Menu terloops
In Recaps & Resensies [7 Sep 2023]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: SA se braai-stiefkind skrop verwoed nes in die hoenderhok


In die sewende episode van kykNET se koswerklikheidsreeks ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ loop die spanning hemelhoog nadat die deelnemers vroeg uit die vere gejaag is. Onthoubraaier Bertus vat dit mooi saam: “Almal se oë hardloop soos ’n slot machine.’

Deur Os Brand

Stroom aanlyn

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: SA se braai-stiefkind skrop verwoed nes in die hoenderhok

Liewe Annie,

Ek is verskriklik jammer om te hoor oor jou onderonsie met die leftovers van jou hoendergebak. Maar ek weet ook nie mooi hoe jy gedink het weekoue hoender, nogal met room en kaas oorlaai, én wat Stage 6 loadshedding (en daai een aand wat iets by jou substasie geblaas het en jy toe eers weer die volgende oggend krag gekry het…) is okay om te eet nie. Nogtans, ek’s jammer oor die voedselvergiftiging en dat jy te naar gevoel het om die nuwe episode van Kokkedoor Vuur & Vlam te kyk. Maar ek wil nie hê jy moet iets mis nie, so ek het vir Sheila gesê ons moet vroeg opstaan om die saak op DStv Stream te kyk sodat ek vir jou kan vertel wat gebeur het. 

Eers sien die deelnemers net groente, maar toe stel Bertus (die beoordelaar, nie Deelnemer Bertus nie) hulle voor aan die braai-stiefkind: hoender. Sy gunsteling is ’n goeie ou-styl blatjanghoender terwyl Kobus weer sterker voel oor sy ma se hoender wat sy op haar eie manier gevlek het. Sy het die hoender platgemaak en dan ook rondom die bene gevlek sodat dit beter kan marineer. Bertus sê dis nie eintlik die korrekte metode nie, maar dit is ’n baie goeie tegniek om toe te pas. 

Hoenderbraai is ’n regte bl*ksem.

Nicole

Natuurlik kan daar altyd by ander kulture kers opgesteek word. Vandeesweek is dit die Franse metode À la ficelle, waar die hoender bo die vuur gehang word en nou-en-dan rondgedraai word om seker te maak die hele hoender braai. (Hierdie klink vir my mos na baie moeite…) 

Die uitdaging

Elke span het twee hoenders gekry om gaar te maak. Een kan hulle braai op hul eie manier en die ander een moet in ’n pot beland. Daarmee saam soek Bertus en Kobus ’n bykos wat bros buite en sag binne is.

Daar was duidelik gemengde gevoelens toe nóg ’n deel van die uitdaging aan die deelnemers gewys word: Hoenderpote met lang naels . . .  Sommige ken dit as walkie-talkies, maar dit is wanneer die kop ingesluit word. Bertus doop die pote runaways. Ek ken dit as iets heel bo-aan my lys van goed wat ek nie eet nie.

Dis nie al nie. Elke span moet hul eie braaispesery aanmekaar slaan en seker maak dit beskik oor ’n smaaklike branderigheid. Die jakkals wat chaos in die hoenderhok veroorsaak het, is toe die deelnemers hoor hulle het net ’n uur en 20 minute om alles voor te berei. Kyk, ek het sommer namens hulle begin sweet! 

Kevin en Deelnemer Bertus

Die ligte is aangeskakel by Kevin en Bertus toe Bertus noem dat hulle ’n drukkoker in gedagte moet hou wanneer dit by die hoenderpote kom.  

Bertus is ’n wynmaker en lief daarvoor, maar dis braai wat warm in sy hart klop. Hy droom daarvan om ’n restaurant oop te maak.

Hy en Kevin het beplan om die geur van Karoobossies in hul sout te reflekteer. As oud-boorling van Oudtshoorn vertel hy dat reëntyd daar die Karoo-bossies so lekker laat ruik het dat jy sommer die grond ook wou eet.

Herinneringe het diep geloop in hierdie week se episode. Vir Kevin was dit die spesiale herinnering aan iets wat sy pa vir hom kleintyd gebraai het – ’n heerlike soet hoenderpotjie, en dis wat hy beplan het om te doen.

Karen en Gert

Karen was maar skigtig vir die nuwe tegnologie toe sy sien hoe die drukkoker lyk. “My ouma se drukkoker lyk soos ’n tydbom,” verduidelik sy. Een met skroefies en dinge. 

Gert deel sy spanmaat se wantroue in moderne tegnologie. Hy is vas oortuig as iemand die drukkoker se baie knoppies kan verstaan, dit net so maklik vir daardie persoon sal wees om deur die kuberruim by die CIA in te breek.

Tussen al die geskrop en vere wat in die Kokkedoor-stoor gewaai het, het Karen vir oulaas gesê sy kan maar net hoop en bid dat haar ouma Bettie na haar sal kyk vandag. Einste ouma wie se tydbom-drukkoker nou in Karen se eie kombuis is.

Karen, Kokkedoor Vuur & vlam
Karen het die drukkoker eers mooi uitgekyk… Foto: Verskaf

Lara en Borries

Lara en Borries se verhouding is nog steeds ’n projek in wording en sodra dit voel asof daar vrede heers, kraak daar weer ’n eier. Die twee wou eers hul dis Angry Birds noem, maar toe verander hulle dit na Hangry Birds om dit nie so aggressief te laat klink nie. 

Maar daar pootjie die hoenderpote toe sowaar vir hulle. Die pote is nie vooraf skoongemaak nie en volgens Borries was daar toe nie tyd om naels te verf en te sny nie.

Kokkedoor Vuur & Vlam Borries
As jy hoenderpote gaan eet, moet jy seker maak dis goed skoongeskrop. Foto: Verskaf

Ashley en Nicole

Vir Ashley het hierdie hoenderdag herinneringe van kleintyd opgeroep. Die groot hoenderhaan op sy ouma se werf het hom al te graag gejaag en dit was vir hom die beste Sondagmaal ooit toe daai einste haan in ouma se pot beland het. 

Ashley het een doel voor oë gehad en dis om Ouma se blatjanghoender te maak, maar een wat “so ’n bietjie universiteit toe gegaan het”.  Ashley mis sy dogtertjie baie en sy spesiale Oreo-koekies van fyngesnyde beet met bokmelkkaas as vulsel, was sy gedagte aan haar.

Sy spanmaat, Nicole, is vurig oor hoender op die kole want “hoenderbraai is ’n regte bl*ksem”. Sy wil bitter graag onder die top-5 wees.

Cindy en Joubert

Cindy het besluit om die gelatien uit die hoenderpote te kry vir ’n aftreksel wat in hul kerrie sal gaan. Sy is ook heel vaardig met die afknip van die pote se lang naels. “Dit voel of ek ’n kind se vingers afknip. Dis terrible,” maar sy stuit vir niks. 

Vir Joubert was die hoenderuitdaging ’n groot spanningsfaktor, want vir hom is hoender en groente dieselfde ding. Cindy, het tergend gesê sy dink Joubert ly dalk aan hoenderstres of chicken pox en hy self het nie eers kans gesien om tydens die braaisessie te praat nie.

Dis was ’n emosiebelaaide episode en ook Joubert het met emosies gesukkel. Hy weet almal het hul eie stories hoekom hulle op Kokkedoor Vuur & Vlam is, maar hy kook vir mense wat nie meer by hom is nie. Hy het sy ma en sy swaer binne ’n jaar verloor en alhoewel dit lank gelede reeds gebeur het, bly dit nog rou vir hom.

“Dit sou lekker gewees het as hulle dié kon beleef het. My ma het my lief gemaak vir kos. Sy het altyd gesorg dat ek kos het en genoeg daarvan het.

Kokkedoor Vuur & Vlam
Joubert se emosies het ook by tye gedreig om hom te oorweldig in die sewende episode van Kokkedoor Vuur & Vlam. Foto: Verskaf

Nataan en Mandre 

Nataan en Mandre se “provinsiaal-gegeurde” hoender het beide Bertus en Kobus se koppe laat ruk. 

Kobus het gewaarsku dat laventel soos seep kan proe as dit nie reg hanteer word nie. Kort voor lank word Kobus se raad ter harte geneem en die laventel verdwyn uit die dis…

Bertus het heerlik met kinkelbraaier Mandre gekorswil en gevra of hy ’n laventelhaan is. Dié antwoord toe: “ ’n Bietjie, want die hare sê dit alles.” 

Onthoubraaier Nataan het sy ervaring in Suid-Korea ingespan en hul hoenderpote met gochujang gekombineer, ’n kombinasie wat hy dink niemand nog ooit gewaag of geproe het nie.

Amber Campher het vir Mandre geleer om hoenderpote gaar te maak. En dis duidelik dat hy baie geheg is aan dié sussie van hom wat op 9-jarige ouderdom deur sy gesin aangeneem is. “Niemand anders sal verstaan waar sy vandaan kom en wat sy deurgemaak het nie. Sy is ’n Campher” het hy aangedaan gesê.

Halftyd

Teen die halftydmerk het Kobus genadiglik ook goeie nuus vir die gespanne braaiers. Die twee wenners van die hoenderbraai gaan elkeen ’n Megamaster-braai soos die waarop hulle vandag gebraai het, huis toe neem.

Dit het soos ’n bom gewerk want die stryd is met hernude ywer aangepak. Drome is gedroom en wense is gewens. Alles net vir daai braai.

Vir Kobus was die hoenderbraai ’n keerpunt in die Kokkedoor-reeks. Die titel is afkomstig van die Franse woorde coq d’or wat letterlik “goue haan” beteken en daarom is dit die belangrikste dis wat voorgesit kan word.

Kolekamer

Nicole en Ashley se hoender het meer tyd op die braai nodig gehad en die velletjie moes donkerder gewees het. Alhoewel hul hoenderpote lekker was, was die blatjanghoender nie spesiaal nie.

Karen en Gert se braaihoender het vir Bertus en Kobus tussen niks en nêrens geland nie. Hul hoenderpote en gepaardgaande sous was wel lekker en hul gestoofde hoender baie lekker.

Bertus en Kevin se hoender het te min smaak gehad, alhoewel hul hoenderpote lekker was. Dit was wel hul slaai en die poffertjies wat groot indruk gemaak het.

Lara en Borries se plathoender was verkeerd voorberei. En hul hoenderpote geheel en al oneetbaar. Vir Kobus het Lara se botterkerrie-hoender na niks gesmaak nie.

Joubert en Cindy se hoender het nie die lekker geurskop gehad wat Bertus en Kobus verwag het nie. Hul hoenderpote was heel lekker en ook hul hoendersout wat hul voorberei het.

Nate en Mandre se pote was onverbeterlik, hul hoenderpote en rys het die kol getref, maar hul braaihoender was nie spesiaal nie.

Wie bly en wie gly?

Bertus en Kevin het beide beoordelaars verower met hul groen sousie en daai beskuitjies (poffertjies). “A-la-wêreld,” is al wat Kobus kon uitkry. Dis amper meer as wat die twee braaiers kon uiter toe hulle hoor hulle het nie net die uitdaging gewen nie, maar ook daardie twee skitterende Megamaster-braaiers.

Joubert en Cindy se hoendersout was begeesterd. Kobus en Bertus glo hulle kan daardie resep van hulle maar bottel en verkoop.

Hoenderpote wat met rou meel oor die vuur gekook is en speserye wat nie op die hoender beland het nie, het daarvoor gesorg dat Lara en Borries uit die nes geskop is.

Vir Lara was dit ’n goeie ervaring wat ’n sterker mens van haar gemaak het, en sy glo ook sy het baie geleer. “My tyd is nou verby, my hart is vol.”

Vir Borries het die kaarte nie geval soos wat hy sy geld gespeel het nie. “Ons het ons beste gedoen. Dis wat saak maak. As my kinders net hieruit kan sien dat die lewe soms vir jou ’n m**rse curveball kan gooi, dan is dit ’n les wat jy moet leer. Dan is ek gelukkig.”

Kokkedoor Vuur & Vlam
Koebaai Meraai! Lara en Borries is uit die Kokkedoor Vuur & Vlam-nes geskop. Foto: Verskaf

Die kinkel

Die verestoffer is met mening geswaai – tot verligting van sommige en stof tot nadenke vir ander. Nuwe spanne is aangekondig vir die pad vorentoe. 

Die nuwe spanne is:

  • Joubert en Gert
  • Nicole en Mandre
  • Bertus en Ashley
  • Karen en Kevin
  • Nataan en Cindy

      Groete,

      Jou broer, Os, wat baie na jou verlang!


      Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

      Wat, waar en wanneer?

      Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

      Sien ook Meer

      Jy sal hou van:

      Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

      Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

      Meer

      ‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

      Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

      Meer
      12

      12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

      Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

      Meer

      Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

      Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

      Meer
      Sien alle opsies