Jou tyd loop uit om op dié oes boere te waag… Inskrywings vir die 18de seisoen van Boer soek ’n vrou se hubare boere moet voor middernag op 4 Desember 2025 ingedien word.
Vir wie kan jy skryf?
Leandi (36), ’n beesboer van Ventersdorp, Noordwes
Leandi is op soek na ” ’n Godvresende man wat die beste weergawe van myself kan uitbring. Hy moet gedrewe wees en sy eie aspirasies en drome hê. Hy moet sterk maar saggeaard wees en my op die hande dra. Hy moet beslis lief wees vir die natuur en diere.” Leer ken vir Leandi.
Arno (28), ’n bosbouboer van Tzaneen (Limpopo)
“Ek verlang na ’n egte, eenvoudige en eerlike verhouding – iemand wat my waardes deel, wat saam met my kan groei en die mooi en die uitdagings van die lewe saam met my kan dra,” vertel Arno. Leer ken vir Arno.
David (43), gemengde boerdery by Vierfontein (Vrystaat)
David droom van ” ’n sterk, stylvolle en sagte vrou – iemand wat haar eie pad stap, maar ook bereid is om hande te vat. ’n Vrou wat saam met my kan lag, bid, bou en droom. Iemand wat nie net my maat is nie, maar ook my beste vriend.” Leer ken vir David.
Jack (30), ’n appel- en peerboer, Hermanus (Wes-Kaap)
“Spreuke 27:17 sê dit vir my die beste. Ek soek na iemand wat my uitdaag en met wie ek kan groei; iemand wat hul eie stempel kan afdruk; iemand sportief en slim wat ook hou van lekker lag, dans, uitdagings en kattekwaad aanjaag,” vertel Jack. Leer ken vir Jack.
JD (28), gemengde boerdery by Reitz (Vrystaat)
Dié boer meen hy “het baie liefde om te gee, en ek verlang na ’n maat wat my kan liefhê vir wie ek is, en wat saam met my ’n lewe wil bou – nie net in die hart nie, maar ook op die grond. Iemand wat nie net lief is vir my nie, maar ook vir die plaas, die diere en die rustigheid van die platteland. Ek glo in opregtheid, in goeie geselskap rondom ’n vuur en in hande wat saamwerk deur seisoene van droogte en oorvloed. Dis hoekom ek hier is – in die hoop om daardie een spesiale persoon te vind wat my wêreld sal verstaan en aanvul.” Leer ken vir JD.
Francois (34), ’n natuurbewaarder van Hoedspruit (Mpumalanga)
“Onafhanklik, intelligent, aktief, bereid om in afsondering te woon en iemand wat my laat lag en gemaklik voel,” is hoe Francois sy ideale pasmaat beskryf. “Ek glo Boer soek ’n vrou is ’n uitstekende platform om iemand te ontmoet wat al daardie kwaliteite het en tog gelukkig sal wees om by my lewensomstandighede te kan inpas.” Leer ken vir Francois.
Junior (35), gemengde boerdery by Bethlehem (Vrystaat)
Junior meen ” ’n gesonde verhouding het ’n gesonde balans. Ek het ook geleer dat mens dit nie kan ryp wens of druk nie. As die tyd nie reg is nie, sal dit nie werk nie. Ek het geleer om op my instink te vertrou en nie redes te soek hoekom ek reg of verkeerd is nie, maar eerder te vertrou op wat ek weet en voel. Vertroue word verdien en is nie vanselfsprekend nie.” Leer ken vir Junior.
Jacques (32), ’n makadamianeutboer van Nelspruit (Mpumalanga)
“Ek het nie baie verhoudings in my lewe gehad nie, maar wel ’n baie lang verhouding wat nie uitgewerk het nie. Alhoewel dit groot letsels gelaat het en my hart aan skerwe was, het ek beter daarvan afgekom. Die vrou wat my nou ontmoet, gaan met die beste weergawe van my wegloop,” vertel dié boer. Leer ken vir Jacques.
Luan (25), skaapboer van Strydenburg (Noord-Kaap)
Luan vertel hy het ingeskryf vir die reeks, “want ek is geestelik en emosioneel gereed om iemand te ontmoet saam met wie ek ’n toekoms kan begin. Ek soek ’n vrou wat lief is vir die Here en weet waar haar krag vandaan kom. Iemand wat lag en lewe. Sy moet my kan ondersteun soos wat ek ook vir haar sal doen.” Leer ken vir Luan.
Willie (37), bees- en mielieboer van Harrismith (Vrystaat)
Dié boer wil graag iemand ontmoet met wie hy “reguit, deeglik en eerlik kan wees en vir wie ek nie halwe waarhede hoef te vertel nie. ’n Mens moet kan aanpas bymekaar en mekaar kan aanvul. Ek is ’n spontane mens, en dit sal lekker wees as sy ook so iemand is. Dis belangrik om tussen mense te wees. Jy kan nie heeltyd net in jou eie omgewing met jouself wees nie. ’n Lekker sin vir humor en gebou vir lag saam met mense – dís die mens na wie ek soek.” Leer ken vir Willie.
Wil jy vir ’n boer skryf?
Diegene wat vir een van die hubare boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 4 Desember ingedien word.
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse: Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129 OF
Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.
Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom.
Wanneer is dit op die kassie?
Reandi Grey bied vir die tweede keer Boer soek ’n vrou aan. Die nuwe seisoen van Boer soek ’n vrou sal van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai word. Kykers sal dan weer die boere se liefdesreise kan volg. Die reeks sal, soos altyd, fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.
Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op DStv Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax.







