Liewe Os,
Kyk net waar trek die tyd: dis alweer tyd vir ’n Rugbywêreldbekertoernooi! Ek het reeds die huis omskep in ’n rugbyliefhebber-paradys sodat ons nie nodig het om iewers heen te gaan om die Springbokke te ondersteun nie. Ek wonder of ek nou al kan uitnodingings stuur om die eindstryd by ons te kom kyk – en of dit dalk bietjie te vroeg is om nou al die vreugdevure te begin stook?
Ek onthou nog goed waar ons was toe Suid-Afrika die eerste keer die beker hoog gehou het. Pa het voor die tyd gebraai, en Ma het ons toegelaat om vir die eerste keer in ons lewens ’n bier of twee te geniet. Maar ek dink dit is net omdat sy bang was jy sou later die bakkie steel om dorp toe te gaan. Ek onthou nog Pa se uitdrukking van ongeloof en blydskap toe die eindfluitjie blaas en ons amptelik kon sê ons is nie net wêreldgehalte op die internasionale speelveld nie, maar ook die beste!
Gepraat van die beste… Hierdie week se gasbeoordelaar op Kokkedoor Vuur & Vlam verklap ook die tema van van die episode. Wynand Claassen, die Springbok-kaptein van 1981 en 1982, pak saam met Bertus en Kobus ’n Rugbywêreldbeker safari-ete aan. Kyk, ek weet dalk nie veel van rugby af nie, en ek onthou bittermin name van spelers – al het Pa dit in ons probeer dril met al sy stories oor die goeie ou dae van die nasie se grootste en geesdriftigste sport – maar as ’n man op 72 nog so kan lyk, dink ek mense wat die sport probeer laagvat moet maar eerder stilbly.
Daar word ’n rugbyspan (wat aan die toernooi gaan deelneem) aan elke Kokkedoor-span toegeken, en hul disse moet daardie land se kultuur verteenwoordig – van “vuur tot vurk”, soos Bertus dit so mooi stel. Elke span ontvang ook ’n koelboks met bestanddele wat hulle in hul disse moet gebruik. Elke span kry ook ’n braai-struktuur wat elke land se braai-tegnieke verteenwoordig, en elke span moet hul opset ten volle benut. Elke span het ook net drie ure om hul disse te voltooi.
Ná ’n passievolle spanpraatjie deur die eertydse Springbok-kaptein is dit tyd vir die Kokkedoor-spanne om af te skop, en elke span verken hul koelbokse om te sien waarmee hulle moet werk. Die spensdraf verander in ’n deurmekaar losgemaal, want niemand wil onkant gevang word nie.
Niemand in die wêreld braai beter as ons, of speel beter rugby nie. Ons liefde vir braai en rugby in Suid-Afrika is universeel.
Bertus
Mooie Kevin & Deelnemer Bertus
Bertus trek Skotland nader, en hoewel sy gedagtegang gevul is met kwartels en ander derglike voëls wat geskiet word vir die pot, is dit Skotse whiskey waarby hy opeindig – en trek ook dan los met ’n opera-agtige “Flower of Scotland” tot die vermaak van die res van die spanne.
Hul uitdaging is nie om te besluit of hulle onderbroeke onder hul kilts dra of nie, want hul spyskaart is ’n Braveheart tailgate: Cullin skink (een of ander chowder), Lorne (’n vierkantige wors), ’n Bannock (’n tipe scon-koek). Dis dan nou ook seker hoekom die Skotte ook so bekend is vir hulle humeure, wrede bloedvergieting, en daai bome wat hulle so rondgooi – ek sou ook immers die moer in gewees het as dit al is wat ek kon eet. Een van hul elemente wil nie lekker werk vir hul bord nie – en hulle besluit om dit te los – en dit is nie die bloedwors wat hulle maak nie…
Maar dit is die ding van braai in die elemente: dit is ’n veld-gelykmaker. Almal het gesukkel, almal het gesweet, almal het geruik na rook. Son, reën, of waai: ons braai!
Deelnemer Bertus
Karen & Gert
Namibië word aan dié span gegee, en Karen is bly want sy het ’n hartsverbintenis met die land: haar pa is in Windhoek gebore. Hul koelboks bevat beeshart en -peertjies. Hulle besluit om ’n ketemba kortrib-vleispot te maak, met hart-sosaties. Karen en Gert maak kos op gevoel, want nie een van hulle het al met hierdie spesifieke elemente gewerk nie. Gert lyk bietjie senuagtig oor die tamaai beeshart wat hy moet sny, maar sy instinkte skop in en hy klink asof hy weet wat hy doen. Dis seker maar ’n geval van fake it ‘til you make it? Hul geheime bestanddeel van die dag is ketemba: ’n mengsel van Coca-Cola en rooiwyn.
Die ketemba skop ook vroeg in, want nadat Karen toestemming by Wynand gekry het, gooi sy die Australiaanse span met naartjies. Op die einde is Gert bekommerd oor elke element wat hulle beplan om te bedien, en ek wonder of hierdie uitdaging goed is vir sy selfvertroue, want geen mens wat so joviaal kan kosmaak moet so bekommerd wees oor alles nie.
Nicole & Ashley
Hulle moet van Australië ’n bobaas dis maak, en Nicole gee te kenne dit nou nie haar gunsteling is nie, want sy dink nie hulle kan lekker braai of eet nie. Die uitdaging in hul koelboks is ’n botteltjie van daai aardige Vegemite van julle. Ek weet Sheila hou van die goed, maar ek dink dit is ’n acquired taste-fenomeen. Hulle besluit om piri-piri prawns op ’n stokkie, ’n lam-sosatie, en ’n burger-jaffle op hul spyskaart te plaas – en ’n nagereg wat bestaan uit donker sjokolade en Vegemite. Ashley maak ook ’n garnaal-worsie, en die span probeer seker maar ’n bietjie witvoetjie soek deur Kobus se kookboek Le Braai te gebruik vir inspirasie
Joubert & Cindy
Soos pap en sous, loop braai en rugby saam.
Joubert
Die span word eers ’n streep getrek deur ingelig te word dat hulle Japan gekry het – en arme Cindy kry amper ’n hartaanval want sy sien net tradisionele Japanse disse in haar geestesoog. Gelukkig het hulle Argentinië gekry: Joubert se wens het waar geword, want hy het aan die begin al begin skietgebedjies opsê om hierdie land in te palm. Hulle besluit om hul spyskaart in ’n “assado-allegaartjie” te verander: bees pichana, beesoesters en beeshart, met ’n verskeidenheid van groentes. Hul nagereg is ’n dulce de leche. Dit klink vir my meer Grieks as Argentyns, maar ek kon nie wag om te sien hoe dit uitdraai nie.
Nataan & Mandré
Kobus is opgewonde oor die feit dat hulle Frankryk kry, maar ’n verwaande Mandré voel dat die onus op hom lê om hierdie uitdaging ’n sukses te maak – hy het immers vir drie maande vir Jan-Hendrik van der Westhuizen gewerk. Hul verrassing in die koelboks is dat hulle met eend moet werk. Hul spyskaart bestaan uit confit duck legs met gebraaide eendborsies, ’n lensie ragu, en Crêpe Suzette. Dit klink maar vir my vaal en baie onromanties. Mandré neem natuurlik die leiding, en onmiddellik dink ek dat dit vir my meer na (pyn en) lyding klink.
Lara & Borries
’n Confused Laratjie trek Ierland vir die span, en Lara is reeds gepla deur Borries wat so baie praat – maar gelukkig het Laratjie nou al haar les geleer en weet sy dat Borries baie kennis het wat hy met haar deel. Die uitdaging in hul koelboks is hooi. Ja, jy het reg gelees: hooi. Nie hoi-poloi nie, net plein hooi. En hoe maak hulle dit deel van hulle spyskaart? Hulle besluit om die room wat oor hul appelkoek gaan kom met hooi te infuse – en Borries besluit om ook een of ander brittle te maak daarmee. Ek weet nou nie so lekker nie, maar dit klink vir my soos iets wat ’n vegetariër of ’n skaap smaaklik sal vind – maar nie hierdie boeremeisie nie. Wie wil nou met ’n bek vol gras by ’n braai sit?
Hul hoofgereg(te) is ’n herderspastei (met Guinness-bier) en ’n soda-brood. Laratjie wil-wil haar moertjie strip as Borries haar daarop wys dat haar pan bietjie skeef op die rooster lê, en dat dit nie optimaal is vir dit wat hulle wil doen nie. Laratjie grom vir die beertjie, en Borries besluit om afstand te doen van die les. Dit lyk asof Lara alweer ’n lessie moet leer by Borries. Laratjie dink Borries se kapokaartappels is te styf, maar Borries stry met haar. Hierdie span begin my ook nou te irriteer, want Laratjie het ’n manier om Borries te komplimenteer en ’n stekie in te kry – nes van die ouer dames op daai willewragtige Real Housewives van die Wynlande waarvan ek jou vertel het – terwyl Borries se beterweterige mentor/pappa-houding ook nie veel spreek van spanpoging of spangees nie.
Die episode is baie mooi aanmekaar gesit, met rugbyterme en rugbypraatjies wat oral te sien en te hoor is. Die kwinkslae en metafore voel ’n bietjie geforseerd, maar dis maar net omdat ek nie van goed hou wat so erg on the nose of oordrewe is nie. Gert is glad nie ’n rugbykenner nie, en dit maak dit baie interessant om hom dop te hou – en om na hom te luister. Die wind speel ook nie lekker saam met die spanne nie, en is dalk die geheime vyand in die titaniese stryd wat plaasvind.
Die beoordelaars is nie juis beïndruk met Frankryk se aanbieding nie, en Mandré se selfvoldane glimlaggie val plat. Ek gaan weer sê: die mannetjie met dalk sy ego in die vuur gooi, en meer met sy hart braai. Skotland kry ’n verwarrende reaksie op hul aanbiedinge. Australië se beste speler van die dag is Ashley, want sy elemente word hoog op prys gestel. Argentinië steel Kobus se hart, terwyl Ierland se hooi ’n probleem is. Namibië kry lof vir alles, behalwe vir die spinasie-konkoksie, en hul “rugby-nagmaal” kry ’n kompliment van Kobus.
Ná die eindfluitjie geblaas het, laat val Ashley ’n juweel; “In rugby sien jy dadelik die score, maar in Kokkedoor moet jy wag’. En dit is presies wat die deelnemers dan nou moet doen in die Kolekamer – hulle wag om van hulle ‘skeidsregters’ hoor of hulle ’n drie gedruk het, en of daar enige strafskoppe is wat hulle sal kan help om die paal te haal.
Die Kolekamer
Die top-spanne van die week is Gert en Karen, en Joubert en Cindy. Die wenners is Namibië – en hul spesiale prys vir hul swoeg en sweet is ’n rugbybal. Nou ja toe, daar kry Gert toe nou sy bal en nou hoef hy beslis nie op ’n veld rond te hardloop opsoek na een nie. Hy kan nou al sy tyd toewy aan dit waarvan hy hou – en goed is! – en sy aanhangers kan eerder kreun oor lelike borde en smaaklike kos as beserings wat opgedoen is in die hoop om ’n bal oor ’n lyn of paal te kry.
Die spanne wat onkant gevang is hierdie week is Ierland, en ek dink dit kan toegeskryf word aan binne-politiek wat hulle pootjie. Frankryk word uitgehaal oor hulle kos meer “meh” as “joie” is – en ek lê hierdie nederlaag by Mandré se voete – veral omdat hy so sterk wou leiding neem hierdie week.
Die verrassing van die week is dat hierdie nie ’n uitkloprondte is nie, en die onderste spanne word weer ’n geleentheid gegun om hul beste voetjie voor te sit in die toekoms. Die vraag is nou net: gaan hierdie einste spanne hul kanse beter benut? Of gaan hulle weer gepypkan word deur hul eie egos en systappies? Een ding is seker: ek sit alles fyn en dophou hier van die kantlyn af…
Die tweede keer wat Suid-Afrika daardie Wêreldbeker omhoog gehou het, was net so indrukwekkend soos die eerste keer – maar ’n mens vergeet nooit jou eerste nie! Tjaart was my eerste keuse om hierdie seisoen koning te kraai, maar Joubert het baie stadig, maar baie seker, in my hart kom klim – saam met Ashley en Mooie Kevin. Daar is iets omtrent Nataan ook: ek hou van nederige mense wat innoverend en kreatief raak met hul passies. Gert en Karen beïndruk my ook elke keer meer en meer – en veral hierdie week dink ek dit is prysenswaardig dat hulle so met hul harte en intuïsie gewerk het.
Sheila is dalk nou nie my eerste keuse vir jou nie, maar net soos seks, politiek, en geloof, weet ek dat sy nie ’n onderwerp van bespreking is sonder ’n lafenis om die tonge los te kry nie. Ek hoop ten minste sy gaan net so hartlik saam met jou na die Rugby-olimpiade kyk wat volgende week afskop. Maar tot tyd en wyl daai spanne mekaar die stryd aansê, is daar net een koning wat kraai in hierdie huis se hart– en dit is hierdie seisoen se uitmuntende smullekker en watertand-gevulde episodes van Kokkedoor Vuur & Vlam.
Groete,
Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!
Tips van die week
Bertus: “As jy iemand wil goed verstaan, verstaan hulle kos.”
Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.