Menu terloops
In Gons [25 Apr 2025]

Roeline Daneel se ‘volsirkeloomblik’ as joernalis in Afrikaanse drama, ‘Die nuusmakers’


Hoewel haar rol as ’n taai TV-verslaggewer in die nuwe kykNET-dramareeks, ‘Die nuusmakers’, dramaties van haar vorige karakters verskil, bring dié vertolking vir die aktrise Roeline Daneel ook volsirkel meer as 15 jaar nadat sy self ’n joernalistiekstudent was.

Deur Rozanne Els
Roeline Daneel se ‘volsirkeloomblik’ as joernalis in Afrikaanse drama, ‘Die nuusmakers’

kykNET se nuwe dramareeks, Die nuusmakers, vertel die storie van ’n onverskrokke nuusspan wat dag in en dag uit die bulletin vir die aandnuus op televisie saamstel. Benewens Niggies en Fynskrif se Roeline Daneel wat die rol van TV-verslaggewer Karla vertolk, maak Rolanda Marais, Brendon Daniels, Lea Vivier en Arno Greeff ook deel van die hoofrolverdeling uit.

Die spil van Die nuusmakers draai hoofsaaklik om Rolanda se karakter, die gesoute nuusleser Adri Joubert. Adri is al vir twee dekades die koel, kalm, gerusstellende gesig en stem van die aandnuus. Maar dan gebeur iets met haar man, en sy beleef hoe haar eie lewe nuus word soos ’n nasionale krisis ook die land ruk. Sy word gedwing om haar persoonlike trauma opsy te skuif om kykers deur die noodtoestand van voor die kameras te lei.

Rolanda Marais vertolk die hoofrol in Die nuusmakers. Foto: Verskaf

’n Mediaverklaring lui dat die reeks, wat in Johannesburg afspeel, nie net die aard van nuusverlaggewing onder die loep bring nie, maar ook lig werp op die mense agter die skerms, hul ambisies, die konflikte waarin hulle gewikkel is, asook die alledaagse uitdagings en oorwinnings wat hulle ervaar.

‘Samesmelting van twee wêrelde’

Roeline vertel dat haar rol in Die nuusmakers ’n volsirkeloomblik vir haar verteenwoordig. Dié aktrise het immers ná haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch, ook haar honneursgraad in joernalistiek verwerf.

“Toe hierdie geleentheid vorendag kom – ek wou dit baie graag hê, want dit voel vir my soos ’n samesmelting van die twee wêrelde (drama en joernalistiek) waarin ek myself bevind het,” vertel sy. “Dit voel soos ’n volsirkeloomblik. Die tipe gesprekke wat ons as ’n span op stel gehad het oor wat nuus is en hoe ’n mens nuus benader was soos ’n terugflits na 2009 in my BPhil-jaar toe ons presies daai selfde gesprekke gehad het. Ook die gesprekke oor die media in krisis. Dít is ook iets baie interessant waaraan hierdie reeks raak. Dit is ’n baie aktuele kwessie, veral ten opsigte van wat oor die laaste ruk met koerante gebeur het,” voeg sy by. 

‘Wie’s daar nog?’

Dié rol is ook ’n manier vir Roeline om ’n anderste tipe karakter aan te pak – iets wat sy gretig was om te doen. Toe sy gevra is om te oudisie, vertel Roeline, was dit vir ’n karakter wat baie soortgelyk aan van haar vorige rolle was.

Die nuusmakers
Roeline Daneel in Die nuusmakers. Foto: Verskaf

“Toe vra ek vir my agent, ‘Maar wie is daar nog?’. Sy stuur toe vir my Karla, en iets het net dadelik met my geresoneer,” deel Roeline. Sy vertel laggend dat dit “dalk ’n bietjie cheeky” van haar was om so reguit vir ’n ander karakter en geleentheid te vra, maar met Karla wyk sy af van hoe sy as aktrise as die “sagte, kind, motherly type,” getipeer is. 

“Karla is die totale teenoorgestelde. Sy is gritty. Sy gebruik seks as ’n blote tydverdryf en sy wil nie trou nie. Sy’s hardcore; sy vloek; sy rook. So dit is nogal ’n sprong van wie ek gewoonlik vertolk.”

En dis lekker om haar te speel, voeg Roeline by. “Omdat sy anders is. Maar ook omdat ek joernalistiek geswot het. Ek kon dele van haar amper ‘steel’ van mense wat in my joernalistiekjaar saam met my geswot het, maar só ook van mense wat ek in die TV-bedryf ken.”

Van ‘Niggies’ tot ‘Nuusmakers’

Roeline is ook tans in Niggies te sien. Dié waremisdaaddrama saai op kykNET uit en is gegrond op die ontvoering en moord van twee niggies, Issie Fourie en Petro Nel, in Odendaalsrus in 1966.

Roeline Daneel, Niggies
Roeline Daneel in Niggies. Foto: Verskaf

“Dit was ongelooflik,” sê sy oor dié ervaring. “Ek was lanklaas so opgewonde oor ’n projek. Toe daai teks deurgekom het, het ek dit gelees asof dit ’n roman is wat ek net nie kon neersit nie. En dan ook net om te werk met ’n ongelooflike span, voor en agter die kamera. Dit was werklik ’n droomprojek gewees.”

Oor die verskil tussen Niggies en Die nuusmakers, sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale, dat “waar ’n program soos Niggies ’n tragiese gebeurtenis met tyd en afstand kon dokumenteer, bied Die nuusmakers ’n blik op die ongelooflike spoed waarteen nuus breek en verpak moet word – en die tol wat dit eis van diegene wat vooraan staan in elke vreugde, frustrasie en hartseer wat die land ervaar, terwyl hulle self ook hierdie gebeure moet verwerk.”  

Wie is nog voor die kamera?

Die nuusmakers vertel die storie van ’n nuusspan wat dag in en dag uit die bulletin vir die aandnuus op televisie saamstel. Foto: Verskaf

Die rolverdeling is omtrent lywig.

Nog akteurs wat te sien is, sluit in Lesley Maasdorp, Hannah Borthwick, Chris van Rensburg, Chris van Niekerk, Heinrich Wentzel, Susanne Beyers, Dorette Potgieter en Melissa de Vries. Dan maak spelers soos Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg, Loren Loubser, Nahum Hughes, Martelize Kolver, Ira Blackenberg en Kristen Raath ook hul verskyning.  

Agter die skerms

Die nuusmakers word vervaardig deur Both Worlds (Recipes for Love & Murder), onder leiding van Karen Jeynes, Thierry Cassuto, en Annemarie Du Plessis (Koek). Jeynes skryf en regisseer ook en is saam met Marvin-Lee Beukes agter die kamera. Jozua Malherbe, Ludwig Binge, Kabous Meiring en Hélène Truter dra met hul skryfwerk by.

“In ’n era van fopnuus en diepvervalsings, vra Die nuusmakers wie ons vertrou – en waarom. Adri Joubert verteenwoordig ’n generasie nuuslesers wat soos familielede in Suid-Afrikaanse huise geword het,” kom dit van Karen. “Haar reis weerspieël ons gesamentlike stryd om by veranderende realiteite aan te pas.”

Op sy beurt sê Cassuto dat die nuuskantoor die ideale omgewing vir ’n TV-drama is om in af te speel. “Hoë druk, onmoontlike sperdatums en kleurryke karakters wat almal dieselfde doel nastreef, maar dikwels met botsende metodes werk. Voeg daarby Adri se persoonlike tragedie, en jy het ’n emosionele kruitvat waarbinne die storie afspeel,” voeg hy by.  


Die nuusmakers begin Dinsdag, 27 Mei om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies