Liewe Os,
Dankie vir jou skrywe oor Kokkedoor Vuur & Vlam verlede week: dit het my sommer vinnig laat beter voel net om te weet dat jy soveel moeite gedoen het vir my. Ek het natuurlik gedink die maag-aandoening is oor en verby – maar toe ek Sondag die rugby kyk, het my maag dadelik weer begin draai toe ons span met daardie Listerine-truie op die veld uitdraf.
Nee, man – vir wat neuk ’n mens met ’n wenresep? En dit so hier aan die begin van die Wêreldbeker? Hoe moet ’n mens nou met jou hart ten volle in die gees van hierdie magiese seisoen spring? Ek weet vere maak nie altyd die voël nie, maar ’n mooi wrapping maak gewoonlik ’n geskenk net soveel meer aanloklik. Ek sukkel regtig om in die gees van hierdie rugby-olimpiade te kom met daardie pikante pakkies.
Dis dalk presies hoe deelnemers in Kokkedoor Vuur & Vlam voel ná hul skommeling om hierdie week se spanne te vorm. Die arme mense moet nou weer van vooraf – en blitsvinnig! – gewoond raak aan ’n nuwe dinamika in en om die kole – en nie elke kombinasie is ’n treffer nie. Ek weet ’n mens kan seker nou nie die hele tyd saam met slegs een persoon kosmaak nie, maar hierdie kits-”huwelike” in Kokkedoor laat my soms wonder of dit nie is hoe dit maar gaan in die lewens van die bekende glanspersoonlikhede wat Huisgenoot se voorblaaie haal nie… Nie almal is ewe gedrewe – of in staat – om die vlamme van passie aan te blaas nie. Dít terwyl ander meer hul vingers verbrand as aflek van lekkerte…
Hierdie week gooi Bertus en Kobus ook ’n klip in die bos met hul uitdaging aan die deelnemers. Die nuwe spanne moet kragte saamspan, hul kreatiwiteit laat vloei, en die beoordelaars se asems wegslaan met ’n baie skeppende sosatie-stokkie skouspel. Die beoordelaars soek, weereens, eenvoudig drie sosatie-stokkies – maar dit moet ’n konseptuele braai-ervaring wees. Om hierdie braai-ervaring verder te verduidelik, stel Kobus en Bertus die deelnemers voor aan ’n man wat reeds bewys het dat hy wil en kan: Kokkedoor Seisoen 2-wenner, Johnny Hamman.
Johnny neem die deelnemers op ’n vinnige reis deur sy eie kos-avonture, en deel ’n paar vinnige wenke. En as ek sê vinnig, bedoel ek blitsvinnig. Ek is nie seker of al die deelnemers geluister het na wat hy gesê het nie, maar ek het beslis ’n paar notas gemaak wat ek later wil toepas. Sy laaste, en belangrikste wenk, is dat mense moet speel met hul kos. Verbeel jou! Wat sou Ma gesê het as sy dit moes hoor?!
Bertus gee dan die opdrag: die deelnemers moet drie stokkies voorberei. Die eerste moet ’n stokbrood wees, die tweede moet ’n vleislose vegetariese of vegan-stokkie wees, en die derde een word bepaal deur die noodlot van ’n brei-pen: elke span moet weer lootjies trek om te sien wat hul derde stokkie moet wees. Bertus dink dat om net drie sosatie-stokkies voor te berei gans te maklik is, en maak dié reeds “maklik maar moeilik”-opdrag meer ingewikkeld: geen braai-tange of -roosters mag gebruik word nie. Die spanne het slegs ’n halfuur om te beplan, en slegs twee ure voor hulle hul stokkies moet bedien.
Dis ’n braai van ’n ander soort hierdie, want die spanlede moet blitsvinnig hul voete vind met mekaar, maar moet ook snel begin kommunikeer met idees vir kos en konsepte. Kreatiwiteit is nie almal se sterkpunt nie, en ek glo dat ’n Babelse verwarring die vertrekpunt van hierdie uitdaging was. Ek weet nou nie van jou nie, maar ek trek so vinnig in my dop in as ek moet kreatief raak voor vreemdes, vriende, of familie. Wat as my idees so buite die boks is dat die ander persoon dink ek is die beste kandidaat vir ’n gratis verblyf op ’n afgeleë eiland vir een? Ek haal my hoed af vir diegene wat nie sukkel om met vreemdes te praat nie – nog meer vir dié wat sommer uit die vuis uit hulle idees in vol sinne kan kommunikeer.
Joubert & Gert
Hul derde stokkie kan een van drie dinge wees: ’n tradisionele kerrie-sosatie, ’n wildsvleis-sosatie, of ’n afval-sosatie. Joubert spreek sy misnoeë uit, want hy voel dat hy lekker kos ken – maar deur sy gesigsuitdrukking lei ek af dat kreatiwiteit nie in die man se resepteboek pryk nie. Gert lag skaam oor die feit dat die beoordelaars nou twee overthinkers bymekaar gesit het – en ek glo dit is waar die grootste probleem is. Hulle was, volgens my beskeie kombuis-sielkunde, nog net in spanne waar die ander spanlid ’n effense sterker dryfkrag na die tafel toe gebring het. Dit het hulle die gemak gegun om slegs op hul kos-talente te fokus, want die leiding en struktuur is deur iemand anders behartig.
Hulle lyk ook nie juis asof hulle uiters opgewonde is om in die kombuis te wees in hierdie episode nie, maar ek kan nie agterkom of dit die spanning van die kompetisie is, en of dit die uitdaging van die kreatiwiteit is wat hulle soos twee ou koolblare laat lyk nie. Joubert wil graag ’n afval-stokkie maak as hul derde bediening, en wanneer Johnny hom vra hoe hy hierdie “anders” gaan maak, is dit weer Joubert wat op sy tong byt. Ek sien net swarigheid vir die twee in die kombuis…
Hul poging skop op die verkeerde voet af as Joubert ’n pot met water wil gebruik vir iets – en dit die vuur blus wanneer dit ’n waterbed maak. Hulle lyk voortdurend soos twee afkophoendertjies wat sukkel om hul plekkies te vind op die nuwe werf.
Vir hul stokbrood maak Gert ’n anysbroodjie met ’n tuisgemaakte karamelsousie, maar Gert se broodjies wil nie rys nie – dit smelt. Hier begin die vet in die vuur te val, want terwyl Gert pessimistis is en handdoek wil ingooi, is Joubert die optimis wat nie op moedverloor se vlakte gaan sit nie. Ná ’n realistiese spanpraatjie deur Bertus is die twee weer soort van op dreef.
Joubert probeer om die beste cheerleader in die kombuis te wees, maar Gert se verslaendheid en issigrimmigheid is ’n dik pantser. Om dinge te vererger, breek Gert ’n reël en gebruik ’n skottel om van hul elemente gaar te kry voor die tyd uithardloop.
Teen die einde moet altwee erken dat dit ’n moeilike dag op kantoor was (soos Joubert sê), maar wat vir Joubert nog moeiliker is, is om te gesien het hoe Gert opgegee het. Dit moet nogal ’n swaar ding wees om te beleef, veral as ’n mens weet hoe goed Gert is in die kombuis.
Joubert gooi handdoek in net voor die proesessie begin, en erken dat dit nie ’n lekker gevoel is om reeds te weet dat jou kos sleg is nie. Kobus haal hulle oor die kole oor die onwettige move wat hulle gemaak het, en Gert lees vir die eerste keer die negatiwiteit op die beoordelaars se gesigte. Bertus dink nie hulle het hierdie uitdaging goed deurgedink nie, en Johnny dink hulle moet net asem haal. Kobus dink hulle moenie so hard op hulself wees nie, want anders is die stryd reeds verlore.
Nicole & Mandre
Hul derde stokkie moet ’n afval-sosatie wees, of soos Kobus dit uitspel: orgaanvleis. Nicole spring weg met ’n boom wat gebou moet word, en vir my klink dit meer asof sy harder dink aan die konsep as die kos. ’n Boom vir ’n tak-kompetisie? Ek weet nou nie of dit oorspronklik of kreatief is nie, maar ten minste probeer die meisie – iets wat ’n mens nou nie juis kan sê oor haar spanmaat nie. Mandre het wel ’n aksieplan oor hoe hulle die spensdraf moet hanteer, maar haal die res van die spanne se “frustrasie van die dag”-lysie wanneer hy al die doringtakke vir sy span vat. Mandre is nie baie mededeelsaam nie, maar ek sou graag wou sien hoe hy vir Kevin ’nee’ sê wanneer die man kom doringtakke soek: dit mag dalk net ’n ander tipe vuur in Kevin wakker gemaak het.
Ek dink nie hy het genoeg blokkies gebou as kind nie.
Nicole (oor Mandre)
Ek is DIY, maar ek dink Nicole is meer DIY as wat ek is.
Mandre (oor Nicole)
Die seun irriteer my, ek kan dit maar ruiterlik erken. Elke ding wat hy sê klink asof dit by ’n Ingelse high tea afternoon affair gedeel moet word, en ek is seker hy dink dat dit wat hy uiter baie profound is – maar ek hoor dit nie. Sy dringende soeke na aandag, of sy brandende ambisie, klink meer soos nat-agter-die-ore arrogansie – soos ’n beginner’s luck-wennertjie by ’n Black Jack-tafel wat vir die gesoute dobbelaars wil voorsê hoe om te maak om te kan wen.
Hul afval-boom-idee klink vir my meer na die begin van ’n gruwelfliek, veral wanneer Nicole so vreeslik opgewonde raak oor ’n bok-hart. Dis nou een boompie wat ek nie wil buig nie, of dit nou oud of jonk is. Ek sal dit eerder wil afsaag en saam met die ou bekende lappop, grammafoonplaat en stukkende skoen op die ashoop wil gaan gooi.
Net ná halftyd val die span se stokbrood bietjie uitmekaar, en beland in die vuur. Nicole dink sy moes vir Mandre gewys het hoe om alles met ’n toutjie bymekaar te hou, maar erken ook dat sy gehoop het hy sou dit ten minste weet. Hopelik druk Nicole deur met haar eie raad, wanneer sy sê dat sy bietjie kwaai met hom gaan begin raak indien hy nie sy sokkies optrek nie. Ek wil amper dink dit is te laat – maar die hoop beskaam nie.
Nicole dink hul boom het baie cool uitgekom, maar die beoordelaars is minder beïndruk. Hul lewer is oorgaar, hul brood is ’n knoets van ’n probleem, en niemand is geïnspireer deur hulle warm groente wat aan die boom hang nie.
Deelnemer Bertus & Ashley
Hul derde stokkie is ’n wildsvleis-sosatie. Hulle beïndruk my omdat hulle reeds gemeenskaplike faktore in hul lewens ge-eien het, wat vir my dit laat blyk dat hulle reeds begin werk het aan daardie ekstra bestanddele in hierdie kompetisie: kommunikasie en spangees. Hulle speel ook met ’n heerlike titel vir hul poging: Alice in Winederland. Hulle het besluit om eland aan te pak, en om ’n take op espetada te doen. Verder maak hulle ’n char siu bok choi met shiitake-sampioene. Ashley het ’n idee beet met ’n anys-stokbroodjie met ’n cranberry-surigheid binne in, en ’n soutkaas-mousse vulsel.
Ashley is gereed vir ’n pakslae wanneer die beoordelaars naderstaan, maar tot sy verbasing is hulle vol lof vir hul aanbiedinge. Hul brood is gaar, hul wildsvleis is goed gaargemaak, en die kwepers saam met die vleis is ’n wenner.
Karen & Mooie Kevin
Hul derde stokkie is ’n tradisionele kerrie-sosatie. Kevin verstaan glad nie hoekom mense eers begin bou aan hul konsepte, en dan eers die kos wil maak nie. Dit voel vir hom heeltemal verkeerd. Wat ook vir hom baie verkeerd voel, is Mandre-hulle wat al die doringtakke gevat het vir hul konseptuele braai-ervaring. Gelukkig is Kevin nie bang om te vra wat hy wil hê nie – en gelukkig is Nicole ’n meer deelsame siel.
Karen se sin vir humor slaan weer lekker deur in hierdie uitdaging – asook haar vindingrykheid. Sy slaan een of ander contraption bymekaar (wat lyk soos ’n skraper en ’n lepel wat aanmekaar geflans is) om die lewe vir haarself makliker te maak, en noem dit “Bettie Grylls” – met verwysing na Bear Grylls, die Britse skrywer en oorlewingsavonturier. Kevin se kreatiwiteit slaan ook weer deur met ’n watertand-lekker idee wat stokbrood in nagereg verander: ’n koeksister-melktert brood-besigheid. Dit raak gou duidelik dat hoogs funksionele kreatiewe mense mekaar aanvul, want dit loop soos stroop met hierdie twee! As ’n kyker is dit amper net so lekker om na hulle twee te kyk soos wat dit is om te kyk wat hulle voorberei. Hul energie is aansteeklik, alhoewel dit sommige mense teen die mure sal uitdryf.
Ek hoop regtig nie ek moet ’n trui brei vir iemand nie, anders kan ek maar net sowel nou huis toe loop.
Mooie Kevin
Hul idee vir ’n vegatariese skilpadjie is iets wat ek dalk self sal wil maak – of verder neem. Hulle neem sampioene en groente as ’n vulsel, en draai dit in koolblare toe. Letterlik op fyndraai (tyd gesproke) wil hierdie skilpadjies net nie gaar kom nie, maar ten spyte van haar frustrasie druk Karen deur. In die doodsnikke van die uitdaging onthou Kevin skielik van dié dis, en dit is so amper-amper of hierdie skilpadjie het verlore geraak in ’n woestyn van koolvlamme en gefolterde fokus.
Karen voel hulle het dalk nou nie all out gegaan met hul kreatiwiteit nie, en Karen hoop van harte dat hulle smake en geure vir Johnny eerste sal beïndruk. Hul lam is goed gaar gemaak, maar hul kerrie-sousie is nie wat Bertus in sy geestesoog gehad het nie. Karen se senuagtigheid lei haar om die vierde, en kwaaiste, beoordelaar te word ten tyde van die proe-sessie – en sy wys alles uit wat sy dink verkeerd is. Bertus is gaande oor hul melktert-stokkie – en ek sukkel self om nie die TV-skerm te lek terwyl ek daarna kyk nie.
Nataan & Cindy
Hulle trek die wild card, en kan maak net wat hulle wil. Cindy gee te kenne dat sy toeslaan soos ’n klei-os se gat as sy op dringende versoek moet begin kreatief raak. Sy kom wel haar vrese te bowe, want hulle het ’n sterk konsep wat hulle deurtrek met al hul idees. Hulle noem hul spyskaart Heeltyd Speeltyd, en maak hul vleis in ’n swaardvorm sodat seuns kan swaardgevegte hou, die stokbrood word ’n broodjie-armband vir dogtertjies, en hul vleislose stokkie is in die vorm van waatlemoen wat lyk soos veerpyltjies. Om dinge vir hulself makliker te maak, bou hulle ’n rooster uit van die stokkies.
Mense sê altyd: ‘Vertel jou storie deur die kos’. Dit hoef nie net te wees met die geure nie, hoe jy dit bedien kan ook die storie vertel.
Nataan
Cindy se moed sak amper in haar skoene wanneer dit duidelik is dat Kobus nie ‘warm waatlemoen’ op sy bingo-kaartjie gehad het vir hierdie uitdaging nie. Cindy is wel slim genoeg om Kobus se misnoeë in ’n glimlag te verander.
Hulle sukkel ook om hul brood-armbande gaar te kry hier op die einde, en besluit om dit op bakstene gaar te kry – soos askoeke.
Tydens die proe-sessie word dit uitgewys dat hulle brood nog rou is, en Kobus erken dat die warm waatlemoen toe nou nie so sleg is soos wat hy gedink het dit sou wees nie. Hul vleis is ook te dik gesny om dit ’n lekker satay te maak. Bertus dink hulle het goeie idees gehad, maar dat hulle execution nou nie heeltemal 100% was nie.
Kolekamer
Hier weergalm die komplimente, lof, en teleurstelling luidkeels. Kobus dink nie hierdie uitdaging was die spanne se beste nie, en Bertus dink hulle het dinge vir hulself meer gekompliseer. Spangees is ook getoets, en deurmekaar kombuise is ook ’n teken gewees van wie werk goed saam – en wie nie.
Ek is nou nie seker of die deelnemers enigsins luister na alles wat daar in die Kolekamer gesê word nie, maar hier teen die agste episode ken selfs ek die belangrikste reël in hierdie kompetisie: hou dit eenvoudig. Dit word keer op keer gesê, maar nie almal hoor dit of hou dit in hul agterkoppe wanneer hulle elke keer met ’n nuwe uitdaging begin nie. Ek wonder of hierdie nie dalk meeste van die tyd die jakkalsie is wat die oes verwoes nie…
Die twee spanne wat die beoordelaars van oor tot oor laat glimlag het, was Deelnemer Bertus en Ashley, en Karen en Mooie Kevin. Die wen-span van die dag is Deelnemer Bertus en Ashley, en beide is baie gelukkig met hul poging. Volgens Deelnemer Bertus het hulle daardie einste oggend vroeg opgestaan en seelangs geloop – en dit is waar hulle mekaar nie net beter leer ken het nie, maar ook mekaar se harte gehoor het. En dit, volgens Deelnemer Bertus, is wat vir hulle die deurslaggewende faktor gegee het.
Mandre en Nicole, en Joubert en Gert is die twee spanne wat min of geen indruk gemaak het nie. Kobus deel dan die nuus dat hulle nie kans sien om enige spanne huis toe te stuur nie. Ek is nie seker of dit is omdat ’n mens nie ’n hond skop wanneer hy reeds lê nie, en of dit is omdat die beoordelaars aandadig of verantwoordelik voel vir die deelnemers se powere aanbiedinge nie. Wat wel duidelik is, is dat nie almal gelukkig is dat niemand huis toe gaan nie – en ek het so ’n vae idee dat volgende week gaan die mense uithaal en wys, al is dit dan ook net om ’n punt te bewys.
Nou ja toe, ek gaan nou eers kyk of ek hier in die nanag dalk Kevin en Karen se melktert-broodjie-besigheid kan maak. Andersins gaan ek Deelnemer Bertus en Ashley se anys-broodjie-besigheid probeer aanpak. Sjoe, ek hoop daar is darem ’n kookboek of ’n skelm webtuiste wat ek ná hierdie seisoen kan vind om vir my besig te hou in die kombuis. Van hierdie disse is regtig inspirerend. Wanneer jy en Sheila weer hierdie kant van die aardbol is, wil ek julle verras met eg Suid-Afrikaanse kos. En in hierdie seisoen is daar hope inspirasie en resepte om daardie doel te kan bereik!
Geniet die rugby Sondag. Ek gaan maar op die draadloos luister as daai mannetjies weer in hulle Listerine-hempies gaan speel. Ek is maar ’n Groen & Goud-meisie!
Groete,
Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!
Tips van die week
Bertus: “Dit gebeur in enige kombuis waar goeters skeef loop. Jy maak gou skoon vir drie minute, kry jou kop reg. Nuwe game plan. Okay? Die ergste ding wat jy kan doen is om te dink dat jy die ou game plan kan red wanneer dit eintlik ’n nuwe plan moet wees.”
Johnny: “Creativity can be absolute simplicity as well, but you like to make this difficult for yourselves.”
Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.