Menu terloops
In Onderhoude [12 Nov 2025]

‘Kokkedoor: Son en see’: Dié ma en seun ‘gebore met liefde vir kosmaak’


“As ons saam in die kombuis is, is dit altyd ’n avontuur. Dalk is dit nou tyd om te wys wat ons Karoo-kombuis regtig kan doen,” vertel Hanna oor hoekom sy en haar seun, Dirk, vir ‘Kokkedoor: Son en see’ ingeskryf het.

‘Kokkedoor: Son en see’: Dié ma en seun ‘gebore met liefde vir kosmaak’
Kyk lokprent

Hanna (58) is die eienaar van die kenmerkende goudgeel Kamdebo Padstal by Aberdeen in die Oos-Kaap. Maar sy is nie net uitstekend as dit by kos en bestuur kom nie, sy is ook ’n opgeleide haarkapster. Sy bedryf die padstal al vir meer as 20 jaar. Een van haar sterkste punte is dat sy teen die spoed van lig kan werk. 

Hanna kook uit haar kop uit, wat dit baie moeilik maak as iemand haar vir ’n resep vra. Sy het nie formele opleiding in kosmaak nie, maar het jare se ervaring in ’n kombuis waar liefde en spoed belangriker is as fyn borde. Sy sê sy is nie ’n sjef nie, eerder ’n ma wat weet hoe om ’n pot gou aan die kook te kry. 

Sy en haar man, Danie, is nou al 32 jaar lank getroud en sy sê sy is dankbaar vir elke jaar saam. Hulle het twee seuns, Danie (31) en Dirk (29) – uiteenlopende karakters, maar hulle deel dieselfde waardes van harde werk, eenvoud en liefde vir kos. 

“Ek het hulle grootgemaak met ’n houtlepel in die een hand en ’n bord kos in die ander – want dis hoe ’n mens jou kinders leer liefhê in die Karoo.”

Dirk bestuur die afgelope jaar die padstal, en hy is die mede-eienaar van Kamdebo Padstal |Bistro | Negosie in Aberdeen. Daar is nie storieboeke op sy boekrak nie, maar wel tientalle resepteboeke wat hom inspireer. 

Terwyl Hanna voortspoed met produksie, spandeer hy baie tyd aan detail wanneer disse voorgesit word – en dit kan haar pas soms vertraag. Hy loof sy kêrel van die afgelope drie jaar, JC van der Merwe, as sy grootste ondersteuner, sy bron van kreatiwiteit en die stem wat hom aanmoedig om nog ’n bietjie verder te droom.

Hanna vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Ek het ingeskryf omdat my tannie Sarie gesê het ons moet. En Dirk het altyd geglo ek het iets besonders om te wys, al het ek nog nooit myself so gesien nie. Ek het nog nooit aan ’n kompetisie deelgeneem nie, maar ek weet hoe om kos te maak wat mense laat terugkom vir nog. 

“As ek en Dirk saam in die kombuis is, is dit altyd ’n avontuur. Dalk is dit nou tyd om te wys wat ons Karoo-kombuis regtig kan doen. Ek het nog nooit aan iets soos Kokkedoor gedink nie. Ek’s nie ’n mens van baie woorde of groot drome nie. Maar toe Dirk my aanmoedig, het ek besef dis dalk tyd om iets vir myself te doen. 

“Ek kook nou al vir jare – vir my gesin, vir my gemeenskap, vir die padstal – en dalk is dit nou tyd om vir die res van die land te wys dat eenvoudige, eerlike kos steeds saak maak. Ek doen dit nie vir die roem nie, maar vir die herinneringe, die stories, en vir ’n kans om saam met my seun iets besonders te beleef.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek is ’n eenvoudige mens. Ek hou daarvan as dinge werk, as mense reguit is, as die kos warm is en as ’n dag produktief verbygaan. Ek’s nie iemand wat maklik stilsit nie. Ek glo jy moet jou hande gebruik, jou tyd wys spandeer en altyd iets nuttigs agterlaat – of dit nou ’n pot kos, ’n skoon kombuis of ’n ordentlike stuk hekelwerk is.

“My lewe draai al jare om my gesin. Ek’s ’n ma, ’n vrou en ’n boervrou-in-die-dorp wat altyd kyk waar sy kan help. Ek kook omdat ek lief is vir mense. Dis hoe ek liefde wys. My dryfkrag lê nie in erkenning nie, maar in die wete dat my mense versorg is. As ek saans kan weet almal het lekker geëet, dan slaap ek rustig. Ek’s vinnig, ek’s prakties en ek glo aan goeie werk sonder ’n hele drama om dit. Dis wie ek is.”

Hoe sal jy jou seun, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“Dirk is my jongste, en hy is altyd vol planne. Hy het ’n kreatiewe kop en kyk anders na dinge. Hy kan ’n ou resep vat en dit ’n nuwe baadjie aantrek sonder om die smaak te verloor. Ek’s vinnig en reguit, maar hy vat sy tyd en is baie presies. Dit maak my soms mal, maar ek bewonder dit ook.

“Hy hou van mooi opdiening en dink aan die klein goedjies – die kruie, die bord, die teksture. Waar ek sommer uit gevoel uit kook, dink hy eers en beplan. Maar dit werk.

“Hy bring flair en energie, en ek bring ervaring en praktiese spoed. Ons is baie verskillend, maar dit maak ons eintlik ’n goeie span. En boonop is hy nog ’n goeie mens ook; iemand wat ek met trots my kind noem.” 

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Ek is nie ’n sjef nie. Ek is nie opgelei nie. Ek’s net ’n gewone vrou van die Karoo wat al ’n leeftyd lank kook vir my mense, vinnig, eenvoudig en met gevoel. Wat my onderskei, is dat ek nie probeer om iets te wees wat ek nie is nie. Ek kook nie met ’n boek nie – ek kook uit my kop en uit my hart uit. Dis hoe ek grootgeword het, en dis hoe ek my kinders grootgemaak het.

“Ek glo aan regte kos, nie te veel poeier en fieterjasies nie. Die nuwe generasie wil graag dinge opdollie, maar ek glo dat smaak altyd eerste moet kom. Wat jy op die bord sit, moet eerlik wees. En ek dink dis daardie egtheid wat my anders maak. Geen pretensie, net egte kos, en baie daarvan.” 

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Mense is altyd verbaas as hulle hoor ek is eintlik ’n opgeleide haarkapster. Ek het daardie skêre en rollers al lank terug weggepak, maar dit was vir jare my werk.

“Ek hou ook daarvan om te hekel – dis nie iets buitengewoons nie, maar dis iets wat my kalmeer. 

“Ek dink wat my dalk bietjie anders maak, is dat ek ’n manier het om vinnig kos uit niks aanmekaar te slaan. Ek hoef nie ’n resep te volg nie. Ek voel my pad. En baie keer vra mense dan vir daai “resep” wat ek sommer uit die bloute gemaak het.

“Ek’s nie iemand wat groot prestasies op ’n muur het nie, maar ek’s trots op wat ek elke dag regkry – ’n warm bord kos, ’n netjiese huis en kinders wat nog kom kuier vir Ma se kos. Dis genoeg vir my.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“My liefde vir kook het nie oornag begin nie. Ek moes dit leer – nie by my ma nie, want sy was glad nie ’n kombuisvrou nie – maar by my tannie. Sy het my geleer hoe om ’n gereg regtig smaak te gee, en tot vandag toe stuur sy nog vir my resepte. Ek dink ek’t maar die res self uitgewerk, eers uit nood en later uit liefde.

“Ek het gekook vir my gesin, vir verjaarsdae, vir kerkbasaarborde en toe later vir mense wat kom inloer by Kamdebo Padstal. Dis waar my kookstyl vandaan kom – vinnig, eenvoudig, reguit. Ek hou van kos wat werk. Ek hou van smake wat jy herken. En ek’s nie bang om uit my kop uit te kook nie. Dis juis daar waar my beste idees begin.”

Wat is jou lewensleuse? 

“Moenie sloer nie. Doen wat gedoen moet word.”

Kokkedoor Son en see
“Ek en my ma het saam ingeskryf as ’n manier om ons band te verdiep – nie net as familie nie, maar as kreatiewe spanmaats in die lewe, in die kombuis én in besigheid,” vertel Dirk oor die motivering om vir Kokkedoor: Son en see in te skryf. Foto: Skermgreep

Dirk vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Ek en my ma het saam ingeskryf as ’n manier om ons band te verdiep – nie net as familie nie, maar as kreatiewe spanmaats in die lewe, in die kombuis én in besigheid. 

“Ons werk daagliks saam by Kamdebo Padstal | Bistro | Negosie in Aberdeen, waar ons nostalgie in bottels bêre en resepte uit ou familie-resepteboeke weer laat leef. Die padstal het al oor die jare vir baie reisigers geword wat Kokkedoor vir ons is – ’n rusplek vol geur, herinnering en vakansiegevoel.

“Kokkedoor: Son & see was vir ons ’n kans om ons liefde vir ou resepte, Karoo-wortels en tydlose kos weer op ’n nuwe manier te vier. Ons glo in die waarde van vergete geregte en in die krag van kos wat stories vertel. Vir ons gaan dit nie oor fieterjasies nie – dit gaan oor egtheid, oor eenvoud met hart en oor die manier waarop vakansiekos jou terugneem na wie jy is. 

“Hierdie inskrywing was dus nie net vir myself nie – dit was vir die Karoo, vir nuwe avonture, vir ons verhouding en vir die pad vorentoe.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek is ’n storieverteller met meel aan my vingers en ’n sagte plek vir alles wat herinner aan waar ons vandaan kom. Ek leef met een voet in die verlede, tussen ou resepteboeke, stories van toeka en familieherinneringe, en een voet in die hede, waar ek skep, bou en saamwerk met mense wat dieselfde liefde vir egtheid deel.

“Verhoudings is vir my belangrik – met my familie, ons gemeenskap en dié wat aan tafel kom sit. Ek hou van eenvoud, maar ook van mooi. Ek’s hardwerkend, aanhoudend nuuskierig en altyd gereed om ’n nuwe uitdaging aan te pak – veral as dit mense saambring. 

“Die Karoo het my geleer om met min veel te doen en om altyd plek te maak vir ander aan my tafel. Ek wil hê mense moet onthou hoe hulle gevoel het ná die ete – nie net wat hulle geëet het nie. Ek’s iemand wat droom in kleure, dink in geure, en my stories die maklikste vertel deur kos.” 

Hoe sal jy jou ma, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“Ek sou niemand anders wou kies nie. My ma is sag maar sterk, wys sonder pretensie, en die soort dryfkrag wat ek nodig het in ’n kombuis wanneer my drome oorneem. Sy het my geleer dat kook ’n liefdevolle daad is en dat jy altyd ’n gasheer kan wees – selfs al het jy net droë brood en koffie.

“Ons is verskillend op baie maniere, maar dis juis wat werk. Ek bring die flair, maar sy bring die fondasie. Sy anker my en hou my voete op die aarde. Sy’s my rugsteun, my waarheidstoetser en soms die enigste mens wat my kan stil kry met net een kyk.

“Dis vir my ’n voorreg om nie net haar kind te wees nie, maar ook haar spanmaat – in die lewe, in besigheid, en nou in die Kokkedoor-kombuis.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Ek dink wat my as deelnemer onderskei van ander deelnemers is dat ek na kos kyk soos ’n kunstenaar na ’n leë doek – met ruimte vir emosie, herinnering en iets onverwags. Ek kook nie om te wen nie – ek kook om stories te vertel.

“Ek wil hê mense moet iets voel as hulle my bord sien – iets ouds, iets nuuts, iets wat hulle laat verlang.

“Ek het ’n diep liefde vir ou boerekos – die tipe wat met sorg en tyd gemaak is, wat feestafels laat kreun het en jare later steeds onthou word. Maar ek glo daardie kos hoef nie in museums te leef nie. Dit kan weer kreatief opstaan. Ek wil wys hoe daardie geregte met trots en ’n vars aanslag weer ’n plek op vandag se tafels kan hê.

“Ek bring my Karoo-agtergrond, my liefde vir eenvoud en ’n oog vir detail. Ek hou van kos wat iets sê – nie net oor myself nie, maar oor waar ek vandaan kom.”

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek het oor die jare ’n wye verskeidenheid rolle vervul – van funksiebestuurder en TV-produksie-assistent vir ’n regstreekse ontbytprogram tot troue-organiseerder, gastehuisbestuurder en boer. Ja, regtig – ek het vir drie jaar in die diepe Karoo geboer en weet hoe om skape te doseer en lande te bewerk.

“Hierdie uiteenlopende agtergrond het my geleer om aanpasbaar te wees, mense gemaklik te laat voel en kreatief te dink – selfs onder druk. Elke ervaring het bygedra tot hoe ek vandag leef en werk: met ’n liefde vir mooi dinge, goeie kos en mense wat saam sit om dit te geniet.

“Nou, by Kamdebo Padstal | Bistro | Negosie, gebruik ek al daardie vaardighede op een plek – van die voorstoep tot die kombuis. Ek glo nie jy hoef net een ding te wees in die lewe nie. Soms is die beste mense diegene wat hulle eie bestanddele bymekaargooi en daarmee iets unieks skep.

“Ek en JC is ook besig om ons ou Karoo-huis oor te doen en te restoureer onder die vaandel “De Bakker & De Skinker” op sosiale media. Dit was ’n stokperdjie wat deel van ons daaglikse lewe geraak het en iets wat ons met soveel passie en liefde aanpak.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“Ek glo mens word gebore met ’n liefde vir kosmaak. Dit sit in jou hart lank voordat jy weet wat om met ’n sif of ’n klitser te doen. Maar daardie liefde moet deur die regte mense aangewakker word, en in my lewe was dit beslis so. 

“My ma het van jongs af in my die waarde gevestig van omgee deur kos – die tipe wat nie net voed nie, maar ook vertroos en saambind. Ook in ons breër familie was kos altyd meer as net ’n bord op die tafel. Dit was ’n manier om liefde te wys, stories te deel en mekaar weer te vind ná lang dae. 

“En dan was daar ook ’n spesiale vriendin, Ilzebet, iemand wat soos ’n ma vir my geword het en jare lank saam met my gewerk het. Sy het nie net die tegniek in my geslyp nie, maar my ook die selfvertroue gegee om my eie stem in die kombuis te vind.

“My kookstyl is dus diep gewortel in emosie, herinnering en gemeenskap. Ek hou van kos wat eg is – sonder fieterjasies, maar met gevoel. En ek’s altyd op soek na maniere om ’n bekende geur op ’n nuwe manier te vier.”

Wat is jou lewensleuse? 

“Doen alles met oorgawe. Of jy nou koekbak of planne maak of mense liefhet. Skep mooi dinge, leef stadig en los altyd plek aan die tafel vir die ongenooide.”


Kokkedoor: Son & see begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Dié Kokkedoor-reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies