Liewe Os,
Goeiste, maar die tyd vlieg! Die een oomblik sit ’n mens nog diep in die hart van winter, en die volgende oomblik staan ’n mens op die rand van lente. Ek moet sê: ek kan regtig nie wag vir hierdie spesifieke winter om tot ’n einde te kom nie! As die somer eers hier is, gaan ek beslis meer tyd in die aande om ’n vuur wil spandeer. Maar soos jy altyd sê: as is verbrande hout! Dis nou te sê as jy nie een van die deelnemers van Kokkedoor Vuur & Vlam is nie…
Hierdie week verruil die spanne die binnenshuis braaie en vlamme vir die knetterende gate buite. Hulle moet immers bewys dat as meer as net verbrande hout is – en dat hulle selfs met hierdie vorm van vuur ’n heerlike bord kos kan bedien. Die gasbeoordelaar is Hetta van Deventer-Terblanche (daai vrou wat ma so baie ge-like het met al die lekker stories oor die oorsprong van kosdisse) en hul uitdaging vir die week gaan seker maak dat party in sak en as sit – en ander soos ’n feniks uit die as verrys…
As jy nog nie my hints gevang het nie: die asters en die as(k)ook(ers) moet met amper koue kole kos maak. Ja, jy het reg gehoor: die hitte van die uitdaging moet van die as afkomstig wees. Hulle mag enige tipe vleis gebruik vir hul gereg, en ’n groente en ’n stylsel moet deel van hul bord uitmaak. Hulle mag nie enige tipe van rooster gebruik nie, ook nie om die groente en stysel te maak nie. Om die uitdaging net so ’n bietjie meer uitmergelend te maak, moet hulle ook met ’n vrugte-nagereg vorendag kom wat die fyn lyn tussen bitter en soet smake illustreer. Darem mag hulle ’n beskermende laag gebruik om hul disse te beskerm.
Wat sou jy maak, Os? Want ek weet jy hou nie veel van askoeke nie, en hou van jou braai-disse blink en vol kleur. Maar hierdie uitdaging gaan oor oer-tegnieke en moderne smake! Dit het my laat dink aan potloodsketse en steenkool-kreatiwiteit in ’n kunsklas: valerig, verbrand, en vlek-vol (in plaas van vlekloos). Ek dink hierdie uitdaging lewer die mooiste – en rouste – kunssinnigste kosborde op. Ek heg vir jou ’n paar kiekies van die eindprodukte aan! Judge for yourself! Kan jy glo hierdie is net in drie ure gemaak?
Quotes van die week
“Ek hou baie van goeters wat in die as gaargemaak is, maar daar is ook ’n fyn lyn. Die vuur vat baie weg van wat jy insit, en dit konsentreer dit wat daar binne aan gaan. ’n Ou kan nie net ’n ding gaan swart brand en dink dit is okay nie.”
Borries
“Ek dink ons moet versigtig wees om dinge te brand, eerstens. Hitte regulering is baie belangrik. Jy moet nie bang wees vir hitte met daai goed nie. Ek kyk daarna soos met emosies: ek kan nie my emosies beheer nie, maar ek fokus nie vandag op die dinge wat kan verkeerd gaan nie – maar op die dinge wat kan reg gaan.”
Kevin
Die spanne het net 15 minute om te beplan voor hulle moet spensdraf. Wanneer hulle uiteindelik begin, is daar ’n astronomiese geveg vir die Wen van die Week! Interessant: meeste van die spanne besluit om iets aan te pak wat hulle nog nooit voorheen gedoen het nie – en dit is om met klei te werk. Dit klink vir my opwindend, maar nou nie seker of ek so ver sou wou gaan met hierdie kunssinnigheid nie! Wat gebeur as ’n mens meer van jou kunsskepping hou as die kos wat dit bewaar?
Lara & Mandré
Mandré dink hulle moet wegbly van vis, maar ek dink eerder Mandré moet wegbly van sy maniertjies… Vir wat nou jou gesig gaan staan en smeer met as? Dit lyk meer asof die kind op pad is na die een of ander grensoorlog as die kombuis. Then again, hierdie is seker maar ’n oorlog om oorlewing… Ek wonder of Mandré ooit wetenskap op skool gehad het, want selfs ek weet dat alkohol so bietjie van ’n opwinding onder vlamme gaan veroorsaak… Soveel te meer as ’n mens drank op ’n lap uitgooi en dit dan op ’n vuur plaas. Maar blykbaar verras dit vir beide Lara en Mandré.
Later lyk dit dan ook asof die drank-benatte lap waarin die piesangbrood gedraai is, op ’n moerse flop gaan uitloop. Mandré probeer almal – en homself – oortuig dat dit net die lap is waarin dit toegedraai is wat gebrand is, en dat die besigheid nog kan werk. Skielik begin dit lyk asof Braam se uitlating van die vorige episode wel die waarheid is: dat Mandré se ego dalk die derde braaier in die span is.
Mandré se mannemoed sak in sy skoene wanneer hulle eerste vir die beoordelaars moet voer. Hul drome gaan op in vlamme wanneer Bertus vir hulle uitwys dat hul vleis hopeloos te gaar is. Hul piesangbrood kan hulle ook nie red nie. Mandré dink Laratjie het ook ’n kosbare les geleer: sy het geleer om haar vrou te staan. Wat van ’n chauvinistiese houding is dit?
Gert & Anel
Ná verlede week se uitdaging voel Anel dat sy nie net iets het om te bewys nie, maar sy besluit ook om die sweepslaner te wees. Hoekom sy hierdie besluit neem, sal net sy weet. Lyk Gert soms soos ’n marsmannetjie op lag-gas? Ja! Lyk dit of Gert weet wat hy doen? Beslis! Is hierdie ’n SPAN-kompetisie? Ja, baie beslis. Een stem kan nooit harder as ’n ander een wees nie, want hierdie is ’n delicate duet van smake en idees. Beheer neem in Anel se wêreld lyk meer soos baasspeel – en dit werk nie vir my nie.
Arme Gert word gehiet en gebied. Gert erken met ’n stoute glimlag om die mondhoeke dat Anel ’n “lekker sterk persoonlikheid” het. Die tannie begin my bietjie te irriteer met haar manier van dinge doen. Ek sal nie saam met iemand kan werk wat die hele tyd dink sy weet beter nie – dis nié cool nie. Mrs. BossyPants het misluk in haar self-aangestelde taak, want die beoordelaars dink hulle het te veel elemente wat oor hul bord(e) versprei is. Gaan die spanne dalk nou leer dat less is more? Of gaan ons hierdie lessie moet herhaal totdat dit insink?
Nicole & Ander Lara
Ander Lara is nie seker of hulle vis of vleis moet aanpak vir die uitdaging nie, maar Nicole is baie seker dat hul keuse op vis val. Ek wonder of dit ander mense ook pla dat Nicole die hele tyd in verkleinvorme praat? Want “kossies” en “sandjies” sal maak dat ek die vrou begrawe in die as-gat tot sy belowe om nie meer soos ’n Pretoria Prinses of Willowbridge-weduwee te klink nie. Nee, man, daar is mos nie kinders in die kompetisie nie – praat soos ’n volwassene! Wanneer Ander Lara hul spyskaart vir die beoordelaars aframmel, en Bertus sy mening uitspreek dat dit dalk te veel werk vir die beperkte tyd is, is dit Nicole wat saam met hom stem.
Mmm… Is hier ’n bietjie self-sabotasie te bespeur, of is die vurige susters se lus vir saamwerk effe geblus? Dit blyk nie net dat Karen se rook van haar rooi kool vir Ander Lara irriteer nie, want skielik is sy ook in ’n vreeslike ‘Miss Micro-Management’-mode wanneer dit by Nicole kom. Nicole het ’n dik vel, want sy lag dit af in ’n weg-van-die-skerm-onderhoud. Uit haar woorde lei ’n mens af dat sy nie net gewoond is aan die houding nie, maar dalk ook effe gatvol.
Die spannetjie is baie gespanne oor hul vissie, en hulle het beslis rede tot kommer oor die vis wat in papier toegedraai is. Die vis is oorgaar, en daar is vir Bertus nie genoeg smaak in die dis nie. Ander Lara begaan ’n onvergeetlike fout deur die beoordelaars se instruksies te verontagsaam: sy het besluit omdat sy nie van bitter smake hou nie, gaan sy dit nie op die bord sit nie. Hoe verwaand is dit dan nou? Mense is al afgedank vir minder…
Mooi Kevin & Dominee Jan
Kevin wil ’n stokbrood met ’n lekker vulsel saamslaan, en hulle besluit om ook kwartel te bedien. Kevin en Jan se spanwerk lyk baie beter hierdie week… Maar ek wonder of dit nie dalk is omdat die dominee bietjie in sy broek bewe vir die stoetbul se temperament nie. Jan braai dan nou so ewe die stokbrode plat op die grond, plat op sy maag. Hul kos beïndruk die beoordelaars, en Jan skryf die sukses toe aan die houtskool-olie wat Kevin gemaak het.
Tjaart & Nataan
Tjaart wil ’n gestopte kwartel in die as plaas, maar peper sy beskrywings met “lekker”. Sy kwinkslae rol stout oor sy tong, maar sy beskrywings het ander watertand-woorde nodig. Then again, hy kan maar praat soos hy wil – sy en Nate se kos maak my so honger, ek lek sommer die rekenaar se skerm! Ek bedoel: kyk nou net wat doen hulle met nagereg! Terwyl die res van die spanne run of the mill-aanbiedings maak, ontwerp die twee sommer ietsie kreatiefs wat nie net mooi lyk en klink nie, maar ook smullekker is: ’n toffie-peer met as-room! Die beoordelaars is verbaas oor hoe goed die spannetjie se kwartel uitgekom het, en hul nagereg beïndruk selfs vir Kobus.
Cindy & Deelnemer Bertus
Hulle besluit om ook een of ander vlieënde vlees in die vuur te gooi, maar hul tydsberekening is so bietjie af: hul as-patats is reeds reg voor hulle nog behoorlik aan die gang gekom het. Gelukkig tel Bertus op wat Kobus neersit, en hy besluit dat hulle eerder ’n nuwe baksel patats moet voorberei. Die beoordelaars kan nie hul bitter op die bord proe nie, en Cindy se gesiggie val. Het sy haar kans verbeur om vir Hetta te beïndruk?
Karen & Ashley
Dis nou ’n oulike span-kombinasie wat sommer met die intrapslag van hul nuwe avontuur dinge reg doen. Hulle het albei ’n “onthou-dingetjie” gebring om met die regte gesindheid die dag se taak aan te pak. Karen het ’n foto van haar drie kinders byderhand, terwyl Ashley ’n babakousie saam met hom deur die dag dra soos ’n warm drukkie. Karen dink smaak was haar probleem in die vorige uitdaging, en daarom wil sy ’n rooi kool gebruik wat opge-zoosh word vir hierdie uitdaging. Maar die rook wat sy genereer met die voorbereiding daarvan pla vir Nicole en Ander Lara. Die span maak ’n indruk met hul rooi kool, en die kwepers laat die tonge jubel.
Braam & Francois
Francois dink daar is ’n vark in elke verhaal – en dat hierdie vandag hul verhaal moet wees, terwyl Braam ’n Hawaiian Luau-tema aan die reeds gekompliseerde uitdaging wil vashaak. Wanneer die beoordelaars ’n draai kom maak, is dit Bertus wat sy kommer verwoord, maar dit lyk nie asof dié spannetjie alles inneem wat hy sê nie. Daarvoor is Braam te gretig om sy (paspoort)stempel af te druk.
Braam, nes Anel, irriteer my vreeslik – maar vir ’n ander rede. Terwyl Anel darem nog lyk asof sy dink aan Gert as ’n spanmaat, is dit baie duidelik dat Braampie van die begin af nie dink dat Francois goed genoeg vir hom is nie. Ek probeer dit afskryf aan ’n persoonlikheidskonflik, maar dit grens vir my aan hoogmoed. Hoogmoed kom dan ook tot ’n val – dit dit wil lyk asof die beoordelaars nie van enigiets hou wat hulle voorberei het nie: selfs hul rys is rou.
Borries & Joubert
Die spannetjie besluit tussen vis en vark, maar Joubert slaan die spyker op die kop wanneer hy beklemtoon dat hy dink hierdie uitdaging neem hulle terug na die basics van kosmaak. Hulle besluit uiteindelik op ’n eenvoudige dis van kwartel en platbrood. Bertus haal die span uit omdat hul kombuis vreeslik deurmekaar is, en Borries probeer dit afmaak as kuns. Maar Bertus herinner hom dat hierdie nie ’n kunskompetisie is nie, eerder ’n kookkompetisie. Borries is vol lof vir sy spanmaat ná hierdie uitdaging. Maar wanneer dit kom by die proe van hul disse is die beoordelaars dit eens dat hulle ook te veel elemente op die bord(e) het. Joubert besef ook te laat dat hul wortels nog rou is.
Kolekamer
In die Kolekamer word Gert lekker uitgehaal omdat Anel hom “bloots” gery het vir die dag. Maar na dié grappietjie ook uitsterf, is dit tyd vir die uitslag van die dag.
Die eerste span in die #Top3 is Tjaart en Nataan. Kobus kan hul peertjies nie genoeg lof besing nie. Die tweede span is Ashley en Karen, en Karen is ’n absolute cheerleader vir spanmaat Ashley. Die res van die spanne kan maar hier leer hoe ’n mens spangees bou! Die derde span is dan ook nou die wenspan van die uitdaging, en dit is Mooie Kevin en Dominee Jan. Is Kevin letterlik en figuulik ’n donker perd in hierdie kompetisie? Dit is nogal oplettend hoe Kevin oor homself praat. Hy sê dat hy nie altyd die mooiste mens in die verlede was nie. En nou wil ek onmiddellik weet hoekom hy so sê! Kevin sit nogal baie druk op homself in hierdie kompetisie. Hy erken dat hy weer wil uitkom waar hy was, en dat hy wil hê almal wat hom ken, moet weer op hom trots wees.
Die #Onderste3 bestaan uit Borries en Joubert, Lara en Mandré, en Braam en Francois.
Lara voel sy kan niks reg doen nie, terwyl Joubert eerder in haar plek wil staan as wat sy deur hierdie mini-hel moet gaan. Braam is glad nie verbaas wanneer hulle laaste land nie, terwyl Francois die skuld op die grootte van die vark plaas – en nou wonder ek wie is nou eintlik die vark in die verhaal.
Dit is natuurlik nie die einde van die verrassings nie. Party is bekommerd dat daar dalk nog ’n span huis toe gestuur word. Wanneer dit aan die lig kom dat daar ’n groot span-skommeling gaan plaasvind, kan Nicole nie haar opgewondenheid verbloem nie. Tjaart is sommer hartseer, want hy voel hy en Nataan het mekaar tussen die “bok en die blare” gevind – en hy dink dit sal hartseer wees om hom te verloor.
Die nuwe spanne is:
Kevin en Deelnemer Bertus; Anel en Ander Lara; Karen en Gert, Nicole en Ashley, Jan en Tjaart, Joubert en Cindy, Nataan en Mandré, en Lara en Borries. Ek gaan maar eers my mening oor party van hierdie kombinasies hou, want ek dink daar is beslis ’n paar spanne wat gaan koning kraai op hul eie vuurhopies – en ander wat nou al gaan moet leer om die vuur behoorlik van voor af te moet stook.
Ek dink volgende week gaan interessant raak, want hier is nuwe persoonlikhede wat met mekaar gaan moet saamwerk. Ek hoop net hierdie kombinasies bring hulle spangees – en dat hulle hul vooropgestelde idees op die agterste rooster gaan plaas…
Sê tog vir Sheila ek sê dankie vir die pakkie wat sy gestuur het, maar moenie vir haar sê dat selfs nie eens die hond wil sy mond aan daai Vegemite-besigheid sit nie. Hoe oorleef jy met ’n vrou wat sulke vreemde smake het? Laratjie is die regte ouderdom vir jou – en sy deel jou liefde vir braai! Ek gaan onmiddellik kyk of sy dalk single is, want ek dink dit is ’n match made in vlamme-hemel!
Groete,
Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!
Tips van die week
Kobus: “ ’n Dik vel of ’n dik skil is wat ’n mens wil gebruik vir ’n as-braai!”
Bertus: “Daar is ’n goue reël natuurlik met kos, en dit geld vir my ook: As die olifant nie deur die sleutelgat kan pas nie, verander die olifant of kry ’n groter sleutelgat.
Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.