In die eerste paar minute van die nuwe Afrikaanse hospitaaldrama op kykNET, Hartklop, ontmoet ons die ses hoofkarakters met wie se lewens ons oor die verloop van die storie baie bekend gaan raak. Elkeen het natuurlik hul eie storie, maar daar is een ding wat al ses in gemeen het: Beyers Naudé Akademiese Hospitaal, ’n staatshospitaal in Johannesburg en die top-opleidingshospitaal in die land.
Van die ses hoofkarakters is drie dokters wat in die eerste episode vir hul eerstejaarinternskap aanmeld.
Wie’s wie?
Simoné Pretorius (Binnelanders, Hotel) speel dr. Elani Breytenbach. Elani kom uit ’n bevoorregte huis. Haar ma is ’n regsgeleerde wat engiets en alles vir haar dogter sal doen. Haar kliniese assistent en direkte hoof is dr. Veronica Pietersen (Renate Stuurman) en die konsultant, oftewel die hoof van die afdeling, is dr. Suzanne de Jongh (Marlee van der Merwe). Christo Davids is te sien as Sollie, Dr. Veronica Pietersen se man.



Carla Classen (Stroomop, Lioness) speel dr. Karima Salie. Karima wil haar konserwatiewe agtergrond agterlaat. Sy en Elani was kamermaats op Tukkies. Karima werk in ongevalle onder die kliniese assistant dr. Louw van Onselen (David Louw) en die hoof van hul afdeling is dr. Daniel Strydom (Jacques Bessenger).



Oros Mampofu (Skeem Saam, Savage Beauty) vertolk die rol van dr. Fezile Nodada, ’n jong man uit die Oos-Kaap wat as ’n chirurg wil kwalifiseer. Hy is egter by ’n kruispad wat sy Afrika-tradisies en sy praktiese toepassing van westerse medisyne betref. Die kliniese assistent saam met wie hy werk, is dr. Jolene Joubert (Leandie du Randt). Die konsultant van chirurgie is prof. Gustav Coetzee (Dawid Minnaar).
Christel van den Bergh is te sien as Anke Dempsey, ’n hoogse bekwaamde verpleegster in die noodafdeling.




En nog…
Ander groot name in die rolverdeling (sommige deurlopend en ander gasrolle) sluit in Arno Marais, Rika Sennett, Thulani Mtsweni, Susan Coetzer, Vusi Thanda, Esmeralda Bihl, Elma Postma, Francois Jacobs en Bouwer Bosch.
Opgeleide verpleegsusters het ook met die verfilming van die operasietonele gehelp om dit so realisties moontlik te maak.
Die reeks is deur Zoë Laband (The Girl from St. Agnes) geskryf en die regisseurs is Harold Hölscher en Christo Davids.
Hartklop begin op Dinsdag, 18 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up beskikbaar wees.