Menu terloops
In Wat om te kyk [27 Mar 2025]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: ‘Ek het so ’n bietjie in my broek gebewe!’ 


Die wenspan was uit hul nate uit van blydskap ná ’n bielie van ’n uitdaging op vandeesweek se episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Kokkedoor Vuur & Vlam' S2

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: ‘Ek het so ’n bietjie in my broek gebewe!’ 

“As julle gedink het Kokkedoor Vuur & Vlam gaan net oor braaivleis, dan het julle ’n fout gemaak.” Dit was die woorde waarmee die beoordelaar Bertus Basson vanjaar se deelnemers byna die hasepad laat kies het. 

In die agste episode van Kokkedoor Vuur & Vlam was daar genadiglik wyse hulp byderhand in die vorm van ’n gesoute en gewilde bobaasbakster van die Noord-Kaap. Ja, Tannie Skuinskoek het kom inloer. Dís natuurlik Theresa de Vries van Brandvlei wat in die eerste seisoen van Kokkedoor haar staal getoon het.

Tannie Skuinskoek het kom kuier! Foto: Verskaf

Die uitdaging 

‘Koue hande, koue werksoppervlakte, koue kombuis, koue botter . . . alles wat Kokkedoor Vuur & Vlam se kombuis nie is nie,” het Bertus en sy mede-beoordelaar, Kobus Burger, die deelnemers nog verder skrik op die lyf gejaag, want dié lot moes skilferkors maak . . . op die vuur! ’n Skilferkors is natuurlik nie vir bangbroeke nie, lig Bertus die spanne in.

Kokkedoor
“As julle gedink het Kokkedoor Vuur & Vlam gaan net oor braaivleis, dan het julle ’n fout gemaak,” het Bertus Basson die deelnemers meegedeel. Foto: Verskaf

Wat vandag van die spanne verwag word, is ’n koffiekoek in ’n Dutch oven (’n swart gietysterpot met ’n deksel) en kole. Maar, en hier’s die kinkel, koffiekoek word nie van koffie gemaak nie. Dis ’n droeërige koek wat met speserye, vrugte en neute gemaak word wat goed saam met koffie gaan.

Dan natuurlik, ’n outydse melktert. Die melktert-pap kan op die stoof gemaak word, maar die tert self moet in die Ooni-vuuroond gebak word.

Vir die derde gebak moet die spanne ’n tradisionele fyngebak voorsit. Bertus soek iets soos byvoorbeeld ’n kruising tussen ’n Hertzoggie en die Kommandant Botha-koek en daar moet 13 van hulle voorgesit word.

En dít alles moet binne drie ure gebeur.

Die wenners

Dit raak wárm in die kombuis want daar moet ekstra fyn gemeet en geweeg word. En die allerlaaste wat nou moet gebeur is die glip van ’n mes met ’n vinger in die pad, wat wel toe gebeur . . .  

Een van die nuwe spanlede erken hy het gedink “ek val so ’n bietjie met my g*t in die botter vandag” omdat hy vermoed het sy spanmaat is goed met gebak. Dis egter allermins sy spanlid se forté… 

Dit gaan maar hak-en-tak met van die spanne – verskillende tegnieke en verskillende temperamente saamgeklits met ’n bielie van ’n uitdaging kan dalk net-net die botter te vroeg laat smelt.

“As jy nie so ’n lelike bl*ksem was nie, het ek jou gesoen,” is die verligte reaksie toe ’n gebrande koek deur ’n spanlid beredder kon word.

Kokkedoor
Francois en Jay het vinnig ’n ritme as ’n span gevind. Foto: Verskaf

Die oorstelpte wenners van hierdie uitdaging was onthoubraaier Jay Maan (51), ’n oopvuursjef van Pretoria, en sy kinkelbraaier-spanmaat, Francois Binneman (35), ’n professionele sjef van Port Elizabeth. Dit was ook die eerste keer dat die twee langs mekaar voor die vuur gestaan het.

Wat sê Jay?

Kokkedoor
Onthoubraaier Jay Maan. Foto: Verskaf

Jy’t gesê die woorde “bak” en “bak op vuur” het jou moed laat sak. Hoe het jy gevoel na afloop van die uitdaging?

“Die uitdaging was uiteindelik groot pret, alhoewel ek aanvanklik so ’n bietjie in my broek gebewe het! Ek bak selde, en die gedagte om ’n melktert op die vuur te maak het na ’n ongelooflike moeilike taak gevoel. Maar, soos met alles oor die oop vlam, het ek besef dit kom neer op temperatuurbeheer en tydsberekening. Dit was ’n goeie herinnering dat selfs die uitdagendste take op die vuur kan werk as jy dit met geduld en fyn aanvoeling aanpak.”

Toe die nuwe spanne aangekondig is, was jy duidelik teleurgesteld dat jy spanne moes ruil. Het jy en Francois mekaar vroeg reeds tydens die uitdaging maklik gevind? 

“Ek was verseker teleurgesteld om spanne te ruil want ek en Lollie (Lorianne Heyns) het goed saamgewerk. Ja, ons bord het in ’n vorige episode onder die onderste twee beland, maar met ’n paar klein aanpassings kon dit net so maklik in die top-twee gewees het. Dit wys net hoe straf die kompetisie is op hierdie punt van die reeks! 

“Wat Francois betref het ons vinnig ’n ritme gevind. Ek het regtig my tyd saam met hom geniet – ons het goed saamgewerk van die begin af. Hy het ’n groot rol gespeel in die sukses van die uitdaging en ek kon op hom staatmaak – en ek hoop hy kon ook op my staatmaak. Dit was ’n lekker ervaring om ’n nuwe dinamiek in die kombuis te ervaar en om uit my gemaksone te klim.

Kan jy beskryf hoe dit gevoel het toe jy daai pot se deksel oplig en Francois sê die koek is 100%?

“Ja, ek onthou daardie oomblik baie goed! Kyk, ek was baie nervous toe ek daai deksel oplig, maar toe Francois sê die koek is 100%, was ek sommer oor die maan van verligting en blydskap. En bo en behalwe dat die koek reg uitgekom het, was dit boonop vrek-lekker – presies my tipe koek! Ek hou nie van té soet koeke nie, so hierdie een was perfek vir my smaak.”

Hoe maklik was dit vir jou om die Ooni-oond te verstaan na jou eerste proeflopie verbrand het? Sal jy weer een inspan?

“Ek wag nog steeds vir Ooni om vir my en Francois ’n oond te stuur vir daai wen! Gelukkig het ons genoeg melktertvulsel gemaak vir ’n tweede poging want die eerste poging sou ons verseker huis toe gestuur het. 

“Maar toe ek eers die Ooni onder die knie gekry het, was dit heelwat makliker. Ek het net besluit om nie vir ’n enkele sekonde my oë van daardie melktert af te haal nie! Foute maak ons beter, né?”

Ná hul eerste proeflopie aangebrand het, het Jay besluit om nie sy oë van dié oond af te haal nie. Foto: Verskaf

Wat het Tannie Skuinskoek en Kobus se terugvoer op jou melktert vir jou beteken?

“Dit was lekker om die terugvoer van Kobus te kry. Tannie Skuinskoek wou selfs vir my ’n drukkie kom gee. Ek wag nog!  Maar ek wil ook sê, die terugvoer wat ek elke week van Kobus en Bertus kry, is vir my baie belangrik. Alhoewel ek bly is oor die positiewe kommentaar, is die uitdagende terugvoer net so waardevol. 

“Beide Kobus en Bertus is albei hoog aangeskrewe in hul onderskeie velde. Dis presies in lyn met wat ek doen. Dit help my om nie net te fokus op wat goed gaan nie, maar ook op waar ek kan verbeter. Elke episode se terugvoer, of dit nou positief of hard is, is deel van wat my as Mr Braai Guy vorentoe dryf.”

Vertel meer oor hoe dit gevoel het toe julle as die wenspan aangekondig is.

“Kyk, ek was baie verlig om te weet ek gaan nie huis toe nie en dat ons nog ’n kans het om verder te kom in die kompetisie – dáárdie oomblik is vrek-lekker. Ek is wel ook ’n realist, en wetende hoe taai die kompetisie nog gaan word, het ek besef ek moet die oomblik geniet. Maar daar kom weer ’n nuwe uitdaging vir my en Francois. Ons moet net aanhou om ons beste te gee en om te presteer. Die scenario saam met ’n nuwe spanmaat is real. Francois en ek moet mekaar nog beter leer ken as spanmaats en saam aan die dinamiek begin bou.”

Wat sê Francois? 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Kinkelbraaier Francois Binneman. Foto: Verskaf

Jy het gesê dat jy Suid-Afrikaanse kostradisies na nuwe hoogtes neem. Hoe het jy gevoel oor hierdie uitdaging?

“Ek het dit as ’n voorreg en ’n groot verantwoordelikheid gesien. Suid-Afrikaanse kos is diep-gewortel in my stories, mense en herinneringe – en om daarmee te eksperimenteer sonder om die siel daarvan te verloor, is ’n fyn balans. 

“Dit was opwindend en uitdagend, maar elke gereg wat ek gemaak het, het my net nóg meer trots gemaak op waar ons kos vandaan kom én waarheen dit kan gaan.”

Die idee van yskoue sodawater vir jou skilferkorsdeeg – is dit ’n algemene gebruik of iets wat jy self besluit het om te doen?

“Ek het al gehoor van mense wat koue water of selfs asyn gebruik, maar ek wou iets anders probeer. Die bruis van sodawater help om die deeg nóg ligter te maak, en die koue temperatuur keer dat die botter te vinnig smelt. 

Kokkedoor
Francois het beïndruk met sy innoverende gebruik van sodawater in sy skilferkors. Foto: Verskaf

“Herman Lensing het by my stasie verbygestap, ’n rukkie gestaan en gekyk hoe my skilferkorsdeeg lyk – en ek kon aan sy gesig sien dat hy beïndruk was. Dit was ’n lekker gevoel want hy is nou wraggies iemand wat kán bak! Ek moet sê, dit was ’n bietjie van ’n kans wat ek gevat het, maar dit het gewerk – en dít is mos waaroor kosmaak gaan.”

In ’n stadium het dit gelyk asof jy en Jay reeds jare lank ’n span is. Hoe was die ervaring om saam met Jay te werk?

“Van die eerste oomblik af was daar net ’n natuurlike vloei tussen ons. Jay is kreatief, energiek en net so passievol oor kos soos ek. Ons het mekaar goed aangevul – hy het baie gestres om op te vuur te bak, maar ek dink my kalmte en gemak om met enigiemand te kan werk, het hom ook rustig gemaak. 

“Daar was natuurlik oomblikke van stres, maar ek het hom regtig bewonder vir hoe hy homself gedra het – en ek het hom met respek en integriteit behandel.”

Jy het gesê “you better watch out” wanneer jy die slag uit die boks klim. Vertel vir ons meer.

“Ek dink mense het dalk ’n sekere idee gehad van wat ek kan, of nie kan doen nie. Maar ek weet dat ek my kreatiwiteit en tegniek kan inspan om mense te verras. Daardie oomblik was vir my soos om te sê: ‘Ek’s hier om te speel, en ek’s hier om te wen.’  Ek hou daarvan om mense te laat dink ek gaan links draai, en dan verras ek hulle deur regs te gaan!”

Toe julle as wenners aangewys is, was jy baie bly omdat by die huis geglo word jy kan nie bak nie. Wat beteken hierdie wen vir jou? En wat gaan jy beslis nou by die huis bak?

“Hierdie wen is vir my meer as net ’n titel – dit is bewys dat ek wél kan bak! By die huis het almal altyd gespot en gesê ek moet maar liewers net by kook bly, maar nou het ek bewys dat ek albei kan doen. 

“Ek gaan beslis my skilferkors verder vervolmaak en dalk ’n klassieke melktert maak – net om vir almal te wys ek’s nou ’n bakker ook!”

Wat is die grootste les wat jy tot dusver tydens Kokkedoor Vuur & Vlam geleer het? En watter impak het dit op jou vandag?

“Ek het geleer om myself te vertrou. In ’n kompetisie soos hierdie is daar min tyd om te twyfel – jy moet jou instink volg en op jou vaardighede staatmaak. Hierdie ervaring het my meer selfvertroue gegee, nie net as kok nie, maar ook as iemand wat kan innoveer en aanpas. Dit is iets wat ek definitief saam gaan vat in my loopbaan, in ons spysenieringsmaatskappy én my persoonlike lewe.”

En die res?

Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander spanne aangevang het.

Skryf in!

kykNET soek nou na deelnemers vir Kokkedoor: Son & See, wat die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie is. Mense moet as ’n span van twee familielede inskryf en daar moet boonop ’n generasiegaping van ten minste 20 jaar tussen die twee spanlede wees. Daar word ook net na huiskokke gesoek word en dat daar nie deelnemers met ’n kwalifikasie as professionele sjef gaan wees nie. Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos na navrae@kokkedoor.tv


Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies