Die tweede deel van die Real Housewives van die Wynlande-reunion skop af met sjarmante Armand wat ’n special guest verwelkom. Wouter Lombard, van wie ek nog nooit gehoor het nie, sluit dan aan by die dames wat heel opgewonde lyk om die vlogger te sien. Ek voel bietjie in die gesig gevat dat ek nie genooi is om die dames up close and personal te ontmoet nie. Gegewe die feit dat ek reeds besig was om my bekroonde kerkbasaar-melkterte vir ’n opkomende VLU-kontreikompetisie voor te berei, sou ek in alle geval dit nie kon maak nie… Tensy Anita my persoonlik genooi het, natuurlik.
Nat-agter-die-ore Woutertjie wil onder meer by die dames weet wie die voice of reason was onder die dames. Anita nomineer haarself – met ’n handjie in die lug. Candice gooi ’n hard no en verduidelik hoekom daardie titel aan Amy behoort. Die teenwoordiges bereik consensus en stem (uiteindelik!) saam oor iets. Woutertjie se tweede vraag is watter housewife die minste tot kalmte agter die skerms bygedra het? Surprise surprise! Karen wen dié een hands down.
Vriendskap faux pas
Die eerste (van ’n paar) regstellings en uitsortingsgesprekke vind plaas wanneer Michelle en Mariska die hele ‘bitch stole my podcast, bitch stole my look’-gesprek in Mauritius vir die kykers ontleed. En dan nou ook dus vir mekaar.
Ek vind dit weereens vreemd, want Mauritius (in hul lewens) is seker al ’n hele paar maande gelede. Maar hier sit die plebs by die huis om ook te luister en te kyk na wat nou eintlik bedoel is. Nee, wat. Weereens dink ek die girls sit die pot mis wanneer dit by ’n vriendskap (fabricated of te not!) kom. Want hoe wag ’n mens dan nou maande om ’n irritasie uit te sorteer, wanneer ’n ou WhatsAppie of ’n Telegram die ding kon gedoen het (as hulle mekaar dan nou nie face-to-face wou takel nie)?
Michelle probeer tevergeefs om te verduidelik dat sy eintlik SAAM met Mariska wou werk aan haar podcast. Dis egter so duidelik soos daglig dat dit nié is hoe dit transpire het nie. Well, nie vir my nie – en ook blykbaar nie vir Hotness Aucamp nie. Ek is okay met daai odds, maar blykbaar voer Michelle aan dat sy verkeerd verstaan is. Ek wonder wie se begripstoetspunte nou uit toentertyd uitgekrap moet word…
Michelle verloor dan nou ook hierdie rondte, alhoewel sy kopskuddend dit probeer vermy. Dit is egter wanneer Candice haar liggies aanvat waar ’n mens duidelik kan sien dat hier twee katjies is wat mekaar graag sonder handskoene sal wil aanpak! Maar dit wil voorkom of dit nie net Candice is wat haar naelvyl in het vir die donkerkop-doktertjie nie. Ook Amy peper haar met ’n salvo vrae wat die doktertjie laat koes en proes vir antwoorde. Het Michelle enige original thoughts (van haar eie) of leen sy (sonder permission) van die ander vrouens se idees om munt daaruit te slaan?
Die kloue is uit
Wanneer Woutertjie groet (wat het hy nou eintlik in die episode gemaak?) besoek die groepie gou weer Mauritius. Armand tel op dat Michelle (tydens die memory jogger van die eiland-vakansie) se gemoed donker wolke en verspreide donderbuie bevat. Hy vra haar dan oor wat sy dink van die beeldmateriaal, en Michelle antwoord “seer”. En dit is hier waar die vat kruit vlam vat!
Michelle verduidelik hoe onregverdig dit was dat sy die hele tyd moes luister na Candice se trauma, maar toe dit haar beurt was om oor haar seer te praat, het sy gevoel dat almal wou gehad het sy moet liewers stil wees. Candice ruk haar dan in die bek deur vir haar te sê dat dit glad nie die geval was nie. En dat sy gewens het Michelle wou regtig oor haar trauma praat! Candice sê dat hulle regtig wou verstaan wie Michelle regtig is, en hoekom sy is soos wat sy is. ’n Defensive Michelle vra haar dan hoekom sy haarself aan Candice moet verduidelik. Shô!
Terwyl Candice nog haar standpunt verduidelik, is dit Michelle wat oorgaan na DEFCON 1 en Candice daarvan beskuldig dat sy haar “emosioneel onstabiel” ge-label het. En dit is net hier waar Candice haar skild en swaard lig. En sy vat nie nonsens wanneer sy op haar teiken afstorm nie.
‘Listen carefully…’
Kyk, as iemand nou vir my in ’n hoek moet vasdruk en my letterlik onder vier oë spreek, sal ek beslis seker maak dat ek baie mooi luister. Nie net na wat gesê word nie, maar ook na die manier waarop dit gesê word. Daar is ’n moerse verskil tussen die manier waarop Annelize Roux met ’n mens praat in en uit ’n boardroom in Binnelanders, en soveel nog te meer wanneer Candice nou genoeg gehad het van valse beskuldigings.
Weereens, nes my waarnemings tydens Mauritius se episodes, is dit baie duidelik dat Michelle graag luister-om-te-praat – en dat haar vermoë om te luister-om-te-hoor op die vlak van ’n kleuter is.
Nodeloos om te sê, verloor Michelle hierdie rondte teen die tenacious Candice. Veral wanneer dit aan die lig kom dat Candice nie die enigste een is wat voel dat Michelle haar eie waarheid nie met die res van die dames gedeel het nie. Amy maak dan ’n treffende vergelyking tussen Michelle en Mariska. Sy voel dat sy vir Mariska beter ken juis as gevolg van die waarhede wat die pienk ontploffinkie geopenbaar het in presies dieselfde hoeveelheid tyd as wat Amy met Michelle deurgebring het…
Het Michelle ’n self-fulfilling prophecy uitgeleef in haar journey op die reeks? Het sy so hard geluister na the things you tell yourself in the dark dat sy heeltemal die pad van hierdie journey gemis het? Selfs met die ontwaking wat Michelle deurgegaan het op haar reis, blyk dit dat sy nog al die pad ’n slapende wandelaar was. Michelle lyk verlore op die bank. Wanneer sy erg ongemaklik begin raak met wat sy hoor, wil sy skielik alles onder die mat vee. Maar Candice gaan haar nie so maklik – of skotvry – van hierdie een laat wegskram nie. Sy hou eerder ’n spreekwoordelike spieël vir Michelle op om haar demons te face. Maar Michelle wil niks weet nie.
Good girls gone bad
Die gesprek splinter dan na die gevoel wat Michelle gehad het dat daar ’n good girl groep (Amy, Candice, Mariska) en ’n bad bitch group (Anita, Michelle, Karen) was ná die gebeure op Mauritius. Anita stem, wonder bo wonder, saam met Michelle. Dan verander die onderwerp na lojaliteit – en wie nou aan wie lojaliteit moes bewys.
’n Mens sou sweer dat hierdie die beplanning van World War 3 is, en dat die supermoondhede baklei oor wie nou met wie maatjies is. Én wie nou nie na die een of ander jumpy castle birthday party genooi is nie. Weereens, vra ek, is hierdie nie die tipe van catfights wat in die reeks self opgelos kan word nie? Hierdie ou koeie is nie eers meer in die sloot nie! Hulle het al so afgevrot dat hulle kompos vir die kosmos geword het…
Verwyte en verduidelikings volg, voordat Karen verbasend die spyker op die kop slaan met betrekking tot Michelle se uitlatings oor die skeiding in die groep. As ek na Karen luister, klink dit vir my ons dink presies dieselfde… Karen se woorde verklap ook dat sy na dese ook nie meer soveel ooghare vir Anita het nie.
Woorde maak wél seer
Dan breek die tyd aan vir Anita en Amy om hul misverstande uit te klaar. Weereens kom dit daarop neer dat Amy nie noodwendig die beste is met die verwoording van haar ervarings in Afrikaans nie. Sekere uitdrukkings raak dus so bietjie lost in translation.
Wat my wel opgeval het, en wat ek vermoed het, is dat Anita baie skerp luister. Met ’n meestersgraad in linguistics, maak dit dan ook baie sense dat woorde vir haar wel meer betekenis het as vir ander. Dit gaan nie net oor watter woorde gebruik word nie, maar ook die manier waarop dit gebruik word, en die sinskonstruksie waarin die woorde geplaas word. ’n Mens moet maar jou woorde mooi kies wanneer ’n mens met Anita praat – want sy ontleed elke en alle betekenisse daarvan.
Die laaste gedeelte van die ‘onthou jy’-gesprekke handel dan oor die trietsige Triptiek van Talente-event. Terwyl Amy, Anita, Mariska en Candice heerlik sit en klets en kekkellag, is dit Michelle wat tjoepstil onder haar donker wolkie sit en die res aanstaar. Of dit is omdat sy niks het om te sê nie, en of dit is omdat sy reeds haar wonde lek oor die vorige gesprekke van die aand, is nou nie juis duidelik nie. Die feit dat sy nie regtig meelewend deelneem nie, verklap dat sy ook hier op die einde van die einde nog soos ’n indringer of uitgestemde Survivor-deelnemer (wat op die Tribal Council sit en die aktiwiteite slegs van ver af mag dophou) voel…
Die laaste sê
Ná ’n rondte van ‘wat was jou hoogtepunt?’ en ‘wat is volgende op jou to do list?’ vraag en antwoorde, rig Armand ook die vraag aan Karen, wat nog die newels van narkose beveg om haar laaste sê te sê. Karen se antwoord sonder vir Mariska uit as die enigste housewife met wie sy nog in kontak is. Dit laat dit klink asof die jonger blondine ook die enigste een is na wie sy gaan uitreik na afloop van die reeks. Dit is natuurlik nie dieselfde housewife wat sy uitgesonder het in haar openlike onderhoud met my van ’n week gelede nie – en Amy se naam word ook nie genoem nie…
Dan wil Armand weet of enigiemand nog iets het om te sê. Michelle maak van die geleentheid gebruik om vir Anita om verskoning te vra oor Mauritius. Candice vra dan vir Michelle om verskoning oor die vingers-in-die-ore beeldmateriaal waarmee hulle vroeër gekonfronteer is. Michelle lyk asof sy met ’n silwer skinkbord in die gesig geklap is. Sy probeer die oomblik minder awkward maak – maar ondanks die feit dat sy die vermoë en kennis het om plooie in ’n japtrap te laat verdwyn, is haar koddige laggie nie die towerstaffie om hierdie oomblik uit te wis nie. Sy lyk lettelik soos ’n wildsbokkie wat in die hoofligte van ’n 4×4 vasgevang is.
Die finale cheers
En dan volg die final cheers, selfs al word Anita se siel nog so bietjie daaroor uitgetrek. Almal is dit eens dat dit ’n wonderlike ervaring was (asof enigiemand nou gaan sê dit was nie!) en dat hulle dit definitief weer sal wil doen. Ek is natuurlik nie so seker of ALMAL weer sal deel wil wees van ’n Seisoen 2 nie. Terwyl dit bo blink, klink dit maar asof dit onder stink vir party van dié hoi-paloi!
Hoe dit ookal sy, is dit duidelik dat hier tog bietjie meer as net frenemies gemaak is in swierige rokke, boheemse ervarings, en skemerkelkie skermutselings. Of dit nou vir ’n reason, a season of ’n long time is, sal net die tyd ons leer. Waarvan ek wel baie seker is, is dat hierdie housewives beslis meer as net nog ’n bietjie in die kollig sal verskyn, because no one puts baby in a corner.
Sterkte, chickas! Laat hoor van julle so nou en dan! En terwyl ek dan nou my laaste sopie van hierdie verruklike oes polish, gaan ek verseker my braaikamer moet begin inrig – volgende week begin Kokkedoor Vuur & Vlam, en ek wil beslis ’n paar tips vang by die deelnemers om my Tjoppie te kan beïndruk!
’n Episode van die Real Housewives van die Wynlande gemis? Jy kan vir tyd en wyl nog die reeks op Catch Up kyk.