Menu terloops
In Sepies [4 Nov 2025]

‘Suidooster’ word 10! Wat jy dalk nie van dié baanbreker-sepie geweet het nie


‘Suidooster’ is ’n sepie van talle eerstes, verskeie mylpale en van goed ánders doen. Ter viering van die sepie se tiende verjaardag, deel ons ’n paar interessante feite oor dié immergewilde en eg Kaapse storie.

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

‘Suidooster’ word 10! Wat jy dalk nie van dié baanbreker-sepie geweet het nie

As Alistair Izobel se Suidooster-temalied weeksaande lostrek op die kassie weet almal in die land om nader te skuif want dit is Suidooster-tyd. 

Tien jaar later is Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar hierdie geliefde kykNET-sepie afspeel, se inwoners ook nou deel van honderde duisende Suid-Afrikaners se vriende- en familiekring. Karakters soos Mymoena, Bridgette, Fiekie, Mrs J, Nazeem, Wade en Zoë is lank reeds huishoudelike name met wie kykers baie sterk identifiseer. 

Suidooster
Die huidige Suidooster-rolverdeling. Foto’s: Verskaf

Op Vrydag 14 November word die 2 453ste episode van Suidooster uitgesaai en die rymkletser Early B gaan in hierdie episode verskyn. En op die dag van die sepie se 10de verjaardag (16 November) gaan talle Suidooster-sterre tydens ’n spesiale Koortjies-episode om 19:00 op kykNET&kie saam met Elwira Standili kuier. 

Suidooster  is ’n sepie van talle eerstes, verskeie mylpale en goed ánders doen.

Hier is ’n paar interessante feite oor die reeks: 

Suidooster
Suidooster word in twee van die hoofateljees by Atlantic Studios verfilm.
  • Die afskop van Suidooster was die begin van groot dinge vir die TV- en filmbedryf in die Kaap. Só het dit tot die ontstaan van Atlantic Studios gelei. Die gebou was voorheen ’n Makro waarna dit vir ’n paar jaar leeg gestaan voor dit in ateljees omskep is. Vandag is dit ’n wêreldgehalte-ateljeekompleks waar ook talle internasionale reekse geskiet word. 
  • Suidooster word in twee van die hoofateljees verfilm. Die een ateljee is die binnekante van die karakters se huise, en in die ander is die besighede – soos die apteek, Oos Wes-koffiewinkel, die sentrum se binnehof, Nazeem se winkel en JPD.
  • Talle van Suidooster se buitetonele word sedert 2024 voor ’n reuse-LED-skerm van Filmscape by Atlantic Studios verfilm. Dié skerm van 32 meter lank en ses meter hoog, is die grootste en tegnologies gevorderdste in Afrika. Suidooster is die enigste sepie in Suid-Afrika wat voor só skerm skiet. Bianca (Simone Biscomb) en Siya (Gantane Kusch) se troue is juis met behulp van hierdie skerm geskiet.
  • Suidooster het oor die afgelope agt jaar reeds sowat R200 000 vir welsyn ingesamel. Skenkings is aan organisasies soos die Rooikruis-kinderhospitaal en Tygerberg-hospitaal se borskankereenheid gemaak. 
  • Tydens die Covid-19-pandemie, in 2020 en 2021, het Suidooster met Suidoosterfees hande gevat om die fees by Atlantic Studios aan te bied. Daar is ’n massiewe permanente digitale skerm aan die voorkant van die gebou aangebring en planne is gemaak om dit in ’n inryteater te omskep. Dit was ’n reuse-sukses. 
  • Sedert 2022 bied die sepie jaarliks die gewilde Suidooster Stormsterk, ’n musiek- en vermaakkonsert, by Artscape saam met Suidoosterfees aan. Dit word vir die vyfde keer op die fees se program vir volgende jaar ingesluit. 
  • Suidooster het in samewerking met die SA FILM Academy en Suzuki die Filmgro-bestuurskool by Atlantic Studios in Kaapstad begin. Só het al amper 150 mense in die plaaslike TV- en filmbedryf hul bestuurlisensies gekry.
  • In 2019 het die Suidooster Kombuis-resepteboek die lig gesien. Dié boek is ’n viering van vermenging van kultuur, tradisie en nostalgie wat vriende en familie se lief en leed met kos saambind. Dit is deur Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger vir kykNET-kosreekse (waaronder Kokkedoor) saamgestel.
  • Suidooster was die eerste Suid-Afrikaanse sepie wat ’n Moslem-troue vir kykers gewys het. Dit was in 2018 toe Rhafiek Samsodien (Irshaad Ally) met Carmen (Desiré Gardener) afgehaak het.
  • ’n Spesiale Suidooster-tydskrif met die A-Z van Suidooster het in 2023 verskyn ter viering van die sepie se 2000ste episode. 
  • Suidooster is een van die Afrikaanse programme met die grootste sosiale media gemeenskappe. Suidooster het 436 000 volgelinge op Facebook en 110 000 volgelinge op Instagram.  
  • Talle opspraakwekkende storielyne het koerantplakkate oor die jare gehaal. Een van dié was diedie poligamie-storielyn met AB (Cedwyn Joel) en Farah (Lee-Ann van Rooi). Dit was op 7 Oktober 2020 toe AB vir Farah Adjerahn as sy tweede vrou gevat het.
  • Tydskrif-voorblaaie was volop, waaronder Bridgette (Denise Newman) se “Ben Ten”, oftewel Donovan vertolk deur Marvin-Lee Beukes.
  • Radio-gesprekke soos die skielike dood van AB (Cedwyn Joel) nadat hy in die teenwoordigheid van sy vrou, Mymoena (Jill Levenberg) gesterf het nadat hy deur per ongeluk deur ’n sluipmoordenaar geskiet is. Die eintlike teiken was Dirk (Evang Hengst).
  • TV-nuus is ook gehaal met die bose Orpa Blignaut-storielyn (Marissa Drummond) wat saam met haar man, James (Dries Botha) onder die vrome vaandel geld uit Ruiterbosch se kerkmense gepers het.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies