Liewe Os,
Dis nou veronderstel om die middel van die lente in Suid-Afrika te wees, maar ek leef nog hier net neffens die hartjie van die winter. Vir wat is die seisoene so vreemd deesdae? As dit nie was vir die rugby, en Erfenisdag wat net hier om die draai was nie, sou ek sweer ek is in tyd vasgevang. Hierdie is beslis een van die langste winters wat ek al beleef het: dit laat my voel soos ’n vis op droeë grond!
Gelukkig verander die koue in my gemoed in sonniger denke wanneer dit vir Kokkedoor Vuur & Vlam tyd is. Kan jy nou dink dat ’n paar weke terug was al die deelnemers soos ’n klomp goudvissies in ’n bak, en deesdae het almal al verander tot vrolike forelle, besige blaasoppies, of kundige kabeljoue? Ja, hier en daar is daar nog ’n clownfish te bespeur, maar hierdie week word die sardyne van die tunas geskei wanneer Bertus en Kobus se uitdaging die deelnemers vrylik uit die nette laat…
Hierdie week word die Kokkedore na die suidpunt van Afrika geneem vir hul volgende buite-uitdaging. Dit is beslis ’n plekkie wat ons moet gaan verken wanneer jy en Sheila uiteindelik voet aan wal sit. Ek gaan dit weer sê: hierdie reeks is uitsonderlike geskiet, want alles – maar ALLES – is mooi. Ek wonder hoeveel mense wat die reeks kyk dit ook raaksien? Hier word baie moeite gedoen met die verfilming van die reeks. Elke sekonde daarvan maak my nie net honger oor dit wat op die borde uitgestal word nie – ek raak ook weer uitgehonger om gedeeltes van ons land te gaan verken wat ek al van vergeet het.
Kaap Agulhas is waar die Atlantiese en Indiese oseane bymekaar kom, en die koue Benguela- en die warm Agulhas-strome mekaar ontmoet. Wanneer Bertus verduidelik dat dit hier is waar van die beste seelewe in die wêreld is, raai ek sommer dat die deelnemers nie verniet hierheen geneem is nie – en dat die uitdaging ’n visserige besigheid gaan wees.
Ek is nou nie een vir seekos nie, maar dit is nogal vir my interessant hoe die twee beoordelaars begeesterd raak oor alles wat ’n mens uit die see kan kry om te eet. Ek dink ek sal nie my mond aan die helfte van die kreature sit nie, maar ek begin sommer dadelik wonder of enige van die deelnemers al met van hierdie vreemde goedjies gewerk het. Kobus wys vir die deelnemers hoe om ’n geelstert skoon te maak – en dit laat my bietjie onthou hoe ek so twee weke terug gevoel het. Maar wanneer hulle die deksel van ’n viskopsop-potjie oplig, onthou ek baie beslis hoe ek gevoel het! Nee, wat, daai pragtige pot kan maar verby gaan by my – ek sit nie my mond daaraan nie!
Die opdrag aan die deelnemers is om ’n seekosbord voor te sit wat geïnspireer is deur die omgewing waarin hulle hulself bevind. Hulle moet werk met kabeljou, en hulle moet ’n vissop maak. Die beoordelaars soek ook ’n vissersbord, met ’n stysel en ’n slaai. Hulle moet ook ’n nagereg voorsien met ’n sout-element.
Die kinkel in hierdie uitdaging is dat hulle die geure van die mees noordelikste punt van Afrika (’n plek met die naam Ras ben Sakka in Tunisië) in hul disse moet gebruik. Die geure sluit olywe, gemmer, dadels, finkel, harissa, en couscous in. Hulle moet ook vir een van hul visgeregte ’n tegniek gebruik wat die vis se tekstuur en smaak teen die vuur beskerm. Hulle kan goed gebruik soos seewier of bamboes om dit reg te kry. Bertus laat hulle mooi verstaan dat hulle die vis wil proe en die see kan voel in hul geregte. Talk about a tall order…!
Asof die deelnemers se senuwees nie reeds op is van hierdie mondvol-opdrag nie, word hulle ook ingelig dat hulle hul disse in die kombuis kan beplan – maar dat hulle die volgende dag weer terug sal wees om hul geregte op vure langs die see voor te berei. Kyk, dit is prentjieboek-mooi daar, maar wie gaan nou tyd kry om die ambience van die omgewing in te neem terwyl jy veg vir oorlewing voor ’n vuur? O, ja – hulle het net twee ure om hul disse voor te berei.
…Maar nog is dit nie die einde van die verrassings nie! Later, wanneer die deelnemers druk besig is om hul disse voor te berei, daag daar ’n Checkers Sixty60-mannetjie op ’n motorfiets aan, en lewer vir elke span ’n pakkie af. Die beoordelaars lig hulle dan in dat elke span ook ’n terghappie met die inhoud van hul pakkies moet voorberei.
Joubert & Gert
Soos Joubert self erken, het hulle baie groot geskrik ná die vorige uitdaging, en hulle het albei besef dat hulle duideliker met mekaar moet kommunikeer. En dat hulle met ’n duidelike plan moet werk.
Die span het ’n to do-lysie saamgestel, en lyk asof hulle baie meer gefokus wegspring met die uitdaging.
Teen die einde is Gert en Joubert net bly dat hulle nie iets vergeet het nie. Dit lyk asof die spanne stukke beter gevaar het in hulle vennootskap in vergelyking met verlede week se uitdaging.
Ná Joubert sy frustrasies uitgestap het langs die vure, omdat hy nie daarvan hou om te wag nie, breek hul proe-sessie heel laaste aan. Joubert is baie trots op dit wat hulle voorberei het, maar is bekommerd oor hul kreef. Dit is dan ook die eerste ding wat Bertus vir hulle uitwys: omdat hulle kreef se skulp gebrand het, het die kreef so effense van ’n brand-smaak. Kobus maak hulle ook bewus daarvan dat dit melerig uitgekom het, wat beteken dat dit te vinnig – en ook te stadig – gebraai het. Hulle sop en stoombrood kry komplimente, maar hul seekosbraai kry nie baie lof nie.
Nicole & Mandre
Mandre kry dit reg om my sommer met sy eerste uitspraak van die episode die moer in te maak: hy beskryf homself as “warm” (seker omdat hy dink hy is hot stuff) en Nicole as koud – en reken ook dit is die rede hoekom sy die vuur kan hanteer. Nicole se beskrywing van Mandre is natuurlik vir my baie gepas. Sy beskryf hom as ’n matriekseuntjie wat blank slaan tydens ’n matriekeindeksamen.
Die spannetjie het ’n plan met visskubbe waarvoor ek eers gril, maar dan moet ek ook erken dat dit my nogal beïndruk omdat dit so ’n out of the box-idee is – vir my, altans. Nicole kry ’n bondgenoot in Cindy wanneer sy vir Mandre aanspreek omdat hy sit en vis skoonmaak – en dit is nogals komies.
Mandre raak nog snaakser wanneer hy sukkel om sy groot vissie in die klein bamboes in te druk. Ek weet jy sou al wat ’n skurwe aanmerking gemaak het oor hierdie gedeelte, en ek kon weereens nie help om die arme kind jammer te kry nie. Logika is dalk ook nie sy sterkpunt nie, maar ten minste sorg hy vir die komiese verligting in hierdie episode.
Net voor die einde is dit die spannetjie se pampoentert wat vir hul probleme veroorsaak: Mandre verduidelik dat hulle nie genoeg tyd gehad het om die tert ordentlik te kon laat afkoel nie, en hulle moet dit van die kole afhaal, sny en op die bord kry voor die tyd verstreke is.
Die span se sop se smaakprofiel is nie vir Bertus lekker nie, hulle het meer verwag van die slaai, en Bertus dink nie hulle het genoeg tyd gehad om die seebal-pickle reg voor te berei nie. Die vis in die bamboes is te veel gestoom, en is bietjie droog. Kobus wys dit ook uit aan hulle dat as hulle souse moes gebruik om hul kos meer sappig te maak, beteken dit hul kos is nie reg gaargemaak nie. Hul pampoentert word geprys – en lofliedere word oor die visskubbe gesing.
Deelnemer Bertus & Ashley
Ashley dink hy en Bertus pak meer in as waarvoor hulle beplan het, terwyl Bertus van mening is dat dit baie moeiliker gaan wees om alles te vind wat hulle ingepak het wanneer hulle onder ’n helse druk werk.
Wanneer die uitdaging afskop, spreek Ashley sy hoop uit dat hulle skippie nie op die rotse gaan beland nie. Bertus se eerste prioriteit van die dag is om vir hom ’n stoel te kry – neem hy notas van Mandre? – en sy tweede prioriteit is om ’n kors vir hul kaaskoek saam te slaan. En blykbaar is sy derde prioriteit van die dag om almal te vermaak met ’n paar liedjies! Dalk moet hy sy voorskoot vir ’n verhoog verruil, want hy is nogal vir my entertaining. Maar ek is nou nie seker of dit is vanweë sy persoonlikheid of sy talent nie… Wat my wel opval, is dat dit lyk asof Ashley al die groot werk doen, terwyl Bertus aandag skenk aan die klein goedjies: totdat dit by die alikreukel kom. Die man het duidelik baie kennis oor hoe om hierdie dingetjie gaar te maak!
Die spangees tussen hierdie twee is aansteeklik. Dit raak gou ook duidelik dat Gert en Joubert ook die vrugte van hierdie spangees geniet. Die viermanskap kom goed oor die weg, en help mekaar – meer van die sloot af na die wal! Maar van al die vermakerigheid en grappies langs die vure is daar skielik ’n branderigheid in die lug – en die span ontdek baie gou dat dit uit hul kampie kom.
Die beoordelaars dink hul sop het heerlike geure, en hul vis is goed gebraai. Kobus dink hul kreef is goed gekook, maar niks besonders nie. Hul slaai is baie lekker, maar die beoordelaars dink hulle kon maar hul terghappie gelos het.
Karen & Mooie Kevin
Karen se pakkery neuk met Kevin se kop. Hy raak paniekerig wanneer dit voorkom asof hy nie verstaan wat sy spanmaat mee besig is nie. Dit veroorsaak dat Kevin heeltemal toeslaan, en alle kommunikasie tussen die twee is daarmee heen. Dít frustreer weer vir Karen omdat sy nie weet wat hy dink of voel nie. Karen raak emosioneel wanneer sy dan uitblaker dat ’n mens partykeer te veel vir iemand kan wees – en ander kere te min. Sjoe, die arme vrou! Dis duidelik haar egskeiding spook nog by haar, en dit beïnvloed die manier waarop sy die wêreld ervaar – en sien.
Dit is baie duidelik die volgende dag dat Kevin van deuntjie verander het. Of dit is dat hy met ’n ander ingesteldheid opgestaan het, en of hy en Karen ’n laataand-koffie met ’n stukkie hart-skoonmaak-gesels aangepak het, is onseker. Skielik is Kevin dankbaar vir die georganiseerdheid van hul spasie. Karen het blykbaar ook die idee gekry om in stilte te probeer werk sodat sy kan konsentreer op die take op hande.
Ek gaan nie praat vandag nie. Ek gaan nie myself verduidelik nie. Ek wil hê my kos moet vanself praat, want ek het vertroue in die kos. Ja, daar is goed waarin ek twyfel, maar ek wil hê vandag moet die kos sy eie stem hê.
Karen
Kevin en Karen lyk letterlik soos ’n goed geoliede aflosspan. Hulle vul mekaar aan, en dit lyk amper soos ’n perfekte uitgewerkte dans wat hulle uitvoer terwyl hulle werk. Hulle mag dalk nie die mees stabiele emosionele mense wees nie, maar as die twee eers werk – en al die geraas laat verdrink – dan werk hulle hard, moeite- en kommervry. Is hierdie dalk die vermiste bestanddeel in van die ander spanne? Vertrou die twee mekaar ten volle, ten spyte van elkeen se maniertjies wat die ander een dalk kan grief?
Teen die einde lyk Karen bekommerd oor iets, maar sê niks nie. Wanneer sy alleen met die kameraman praat, spreek sy haar kommer uit of sy en Kevin regtig lekker kan saamwerk (wat nogal vir my ’n verrassing is). En dan doop Karen haarself ook as ‘Mal Karen’. Ek dink dis gepas vir die woordspeling in die span se beskrywing. Van volgende week af is dit ‘Mal Karen’ en ‘Mooie Kevin’!
Hul sop het ’n diep smaak, maar die brood is dalk te sout – en ’n bietjie gebrand. Een van Bertus se gunstelinge is die gebraaide harders. Kobus is bly dat hulle al die grate gehou het. Hul kreef is heerlik en die kabeljou is goed gebraai. Hul slaai is wonderlik gebalanseerd en vars. Hul terghappie kry die beoordelaars se stem, want hulle voel dit is baie indrukwekkend.
Nataan & Cindy
Om voor te berei vir die uitdaging is almal besig om die nodige in te pak. Vir Cindy voel dit asof sy trek.
Met die uitdaging klink hierdie span se nagereg vir my amper die lekkerste, want dit is een of ander “kreukelkoek”. Die idee klink vir my baie lekker, maar sjoe… Ek weet darem nou nie of dit nie dalk te veel moeite is vir ’n uitdaging waar hulle net twee ure het om alles klaar te kry nie.
Die beoordeaars dink hul sop is lekker, ten spyte van die feit dat dit effens vetterig is. Hul kalamari en spinasie is smaakvol. Bertus dink die manier waarop hulle dit met die kelp gemaak het, het met die smaakprofiel gehelp. Hul geelstert bring gemengde gevoelens van die beoordelaars na vore. Terwyl Kobus nie hou van vis wat gestop is met iets nie – alhoewel hy dink dit is ’n goeie idee – hou Bertus weer daarvan. Hul brood-besigheid laat Bertus se oë glinster, en hul slaai is ’n smaaklike klassieke kombinasie van lemoen en finkel. Hul kreukelkoek word geprys vir die smaakprofiel, maar die tekstuur daarvan is problematies.
In die Kolekamer
Die senuwees begin te knaag. Kobus prys die deelnemers vir hul moeite, aangesien hierdie uitdaging vir hom persoonlik baie beteken het. Elke span kry ’n kompliment van die beoordelaars. Die een span wie se kos bo die ander uitgetroon het, is Mal Karen en Mooie Kevin.
Ek trek al my woorde terug. Ek dink ons kan die kompetisie wen as dinge gaan soos wat dit vandag gegaan het.
Kevin
Hierdie is ’n kompetisie, en ongelukkig moet ’n span huis toe gaan. Kobus dink dit raak moeiliker om mense te groet, want hulle stap nou al ’n langerige pad saam. Ongelukkig is dit Mandre en Nicole wat huis toe gestuur word. Alhoewel die seun my gedurende die kompetisie vreeslik geïrriteer het met sy vuurwarm ambisie en sy amper beterweterigheid, is daar iets te sê vir iemand wat in sy eie potensiaal glo – en nie net op sy gat sit en drome bak nie. Nicole gaan ook beslis gemis word – veral met haar aardse natuurlikheid en haar wilskrag om te vermag.
Maar nou ja: nou bly daar bittermin episodes oor voordat daar uiteindelik weer ’n goue haan is wat gaan kraai! Ek hoop dit beteken ook dat daar na dese ook heelwat minder wintersdae is wat vir ons voorlê. Wie weet, dalk verander die seisoen behoorlik om die nuwe geslag Kokkedoor-wenners welkom te heet. Die hoop beskaam beslis nie op daardie een nie.
Groete,
Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!
Tips van die week
Kobus: “’n Vis wat te stadig braai, raak melerig.”
Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.