Sy hou daarvan om jong talent te vind, af te rig en te ondersteun. “Dit is soos om poeding te eet,” vertel die bekroonde aktrise Ira Blanckenberg. “Daar is niks lekkerder vir my as om ander akteurs te help om hul deure van kreatiwiteit oop te maak en hulle te sien skitter nie.”
En in Showmax se nuwe Afrikaanse reeks, Spooksoeker, skitter die tienersterrre wat Ira as dié reeks se rolverdeling-regisseur gevind het, omtrent blink en helder. Episodes word weekliks vanaf Donderdag, 5 Desember, op Showmax beskikbaar gestel.
Spooksoeker is gegrond op die veelbekroonde François Bloemhof se topverkoperboeke vir jong volwassenes, met Rico Immelman as Warno en Zarelda de Bruin as sy vriendin, die girl-next-door, Melissa. Joshwin Dyson, wenner van die 2023 Silwerskermtoekenning vir beste byspeler in ’n speelfilm vir Old Righteous Blues (Suid-Afrika se inskrywing vir volgende jaar se Oscars) en ’n dubbelbenoemde by vanjaar se Aardklop-kunstefees, vertolk Allies, Warno se beste vriend.
Die storie skop af met Warno Alberts se vyftiende verjaardag as hy skielik ’n ongewone… “talent” ontwikkel. Warno skrik hom boeglam as hy besef hy kan spoke sien. Boonop blyk dit ook om sy taak te wees om van hulle ontslae te raak.
Ira, self ’n Safta-benoemde aktrise vir Toorbos, een van Suid-Afrika se vorige Oscar-inskrywings, is nommerpas as rolverdeling-regisseur van dié tienerreeks: sy het verlede jaar die Proscenium-toneelkompetisie vir hoërskoolleerders op die been gebring, bestuur reeds 15 jaar lank haar eie dramaskool, en dien al sowat 12 jaar lank as ’n beoordelaar van die ATKV-Tienertoneelkompetisie.
As daar jong talent gesoek word, kan jy geld wed dat Ira iets besonders sal vind. Sy het met Rozanne Els gesels.
Kan jy meer vertel oor hoe het jy te werk gegaan om die akteurs vir Spooksoeker te vind?
“Om die rolverdeling saam te stel, was uitdagend omdat ons nie seker was binne watter ouderdomsgroep ons gesoek het nie. Dit is altyd ’n uitdaging as ’n mens met tieners werk, want hulle lyk so verskillend. Party lyk nog so jonk en party lyk reeds soos volwassenes. ’n Seun wat 16 is, lyk partykeer 23, maar dan kry jy ook 23-jariges wat 16 jaar oud lyk. En dan moet jy ook mense van die regte lengtes bymekaar kry en seker maak almal lyk min of meer soos dieselfde ouderdom.
“Wat ongelooflik is van die vervaardigers, is dat hulle drome wil waar maak. Jean-Pierre de Waal, medestigter en -eienaar van Starscape Motion Pictures, droom al seker vir agt, nege jaar daarvan om hierdie reeks te maak, en dit was van die begin af duidelik dat hulle ook jong akteurs se drome wil waar maak.
“Dít was altyd die uitgangspunt: om daai akteurs te vind wat magic wil maak en wat groot drome het om toneel te speel.”
Is daar iets spesifiek waarvoor jy uitkyk as jy met die rolverdeling-regie besig is?
“Natuurlik soek jy mense wat hard kan werk en jy soek pligsgetroue mense. Dít is baie belangrik as ’n mens aan ’n TV-reeks werk, want die ure is iets allerverskriklik, so ’n mens het definitief baie hardwerkende akteurs nodig.
“Jong, en dan soek jy daai ietsie. Daai ietsie is ’n moeilike dinge om te beskryf. Ek sê altyd vir die jong akteurs, ‘As dit lyk asof jy nie toneelspeel nie, dan is jy op die regte pad.’ Daar was ’n bekende rolverdeling-regisseur in Suid-Afrika wat ook een keer vir ’n bekende aktrise gesê het, ‘Kan jy net ophou toneelspeel sodat ek kan sien of jy kan toneelspeel?’
“So dit is dáái ding; ’n x-faktor van eerlikheid. Ek dink die grootste dinge waarna ek soek, is eerlikheid, dat die spel uit die hart uit is, en weerloosheid.”
Spooksoeker is werklik ’n grensverskuiwende TV-reeks vir Afrikaans. Dit is gemik op tieners, maar ek dink die hele familie gaan vasgenael voor daai skerm sit. Wanneer het ons al ooit ’n spookreeks, ’n werklike grilreeks op televisie, in Afrikaans, gekyk? Ek dink nie ons het dit al ooit gesien nie.
Ira Blanckenberg
Jy het ook nogal ’n rakker van ’n spook op die reeks vertolk. Het jy dit geniet?
“Ek het ’n spook saam met my man, Waldi Schultz (Die Byl), gespeel, en ons het vet pret gehad. Al verskyn Waldi en ek net in een episode, maak ons lekker amok. Ek kan nie wag om dit op die skerm te sien nie.
“En dit was natuurlik heerlik om teenoor die jong akteurs saam met wie jy nou al so ’n lang pad mee gestap het, te speel. Om te sien hoe hulle groei was net fantaties. Teen die tyd wat ons op die stel gekom het, was hulle al so lank aan die gang en hulle is soos ou, ou, akteurs. Hulle was professioneel, hulle weet wat hulle doen, hulle was so gemaklik. Dit was absoluut wonderlik om te sien.”
Wat staan vir jou uit van ’n reeks soos Spooksoeker?
“Spooksoeker is werklik ’n grensverskuiwende TV-reeks vir Afrikaans. Dit is gemik op tieners, maar ek dink die hele familie gaan vasgenael voor daai skerm sit. Wanneer het ons al ooit ’n spookreeks, ’n werklike grilreeks op televisie, in Afrikaans, gekyk? Ek dink nie ons het dit al ooit gesien nie.
“Ek dink mense gaan lekker gil en skree en lag vir wat jy sien. Ek dink dit is lekker om so op die punt van jou stoel te sit en te skrik en bietjie bang te word en te gril.
“Die karakters is interessant, hul storielyne is interessant en hoe hulle dan van hierdie spoke probeer ontslae raak, is net werklik pret.
“En dan, natuurlik, is daar die persoonlike stories van hierdie kinders, wat by die skool aangaan, verhoudings met familie, verhoudings met mekaar… En dit hou baie verrassings in. Daar is werklik iets vir almal.
“Ek is opgewonde om te sien wat dit vir die Afrikaanse gehoor gaan beteken. Ek hoop dit is die begin van baie Spooksoeker-seisoene, en dat ons sal aanhou om ’n bietjie meer te waag wat Afrikaanse reekse betref.”
Daar is vir my niks lekkerder as om op die verhoog, of voor die kameras te wees en dan dadelik daarna al daai kennis wat ek opgedoen het, terug te ploeg nie. Ek is nie gebore vir ’n agt tot vyf-werk nie. So dit is vir my absoluut wonderlik om 10 000 verskillende goed te doen.
Ira Blanckenberg
Wat is jou beste raad vir jong, aspirant-akteurs, wat toneelspel hul loopbaan wil maak?
“My raad is om te weet hoe swaar dit kan wees. Daar is nie so baie werk nie. Jy moet aanhou klop aan deure, en jy moet bereid wees om platgeslaan te word. En as jy nie ’n rol kry nie, moet jy aanhou werk aan jou craft. Jy moet aanhou slyp aan jou toneelspelvaardighede en jy moet aanhou en aanhou aan deure klop en net nooit opgee nie. Iewers gaan ’n deur oopmaak.
“As jy kan uithou en aanhou, is dit die mees bevredigendste werk in die hele wêreld.”
Hoekom het jy destyds jou dramaskool begin?
“Toe ons Kaap toe getrek het van Johannesburg af, ek dink 16 jaar gelede, het ons net van 7de Laan af gekom en ons het eintlik werk gesoek. Ek het in Johannesburg ’n bietjie klas gegee en ek het dit verskriklik geniet. My kinders was ook jonk op daai stadium, en ek het werklik daarvan gehou om met jong kinders te werk en so het ek my dramaskool op Somerset-Wes begin.
Ek het nooit gedink dat ek so lief daarvoor sou wees nie. En dit het net gegroei en gegroei en gegroei. Tans is dit vol (met 85 leerders); dit bars as sy nate uit. Ek rig jong mense van graad 1 tot matriek af. Die akteurs is vir my baie lief, en ek vir hulle, en ek dink ons leer verskriklik baie by mekaar.
“Daar is vir my niks lekkerder as om op die verhoog, of voor die kameras te wees en dan dadelik daarna al daai kennis wat ek opgedoen het, terug te ploeg nie. Ek is nie gebore vir ’n agt tot vyf-werk nie. So dit is vir my absoluut wonderlik om 10 000 verskillende goed te doen.”
Ek is seker daar was al baie, maar wat staan uit as ‘n groot, trotse oomblik sedert jy dié skool bedryf?
“Ek dink my grootste hoogtepunte in my dramaskool is wanneer jy daai een in jou klas kry wat vir drie maande sukkel om haar of sy mond oop te maak. Stadig maar seker word daai kreatiewe deurtjies oopgemaak. Daardie selfvertroue onder hulle ouderdomsgroep word gebou en dan skielik eendag stap hulle in daai klas in en hulle babbel en hulle spring en hulle lag.
“Dít is vir my seker die ding wat vir my die ongelooflikste van drama is en hoekom ek aanmoedig dat elke liewe kind drama doen of by ’n dramaskool aansluit. Dit is nie om noodwendig eendag ’n akteur te word nie. Eerder vir wat dit kan beteken vir enigiemand se selfvertroue, vir die vermoë om in ’n groep te werk, om te kan praat, om te kan kommunikeer, om hulself te leer ken.
“Drama is werklik ’n ongelooflike ding vir die jeug.”
Spooksoeker is nou op Showmax beskikbaar om te stroom. Episodes word weekliks beskikbaar gestel.