Caroline (55), die “snoepietannie” by die Afrikaans Hoër Seunskool en gekwalifiseerde somatoloog van Pretoria, glo daar is altyd plek vir nog botter en ’n ekstra koppie suiker. Sy neem graag die leiding wanneer dit kom by spyseniering vir personeelgeleenthede en skolesportdae vir Affies. Sy is reeds 33 jaar met Jurie getroud, en hulle het twee kinders: Anél (32) en Jurie (30), getroud met Chante-Lize Linde.
Anél het op skool haar nasionale kleure in gewigstoot verwerf. Deesdae werk sy saam met haar ma, Caroline, en is sy die “snoepietannie” by Laerskool Tygerpoort in Pretoria. Sy is waagmoedig in die kombuis en skroom nie om met nuwe idees te eksperimenteer nie. Buiten haar werk, kook en verkoop Anél ook gereeld aandetes aan haar kollegas. Sy en Burger van Niekerk het op 30 November verlede jaar getrou.
Caroline vertel
Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?
“Vandat die stoor in Struisbaai gebou is, het ek aan FOMO gely. My hele wese het gebrand om te weet wat daar binne aangaan. En siedaar, toe gebeur dit!”
Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?
“Ek dink ek is die ultimate people pleaser. Daar is vir my niks lekkerder as om mense om my gemaklik te sien nie. En daardie algehele gevoel van welbehaaglikheid om my man en kinders by my te hê – 12 voete onder een tafel.”
Hoe sal jy jou dogter, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf?
“My liefste dogter is eintlik haar ma se kind met haar pa se looks. Sy is ’n gedrewe vrou met baie drome – die “snoepietannie” met ’n moederhart. Ek is so trots op haar.”
Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom?
“Eintlik niks nie. Dit het vir ons almal gevoel of ons uit dieselfde agtergrond en huise uit kom. Dit was soos een groot, geduldige familie met ’n paar wat wou skeeftrek (soos altyd) en ander wat almal net gelukkig wil hou. Party was duidelik oggendmense en ander glad nie. Dit het regtig gevoel soos huis.”
Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het?
“My oorspronklike opleiding was as skoonheidsterapeut. Dit was ’n baie goeie en lekker tyd in my lewe. My kinders was klein, en ek kon van die huis af werk. Dis iets wat ek vir my twee dogters toewens. Ek het met my eerste snoepie begin toe Jurie klaargemaak het met skool.
“My tydverdryf, stokperdjie en vaardigheid is my werk. Dit is so lekker om tevrede kliënte te hê. Die grootste wat ons al vermag het, was om op een dag tussen die verskeie snoepies vir sowat 40 000 mense genoeg te ete en te drinke te kon gee.”
Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed?
“Natuurlik my eie ma, wat my geleer fancy kos maak het, en my skoonma, wat my geleer het om outydse boerekos te kook. Jurie se ouma Sannie het die laaste keer wat ons vir haar gesien het, vir my gesê ek moet belowe dat ek altyd vir haar kleinseun genoeg en lekker kos sal maak.”
Wat is jou lewensleuse?
“My man lag altyd vir my, want ek is lief om vir almal te sê: Man up! Ek wil graag hê dat die verskillende generasies net moet glo in hulself. Dit is so moeilik om werk te kry. Daarom moet hulle man up, mense direk nader en hulself aan die werksplek verkoop.”

Anél vertel
Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?
“Ek en my ma het ’n baie groot kans gevat en nooit gedink ons grootste droom sal waar word nie. Ek het ’n ongelooflike liefde vir kinders, kos en om mense saam te bring. Kookprogramme is een van my gunstelingprogramme om te kyk. Ek het elke reeks van Kokkedoor gevolg en kliphard gedroom om eendag in die stoor in Struisbaai te kan kook – ook omdat Struisbaai ons so na aan die hart lê.
“Ek sien baie by die skool hoe dankbaar ouers is omdat hulle kinders net snoepiekos wil eet. Ons praat nie van hoenderrepe en pasteie nie, maar regte kos soos ons oumas vir ons gekook het. Vandag se ouers se skedules is so vol dat hulle nie self by kosmaak uitkom nie.
“Ek wil graag kinders weer leer eet soos hoe ek grootgeword het. En ek wil ons grootouers se tradisies en resepte behou.”
Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?
“Mense is my dryf in die lewe – om te help, te dien en ook om kos te maak of te bak (meer bak as kosmaak). Ek is definitief ’n go-getter, en ek hou daarvan om probleme op te los. Groot uitdagings skrik my nie af nie. Dit geld nie net in my werk nie, maar ook vir myself.
“Ek het al ingeskryf vir ’n Comrades, en selfs al het ek dit nie gehardloop nie, sien ek dit as optimisme. Dit is beslis nog in die pyplyn – dalk oor twee jaar die 100 km-marathon. Ek is lief vir oefen en aktief wees en het reeds twee keer die Two Oceans-marathon voltooi. Ek het ook ’n baie groot liefde vir diere. Ons het twee honde aangeneem en, indien moontlik, sal ons eendag nog wil aanneem. Ek wil net altyd hê almal moet gelukkig wees.”
Hoe sal jy jou ma, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf?
“My ma is soos ’n bodemlose, doodgewone, diep lekker, warm bredie. Sy hou aan gee en gee en maak almal rondom haar gelukkig. Sy is liefde, omgee, besigheidsvrou, ma, die beste vrou vir my pa en ook ’n ma-figuur vir baie mense met wie sy in aanraking kom, veral die 1 500 leerders by Affies wie sy daagliks voer.
“Ek kyk baie op na my ma. Sy het ’n manier met mense wat hulle altyd welkom en geliefd laat voel. Haar deur staan altyd oop, en niks is ooit te veel gevra nie. Ek sal met haar gesels en net noem dat ek iets nodig het, en as ek weer sien, word daar ’n pakkie by my huis afgelaai. Sy sien mense raak en let op na die kleinste goed. Ek is baie lief vir haar.”
Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom?
“Ek is soms te eerlik. Ek hou van onder druk werk en kan dit ook goed doen. Dan dink ek my onvermoë om vir klein hoeveelhede mense kos te maak. Dit was ’n groot aanpassing om net vier borde kos te maak, mooi voor te sit en dit Instagrammable te maak.
“Ek is gewoond aan wegneemetes maak vir baie mense, wat vooraf verpak word. Ek het baie om te leer.”
Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het?
“My trotste is definitief op my sport – gewigstoot. Ek was by die SA kampioenskappe, en my pa en oupa was my afrigters. Verder kan ek gholf speel, ’n kragprop wissel, visvang, ’n wiel omruil en ’n motor met kabels aan die gang kry. Dan hekel, bak en kook ek ook.
“Toe ek baie jonk was, het ek altyd in my ma se salon gehoor hoe die vrouens kla as hulle mans gaan gholf speel of jag en nie baie tyd by die huis spandeer nie. Dis net daar waar ek gedink het ek gaan leer gholf speel om dit eendag saam met my man te doen. En daar trou ek toe met ’n man wat nie gholfstokke het nie en net tyd saam met my wil spandeer.”
Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed?
“Beslis my ma en my oumas. Later het die snoepie en die kinders se behoeftes my kookstyl beïnvloed. Ons het altyd geëet. Ons het langs my ouma op die toonbank gesit terwyl sy kos maak. Ons was by haar speelskooltjie as kinders. Al die niggies en nefies het ook Ouma se kos geniet. Later jare was Sondae of verjaarsdae by ons oumas altyd iets om na uit te sien. My eerste kookboekie was ons kerk s’n, en daaruit het ek begin pannekoek bak.
“By my ma het ek geleer van ’n drukkoker – nog die ou een – en alles was altyd spoed-spoed. Hierdie twee variasies het ek aangepas by die snoepie om die spoed-spoed-deel te doen en ook ouma se smake te behou vir die jonger generasies, want soms is daar net vier uur beskikbaar om honderde etes te lewer.”
Wat is jou lewensleuse?
“Hebreërs 13:1-2 “Die broederliefde moet bly! Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle weet, engele as gaste ontvang.”
“Ook, ’n mens kan nie met ’n toe hand ontvang nie.”
Kokkedoor: Son & see begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Dié Kokkedoor-reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.