Menu terloops
In Onderhoude [20 Nov 2024]

Van ‘Old Righteous Blues’ tot ‘Spooksoeker’: Joshwin Dyson se loopbaan lóóp


Joshwin Dyson, wat met sy uithalerspel in ‘Old Righteous Blues’, wat onlangs as Suid-Afrika se Oscar-inskrywing gekies is, beïndruk het, is eersdaags in die Showmax-tienerreeks, ‘Spooksoeker’, te sien.

Deur Rozanne Els
Van ‘Old Righteous Blues’ tot ‘Spooksoeker’: Joshwin Dyson se loopbaan lóóp

Joshwin Dyson is on a roll. Dié akteur het die toekenning vir beste byspeler vir sy rol as Elvin in Old Righteous Blues by verlede se Silwerskermtoekennings gewen, die einste fliek wat in Oktober vanjaar as Suid-Afrika se Oscar-inskrywing gekies is. En aan die begin van November is hy boonop vir twee Aardklop-toekennings vir Ken Jy Vir Dewie? en Laaitie Mettie Biscuits benoem. En vanaf 5 Desember 2024, speel hy in sy eerste Showmax Original-reeks, Spooksoeker.

Spooksoeker is gegrond op die veelbekroonde skrywer François Bloemhof se topverkoperboeke vir jong volwassenes, en volg die storie van Warno Alberts, wat met sy vyftiende verjaardag skielik van spoke in sy dorpie bewus raak… En dan besef dat hy die een is wat van hulle moet ontslae raak. 

Joshwin vertolk die rol van Allies, wie se vriendskap met Warno (Rico Immelman) sentraal tot die storie staan.

“Allies het nie baie vrinne nie, maar sy beste vriend is Warno en hulle is baie close,” sê Joshwin. “Hy is daai een vriend wat almal in hul lewe het, wat daar is vir jou. Die een wat alles sal doen om jou te beskerm, en baie lief vir jou is.  

Dít blyk dan om belangrik te wees, synde dat Warno duidelik beskerming nodig het. “Allies het ’n baie spesiale talent, as ’n mens só kan sê,” vertel hy. “Hy kry visioene van dinge wat gaan gebeur.”

Al lankal nie meer ’n tiener nie, maar…

Joshwin is 22, terwyl Allies ’n 15-jarige hoërskoolleerder is. Maar hulle het nogtans baie raakpunte, sê die akteur. “Om vir die rol voor te berei, het ek gedink aan hoe ek op hoërskool was, want Allies is een van daai leerders wat sy werk doen, en ek het ook altyd my werk gedoen. Maar die moeilikste ding was dat hy baie in sy kop lewe, en dis een van die goed waarmee ek meer my tyd gevat het soos ek uitgepluis het hoe om dít te speel. Hy dink baie. Voordat hy enigiets doen, dink hy eers; hy’s baie skepties oor alles. 

“Hy is ook baie lief vir sy vriende, en hy is baie lief vir sy ouma (vertolk deur June van Merch) en hy sal hulle voor homself plaas, want hy gee baie, baie om vir hulle. Ek kan myself daarmee vereenselwig. 

SPOOKSOEKER
Joshwin Dyson en Zarelda de Bruin in Showmax se Spooksoeker. Foto: Verskaf

“Ek dink nog iets wat ons deel, is hoe passievol ons is oor dinge waarvoor ons lief is. Hy is baie passievol oor enigiets wat hy aanpak, al is hy ’n bietjie bang. Soos die reeks vorder, sal die kykers sy reis meemaak en sien hoe braaf hy word.” 

Sommige dele van sy karakter was egter moeiliker om vatplek te kry, soos dat Allies eintlik ” ’n geeky ou” is, verduidelik Joshwin. “Allies ontwikkel toeps vir hom en Warno om op te speel. En nie dat ek dom is nie, maar Allies is baie slim,” sê hy laggend. “Ek ontwikkel nie toeps soos hy nie; ek het geen benul hoe om dit te doen nie. En ek kry ook nie visioene nie. 

Allies leef ook baie in sy kop, meen Joshwin. “Voordat hy enigiets doen, dink hy eers. Hy’s baie skepties oor alles.” 

Van vreemdelinge tot vriende

Die rolverdeling is rêrig propvol bekende akteurs, maar dit was veral die bande wat hy met Rico en Zarelda de Bruin (in die rol van Melissa) gesmee het, wat vir hom baie spesiaal is.

“Om saam met Rico en Zarelda te wees en te speel in hierdie reeks was net een van die beste dinge ooit. Ek dink die eerste dag wat ons mekaar by die repetisies ontmoet het, het ons net onmiddellik gekliek. Ons het geweet as ’n span het ons ’n doel gehad. Nie net in verband met die storie nie, maar ook as akteurs, om ons beste te gee, en mekaar te ondersteun. 

Spooksoeker, Joshwin Dyson
“Ek dink die eerste dag wat ons mekaar by die repetisies ontmoet het, het ons net onmiddellik gekliek,” vertel Joshwin Dyson oor die band wat hy met medespelers Rico Immelman en Zarelda de Bruin gevorm het. Foto: Verskaf

“Agter die skerms was ons ook ’n kliek gewees en ons wat net heeltyd bymekaar. Die band tussen ons het net gegroei. Dit was baie lekker gewees om saam met hulle te speel. Ons het altyd uitgesien om saam met mekaar in ’n toneel te wees, of dit nou al drie van ons was of twee van ons was, want oor die weke heen het ons het ’n goeie, sterk band ontwikkel. Die laaste dag was nogal emosioneel. Hulle is albei briljante jong akteurs wat nog groot dinge gaan doen,” deel hy.

Van film tot TV

Hy vertel dat Spooksoeker soms meer uitdagend as sy werk op die stel van Old Righteous Blues was. “Met televisiewerk, soos Spooksoeker, is dit meer uitdagend om op die storie te fokus, want dit word verdeel in episodes met verskillende storielyne. So somtyds skiet jy ’n toneel uit episode 2 en dan is die volgende toneel uit episode 11. So dit is baie meer uitdagend om jou fokus te behou. Wat ’n fliek betref, is dit effens makliker, omdat dit een storie is.” 

Nog ’n uitdaging was om die gate in te vul wat vir die uitgebreide visuele effekte gelaat is. “As ’n akteur moet jy jou verbeelding gebruik, maar met hierdie was dit soos ’n hele paar vlakke op!” vertel hy laggend. 

Die visuele effekte word deur Fox and Wizard behartig, en word gelei deur Jonathan Alenskas, wat vir ’n Visual Effects Society-toekenning vir sy werk op die HBO-reeks, Warrior, benoem is. Hy het ook gewerk op reekse soos Plan BThe Gilded AgeThe Marvelous Mrs. Maisel, asook die fliek Blue Jean wat die gehoortoekenning by die Venice-filmfees gewen het.

Glo hy in spoke nadat hy in ’n reeks soos Spooksoeker gespeel het? “Dis so ’n eenvoudige, maar tog so ’n gekompliseerde vraag,” antwoord hy laggend. “Uhm… Ek sou sê, ja, en nee. Want soms in die aande is ek bang om in die donkerte in my huis te loop… maar ander aande is ek braaf.”


Spooksoeker is vanaf 5 Desember op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Mei 2025

Rachelle woeker met haar slinkse planne om Shani te verneder en die matriekafskeid kom al nader. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

‘Diepe Waters’: Dís die storielyne om in Mei dop te hou

Mei bring nie net nuwe wendings nie, maar ook selfontdekking, groei en opwindende moontlikhede in 'Diepe Waters'.

Meer

Redakteurskeuse vir Mei 2025: ‘Bridget Jones 4’, ‘Die brug S2’, ‘Die nuusmakers’ en meer

Wat om te kyk: 'Die nuusmakers', ’n nuwe Afrikaanse drama wat persoonlike en professionele drama in die nuuskantoor in oënskou bring; die gewilde avontuur-realiteitsreeks 'Die brug' se tweede uittog; Tina Fey in 'The Four Seasons', ’n reeks wat raakvat soos min; en Bridget Jones se vierde fliekavontuur – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Mei 2025

Aline se landerye vat vlam terwyl sy nog sukkel om die plaas se skuld te delg. En dan word sy boonop amper vergiftig! Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Mei. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies