Menu terloops
In Onderhoude [6 Nov 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: Leer ken pa-en-dogter Andrew en Leoné


‘Kokkedoor: Son & see’ se pa-en-dogter-duo, Andrew en Leoné, is beide mededingende siele met ’n ewe groot passie vir mense en kos. Hulle vertel meer oor hul ‘Kokkedoor’-ervaring.

‘Kokkedoor: Son & see’: Leer ken pa-en-dogter Andrew en Leoné
Kyk lokprent

Andrew (57), ’n pastoor by AGS Lig & Lewe in Mtunzini, word onder sy naastes beskou as ’n “mal kamper”, en in sy vrye tyd verken hy al wat ’n 4×4-roete is. Sy liefde vir kosmaak kom van sy ma af, en hy glo sy braaivernuf sal beslis kers kan vashou by sy mededingers.

Andrew doen gereeld die spyseniering by sy kerk se jaareindfunksies. Hy en Leoni Anderson is nou 31 jaar lank huweliksmaats, en hulle is die ouers van drie dogters: Leoné (30), Nicole (27) en Tasmin (24). Hy meet sy ware rykdom aan sy wonderlike vrou, dogters, twee skoonseuns en drie pragtige kleinkinders.

Leoné, Andrew se dogter, is ’n tuisteskepper en boervrou wat op ’n plaas in die distrik van Vryheid woon. Sy is ’n kranige bakster wat gereeld koeke en troukoeke vir familie bak. Terselfdertyd is sy ook gek daaroor om te sing. In die kombuis hou sy die oppervlakke skoon en netjies, terwyl Andrew ’n teenpool is. Dit mag dalk wrywing veroorsaak wanneer dinge warm begin raak in die kombuis… Sy en haar man, Koot Smit, is die trotse ouers van drie kleingoed: Erasmus (6), Derek (4) en Amalia (11 maande). 

Andrew vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Ek en my dogter Leoné hou van uitdagings, en ons voel ons het dit in ons om kos te maak. Dis natuurlik oorerflik van my ma, Marie Anderson, se kant.” 

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek is ’n energieke, passievolle mens wat die lewe liefhet en geniet. Ek probeer om in elke negatiewe oomblik ’n positiewe uitkoms te kry.”

Hoe sal jy jou dogter, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“Leoné is, en was nog altyd, kompeterend – baie soos ek – en sy het ’n passie vir mense en kos.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Sjoe, hierdie is ’n baie moeilike vraag, want al die ander deelnemers was amazing mense – elkeen uniek in sy of haar eie reg.” 

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek het verskeie stokperdjies, waaronder diepsee-visvang. Ek is ’n 4×4-entoesias en kamp graag, en ek restoureer voertuie.”  

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“Definitief my ma. Sy was altyd innoverend en het mense bymekaargebring, veral met haar lekker disse. Dit is ook my dryfkrag.”

Wat is jou lewensleuse? 

“Get up and go!”

Kokkedoor Son en see
Andrew Anderson (57) neem saam met sy dogter, Leoné (30), deel. Foto: Skermgreep

Leoné vertel

Hoekom het jy vir Kokkedoor: Son & see ingeskryf?    

“Ek het vir Kokkedoor ingeskryf, want dit was nog altyd een van my drome om deel te neem aan ’n kosprogram. Ek is baie lief vir kosmaak, en kos in ons familie is baie belangrik. My ouma Marie is my groot inspirasie, en dis hoekom ek ingeskryf het.”

Hoe sal jy jouself beskryf en wat jou dryf in die lewe?

“Ek is ’n go-getter wat nie stil kan sit nie en van uitdagings hou. Ek is ambisieus en baie gedrewe. Ek is ’n baie positiewe mens en probeer altyd die glas halfvol sien eerder as halfleeg. Ek wil my kinders leer dat enigiets in die lewe moontlik is as jy hard daarvoor werk en jou drome najaag. Ek is baie lief daarvoor om mense te help en almal gelukkig te maak. Ek was altyd die bemiddelaar tussen my twee sussies.”

Hoe sal jy jou pa, wat saam met jou aan Kokkedoor: Son & see deelgeneem het, beskryf? 

“My pa is ook baie gedrewe en entoesiasties. Hy streef altyd vir beter en sit ook nie stil nie. Boonop is hy net so lief soos ek daarvoor om kos te maak en mense te onthaal.”

Wat dink jy onderskei jou van die ander deelnemers in hierdie seisoen en hoekom? 

“Ons is rêrig nie hier vir die geld nie, al is dit ’n groot bonus, maar ons is hier om my ouma te eer en om ons liefde vir kosmaak uit te beeld.”  

Enigiets interessants oor jou? ’n Spesiale vaardigheid, interessante stokperdjie, tydverdryf of iets waarop jy besonders trots is wat jy al vermag het? 

“Ek is baie lief vir tuinmaak. My ander ouma, ouma Rita, het groen vingers gehad, en ek het dit by haar geërf. Ek kweek dahlias en verskillende bolle en blomme. Ek is mal daaroor om elke dag ’n bos vars blomme in my huis te hê.”

Wie of wat het jou liefde vir kook aangewakker, en hoe het dit jou kookstyl beïnvloed? 

“Ek sal sê dit was my ouma Marie. Sy was ’n ongelooflike vrou. Sy kon alles doen en maak met haar hande. Ek was nog altyd lief vir bak en kosmaak en het altyd in hoërskool wanneer ek moes leer ’n koek begin bak, want dit was altyd vir my baie terapeuties. 

“Ek hou baie van tipiese boerekos – kos wat jou hart en huis warm maak.”

Wat is jou lewensleuse? 

“A negative mind will never give you a positive life.”


Kokkedoor: Son & see begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Dié Kokkedoor-reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies