Menu terloops
In Wat om te kyk [12 Jul 2023]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Ontmoet die deelnemers


Wat het ’n predikant, hondeteler, geoktrooieerde rekenmeester en voormalige lugwaardin in gemeen? Dit is van die beroepe van die koswerklikheidsreeks ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se 20 deelnemers, wat van reg oor Suid-Afrika van plekke soos Aggeneys, Cradock Oudtshoorn, Wellington, Stilbaai en Malmesbury kom.

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Ontmoet die deelnemers
Kyk lokprent

Kokkedoor Vuur & Vlam, wat in die gewilde Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET in plek van Die Real Housewives van die Wynlande.

Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkkedoor-tafel kom sit. Sedertdien het spin-offs soos Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie ook groot aanhang onder kykers geniet. 

Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei. Dít terwyl die bekroonde sjef Bertus Basson en braaikenner Kobus Botha soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.

’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies of ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.

Talle kos- en produkspesialiste, asook ’n bekende persoonlikheid of twee, maak verskynings in die reeks, terwyl die gerekende koskenners Herman Lensing en Errieda du Toit deel van Kokkedoor Vuur & Vlam se vervaardigingspan uitmaak.

En hier is hulle!

Die onthoubraaiers

Anel Marais (51), Aggeneys

Kokkedoor Anel

Anel is gebore en getoë in die Noord-Kaap en sy ken haar pad rondom kos. Sy is ’n trotse ouma en ’n raakvatter wat haar MPhil in gemeenskapsontwikkeling verwerf het. Anel het skooltyd reeds in ’n slaghuis gewerk. Sy doen deesdae spyseniering.

Bertus Fourie (49), Wellington

Kokkedoor Bertus

Bertus is ’n bobaas-braaier en sy vuur-vaardighede het vir hom ’n plek in Ultimate Braaimaster se finaal losgeslaan. Hy is ’n wynmaker wat ook gourmet braai-spyseniering doen vir alles van intieme en spoggerige verjaarsdagpartytjies tot groot korporatiewe geleenthede met 900 gaste.

Francois de Wet (51), Struisbaai

Kokkedoor Francois

Francois beskryf homself as ’n local van Struisbaai wat die seewaters en braaivleisvuur ewe goed ken. Hy vervaardig selfs sy eie braaitoerusting. Francois is ’n uitgesproke man met sterk opinies, en alhoewel hy 50% gehoorverlies het, hou dit hom nie terug van voluit leef nie.

Jan Grobbelaar (37), Cradock

Kokkedoor Jan

Jan is vanaf 2017 ’n dominee by die NG Kerk op Cradock en hy behoort aan die afvalgilde. Buiten dat hy ’n passievolle braaier is, het hy ook redelike kennis in vleisverwerking.

Joubert Spies (38), Pretoria

Kokkedoor Joubert

Joubert is ’n geoktrooieerde rekenmeester van Pretoria en ’n man met ’n groot liefde vir jag en die buitelewe. Hy pak vleisverwerking en braai met selfvertroue en verskillende tegnieke aan. Hy het saam met sy niggie Lara van der Merwe, ook een van die onthoubraaiers, ingeskryf.

Karen Els (46), Malmesbury

Kokkedoor Karen

Dié Swartlander is ’n voormalige lugwaardin wat lank reeds droom om aan Kokkedoor deel te neem. Hierdie is vir haar ’n ervaring wat sy vir haarself aanpak – sy het in 2013 aan MasterChef deelgeneem en moes daarna stormwaters in haar persoonlike lewe trotseer.

Lara van der Merwe (23), Durbanville

Kokkedoor Lara vd Merwe

Lara het ’n graad in BSc Voedselwetenskap. Haar braai-ervaring is redelik beperk, maar Kokkedoor is vir haar ’n kans om haar vaardighede en kwalifikasie te beproef en te bewys.

Nate Smith (48), Durbanville

Kokkedoor Nate

Nate is die mede-eienaar van DNA Café in Kuilsrivier – een van die eetplekke wat in die tweede seisoen van kykNET se In die Sop-reeks oorgedoen is. Die DNA staan vir Duke, Nate en Adele (Nate se vrou). Duke is intussen oorlede en die restaurant is sy nalatenskap aan Nate en Adele.

Nicole Buirman (35), Robertson

Kokkedoor Nicole

Nicole is ’n ma van twee seuns en sy en haar man teel met honde. Haar braaivernuf het gemaak dat sy die Ultimate Braaimaster se top-10 gehaal het. Tussendeur het sy ook al verskeie potjiekos-kompetisies gewen.

Rodney Gelant (47), Oudtshoorn

Kokkedoor Rodney

Rodney is ’n spysenier in Oudtshoorn met ’n voorliefde vir tradisionele geregte en ou gunstelinge. Hy het ’n tweede plek behaal in Kookpunt op VIA.

Die kinkelbraaiers

Ashley Dokter (34), Mosselbaai

Kokkedoor Ashley

Ashley het in Murraysburg, ’n klein dorpie in die Karoo, grootgeword. Tien jaar nadat hy sy gasvryheidstudies voltooi het, het hy by ’n gesogte natuurplaas beland. Dit is die vyfde keer wat hy vir Kokkedoor inskryf. 

Borries Bornman (46), Alberton 

Kokkedoor Borries

Die Gautenger het by die Wits Hotelskool studeer, waarna hy deur die braai en BBQ-kookstyl oorrompel is. Nie net het hy die sesde seisoen van Ultimate Braaimaster gewen nie – hy lei ook BBQ-toere na Amerika.

Braam Potgieter (25), Paarl

Kokkedoor Braam

Braam het as kind sy tande geslyp vir ’n lekker steak in sy pa se Spur op Ladysmith in KwaZulu-Natal. Ná sy studies het hy werkervaring gekry by sommige van die Kaap se voorste restaurante soos Le Coin en Grande Roche. Hy het in 2021 die tweede plek behaal in One and Only se Young Star Chef of the Year-kompetisie. 

Cindy Menigo (38), Wellington

Kokkedoor CIndy

Cindy waag weer haar tweede kans nadat sy vroeg uitgeval het in Kokkedoor 2. Sy kombineer haar gevorderde diploma in koskuns en City & Guilds-diploma in fyngebak met haar sjef-ervaring as ’n lektor. 

Gert Joubert (31), Jeffreysbaai

Kokkedoor Gert

Gerhard het sy eie restaurant in Gqeberha, Fine Time Steakhouse Co., gehad en dit was aangewys as die beste steakhouse in die Baai. Dit was ’n geweldige terugslag vir Gerhard en sy gesin toe hulle noodgedwonge die restaurant se deure in 2021 moes sluit.  Hy werk nou by die Addo Country Estate.

Kevin Reed (24), Brackenfell

Kokkedoor Kevin

Kevin is ’n gewese landbouskool-leerder, rugbyspeler en talentvolle sjef wat al vanaf ’n jong ouderdom uitblink. Op 24 het hy reeds sy sjef-kwalifikasie verwerf en is hy ook ’n mede-aanbieder van die kosprogram Spyskaart op SABC2. Kevin het Sjefhuis op VIA gewen.

Lara van Heerden (25), Bellville

Kokkedoor Lara v Heerden

Lara het aanvanklik BSc Mikrobiologie studeer, maar ná twee jaar besluit om eerder haar droom van sjef-wees na te jaag. Vandag leef sy die droom by JAN Innovation Studio in Kaapstad uit waar sy met geure speel om iets nuut te skep.  Sy is gekroon as die wenner van Kookpunt en sy het ook die derde plek behaal in Sjefhuis op VIA.

Mandre Campher (22), Loevenstein

Kokkedoor Mandre

Sy spoggerige résumé is gevul met internskappe by JAN, La Colombe en die Leeu Collection. Hy was boonop ook die wenner van Kookpunt, ’n finalis in Sjefhuis (beide op VIA) en onder die top-3 van One and Only se Reaching for Young Stars-kompetisie. 

Natalie Erasmus (26), Kaapstad

Kokkedoor Natalie

Natalie is ’n opgeleide fyngebak-sjef en sy ontwerp ook juweliersware. Sy het al by die Queen Victoria Hotel asook by Fyn, een van die top-restaurante ter wêreld, gewerk. Sy het ook aan ander TV-kook-kompetisies – Sjefhuis en Kookpunt op VIA – deelgeneem. 

Tjaart Prinsloo (27), Stilbaai

Kokkedoor Tjaart

Tjaart is ’n boerbok-boer, koffiewinkel-eienaar en kreatiewe kok van Stilbaai. Hy is opgelei as ’n sjef by die befaamde Institute of Culinary Arts in Stellenbosch. Hy het al onder kosmentors soos Herman Lensing, Darren Badenhorst en Bertus Basson gewerk.


Kokkedoor Vuur & Vlam begin op Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies