Terwyl hul ernstige gesigte niks op kamera weggee nie, is pret en inspirasie ’n groot deel van hul ervaring op die stel van My Kitchen Rules South Africa, meen die geliefde musikant, J’Something, en die gewilde restauranteur en sjef, David Higgs.
Kykers skakel in vir die drama, maar hierdie twee gesoute kosliefhebbers is daar om oor elke triomf en elke flop in die kombuis oordeel te fel. En al het albei suksesvolle restaurante geloods en reis die wêreld vol, is dit soms juis hier saam met huiskokke in die My Kitchen Rules-kombuis waar hulle inspirasie vir ’n nuwe skepping kry.
terloops het met hulle gesels oor die drama, mislukkings en hoogtepunte agter die skerms van My Kitchen Rules South Africa.
Vertel ons van een episode waar jy regtig gesukkel het om ’n ernstige gesig te hou. Wat was jou snaakste reaksie op ’n gereg?
David: “Ek dink dit was een van die oomblikke waar ek saam met Tšepang en Refilwe in die kombuis ingegaan het. Ek is deur een van die inhoudsbestuurders aangespoor om ’n rou beslag vir ’n nagereg te proe. Wat hulle nie vir my gesê het nie, is dat die deelnemers 100g suiker met 100g sout vervang het. Ek het my vinger in die beslag gesit en ’n goeie mondvol ingekry. Ek kon regtig nie ’n reguit gesig hou nie! Eintlik het ek amper meer kwaad geword as enigiets anders. En toe het hulle steeds gemaak asof daar niks fout is nie.”
J’Something: “Ek is nie ’n groot mogodu-aanhanger nie. Dit het as ’n hoofgereg by die tafel aangekom en ek het dit toe geëet. Dit was eintlik verbasend lekker vir my, ek sukkel nog met die tekstuur, maar die sous was heerlik. Ek kan ook ALTYD aan David se gesig sien wat hy dink oor iets wat hy geëet het, en ek moet soms baie hard werk om nie te lag nie.”
Wat veroorsaak die meeste wrywing tussen deelnemers? Hetsy in die kombuis of om die tafel?
David: “As daar druk in die kombuis is en deelnemers met die blame game begin. Wie het wat gedoen of nie? As niemand beheer neem nie, moet daar ’n leier wees en daar moet ’n game plan wees. Die ander ding wat konflik veroorsaak is die puntetelling. As ons by die vierde instant restaurant kom, begin die kritiek rondom die tafel gewoonlik eskaleer en die puntetelling word nogal ’n strategie. Dit is die enigste tyd wat strategie ’n rol kan speel vir die deelnemers in dié kompetisie.”
J’Something: “Ek dink dit is die telling na die stertkant van die instant-restaurant-fase, want dan sien jy hoe natuur inskop met daai do-or-die-gees. Mense begin strategies stem en dit gee almal ’n groot wake-up call.”
As beoordelaars proe julle elke seisoen baie geregte. Hoe hou julle jul kenmerkende dramatiese gesigte terwyl julle proe? Oefen julle in die spieël of vat julle dit soos dit kom?
David: “Nee, glad nie. Daar is geen oefening nie, ons weet wat ons taak is en kan nie die game weggee nie. Daar is geen tweede take nie. Daar is oomblikke as iets by die tafel aankom en jy wonder hoe jy nie vir die aanbieding gaan lag nie. Uit ’n smaak-oogpunt het ons nog niks gekry wat heeltemal oneetbaar is nie. Maar dit is ook debatteerbaar, dink ek.”
J’Something: “Ek dink dit is die, ‘ek doen dit al vir 4 seisoene’-look. Ek is ook ’n vermaaklikheidster, so ek sit alles in. Een span hierdie seisoen het wel daarin geslaag om daardie poker face te breek. Toe Shaeem en Mas-ud vir my een van hul nageregte bedien het, kon ek net nie die glimlag van my gesig afhou nie. Dit was spesiaal.”
Waarna sien jy die meeste uit aan die begin van elke seisoen?
David: “Twee goed. Eerstens, om al die nuwe deelnemers te ontmoet en hul persoonlikhede te leer ken. Ek probeer dink oor wie die beste sal wees en wat hulle sal doen, en hoe mense sal presteer. Tweedens, om tyd saam met J te spandeer. Ons verhouding het so baie gegroei. Ons handelsmerk saam het nogal spesiaal geword en ons help mekaar, wat ongelooflik is.”
J’Something: “Om met David te connect en oor die lewe te praat. Dié crew is baie spesiaal. Ons is saam sedert seisoen een en om almal te sien, maak my altyd so gelukkig. Dit is ook die opwinding van die nuwe reis wat soveel lewe en spark gee.”
Was daar al ooit ’n resep/gereg waarvan jy so baie gehou het dat jy dit aangepas het om in jou eie kombuis te gebruik?
David: “Beslis. Ek het al weergawes van geregte gebruik wat ek effens verander het, maar ek praat altyd met die deelnemers voordat ek iets op my spyskaart sit. Een van die geregte van hierdie seisoen waaroor ek mal is – die idee, maar nie die uitvoering nie – is die magwinya met snoek paté. Wat ’n wonderlike kombinasie. En dit is beslis iets wat ek vir ons spyskaart sal oorweeg.”
J’Something: “O ja, beslis! Soveel inspirasie uit die show kom na my kombuis toe. Ek onthou die wenner van die vorige seisoen het hierdie lamgereg met ’n bearnaise sous gemaak. Ek het reguit huis toe gekom om iets soortgelyk te maak.”
My Kitchen Rules South Africa saai Sondae om 18:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uit. Ook op DStv Online en Catch Up.