Menu terloops
In Sepies [19 Sep 2025]

Kyk nou: ‘Suidooster’ se Bianca vind (uiteindelik!) geluk met Siya 


Tien jaar, tien mislukte verhoudings, maar dit lyk asof ‘Suidooster’ se Bianca (Simone Biscombe) uiteindelik wederkerige liefde met Siya (Gantane Kusch) gevind het. Siya kon immers net staar toe Bianca, sprokiesmooi in haar trourok, haar verskyning gemaak het vir hul liefdesbeloftes voor die kansel. Ons het agter die skerms op dié troue gaan loer. 

Kyk nou: ‘Suidooster’ se Bianca vind (uiteindelik!) geluk met Siya 

Tien jaar later, en nog steeds slaag Suidooster daarin om kykers landwyd weeksdae vasgenael voor die kassie te hou. Daar kan natuurlik gevra word hoekom hierdie een van kykNET se gewildste Afrikaanse sepies is, en die antwoord is eenvoudig: Wat in die fiktiewe Ruiterbosch gebeur, is iets waarmee elke kyker kan identifiseer. Van versmaaide liefde en verraad tot flonkerende diamante en geluk, speel die lewe in hierdie denkbeeldige voorstad af asof in parallel met die werklike lewe.

Kyk dan nou net die doringbesaaide liefdespad wat Bianca Fourie (Simone Biscombe) die afgelope dekade moes trotseer. Haar hart is al tien keer gebreek en kykers kon nie help om te wonder of sy ooit ware en wederkerige liefde sal ervaar nie. 

Van hartseer na heling 

Met die onlangse ontwikkeling van ’n potensiële liefdesdriehoek tussen haar, Riaan Vosloo (Daniel Coetzee), pastoor Siya Thuli (Gantane Kusch) en Aiden Booysen (Theodore Jantjies) het kykers ook kant begin kies. En nie almal was gelukkig met haar keuse nie!

Siya, die man wat as dokter haar in 2019 in haar stryd teen verslawing bygestaan het, het weer haar hand én liefde gewen. 

Dit is natuurlik ’n ope vraag of sy hom tog heeltemal vergewe het vir die feit dat hy haar destyds met haar vriendin, Danni (Vashti Prins), verkul het . . . Kykers weet immers teen hierdie tyd dat die Kaapse Dokter geneig is om dinge oop te waai. Jare gelede se gebeure verdwyn nie noodwendig vir altyd nie…

Op Vrydag 19 September het die twee hulle wonder bo wonder saam voor die kansel bevind. En dit het behoorlik in Ruiterbosch gegons want wie kan dan nou ’n troue weerstaan? veral as dit iemand soos hul geliefde Bianca is wat lyk of sy uiteindelik ook geluk gevind het. 

Hier is wat Simone oor haar karakter se huwelik sê:
Wat beteken Bianca se huwelik vir jou?
“Ons almal het ons eie pad om te stap en niemand se pad is reg of verkeerd nie. Die feit dat Bianca na tien jaar in Ruiterbosch tot trou gekom het, beteken dat sy gereed is vir ’n nuwe hoofstuk in haar lewe.”

Hoe sal jy Bianca se persoonlikheid beskryf?
“Sy is baie nederig, toegewyd en plaas altyd almal se belange bo haar eie. So het sy haarself al telkemale in die voet geskiet. Al lyk dit dalk nie so nie, het sy eintlik baie selfvertroue en dit wys in haar vermoë om nooit op te gee nie, ongeag of dit nou haar werk of die liefde is.” 

Hoe was dit om hierdie troutonele te skiet? Wat was vir jou lekker daarvan en wat was uitdagend?
“Ek het ná tien jaar geleer dat hierdie tipe tonele lank vat om geskiet te word en daarom het ek ’n klomp rituele in plek gesit voor ek ’n dag soos dit aanpak. Dit is natuurlik altyd lekker om bietjie op te dress en iets anders as die normaal te doen.”

Wat wag nou vir Siya en Bianca?
“Siya en Bianca se huwelik begin nie as ’n tradisionele huwelik nie omdat hulle elkeen kinders het. Dit kan ’n groot aanpassing vir almal wees, maar veral vir Brendan. Hy is Siya se aangenome seun en hy het self ’n stormagtige verlede. Boonop bevind hy homself nou in ’n sensitiewe lewensfase.”

Bennie maak (mooi) moles

Almal was daar om te help, maar dit was veral Bennie (Richard September) wat gesorg het vir ekstra spanning en tog ook ’n bietjie verligting met sy eie “pikkewyn-trouprogram”. Hy het ook planne gehad om Kupido te speel vir alleenlopers Riaan en Lee-Ann (Portia Joel). Dít terwyl hy die dolverliefde paartjie Justin (Eden Classens) en Frankie (Mienke Ehlers) moes keer om té vryerig in die kerk te wees. 

Natuurlik het sy planne tot groot onsteltenis van Kate (Annelisa Wieland) en Mrs. J (Theresa Sedras) gelei. Hulle het ’n kompromie getref dat Bennie sy trouprogram saam met die oorspronklike trouprogram kon uitdeel, maar dat hy nie vir die trougaste kon aansê waar om te sit nie. 

Bennie kon egter natuurlik homself nie keer nie. Toe Lee-Ann iewers anders probeer sit het in die kerk, het hy haar ferm met ’n “jislaaik” reggehelp en haar tussen Riaan en Kate laat sit.

Wel nog ’n bietjie drama vorentoe… 

Ook by die pastorie het dinge nie verloop dinge soos dit moet nie. Siya se aangenome seun, Brendan (Caleb Arnolds), was glad nie ingenome met die trou-besigheid nie. Inteendeel, hy wou nie vir Bianca of haar dogter, Stella (Tovia Julius), naby die pastorie sien nie. Daar’s duidelik ’n paar onaangename gedagtes oor die naderende troue wat in sy kop rondgemaal het, al het hy probeer om dit vir Siya weg te steek.

Terwyl Bianca besig was gereed te maak vir haar troue, het die trane oor haar wange begin stroom. Die spoke van die afgelope tien jaar se mislukte verhoudings het duidelik ’n merk op haar gemoed gelaat. En sy was ten volle bewus daarvan dat Brendan dinge nie makliker vir haar gaan maak nie. Boonop was haar grootste vrees dat Siya kop gaan uittrek  . . . 

Mymoena (Jill Levenberg) het op ’n baie praktiese manier Bianca se vrees probeer besweer. Tog is daar ook iets wat aan haar knaag. Wat weet sy?

Brendan het wel by die kerk opgedaag en Siya was duidelik verlig daaroor. Tot waar Bianca sprokiesmooi in haar trourok haar verskyning gemaak het – toe kon hy net na haar staar. 

Maar hoekom was Nazeem (Irvine van der Merwe) tydens die treffende seremonie met sy foon besig eerder as om na die trou-boodskap te luister? Iets is daar aan’t gebeur en met Nazeem se rekord kan niks goeds voorlê nie.

Een van die spannendste oomblikke was toe daar gevra word of iemand beswaar teen die huwelik wil aanteken. Brendan het gelyk asof hy op die nippertjie was om iets te sê, maar hy het genadiglik geswyg.

Kitsfeite
Bianca se rok is van die Paarlse ontwerper Adri Andrews en Siya se pak was van Markhams. Die kleurskema/tema was die lente-seisoen.

Die Suidooster–span het die onthaal voor Filmscape se massiewe LED-skerm by Atlantic Studios geskiet. Dié skerm is tegnologies die grootste en mees gevorderdste van sy soort.

Nog paartjies koer

By die onthaal na afloop van die huwelikseremonie het Frankie en Justin al te liefies met mekaar gekoer, tot groot argwaan van Bennie. Intussen het die gaste tevergeefs gewag op strooijonker, Brendan, se toespraak. Dié rakker het tussen neus en ore verdwyn al het hy vir Siya belowe hy sal ’n paar woorde praat.

Gelukkig was Bennie byderhand om meer te vertel oor die twee pikkewyne op sy eie trouprogram . . .

Toe Brendan eindelik weer sy opwagting by die onthaal maak, was dit duidelik dat hierdie hardkoppige tiener sake nie maklik gaan maak vir die nuwe paartjie nie. Gaan dit enigsins ’n verandering in hom teweeg bring wanneer hy besef dat Bianca, nes hy, ook ’n aangenome kind is?

Elders

Die vonke het gespat toe Amanda (Lindie Strydom) haar man, Mike (Anrich Herbst), se nuwe liefie gaan konfronteer het. Tuis het dinge ook sleg afgeloop tussen Mike en Amanda. 

Mike wou ewe verwytend van haar hoor of sy hom in hul liefdelose huwelik vasgevang gaan hou. Ten spyte daarvan het Amanda by hom gesmeek om haar nie in die verleentheid te stel nie. Gaan hy haar podcast laat sneuwel en sy lewe met Ilse kies? Of gaan hy vir Amanda genoeg grasie bied om haar voete te vind?

By die onthaal het Bridgette (Denise Newman) die skokkende boodskap ontvang dat Shandy (Kay Smith) uit die tronk ontsnap het. Maar het Nazeem dalk iets daarmee te doen? Iets aan Denise se houding verklap dat sy dit vermoed.  


Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies