Menu terloops
In Wat om te kyk [27 Jan 2025]

‘Niggies’: Nuwe Jaco Bouwer-reeks vertel oor aangrypende ware verhaal


In 1966 is die jong Issie Fourie en Petro Nel in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor. Issie se broer, André, het gesweer om alles in die stryd te werp om die skuldige aan die pen te laat ry. Dit sou hom 18 jaar neem. En nou is dié meevoerende, tragiese storie in ’n TV-reeks – ‘Niggies’ – omskep.

‘Niggies’: Nuwe Jaco Bouwer-reeks vertel oor aangrypende ware verhaal

Niggies, ’n dramareeks gegrond op hierdie misdaad wat die land geruk het, is geskep deur ’n gedugte span – voor en agter die kameras. Die reeks sal in Maart vanjaar op kykNET debuteer. Die première-datums en ’n meer volledige rolverdeling sal later bekend gemaak word, maar vir nou weet ons dat dit die veelbekroonde Jaco Bouwer is wat die regie behartig, met die akteur en skrywer Beer Adriaanse wat die rol van die ouer André vertolk. Adriaanse is bekend vir flieks soos Wonderlus en Kanarie, asook reekse soos Hotel en Fynskrif. Die talentvolle nuweling Janru Steenkamp speel die jong André.

Niggies, Beer Adriaanse, Jaco Bouwer
Beer Adriaanse vertolk die rol van die volwasse André in Jaco Bouwer se Niggies. Foto: Verskaf

Bouwer is bekend vir sy grensverskuiwende teaterwerk, asook die bekroonde ekorillerfliek Gaia, en die internasionale trefferreeks Spinners.

Ook te sien is Carel Nel, wat verskyn het in die HBO-reeks Raised by Wolves, en wat reeds voorheen met Bouwer as deel van Gaia se rolverdeling gewerk het.

Die storie

Niggies begin met die dubbele ontvoering en moorde van Issie Fourie en Petro Nel in Odendaalsrus in 1966. Die reeks strek egter oor die 1960’s en 1980’s met die gebeure wat in Odendaalsrus, Allanridge en Kroonstad in die noordoostelike Vrystaat, ’n erg konserwatiewe deel van ’n konserwatiewe land (veral gegewe die tydstip en breër sosio-politiese konteks), afspeel.

Niggies, carel Nel, jaco bouwer
Agter die skerms op die stel van Niggies met Janru Steenkamp (links) en Carel Nel. Foto: Verskaf

Niggies is vervaardig deur Wolflight Films, met Roelof Storm (Kanarie, Poppie Nongena) as uitvoerende vervaardiger. Die bekroonde Saartjie Botha en Philip Rademeyer het die draaiboek geskryf. 

“Hoewel die ontvoering en moorde destyds opslae gemaak het, het die besonderhede van die storie vergete geraak, behalwe natuurlik vir diegene wat direk deur die trauma geraak is,” verduidelik Bouwer. “Ons wou nie ou wonde oopkrap nie – maar eerder ondersoek wat werklik gebeur het, met ’n bietjie kreatiewe vryheid, en dit in die konteks van die moderne Suid-Afrika plaas, waar sulke misdade meer algemeen is as 60 jaar gelede.” 

Jaco Bouwer, Niggies
Jaco Bouwer (middel) is Niggies se regisseur. Foto: Verskaf

“Niggies is ’n rou ondersoek na verlies en hoe onverwerkte trauma gesinne kan vernietig,” sê M-Net se direkteur van Premium-kanale, Waldimar Pelser. “Dit is nie ’n sensasionele verhaal oor geweld nie; eerder ’n sensitiewe verkenning van hoe pyn hanteer en genesing gevind kan word in ’n plek waar hoop nie veronderstel is om te bestaan nie.”

Die reeks volg ook op die onlangse suksesse van kykNET-dramas soos Plan B, Spoorloos en Nêrens, Noord-Kaap Deel II.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies