Menu terloops
In Recaps & Resensies [28 Sep 2023]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Wie’s die vark in die verhaal?


In die tiende episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ is die vet in die vuur vir twee deelnemers wat glad nie as ’n span saamgewerk het nie…

Deur Annie Brand

Stroom aanlyn

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Wie’s die vark in die verhaal?

Liewe Os,

Weet jy, broer, hier net voor Oktober, begin my kop oortyd werk. Die jaar staan einde se kant toe, en die mooiste maand lei my gewoonlik na die pylvlak van die jaar. En weet jy waaroor is ek spyt? Dat ek soms so min my hart uitpraat. Ek is soos Ma was: ek bly mos stil omdat ek die vrede wil bewaar. Ek wil altyd die lewe makliker maak vir ander – en kom myself só soms heeltemal te na. Dit laat my altyd wonder: is ek die vark in die verhaal? 

Iemand wat beslis nie bang is om die vrede te versteur nie, is vandeesweek se gasbeoordelaar op Kokkedoor Vuur & Vlam: die sjarmante bobaas sjef Nic van Wyk. Ek het die man so lanklaas op TV gesien, maar hy lyk nog vir my soos daai blou harige cuddle monster van Monsters, Inc. waarvan jy so baie gehou het! Die bonus is dat sy hart en mond oorloop van kosraad. En hy skroom nie om te deel nie. 

Kokkedoor Vuur & Vlam Nic van Wyk
Die gasbeoordelaar vir dié uitdaging: Nic van Wyk. Foto: Verskaf

Wanneer Nic die deelnemers begin vertel van al die wonderlike – en amper vergete – gawes van ’n vark, is dit baie duidelik dat die held van dié episode duidelik ’n otjie gaan wees. 

“Vark het altyd ’n plek in ’n restaurant. Dit is nie altyd die eerste ding waaraan jy dink nie, maar soos wat ’n spyskaart bymekaarkom, het dit soveel aanwendings dat daar altyd ’n varkie in een of ander vorm is,” verduidelik hy. Nic is ook nie bang om sy stem te laat hoor wanneer die drie beooordelaars praat oor appelkooskonfyt nie. Kobus dink dit hoort op brood, terwyl Bertus en Nic dink dit kan maar saam met vleisdisse bedien word. Nic verduidelik dan ook van een of ander smullekker konkoksie van appelkooskonfyt, koriander, en sjerrie-asyn wat hy saam met lam bedien. En onmiddellik dink ek ons moet dit een of ander tyd gaan beproef wanneer julle kom kuier. 

Die beoordelaars laat dan die vark uit die hok, en verduidelik vir die spanne die uitdaging vir die week. Die eerste gedeelte het te doen met varkboep, óftewel pork belly. Dit moet op ’n ketelbraai gemaak word, en moet eg Suid-Afrikaanse smake hê. Die beoordelaars soek ook ’n slaai daarby wat dit gaan komplimenteer. 

Op hierdie stadium van die game is dit ’n mental en fitness game. Almal kan lekker kosmaak, maar as jou kop sterk is en jou lyf is sterk, sal daai twee goed bymekaar uitkom.

Joubert

Vir die tweede gedeelte van die uitdaging, kry die deelnemers ’n vark-ribrak, en hulle moet ses tjops daaruit gaarmaak.

Die kinkel is dat die spanne verskillende lande se geure in hierdie dis na vore moet bring. Elke span kry die geleentheid om ’n deksel van ’n skinkbord te lig waaronder daar verskillende bestanddele is van ’n land wat hulle vir hul tjop-dis moet gebruik!  

Die spanne het net drie ure om hul disse voor te berei. Kobus gee te kenne dat hy baie uitsien na die hierdie uitdaging. Hy herinner die spanne dat ’n varktjoppie pienk bedien moet word. Dít terwyl Bertus hulle waarsku dat ’n pork belly nie pienk bedien moet word nie… En beslis ook nie rou nie…

Joubert & Gert

Hulle het Korea vir hul buitelandse element gekry, maar soos Gert sê hy dink dit is Suid-Korea, want niemand weet eintlik wat in Noord-Korea aangaan nie. Dit is nogal vir my interessant dat hulle ook besluit om rooibostee te gebruik vir hul Suid-Afrikaanse smaakprofiel. Ek het nog nooit gehoor dat ’n mens tee met vark gebruik nie, so dit het my laat regop sit. Hulle gebruik selfs teesakkies in hul ketelbraai om die geur deur te trek! 

Om met iemand anders se ketelbraai te werk, is soos om iemand anders se kar te ry. Jy weet jy kan dit doen, maar jy is nie heeltemal gemaklik daarmee nie.

Joubert

Gert raak bekommerd wanneer Joubert sy Koreaanse tjops op die vuur kry terwyl hulle nog twee ure oor het met hul voorbereiding. Sy vrees is dat die tjops oorgaar sal wees teen die tyd wat hulle dit moet bedien. Joubert het nou al mooi geleer om Gert se bekommernisse te besweer. Hy het ook volle vertroue in sy plan van aksie. 

Gert slaan weer sy oë op na die hemel, want hy gaan een van sy skoonma se resepte gebruik vir hierdie uitdaging. Maar hy gee dit ’n kinkel. In plaas van geelperskes gebruik hy mangoes – en ek bid saam met hom dat hy nie hierdie een opneuk nie. Dink nie skoonma sal beïndruk wees as sy kinkel haar resep opdinges nie…

Deelnemer Bertus & Ashley

Bertus het baie bekommerd oor sy ketelbraai geraak… Foto: Verskaf

Bertus klink asof hy hierdie uitdaging met sy oë toe kan doen. Hy erken dat hy tot vyf dae in ’n week met behulp van ’n ketelbraai braai. Of dit nou toegeskryf kan word aan senuwees of omstandighede, is dit egter die beoordelaars wat vir Bertus bekommerd maak as hulle hul kommer oor die ketelbraai se temperatuur uitspreek. Dis seker nou maar Murphy’s Law. Op die dag wat jy jou persoonlike ervaring aan die groot klok kan hang, is dit die universe wat terugskop en vra: “Watse ervaring?”

Ashley is bekommerd oor wat die anties van die tuisnywerhede in sy kontrei gaan sê as hulle sien wat hy met kwepers doen. Hy weet dat dit wat hy doen volksvreemd vir die mense sal wees, maar hy doen dit steeds – en hy doen dit met oordaad en ywer. Dis lekker om vir Ashley dop te hou! Hulle moet Kuba verteenwoordig met hul buitelandse dis. Maar al waaraan Ashley dink, is die sigare waarvoor daardie land so bekend is. 

Spanwerk kom hier sterk na vore wanneer Bertus so bekommerd raak oor die ketelbraai dat hy vir Ashley noem dat hy eerder buite gaan sit om die storie dop te hou. Ashley is heel rustig wanneer hy, sonder om te skroom, vir Bertus die versekering gee dat dit reg is – hy sal voortgaan met die goed in die kombuis. 

Mal Karen & Mooie Kevin

Dit is glad nie ’n plesier om na hulle te kyk hierdie week nie. ’n Mens kan nie agterkom of hulle hul frustrasies op mekaar uithaal, en of hulle net pleinweg aspris dwars is nie. Karen praat so mooi van vertroue in jou spanmaat tydens ’n onderhoud, maar sy weerspreek haarself met haar houding in die kombuis. Kevin praat nie eers daarvan nie. Hy kan seker dan nou ook nie gekritiseer word omdat hy nie daad by ’n stomme woord voeg nie. Ek sien net swarigheid vir hierdie “span” met hierdie uitdaging. 

Nog voor die kompetisie regtig kan begin, is dit Karen wat reeds haar misnoeë uitspreek oor haar spanmaat. Sy voel daar is letterlik geen kommunikasie tussen hulle nie, en sy probeer die rede uitpluis. Sy dink ook dat van almal saam met wie sy al gewerk het, is hy beslis die een met wie sy die minste oor die weg kom. 

Maar dit is nie die enigste ding waaroor Karen bekommerd is nie. Sy is nie ’n ketelbraaier nie, en die ketelbraai gee vir haar ’n hoofpyn nog voor die dag regtig vlamgevat het. Ek weet nou nie of die min of geen kommunikasie vir Mal Karen in ’n Nervous Nelly verander nie, maar dit is duideilk dat sy nie die dag met volle vetroue begin nie: nie in haarself nie, nie in haar spanmaat nie, en beslis dan ook nie met die uitdaging nie. 

Dié twee het klaarblyklik vergeet dat hulle spanmaats is… Foto: Verskaf

Karen en Kevin verdeel die uitdaging sommer van die begin af. Kevin maak die Kantonese tjops, terwyl Karen die Suid-Afrikaanse varkboep voorberei. As ek die kompetisie reg verstaan, is hierdie verdeling nie die punt van die saak nie. Hulle moet tog seker as ’n span saamwerk? Maar hier slaan elkeen sy eie rigting in, en irriteer mekaar van hier af net die hele dag verder. 

Dit is nogal komies dat Karen met almal en alles praat – maar nie met Kevin nie! – en kry ook raad by die beoordelaars met betrekking tot die ketelbraai – en nie van Kevin nie. Dit is nog snaakser as Kevin sy frustrasies keer op keer te kenne gee tydens sy onderhoude, maar ook weier om met Karen te praat. Dit laat my dink dat een of albei van hulle maar bra kinderagtig is. 

Hierdie siening van my word bevestig wanneer Kevin ’n olyftakkie probeer uitsteek en voorstel dat hulle darem een element saam maak vir die uitdaging. Maar Karen weier volstrek. Sy voel dit is sy idee en sy resep – en sy besluit om iets heeltemal anders aan te pak. Hier is dus nie net een vark in die verhaal nie, maar twee. En dit is nie die dele van die varkie wat hulle moet gaarkry vandag nie. 

Wanneer die vet in die vuur is, kry die spanlede darem iets om saam oor bekommerd te raak: die vark se vette. Karen s’n wil nie bros raak nie, en Kevin s’n is gebrand. Dis seker ’n bietjie mosterd na die maal, want die uitdaging is amper verby. Al wat hierdie hulle besorg is nog bekommernisse vir die dag se eindresultaat. 

Kevin jaag hier op die ou einde ook nog aan wanneer hy te veel meel gebruik met die laaste voorbereiding van die ‘potstickers’. Hy is oortuig daarvan dat hulle beslis huis toe gestuur gaan word. En as ek die storie so kyk, sou hulle dit verdien. Hulle voldoen net nie nie aan die reëls en regulasies van hierdie kompetisie nie – maak nie saak hoe lekker hulle individueel kan kosmaak nie. 

Nataan & Cindy

Nataan lyk asof hy ’n plan het met die ketelbraai, maar Cindy is nie beïndruk met hul buitelandse geure nie. Sy dink Duitsland se kos is gewoonlik baie vaal en nie baie interessant nie. 

Cindy klink asof sy ’n slaai vir die Romeinse leer maak, want soos sy verduidelik klink dit na die ingewikkeldste slaai in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse slaaie. Hoeveel maniere is daar dan nou om ’n bakkie bok-kos bymekaar te sit?

Cindy was nie baie beïndruk dat sy en Nataan met Duitse geure moes werk in dié episode van Kokkedoor Vuur & Vlam nie. Foto: Verskaf

Deelnemer Bertus is nie die enigste een wat bekommerd is oor die ketelbraai nie: Nataan is net so bekommerd. Is die ketelbraai dalk net te veel vir die spanne? Gaan die ketelbraai die koring van die kaf skei? Nataan raak nog meer bekommerd wanneer Nic lyk asof hy nie seker is waarmee Nataan besig is nie – terwyl Nataan besig is om monkey gland-sous te maak. 

Hier amper op die vark se stert is dit Cindy wat skielik met bier en mosterd begin toor – net om die dis so bietjie van ’n meer Duitse kinkelsmaak te gee. Is dit nie die doel van die begin af gewees nie? Of is hierdie nou letterlik mosterd ná die maal?

Kennis-skatkis

Weet jy wat het my soos ’n vuishou in die gesig hierdie week getref? Ek weet nie hoekom ek nie al lankal dit agtergekom het nie – noem my maar stadig, maar agter-sog kom ook in die kraal! – is die hoeveelheid kennis waaroor hierdie Kokkedoor-deelnemers beskik. Hygend hart, weet jy hoe moeilik is dit om jou kop bymekaar te hou wanneer jy gevra word om eg Suid-Afrikaanse smake EN buitelandse geure vir twee aparte disse te moet maak? En dan al daardie vreemde name van disse wat ek nog nooit van gehoor het nie?

Nie net weet hierdie mense wat dit is nie, maar hulle weet ook hoe om dit te maak. Daar moet verskriklike baie resepteboeke, koswenke, en -kennis, voorbereidingstegnieke, en smaakprofiele in daardie koppe van hulle geberg wees. Ek is gelukkig as ek onthou hoe om ’n suurlemoentert te maak sonder om ’n resepteboek te moet raadpleeg. Hierdie klomp ruk net idees, voorstelle, en verbuigings of kinkels uit ’n hoed! Ek is regtig beïndruk met die deelnemers, want dit sit nie sommer in enigeen se broek, houtlepel, of kookpot om só vinnig en só kreatief te dink nie. 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Al die deelnemers beskik oor besondere koskennis. Foto: Verskaf

Die ander ding wat lekker van hierdie episode is, is dat ’n mens weer klein goedjies van die deelnemers leer. Joubert besit sewe braai’s – ek het gedink ’n mens kry net twee. Nataan se vrou is vlot in Duits, en die man kan self daai taal gooi as hy moet. Gert het nie met vark grootgeword nie, maar het wel “skelm” by sy ouma vark geëet – alhoewel dit nou net spek was. Maar onmiddellik wil ek weet, hoekom? Karen was ’n lugwaardin. Ek sou haar graag wou sien stil en stemmig deur die vliegtuig stap terwyl sy “chicken or beef”- en “coffee or tea”-geselsies met vreemdes aanknoop. 

Nog ’n ding wat ’n riem onder die hart is in hierdie episode, is dat al die spanlede mekaar vertrou. Dis nou almal behalwe vir Karen en Kevin… Party kan nie eers hul spanmaats sien nie (as hulle by die ketelbraai is) maar vertrou dat hulle net hul beste sal gee. Dit is vir my mooi om te sien, en te hoor, want spanlede wat mekaar vertrou, praat van “ons”. Karen en Kevin praat egter meeste van die tyd net van “ek”.

Wanneer die proesessie aanbreek, kry Cindy en Nataan gemengde reaksies op hul disse. Ashley en Deelnemer Bertus het hopeloos te veel elemente bedien: hulle het 15 elemente voorberei! Hul varkboep is ook rou. Gert en Joubert het presies gemaak wat die beoordelaars gevra het – en die beoordelaars praat met lof oor hulle disse. Karen en Kevin kry die wind van voor wanneer die beoordelaars dit duidelik uit hul disse kan agterkom dat hulle nie as ’n span saamgewerk het vandag nie – en dat hulle die konflik in die span in hul disse kan proe. 

In die Kolekamer 

Hier vertel Kobus dat daar een span is wat kop en skouers bo die res uitgestaan het: Joubert en Gert. Hulle is verras wanneer hulle as die wenners van die dag aangewys word. Cindy en Nataan is louwam ontvang, terwyl Bertus en Ashley uitgehaal word oor die hoeveelheid elemente wat hulle bedien het. Karen en Kevin word herinner dat hulle as een span moet saamwerk. En dat die beoordelaars kan sien dat hier twee individuele entiteite aan die dag deelgeneem het. Ek kon maar net sowel ’n beoordelaar gewees het hierdie week. Alles wat ek gedink het, word deur die beoordelaars se woorde bevestig! 

Kobus gee dan vir almal die goeie nuus dat niemand huis toe gestuur word nie. MAAR die spanne word wel vir die laaste keer in hierdie kompetisie geskommel. Ashley en Deelnemer Bertus bly ’n span, terwyl Cindy en Joubert weer saam in ’n span geplaas word. Karen is verheug wanneer sy saam met Gert in ’n span gesit word. Kevin en Nataan vorm die laaste span. 

Ná ek hierdie episode gesien het, is ek dalk nie die vark in die verhaal wat ek aan die begin van hierdie skrywe gedink het ek is nie. Want soos ek weer vanaand herinner is: om stil te bly, is nie ’n antwoord nie – dit kan jou net duur te staan kom. 

Nou ja toe, ek gaan nou eers vir my ’n stukkie spek maak – en dit dalk met ’n tirtseltjie tee gaarmaak. Ek is vrek nuuskierig hoe daardie kombinasie sal proe, hoewel ek nou nie my stukkie spek in my teekoppie gaan week nie! 

Groete,

Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!

Tips van die week 

Nic van Wyk: “ ’n Soetigheidjie saam met vark werk altyd goed.”

Kobus: “Varktjops kook gaar op 63 grade (Celsius). Daar is nie parasiete wat groei in die varkvleis wat ons koop in die winkels nie. ’n Varktjop wat nie pienk voorgesit word nie, is baie droog.”


Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies