Menu terloops
In Onderhoude [19 Nov 2024]

‘Diepe Waters’ se Dané de Waal groet: ‘Dit voel soos ’n breakup’ 


Dané de Waal, die aktrise wat kykers in haar rol as Charity Vorster op kykNET se ‘Diepe Waters’ betower het, het onlangs met ’n hartseer, maar opgewonde hart van dié telenovela afskeid geneem.

Stroom 'Diepe Waters'

‘Diepe Waters’ se Dané de Waal groet: ‘Dit voel soos ’n breakup’ 

Die aktrise Dané de Waal deel die mooi én moeilike ervarings van haar tyd op Diepe Waters, asook wat volgende op haar wag. 

’n Tyd van spesiale oomblikke

“Wat vir my die lekkerste op stel was, was die oggende voor ons begin skiet het,” vertel Dané. “Almal het eers ’n koppie koffie saam geniet en gesels. Dit was veral merkwaardig hoe vriendelik die cast en crew was – selfs al was dit halfses op ’n yskoue wintersoggend!”

Sy deel een van die spesiale herinneringe wat haar altyd sal bybly: “Melani van Real Housewives van Pretoria het een dag saam met ons swemmers tonele kom skiet. Ons was opgedollie met haar Tammy Tailor-naels, en my karakter (Charity) se aangeplakte lang naels het diamante gehad. Net voor my toneel verloor ek een nael in die toilet! Ek het almal op stel laat wag terwyl ek met ’n toilet plunger op soek was. Gelukkig het ek dit uiteindelik in my broekspyp gevind.”

Diepe Waters
’n Onthou-oomblik agter die skerms… Van links is Dané de Waal, Daniélle Swanepoel en Reze-Tiana Wessels. Foto: Verskaf

Nog ’n besondere herinnering vir Dané was die dae toe haar karakter op straat moes bly. “Charity het slegs uit een tassie geleef en uit ’n asblik geëet. Dit was moeilik, maar ongelooflik bevredigend om daardie rou emosie en menslikheid oor te dra.”

En dan was daar die glansgeleenthede: “As gevolg van Diepe Waters het ek geleenthede soos om die aanbieder van Dorp van die Jaar 2023 te wees, ’n Bravo!-onderhoud, en ’n rugbykuier saam met die cast en crew beleef. Ek moet sê, Reandi (Grey) het my selfs geleer om Black Label te drink!”

Maar dit was nie altyd maklik nie. Een van die grootste uitdagings was om swembadtonele in die winter en tydens beurtkrag te skiet. “Jy voel letterlik hoe jou tone vries!”

Diepe Waters, Dane de Waal
En toe wen hy haar hart… Liam Bosman as Johan met Dané de Waal as Charity. Foto: Verskaf

Lewenslesse

“Dit voel eerlikwaar soos ’n breakup,” sê Dané oor haar afskeid van die reeks. “Ek gaan die mense die meeste mis – hulle het my lewe ingekleur. Werner Coetser (Jacques), Justin Strydom (Gys), en Stiaan Bruwer (Henry) se grappies het beslis gehelp om die koue oggende en lang ure op stel draaglik te maak.”

Uit haar tyd as Charity neem sy kosbare lewenslesse saam. “’n Groot les wat ek geleer het, is om nie net te luister om te antwoord nie, maar werklik te luister om te verstaan.” 

Nuwe horisonne

Alhoewel Dané haar mense gaan mis, lê daar opwindende nuwe projekte en avonture vir haar voor. Sy sien uit om haar kêrel, Leon, in Swede te besoek. Dané help ook om haar suster se troue in België te reël.

Op die werkfront is sy besig met oorklanking, skryf aan ’n kortfilm, en het sy onlangs haar eie toneelspel-werkswinkel, Life to Lens Acting, begin. “Ek wil ander help om hulself as kunstenaars te ontdek en hul passie te volg.”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies