Hier is van Terloops se heerlike onderhoude met Suidooster se innemende rolverdeling (in geen spesifieke volgorde):
‘Suidooster’ se Zoë: Aktrise Lauren Joseph oor die ‘reddende genade’ in haar lewe

As daar een Suidooster-karakter is wat oor die jare ’n merkwaardige transformasie ondergaan het, het is dit beslis die prinses van die October-empire, Zoë. Sy stoot gereeld kykers se bloeddruk op, maar as Zoë, vertolk deur Lauren Joseph, op die skerm verskyn, kan ’n mens nie sommer wegkyk nie.
“Aanvanklik was ek baie angstig en op my senuwees. Ek het toegelaat dat my angs oorvat. As ek een fout op stel gemaak het, het ek huis toe gegaan en gehuil. Ek was baie hard op myself, maar nou is ek baie meer gemaklik op stel en ek vat nie meer produksie se notas so persoonlik soos in die begin nie. Ons almal werk saam om ’n goeie program vir kykers te maak, en as ek my karakter kan verbeter dan doen ek dit. Ek het oor die jare baie aan my geestesgesondheid gewerk en ek glo dít het vir my en Zoë baie gehelp om te groei.”
Irvine van der Merwe oor ‘Suidooster’ se slinkse Nazeem: ‘Hy’s ’n survivor’
Daar is min karakters wat kykers se bloeddruk soos Suidooster se Nazeem (vertolk deur Irvine van der Merwe) kan opstoot. Waar Nazeem gaan, volg daar gewoonlik moeilikheid.
“Ek dink ons albei het dieselfde deursettingsvermoë. Hy survive altyd. Hy is altyd op soek na die volgende geleentheid en hoe om probleme op te los. Daardie deursettingsvermoë is iets wat ek nogal in myself waardeer.”
‘Suidooster’ se Jill Levenberg vertel: ‘Ek kies om weer vry en sonder mure te lewe’

Mymoena Samsodien is een van kykers se mees geliefde sepiekarakters. Die hoogtepunte – en laagtepunte – van die Samsodiens in Suidooster hou kykers al vir jare op die punt van hul stoele. Maar ten spyte van al die drama, is dit Mymoena se groot hart vir haar mense wat kykers daagliks intrek, meen die aktrise wat haar vertolk, Jill Levenberg.
“Tot en met my 40’s is daar baie wat met my gebeur het, maar nou kies ek doelbewus om weer vry en sonder mure te lewe. Ek wil mense inlaat en ek wil sonder daardie bagasie lewe.”
Die vroue van aktrise Illse Roos se hart en wese
Solank ’n karakter met haar praat, is daar geen rol te klein of te groot vir die lewende legende Illse Roos nie. Terloops het met dié veteraanaktrise gesels oor rolle soos Rita in Suidooster en die dinge wat met haar siel praat.
“Dit is vir my ’n riem onder die hart dat mense steeds na my begin-karakters verwys en dat hulle hou van wat ek doen. Dit is altyd vir my belangrik dat mense my karakter moet glo en die pad saam met haar moet stap. Maak nie saak hoe goed of sleg sy is nie, mense moet die pad saam met haar wil stap.”
Marco Spaumer: ‘Suidooster’ se Tim ‘nie jou tipiese skurk’
Tim du Plooy is nie jou tipiese skurk nie. Diep binne dié Suidooster-karakter is hy eintlik ’n goeie mens. Hy het ’n suksesvolle loopbaan (buite die misdaadwêreld), ’n semi-suksesvolle huwelik, en baie vriende. Sy vrou het nou wel vir hom verneuk, maar dit is mos nou nie sy skuld nie. ’n Mens kan selfs wonder of die akteur Marco Spaumer se goedheid dalk die beste in sy karakter uitbring. Ná nege jaar in Tim se skoene ken Marco hom immers amper so goed soos sy tweelingbroer, Marcel.
“Ek dink die Rita-storielyne (Illse Roos) is vir my die moeilikste om te vertolk, want ek self het vir ’n lang tyd ’n turbulent verhouding met my ma gehad. Dit het vir ons jare gevat om mekaar uit te figure. So daardie storielyne het my diep geraak, omdat ek Tim se seer verstaan. Ek kon sien hoe hy sukkel en ek kon dit verstaan.”
Cole Wessels oor ‘Suidooster’ se Tino: ‘As ek een mens hoop gee, het ek my werk gedoen’

Toe Suidooster vir Tino aan kykers bekendgestel het, die lewenslustige, modebewuste nuwe gesig in Ruiterbosch, kon ons eenvoudig nie wegkyk nie. En dis nie net sy skerp tong en selfs skerper humorsin wat hom so onvergeetlik maak nie. Dis hoe die akteur Cole Wessels dié karakter met warmte, moed en egtheid lewe gee. En Tino se struweling met egtheid en identiteit is iets wat Cole goed verstaan.
“As ek terugdink aan wat dit vir my sou beteken het om ’n karakter soos Tino op die skerm te sien toe ek nog op skool en geboelie was, en onseker was of dit oukei is om myself te wees, dan weet ek hierdie karakter bied hoop. Hoop vir queer kinders en mense van alle ouderdomme wat soms twyfel of daar ’n plek vir hulle in die wêreld is. Ek wil vir mense die kans gee om hulself in Tino te sien en te besef daar ís ’n wêreld vir hulle. ’n Wêreld waar hulle vriende kan hê, ’n werk, tot die samelewing kan bydra, hul gesinne kan onderhou… Dít is wat hierdie rol vir my beteken.”
Simone Biscombe oor ‘Suidooster’ se swartskaaprebel: ‘Jy weet nooit wat volgende op Bianca wag nie’
Die karakter van Bianca Fourie – vertolk deur Simone Biscombe – teen dié tyd ’n huishoudelike naam. Sy word dikwels gesien as die swartskaap van die Samsodien-familie omdat sy altyd haar eie kop volg en dinge in die familie lelik bly omkrap. En boonop het sy tot onlangs die slegste geluk gehad wat sake van die hart betref…
“Die storielyne waarmee die skrywers vir my karakter vorendag kom, is altyd opwindend. As ek met ’n storielyn klaarmaak, dink ek altyd oor wat nou nog met Bianca kan gebeur. Maar daar is altyd nog, so dit raak definitief lekkerder!”
‘Suidooster’ se Char Carrie: ‘Daar’s niemand soos Angie nie’

Angie (Char Carrie) is nie die tipe karakter wat jy per ongeluk met iemand anders gaan verwar nie. Toe Angie in 2022 haar debuutverskyning in die gewilde kykNET-sepie Suidooster gemaak het, het haar kleurvolle en uitspattige styl onmiddellik aandag getrek. Hierdie karakter kan beslis nie as vanilla beskryf word nie. Dit het egter ook beteken dat sy nie in almal se smaak val nie… Inteendeel! Toe sy boonop veroorsaak het dat ’n kykergunsteling soos Wade (Dean Smith) sy rug op sy familie en vriende draai, was Angie beslis nie gewild onder kykers nie. En toe knou sy hom af en los hom met die gebakte pere!
Angie het soos ’n warrelwind deur Ruiterbosch gewaai, en hoewel kykers nie aanvanklik opgewonde was om haar terug te verwelkom nie, het sy nou tog reggekry om in kykers se harte te kruip.
“Ek grond baie van Angie se persoonlikheid op die vroue rondom wie ek in my gemeenskap grootgeword het. Angie het deur baie in die lewe gegaan wat haar die mens gemaak het wat sy vandag is. Toe ek vir Angie pitch, het ek regtig probeer om haar herkenbaar te maak, sodat mense sou weet waar sy inpas. Terselfdertyd wou ek haar ook uniek maak, sodat hulle haar sou onthou.”
Aktrise Kay Smith oor dapper vroue, selfwaarde en haar nuwe rol op ‘Suidooster’

Van haar deurbraakrolle in 7de Laan en Projek Dina, tot haar onvergeetlike vertolking as Debra in Arendsvlei – Kay Smith het oor die jare een van die mees geliefde aktrises op plaaslike televisie geword. Maar haar rol as Shandy op Suidooster het sommer gou kykers se wenkbroue laat lig…
“Dit is ’n voorreg om deel te wees van stories wat diep by gehore aanklank vind. Ons hoop altyd iemand word geraak, ontroer, vermaak of wat ook al die projek se bedoeling was. Vir my is dit diep roerend om die persoon te wees wat die spieël ophou en dan te sien hoe die wêreld reageer op dit wat hulle in die weerkaatsing sien.”
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.