Menu terloops
In Recaps & Resensies [12 Okt 2023]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Die hart van ons huis


In die voorlaaste episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ kry die deelnemers ’n heerlike familie-verrassing voordat hulle Sondagmiddagete oor die vuur moet voorberei.

Deur Annie Brand

Stroom aanlyn

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Die hart van ons huis

Liewe Os,

Ai, kan dit nie maar al Desember wees nie? Ek verlang regtig na jou – en selfs na Sheila, al is sy soms vol geite wat ek nie verstaan nie. Maar, ek weet darem een ding: sy maak jou gelukkig, en sy laat jou hart so hard sing dat selfs jou oë eggo van geluk. 

Het julle al jul vlugte bespeek? Jy moet nou nie te lank draai daarmee nie. Voor jy (en ek!) ons oë kan uitvee is dit tyd vir onbeperkte braai, kuier, son, see, en familie. Want wat is dan nou beter as om spesiale tye met familie deur te bring? Ek dink Ma en Pa sou trots gewees het oor wat ons elkeen met ons lewens verrig het tot nou toe… Al kla ek en jy nog soms steen en been oor waar ons onsself bevind. 

Familie is dan nou ook die geheime bestanddeel wat hierdie week se voorlaaste episode van Kokkedoor Vuur & Vlam so interessant maak. Ten spyte van ’n uitdaging wat so maklik klink dat ’n mens dit sou kon uitvoer in jou slaap, is dit daardie bykomende element wat foeter met die deelnemers se fokus. 

Maar kom ek begin by die begin. Voordat die deelnemers uitvind wat van hulle verwag word, verras die beoordelaars elkeen met ’n familielid. Dis dan om te herinner dat daar nog lewe buite die Kokkedoor-kombuis is. Dit is sekerlik ook ’n goeie manier om hulle te herinner dat hierdie realiteit net in die kleine bestaan. Hul regte lewens wag nog vir hulle wanneer die goue haan gekraai het aan die einde van volgende week se episode. 

Kokkedoor Vuur & Vlam
’n Reuse-verrassing het op die deelnemers gewag: hul geliefdes het kom kuier! Foto: Verskaf

Robert (Mooie Kevin se pa), Bianca (Gert se vrou), Adel (Nataan se vrou), Mal Karen se ma, Joubert se vrou, en CJ (Cindy se kêrel) sluit by die deelnemers aan. En dan kondig Kobus aan dat daar nou meer mense is vir wie daar kos gemaak moet word. Dit lyk glad nie asof hierdie brokkie nuus die wêreld van die deelnemers enigsins beïnvloed nie, want die glimlagte is maklik breër as die ewenaar. 

Ná Kobus se blitsige geskiedenislessie oor die welbekende, maar min-verstaande, vuurherd, is daar ’n vinnige happie van ’n soutrib wat verorber word. Daar hoor die deelnemers wat die dag se uitdaging is. Met familielede teenwoordig, is dit geen verrassing dat hulle ’n Sondagmiddagete oor ’n vuur moet voorberei nie. 

’n Soutrib is lekker op sy eie, maar is beter as jy dit met ander mense deel.

Bertus

Die eerste gedeelte van die uitdaging is om ’n Overberg Kalahari Red bokrib voor te berei – in of op die vuurherd. En dit moet met die hand geëet kan word. Dit moet met ’n sousie of ’n bykomstigheid bedien word wat die rib ’n bietjie “oplig”. Kyk, ek weet van skaaprib en beesrib, maar bokrib? Ek sit nie eers my mond aan bokkaas nie, wat nog te sê van ribbetjie! Klink glad nie vir my lekker nie. Maar ek vertrou dat die finale drie spanne wondere met hierdie een gaan verrig. En dat my mond gedurende – en ná – die voorbereiding daarvan sal water… 

Ek het nog nooit daaraan gedink om enigiets in of op ’n vuurherd te braai nie, tensy dit ’n marshmellow op ’n stokkie is. So, hierdie gaan ook interessant raak, want daar is drie spanne en een vuurherd. Gaan hulle almal mooi saam kan werk om mededeelsaam met die vuur te wees? Of gaan die kompetisie dalk vonke in deelnemers ontlok wat dalk nog nie voorheen met die blote oog gesien kon word nie?

Vuur is iets wat gedeel moet word. Ek weet die ander manne het ook baie om op te fokus, so as ek daar kom, sal ek kyk dat die vuur reg is. Ek dink dit is maar net iets wat ’n mens doen.

Joubert (oor die vuurherd se vuur)

Die hoofgereg kan een van drie dinge wees: rump steak, lamsrak, of -lende. Die prima lamsvleis moet pienk wees, en dit moet plated bedien word – met ander nostalgiese bydisse. Die laaste gedeelte van die uitdaging is ietsie soets vir padkos. 

Nog ’n bietjie olie op die vuur is dat die familielede insae mag hê op die deelnemers se spyskaarte: hulle moet help met die beplanning. Dit alleen sou my ’n korinêr laat skiet het. Jy weet ek hou glad nie daarvan as iemand my in die kombuis pla nie. Maar nou ja toe, die deelnemers het sekerlik ’n bietjie verlang, en sal seker heelwat vergewe vir ’n paar ekstra minute met hul geliefdes. Die deelnemers het ook net drie ure en 30 minute om hierdie taak te voltooi.

Nataan & Mooie Kevin

Kokkedoor Vuur & Vlam
’n Paar stote en stampe, maar hulle het dit gemaak! Foto: Verskaf

Hulle besluit om sewe kleure op hul bord te hê. Adel se insette gee aanleiding tot Kevin wat moet besluit hoe om ’n stampmieliebrood te maak. Kort voor lank besluit die spannetjie om daardie idee te laat vaar, want die stampmielies het nie baie smaak nie. ’n Roosmaryn en knoffel broodjie moet die lig sien. 

Gedurende die broodmaakproses is Nataan so in vervoering oor sy mooie vrou wat hom dophou en die beoordelaars se besoekie, dat hy nie kan onthou of hy suiker in die deeg gegooi het nie. Hy moet dan die hele proses van voor begin. 

Kevin se pa klink meer tradisioneel as dit kom by sy voorkeure vir ’n Sondagmiddagete. Dít spreek ook vir my van die verhouding tussen pa en seun. Adele los vir Nataan ’n boodskap op hulle bord – “Move. Win. Never Stop.” Dis nie net die tattoo wat elkeen het nie – ons vind ook uit dat dit die laaste status update van Adel se broer was voor sy dood. 

Kevin maak ’n geïnspireerde sweetie pie vir die padkosblik. Die koffie-element daarin laat my twyfel of dit ’n soeterige affêre gaan wees. Dit word dan ook ’n metafoor vir my vir sy verhouding met sy pa. Ons leer dat sy pa nie heeltemal te vinde was vir sy seun se beroepskeuse nie. Soos wat Kevin self erken, het hy vir sy pa laat verstaan dat hy die heel beste in sy verkose beroepsveld wou wees – en dat dié kompetisie deel van daardie belofte is. Dis darem baie druk wat die mooie man op homself uitoefen. Dit lyk darem of dit sy pa se goedkeuring, veral met hierdie uitdaging, wegdra. 

Dis vir my moeilik om te sê ek mis die huis, want ek doen nie rerig nie. My hart is so vol terwyl ek hier is. So, ek sal eintlik sê ek is bang om huis toe te gaan, want ek dink ek gaan hierdie mis.

Kevin (oor Kokkedoor Vuur & Vlam)

Nataan is meer as tuis vandag in die kombuis. Dis omdat Adel met hom nes by die huis maak: sy check hom elke paar minute om te bepaal hoe ver hy in sy proses is. En dan maak Nataan ’n ding waarvan ek nog nooit gehoor het nie: bolla. Dis blykbaar iets tussen ’n oliebol en ’n koeksister, met minder byt – maar net so soet. 

Mooie Kevin en sy pa stry so bietjie oor die kapokaartappels wat die mannetjie op die stoof het, maar alles goedig – en in lyn met die kompetisiegees wat daar heers in die kombuis. Kevin kry ook tyd om ’n klein Nataniël-storietjie te maak van die laaste paar minute waar hulle spook en spartel om alles op die borde te kry. 

Joubert & Cindy

Die span se uitdaging is om te besluit wat nie op die bord moet wees nie, want vir hulle is Sondagmiddagete ’n kreunende bord kos. Wanneer Joubert vir die beoordelaars verduidelik wat hulle wil doen, is dit Kobus wat hom herinner daaraan om net te maak wat hulle gevra het. Ek lag so effe in my mou oor hierdie. Hoeveel keer moet die beoordelaars nog die benefits van less is more probeer verduidelik? Deur die ganse kompetisie is dit een van die sê-goed wat die hele tyd eggo: hou dit eenvoudig! 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Hokaai – less is more, remember? Foto: Verskaf

Joubert is die een wat die res van die spanne vra om mooi te speel wanneer dit kom by die vuurherd se vlamme. Alhoewel daar heelwat grappies gemaak word, is dit die respek wat die spanne vir mekaar het wat uiteindelik al skertsend die oorlog wen. Dit lyk ook asof Joubert baie geleer het by die vorige uitdaging, want hierdie week is hy ’n bobaas vrugte- en groente-jagter. Sien, ’n mens is nooit te oud – of te jonk! – om te leer nie. Daar is nog hoop vir jou, Os! 

Cindy maak seker dat sy haar merk op Joubert maak, want sy brand per ongeluk ’n boek van hom. Maar Joubert is nie veel gepla nie, en ek dink wanneer hy terugkyk na hierdie episode sal dit ook vir hom ’n nostalgiese oomblik word. Cindy is besig om ’n koejawel-, gemmer-, en lemmetjie-chutney te maak. Ek trek weer my neus op vir hierdie besigheid. Op papier klink dit glad nie vir my reg nie. Hopelik is dit nou nie die sousie wat hulle huis toe stuur nie. 

Die ander ding waarmee sy besig is, is om tradisionele soethappie-ystervarkies nuwe lewe te gee in die vorm van pampoenvarkies (’n kruising tussen pampoenpoffertjies en ystervarkies). Nee, kyk, daar skort niks met hierdie mense se vindingrykheid nie. Maar in my kop kan ek net nie die smake bymekaar sit nie. Dalk moet ek by Cindy klasse neem net om my kop meer oop te kry vir hierdie smaakavonture waarop sy ’n mens neem. 

Cindy maak ’n foutjie wanneer sy nie na die grootte van die plate (waarin die pampoenvarkies gemaak moet word) kyk nie. Joubert moet help om die gebakkery te red. Gelukkig is dit nie so moeilik om die beslag van een tipe plaat na ’n ander pannetjie oor te dra nie. 

Die kombinasie van hierdie twee deelnemers werk op verskeie vlakke, maar ek kan ook nie help om te wonder hoe ver Joubert sou gekom het in die kompetisie indien dit nie vir Cindy was nie. Kyk, die man kan braai – maar kan hy bak en brou? Want dit wil voorkom of die kreatiwiteit en die vindingrykheid in hierdie span totaal en al te danke is aan Cindy en dat Joubert amper net die braaier en die ondersteuner is in hierdie span. Ek wil niks wegneem van Joubert nie, maar ek is nie oortuig daarvan dat hy man-alleen die mas sou kon opkom hier nie. 

Terwyl Joubert rondtrippel, van senuwees of moegheid sal ’n mens nou nie kan sê nie, ontdek hy dat hul vuurtjie vir die rib in die moeilikheid is. Maar so maak hy ’n plan en kry hulle weer terug op die regte spoor. Joubert is nie gelukkig met die sousie wat hulle op die vleis het nie, en skielik kan ’n mens sien hoe die wieletjies in sy kop draai. En wanneer hy dan ontdek dat hul groente bietjie aangebrand het, is hy amper heeltemal gespanne. 

Kokkedoor
Joubert in sy vleis-element. Foto: Verskaf

Mal Karen & Gert

Karen dink hierdie beplanningsessie is moeiliker as die voriges. Dis nie net insae van die familie wat teenwoordig is wat hulle kry nie – maar ook van die familie en voorsate wat nie fisiek teenwoordig is nie. Dit val my op hoe ons as Afrikaanses altyd staatmaak op familieresepte en -herinneringe wanneer dit kom by die voorbereiding van gunstelinge of ikoniese smake. Dit is altyd ’n ma of ’n tannie of ’n ouma na wie ’n mens verlang wanneer ’n mens probeer om iemand anders met kos te beïndruk. 

Dit klink hier aan die begin asof hierdie span meer bekommerd is oor bykosse en poedings as enigiets anders. Gert wil ’n konfytskyf-besigheid aanpas, en verduidelik ook later sy ma se toffie-pampoen dis wat hy wil aanpak. 

Dis verkeerd lekker!

Gert (oor sy ma se toffie-pampoen resep)

Dis so sweet om die interaksie tussen Gert en sy vrou te sien. Dit is regtig ’n Taylor Swift-soet besigheid waarop enigiemand kan jaloers raak. Die manier waarop sy na hom kyk, en die manier waarop hy oor haar praat laat my verlang na die dae toe ek as tiener verlief geraak het. Tienerliefde kan nie vergelyk word met volwasse liefde nie, maar as ’n mens die tiener-liefde in ’n volwasse liefde kan behou, het jy ’n wenresep wat nie maklik sal faal nie. 

Ai, die liefde is darem maar mooi. Foto: Verskaf

Karen kan nie biltongpoeier kry nie, en besluit om dit self te maak. Gert is bekommerd oor die feit dat ’n mens dalk nie meer kan doen wat hulle beplan het om te doen indien sy die biltong in al die deeg gooi nie. Karen gee hom egter die versekering dat hul planne nog gaan uitwerk soos wat dit moet. Karen moet later weer van vooraf begin met haar deeg, want sy het die deeg naby die vuur geplaas om dit vinniger te laat rys. Maar die vuur was te warm en die deeg is half gaar wanneer sy ondersoek instel. Sy is duidelik omgekrap met haarself, maar nog meer wanneer Kobus aankondig dat hulle nou halfpad deur die semi-finaal is. 

As jy foute begaan, moet jy maar weer van vooraf begin – en klaar!

Karen se ma (oor foute)

Gert raak opgewonde wanneer hy sy verbeelde Hertzoggies maak. Karen verduidelik hoe sy haar kamp-fudge maak deur net wit sjokolade en kondensmelk te gebruik. Sy voeg ook ’n bietjie kokosneutolie by. 

Intussen laat Karen haar ma en Gert se vrou proe aan die gereg waarmee sy besig is. Gert se vrou dink dit is uit die boonste rakke – sy wil by Karen se ma weet of hulle dit elke Sondag eet…

Terwyl die beoordelaars die borde begin proe, is dit tyd vir die deelnemers om ’n bord kos met hulle geliefdes te deel wat uit hul hande, kreatiwiteit, en deursettingsvermoeë tot stand gebring is. Tydens die beoordeling klink dit asof Cindy dalk eerder haarself aan Joubert moes steur. Kobus is die een wat verduidelik hoe hy nie daardie Sondagmiddagete-gevoel kry van hul disse nie. Die beoordelaars dink Mooie Kevin en Nataan se rib is nie heeltemal gaar nie, en die skorsieballe is vir hulle heerlik. Die sweetie pie kry egter nie die hoogste lof nie. Gert en Karen se padkos is vir Kobus soort van lekker. Die pampoentoffie is iets wat sy ouma kon gemaak het, meen hy.

In die Kolekamer 

Hier laat die beoordelaars die deelnemers mooi verstaan dat al drie die spanne hul plek in die semi-finaal verdien het. Tot Gert en Mal Karen se pure verbasing word hulle aangewys as die wenners van hierdie Kokkedoor-rondte. Die beoordelaars prys hul kos behoorlik. Lekker sit ek toe nou en tjank toe Gert se krane oopgaan – en daar nie einde is nie. 

Die beoordelaars lig dan die dinge uit wat vir hulle lekker – en minder lekker was! – van die ander twee spanne se borde. Maar dit is ’n halfgaar aartappel en gebrande groente wat vir Cindy en Joubert huis toe stuur.

Einste groente wat verbrand het… Ai. Foto: Verskaf

’n Wortel, ’n kool, en ’n aartappel. Ek dink nie ek gaan ’n vegetariese braaier word nie, maar dalk kan ek en Kobus in Parys ’n bietjie braai.

Joubert (oor sy derde plek)

So, ja, die finaal is volgende week tussen Nataan en Mooie Kevin, en Mal Karen en Gert. Dit is iets wat ek beslis nie gaan mis nie! Dit is ook duidelik dat daar ’n bietjie meer as net gesonde kompetisie is tussen Mooie Kevin en Mal Karen. En ek dink daar mag dalk net nog frustrasies en drama rondom die vure afspeel voordat daardie Goue Kokkedoor verower gaan word. 

Kokkedoor
’n Oomblik van suiwer vreugde! Foto: Verskaf

Boetie, ek dink ons moet Desember bietjie praat oor huis toe kom. Want huis is waar jou hart is, en jy is deel van daardie huis vir my. Jy hoort hier, sodat ek nie briewe vir jou hoef te skryf oor ’n reeks soos Kokkedoor nie. Dink bietjie daaroor, en deel jou gedagtes? Ons raak oud. En soos wat ek hierdie week gesien het in die reeks, soms het ’n mens net jou familie by jou nodig om jou vlamme van passie vir die lewe weer te laat woed! 

Groete,

Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!


Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies