie en volwassenes deur die moordtoneel gestap het. “Daai gebeure het vir jare by haar gespook,” voeg hy by.
Hoewel hy al baie keer sy familie se storie met vriende gedeel het, was dit tydens die Covid-19-inperking wat hy besluit het om die storie in iets te omskep. Aanvanklik sou dit ’n potgooi wees, maar toe die navorsing in erns begin het, het ’n ongelooflike ontdekkingsproses ontvou. “Ek het met familielede gepraat wat ek nie eens geweet het ek het nie. Soos André se familie moes ek uit die bloute bel en sê, ‘Ons is besig met navorsing en ek wil graag meer uitvind van jul pa,’” vertel Willem.
Dís ná die oproep wat Willem toe na Tzaneen opvlieg om André se gesin te ontmoet – ’n besoek wat onder meer tot die uitkrap van besonderse beeldmateriaal gelei het. Willem vertel dat André voor sy dood ’n tassie aan sy seun gegee het met beeldmateriaal rakende die saak. Willem het dit laat digitaliseer en beskryf die materiaal as ’n “skokkende kykervaring” maar ook “ ’n ongelooflike fonds” wat hulle toegelaat het om die familie se smart op ’n ander manier te beleef. Van dié beeldmateriaal is in die reeks se eindtitels gebruik.
Verlede vervleg
“Hoe na aan die waarheid is die reeks?” vra Hannes dan in ’n stadium. Aanvanklik was dit net sy ma se weergawe, maar is toe met diepe navorsing, gesprekke met nog familielede en dokumentasie uit die polisie-argiewe vervleg,” antwoord Willem. Hy het toe saam met Saartjie Botha en Philip Rademeyer aan die tekste gewerk om so na as moontlik aan die waarheid te bly, maar ook om die karakters te eer en steeds ’n dramareeks te maak wat interessant is.”
Vir kykNET is hierdie reeks ’n eerste – donker dramareekse was daar al volop, maar nog nie ’n waremisdaadreeks soos dié nie.
“Dis regtig ons land se beste akteurs,” sê Willem oor die rolverdeling. Ek was regtig aangedaan gewees oor hoe hulle elke karakter se storie met soveel meegevoel gedeel het.”
Oor Jaco Bouwer se regie sê Willem dat kykers verstom gaan wees oor hoe die wêreld van die 60’s en 80’s weer lewendig gemaak word.
‘Mooiste oomblikke’
Willem het sy ouers ook ’n paar keer saam stel toe gevat – vir hom tel dié besoeke as van die mooiste oomblikke van sy lewe.
“Veral met sekere tonele wat haar (sy ma) direk geraak het… Behalwe vir die agterdog en die sleg wat daar was, is daar ook hoop in die storie en ek het seker gemaak dat sy met daai tonele op stel was. Ons het saam gehuil en mekaar vasgehou en ek kon dadelik sien dat die genesingsproses reeds begin (het); daar’s definitief ’n katarsis wat vir haar deur dié proses gebeur.”
Vir hom is die belangrikste dat kykers meegevoel met die karakters sal hê. “Almal binne hierdie storie was eintlik slagoffers, maar… daar bestaan hoop selfs in die donkerste tye. Ek hoop dat kykers saam met ons op daai reis sal kom.”
Niggies begin Dinsdag, 25 Maart om 20:00 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.