Menu terloops
In Recaps & Resensies [5 Okt 2023]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Rook en oker


Die 11de episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ is een van die beste realiteitsreeks-episodes nog. Maak gereed om opnuut verlief te raak op die deelnemers, beoordelaars en, natuurlik, die smullekker storie self.

Deur Annie Brand

Stroom aanlyn

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Rook en oker

Liewe Os,

Dié week se episode van Kokkedoor Vuur & Vlam het my laat dink aan daai gedig wat ons op skool moes leer in Afrikaans… Daai een oor ’n nooi en ’n nartjie? En dit gaan oor geure en die assosiasies wat ’n mens daarmee maak? Ag, man, laat ek eers die ding gaan opsoek.

O, ja, dis DJ Opperman se “Sproeireën”. Ek copy en paste gou die besigheid vir jou, want ek weet jy sal dit nie self gaan soek nie:

“My nooi is in ’n nartjie,

my ouma in kaneel,

daar’s iemand… iemand in anys,

daar’s ’n vrou in elke geur!

As ek ’n stukkie nartjieskil

tussen my vingers buig of knak,

breek uit die klein sproeireën

wat geurend om my hand uitsak,

die boorde weer van Swartfoloos

en met die nartjies om my heen

weet ek hoe dat ’n vrou kan troos.

O my nooi is in ’n nartjie,

my ouma in kaneel,

daar’s iemand…iemand in anys,

daar’s ’n vrou in elke geur!

 – D.J. Opperman (“Sproeireën”)

Indien enigiemand sou voorspel het dat daar ’n episode in ’n realiteitsreeks is wat ek nog eendag sou koester, dan sou ek geantwoord dat daardie dag nooit sal aanbreek nie. En toe? Toe breek daardie dag baie skielik en onverwags aan met die elfde episode van Kokkedoor Vuur & Vlam

Ek dink ek het weer van voor af verlief geraak op die deelnemers, die beoordelaars, en die reeks met die nuutste episode van Kokkedoor Vuur & Vlam. Ook met die samestellers van die reeks, want hierdie is ’n “hou vir altyd op jou PVR”-episode. Hierdie episode het my so hard geslaan met nostalgie en heimweë dat ek sommer my digbundels gaan soek het in die studeerkamer. En nou werk ek weer deur hulle, soos op skool, sodat ek my gunsteling-gedigte van Suid-Afrika se beste skrywers kan lees – en dit net oor hierdie uitmuntende episode!

Maar laat ek begin by die begin, anders gaan jy my begeesterdheid nie verstaan nie. 

Die episode begin met die deelnemers wat verstom en versteen is met ’n uitsalling wat lyk soos ’n parfuum-fabriek uit die oude doos. Bertus en Kobus verduidelik hoe ’n mens sekere sterk assosiasies maak met reuke en geure, maar dit los nog nie die vraag op oor wat hulle nou eintlik moet maak vir die uitdaging nie. Om daardie vraag te beantwoord, stel Kobus die gasbeoordelaar bekend – en dit is niemand as die legendariese Dave Pepler nie. 

Dave Pepler is die gasbeoordelaar in vandeesweek se episode van Kokkedoor Vuur & Vlam.
Dave Pepler is die gasbeoordelaar in vandeesweek se episode van Kokkedoor Vuur & Vlam. Foto: Verskaf

Kyk, ek hou van mooi goed, maar as jy vir my ’n lopende ensiklopedie gee, is dit nie net my mond wat oophang nie. Dave is nie net ’n bron van kennis nie, maar het ook een van daardie stemme wat my droomverlore maak: hy maak my lus vir ’n sterrewals, of ’n koppie-klim-kuier – en hy sleur my mee soos geen ander mens kan nie. 

Dave vertel dan die storie van sy ma, wat ek persoonlik dink die tipe van film of televisie-reeks is wat ek sal wil kyk. Hoe sy ’n ‘vlammende amateur’ was in die kombuis, en hoe sy Betty Crocker se bekende kookboek gebruik het om resepte op haar kinders uit te toets. En hoe sy, ná die afsterwe van die liefde van haar lewe, op Boschendal begin kook het. Meegesleur deur sy blits-vertelling, kom ons dan nader aan die uitdaging van die episode, en dit verklaar ook sy voorliefde vir reukwaters. 

Dave: Moenie die hart van die poeding uitruk nie.

Kobus: Wat is die hart van die poeding?

Dave: Die hart van die poeding is dat dit so dekadent is, so geil is, dat jy ná die tyd na jou kardioloog toe moet gaan. Daar moet appelkooskonfyt in kom – en baie room.

“Die koppeling tussen die reuk en geheue is ontsaglik sterk en baie primitief,” vertel Dave. Kobus verduidelik dat die uitdaging gaan daaroor dat hulle wil sien of die deelnemers die verskille tussen smaak, geur en aromas verstaan – maar veral die rol wat rook speel.

Die uitdaging? Die Kokkedoor-beoordelaars soek ’n sensoriese driegang maaltyd, opgedra aan Dave, met ’n botaniese aanslag. Hulle mag slegs met vrugte en groente van die gebied en suiwelprodukte kook. Vir die voorgereg moet hulle knolseldery gebruik; die hoofgereg moet bestaan uit ’n proteïne, ’n stysel, ’n groente, en ’n sous; en die nagereg moet ’n gebakte malva- of bruinpoeding wees wat opgedra word aan Dave se ma. Hulle het slegs twee ure vir hierdie uitdaging. Die kersie op die koek is dat die borde wat bedien word restaurant-gehalte plating moet hê. 

Nataan & Mooie Kevin

Daar is vrolikheid en jolyt al om die Kokkedoor-kombuis, maar Nataan is die enigste een wat op sy agtervoet staan: hy en Mooie Kevin is die enigste ’nuwe’ span wat nog nooit saam gewerk het nie – en Nataan is van mening dat hulle van die begin af gaan moet besluit of hierdie gaan werk of nie. Dis komies wanneer Nataan uitwys dat hy weet Kevin het groot spiere, maar dat Kevin moet onthou dat Nataan se grootste spier sy brein is. Kevin spring weg met ’n roomys, want hy wil sy bekommernisse verminder. 

Kokkedoor Vuur & Vlam
“Luister nou mooi, Mooie Kevin…” Foto: Verskaf

Nataan is besig om ’n geurige koek te maak, maar midde in sy eie storm ontdek die twee dat die deeg besig is om te split. Kevin besef dit is omdat die botter wat gebruik word te warm is. Hulle moet van vooraf begin met hulle resep, en Nataan se grootste probleem is Kevin se emosies wat vinnig uitkom. Maar dit lyk asof Nataan eintlik nogal vir Kevin diep verstaan, en die oorbegin lei nie na ’n massiewe uitval nie. Nataan is so koel en kalm dat ’n komkommer wens hy is Nataan. 

Een van die vreemdste kombinasies, wat ek beslis nie wil probeer nie, kom uit hierdie stal. Hulle maak kaasstokkies, met beet chips (letterlik dun gesnyde beet wat in olie gebraai word om chips te maak) en dan iets met grenadella. Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar grenadella en beet? Saam?! 

Gelukkig beredder Mooie Kevin my denke van hom wanneer hy ’n vreeslike interessante ding met klomp verskillende tipes sampioene maak. Ook beslis iets wat ek sal wil probeer. Dit kom natuurlik met ’n voorwaarde dat Mooie Kevin dit vir my sal moet maak – en ook sommer moet voer. 

In die laaste paar minute is dit Kevin wat vir Nataan moet waarsku om nie die eiers op te dinges nie. Sien, hulle het eiers gebak, en sny meeste van die wit van die eier weg sodat daar net ’n geel ogie en ’n randjie wit oorbly. Die probleem – en die drama – kom in wanneer Kevin besef dat hulle nie tyd het om die eiers oor te doen indien daar fout is nie. Daar is vier borde, en hulle moet ’n eier in elke bord kry. Gelukkig is Nataan se senuwees nog glad nie in flarde nie. Hy vee die sweet van sy voorkop af wanneer hy die eiergele perfek – en betyds – op die dis van sampioene kry sonder enige moeite. Of dan nou nie die tipe moeite wat ’n mens duidelik op ’n kamera kan sien nie…

Kokkedoor Vuur & Vlam
Eksie-perfeksie plating! Foto: Verskaf

Joubert & Cindy

Terwyl Joubert blomme pluk en sampioene jag in die spens, klink dit asof hy effe hartseer is oor die vleis wat daar is wat hy nie aan mag raak nie. Cindy is opgewonde oor die uitdaging, maar nog meer omdat Joubert haar aangesê het om die leiding te neem op die uitdaging. Hy weet hoe om bokke te skiet, maar nie hoe om groente te jag nie. Hulle doen nogal ’n interessant ding en maak pasta uit die knol-seldery deur dié besigheid te skil sodat dit soos pasta lyk. Cindy weet Joubert is skepties oor die idee, maar soos ’n goeie spanmaat gee hy sy volle aandag – en vetroue! – aan haar. 

Joubert raak bekommerd oor tyd, maar Cindy praat sy bekommernis weg. Sy maak die rotolo klaar, en verduidelik dat dit soos ’n Swiss roll lyk as jy klaar is daarmee. Dit is gevul met sampioene, uie en butternut – en dan is daar nog ’n ricotta-kaas wat ook bykom. Hierdie is ’n ding wat ek sal wil probeer! 

Cindy se bekommernis in die doodsnikke van die uitdaging is dat die poeding dalk te soet is – en dat die sitrus wat hulle gebruik die roomsous laat skif. Sy maak ’n nota daarvan om met die opskep darem net seker te maak dat dit nie so aaklig lyk nie. Dit klink darem of Dave sy wens gaan kry en ’n hartlike poeding gaan kry om aan te smul. 

Op nommer 99 doen Cindy ’n paar asbrande op wanneer Joubert en sy sukkel met daai besigheid wat veronderstel is om rook oor hul disse (onder ’n klokglas) te laat vorm. Ek neem aan elke sport het sy beserings – selfs die sports in ’n kombuis. 

Maar hoe proe dit dan? Foto: Verskaf

Deelnemer Bertus & Ashley

Bertus spring weg met een of ander koek-besigheid waarin die hoofbestanddeel spekuloos is om die geur uit te bring. Ongelukkig is Bertus so maltrap in die kombuis dat hy heeltemal van die spekuloos vergeet. Hy meng dit eers in die deeg wanneer dit reeds op die vuur staan. Vir hul hoofgereg maak hulle ’n koring-risotto, met ’n wyntee en buchu-gerookte tamaties. Beoordelaar Bertus is baie opgewonde oor die risotto, maar Dave wys uit dat ’n risotto of reg of weg is – daar is geen middelweg met risotto nie. 

Die span gebruik renosterbos in hul disse, en Dave waarsku hulle dat renosterbos ’n kuur is vir lopende maag… En dat as ’n mens te veel gebruik gaan jy ’n handgranaat benodig om die sisteem weer aan die gang te kry. 

In die hitte van die oomblik is die span bekommerd daaroor of hulle koek gebrand het. Bertus leer hulle gou hoe om seker te maak dat ’n koek op ’n vuur gereed is. Wonder bo wonder is dit perfek wanneer hulle dit uit die pot dompel. 

Maar wat nou? Foto: Verskaf

Ashley wil ’n roombesigheid maak vir die wortelkoek, maar iets loop verkeerd. En dan besluit hy hy wil ’n basil pesto gebruik – maar daar is geen basil pesto te vinde nie. Die bulle maak ’n plan, en maak sommer hul eie in ’n japtrap. 

In die harwar van die laaste paar minute, begin Ashley sy woorde – en sinskonstruksie – te vergeet terwyl hy naarstigtelik die laaste bietjies doen. Ek kry die kêrel jammer, maar ek kan nie help om ook trots op hom te voel nie. Dat ’n mens so gefokus is op waarmee jy besig is, dat jy alles anders vergeet, is ’n kunsvorm wat ek lanklaas gesien het. En daar is ’n klein gedeelte van my wat jaloers is op die manier waarop hy hierdie uitdaging voltooi. 

Mal Karen & Gert

Mal Karen spring weg met haar nagereg, want sy wil die resep vir een tert gebruik om ’n ander tipe tert te kan maak. Dis duidelik dat Karen weer haar ou self is, en dat haar kop weer in die game is. Gert spring weg met ’n cheat-roomys, en daarna pak hy ’n tipe van vegetariese sushi-dingetjie aan. 

Gert se roomys is ’n flop, en die twee moet ook weer van vooraf begin. Gelukkig het Gert reeds ’n antwoord vir hul probleem. Hy raak glad nie uitgestres oor wat hulle te doen staan om die probleem te bowe te kom nie. Die paniekerige Ou Karen kom weer vir ’n paar sekondes te vore, maar Gert maak haar kalm met sy fokus. 

Met slegs tien minute oor het Gert heelwat om oor bekommerd te wees. Behalwe vir Karen wat hom kerplaks soen (en Gert los met die gedagte dat sy vrou gaan sien hoe ’n ander vrou hom op TV soen) is daar die restaurant-gehalte plating wat voorlê. Soos Gert self erken: “Almal weet ek maak lelike kos!”

Karen se angs kom van die phyllo-wiele wat nie op die vuur die beste gaan klaarkom nie. Sy moet die oond noodgedwonge gebruik. Die oond maak ongelukkig baie rook – en sy is bang die rook trek in die wiele in. 

Gert en Karen… maar wat van daai soen, jong? Foto: Verskaf

Tyd om te proe

Voor die proesessie aanbreek is daar ’n rustigheid wat oor almal daal ná ’n adrenalien-belaaide uitdaging. Almal wens hul spanmaats geluk. Dit lyk regtig vir die eerste keer asof al die spanlede met mekaar oor die weg gekom het. Daai drukke is bedrup met spangees – en dalk ’n kameraadskap of liefde wat hier en daar ontbreek het in party episodes. 

Eerste aan die beurt is Gert en Karen. Dave sê die verskillende elemente het beslis individuele stemme, maar saam is die bord nie ’n koor nie. Cindy en Joubert ontvang lof vir hul groente-pasta-konkoksie wat hul voorgereg is. Nataan en Mooie Kevin se hoofgereg (van eiergeel en sampioene) is nie net ’n wenner vir Dave nie, maar hy vind dit ook visueel eksoties. Ashley en Deelnemer Bertus se gort is nie gaar nie, en Kobus kan nie die spekuloos in hul koek proe nie. 

In die Kolekamer 

Hier word Deelnemer Bertus se instinkte bewaarheid wanneer hy en Ashley uit die stryd tree as die vierde beste span van die reeks. Beide is hartseer, maar ook ongelooflik trots en praat met groot lof van mekaar. Ek hoop regtig hierdie vriendskap word voortgesit na afloop van die verfilming. Hulle kom nie net goed oor die weg nie – die wedersydse respek wat daar vir mekaar is, is aansteeklik. 

Kokkedoor
Cheers vir eers… Foto: Verskaf

Die wenspan van die week is Nataan en Mooie Kevin. Bertus dink hulle het bo die res uitgestaan, en hul borde word ook geprys vir die stories wat dit vertel het. 

Kyk, ek is nog nooit lief gewees vir bokkos nie. Hierdie episode het wel vir my ’n nuwe storie begin vertel in die verhaal van kos. Ek is nie net opgewonde oor dit wat die deelnemers reggekry het nie, maar ook die manier waarop hierdie episode aanmekaar gesit is. Dit het ’n hele verhaal – ’n hele nuwe wêreld! – vir my begin. Die storielyn van die episode is een van die mees perfekte realiteitsreeks-episodes wat ek al ooit beleef het. Ja, kos is ’n verhaal, maar hierdie episode is ’n epiese gedig – en ode! – aan die ongekende varsheid wat hierdie reeks na die tafel toe bring!

Hier kort voor middernag gaan ek nou eers weer bietjie vir Sheila Cussons in haar Swart Kombuis kuier. En dalk vir Ingrid Jonker gaan soek in die onstuimige branders van Drieankerbaai. Volgende week is die semi-finaal van hierdie reeks, en my hart is reeds sommer seer om te dink dat ek al hierdie mense en hul kennis moet groet.

Groete,

Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!

Tips van die week 

Dave Pepler: “Hoe hoër die kwaliteit van die produk, hoe eenvoudiger word die resep.”


Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies