Van kykNET se eerste oorspronklike dramareeks, Song vir Katryn, tot Afrikaanse televisie se mees ikoniese speurder in Die Byl – sedert kykNET 25 jaar gelede begin uitsaai het, is ons plaaslike landskap van Afrikaanse stories én storievertellers verryk en verdiep. Hier is 25 programme – in chronologiese volgorde – wat ’n blywende indruk op ons en derduisende ander kykers gemaak het.
Kwêla

Première: 17 November 1999
Dié program, een van die kanaal se eerstes, is steeds soos stapelvoedsel onder kykers, met Hannes van Wyk wat in 2015 by Coenie de Villiers as aanbieder oorgeneem het. Hoewel daar baie bekendes al op die Kwêla-bank gekuier het, is dit die stories van sogenaamde “gewone mense” wat gereeld en liederlik aan ons hartsnare pluk. Hiervoor verdien die navorsers agter die skerms ’n pluimpie. Dié span kry dit week ná week reg om die ongelooflikste mense op te spoor en hul stories te vertel. Dít is die eintlike lokkrag van hierdie joernaalprogram. Die beroemdes is maar ’n bysaak.
Liriekeraai
Première: 15 Januarie 2000
“Só maak mens!” Kyk, al wil ek, kan ek nie help as om Soli Philander se stem te hoor as ek daai woorde lees nie. As die aanbieder van dié musiekspeletjies-program, het Philander die gehoor en kykers laat skater van die lag, terwyl twee spankapteine (Pedro Kruger en Celeste Williams wat vir wyle Saranti Reeders ná die eerste klompie seisoene vervang het) mekaar lekker opgestook het.
Song vir Katryn
Première: 10 April 2003
Die bekende rocker-troebadoer Valiant Swart is destyds behoorlik in die diepkant gegooi deur wyle Jan Scholtz, een van Suid-Afrika se reuse in die TV- en filmbedryf. As draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger van reekse soos Sonkring en Triptiek het Scholtz vir Swart oortuig om die skoene van ene Jinx in die reeks vol te staan. Jinx was soos ’n karakter uit ’n hygroman, heeltemal te goed om waar te wees. Die man was soos ’n rowwe weergawe van ’n aardse holy trinity: dokter, motorfietsryer én hy het sy eie band gehad. Een aand ontmoet hy vir Katryn (Therese Bam), ’n waitress by wie jy liefs nie skoor moet soek nie. Hul lewens vervleg vanaf daardie eerste ontmoeting, met Katryn se geheime en donker verlede wat kom spook.
In ’n onderhoud met Watkykjy, onthou Swart hoe hy aanvanklik vir Scholtz gevra het of hy maar nie eerder net die reeks se klankbaan kon doen nie. Maar dié wou niks daarvan hoor nie en was oortuig dat hy die “acting ding” sou kon baasraak.
Buiten dat die reeks ook ’n deurbraakrol vir Bam (néé Benade) beteken het, was dit boonop ook tematies grensverskuiwend (in die konteks van daai tyd). Hier het kykNET ’n kans gewaag met die uitbeelding van dwelm- en kindermisbruik, pornografie en meer. Soos Swart dit in daardie selfde onderhoud met Watkykjy se wyle Gifford Peché stel: “Dit was inderdaad rewolusionêr, wat dit eintlik makliker gemaak om oortuigend die rolle te vertolk. Want dit het gegaan oor regte issues en dinge wat oral om mens afspeel. Niks is versuiker nie. Ons het byvoorbeeld gevloek soos regte mense – ’n eerste vir Afrikaanse televisie. Baie mense kon 100% relate tot die situasies en die karakters – dit was baie real; nie net ’n simpel klugspel met potsierlike, tweedimensionele karakters nie.”
Villa Rosa
Première: 4 Oktober 2004
Villa Rosa, wat vir 11 jaar op die lug was, was die eerste sepie wat deur kykNET vervaardig is. Die storie, wat meerendeels gedraai het om ’n dramabesaaide gastehuis in Bloemfontein se mense, het ná 2283 episodes op 31 Maart 2015 tot ’n einde gekom. Die rolverdeling was luuks, met veterane soos wyle Lieb Bester en Shaleen Surtie-Richards, Harald Richter, Jana Nortier, Marisa Drummond, Therese Bam en ’n rits gasspelers wat aan die deur kom klop het.
Roer!
Première: Oktober 2004
Dié kosprogram het al baie gedaantewisselings ondergaan, insluitend die uitroepteken wat intussen weg is, ’n amperse dekade lange afwesigheid van die kassie, en aanbieders wat hul voorskote opgehang het. Die reeks het begin met Lise Swart as aanbieder, maar ná twee seisoene is dié rol deur die voormalige Mej. Suid-Afrika-deelnemer, Tammy-Anne Fortuin, oorgeneem. En was sy nie geliefd onder kykers nie! Sy en die Roer!-span groet in 2013, maar die reeks is verlede jaar as Roer, met die komediant Alfred Adriaan as aanbieder, herleef.
MK
Première: 2005
Oukei, oukei, so dis nie ’n program nie, maar dit verdien om op die lys te wees. Beslis. Want niemand sou die verreikende en deurdringende impak van kykNET se besluit om in 2005 ’n musiekkanaal te loods, kon voorspel nie. Hoewel die invloed van MTV, en gewilde MTV-programme soos TRL, merkbaar was, het MK die fokus nougeset op die plaaslike musieklandskap gehou. MK (eers MK89) was nie tot Afrikaanse musiek of kunstenaars beperk nie, maar het ’n voorheen ontwykende platform geskep waar veral jong rockers kon eksperimenteer, hul voete vind, beter word, groter droom. Indie musiek het in dié tyd floreer; só ook ’n meer oorkoepelende skeppingsdrang, met alewige hoër standaarde en gehalte wat die norm geword en tot in ander bedrywe – veral film – oorgeloop het. Die kanaal sluit in 2013 en ja, ek huil steeds daaroor.
Binnelanders

Première: 13 Oktober 2005
“Buite in die strate / bars jakarandas uit hul nate / en alles lyk van ver af / so gesond…” sing Jak de Priester. Buiten 7de Laan, is daar min plaaslike programme wat so ’n herkenbare temalied soos Binnelanders het. Soos ons dit nou ken, speel Binnelanders in die Binneland-kliniek af en volg ons die haas onmoontlike, en somtyds belaglike, drama wat in die lewens van die persooneel en pasiënte afspeel.
Byna 20 jaar later blyk daar steeds geen keer aan dié sepie te wees nie, maar dit is wel deur ’n hele paar gedaantewisselings. Dit het begin as ’n uurlange drama wat aanvanklik op beide M-Net en kykNET uitgesaai is, maar halfpad deur die reeks se tweede seisoen is dit in ’n sepie omskep. Daar was intussen nog ’n paar onnodige afdraaipaaie – soos toe ’n regspraktyk by die hospitaal-storielyn gevoeg en die titel na Binneland Sub Judice verander is – maar sedert 2011 word dit eksklusief op kykNET as ’n halfuurlange sepie uitgesaai.
Karakters en akteurs het oor die twee dekades heen gekom en gegaan – van die veelbekroonde Cindy Swanepoel, Clint Brink, en geliefde wyle Bradley Olivier, tot Gys de Villiers en Elma Postma. Spelers soos Hans Strydom, Hykie Berg, Reynardt Hugo, Odelle de Wet en Je-ani Swiegelaar is tans in die rolverdeling.
Orion
Prèmiere: 11 Julie 2006
Trackers, Heart of the Hunter, Devil’s Peak – reekse wat gegrond is op die topverkoperboeke van Deon Meyer. Die eerste TV-verwerking was egter Orion, ’n aksieriller-reeks met Neil Sandilands in die hoofrol as ene dr. Zatopek van Heerden, wat op ’n reeksmoordenaar jag maak. Ook in die rolverdeling tel onder andere Albert Maritz, Erica Wessels en Yvonne van den Bergh.
Boer soek ’n Vrou

Première: 30 September 2008
Dié realiteitsreeks se 16de seisoen het pas afgesluit met veral twee paartjies wat met hartjies in hul oë na mekaar kyk, maar ek dink nie enigiemand sou in 2008 kon voorspel hoe gewild dié maatsoekreeks, toe met Elma Postma as aanbieder, sou word nie. Die gewildheid daarvan kan deels toegeskryf word aan hoe kykers met die boere (en die deelnemers) se soeke na liefde – suksesvol aldan nie – kan vereenselwig. Dit was – en is steeds – ’n hoopvolle reeks; een wat waagmoed aanmoedig. Vir sommige mense is dít vreeslik cringe; tog hou hulle nie op kyk nie.
Die 17de seisoen word volgende jaar uitgesaai en met Marciel Hopkins wat pas haar laaste uittog saam met die span afgesluit het, is Reandi Grey in die aanbiedersrol aangestel.
Molly en Wors
Première: 2009
Molly en Wors draai om die heeltemal absurde Visagie-gesin: Molly (Lizz Meiring), Wors (Willie Esterhuizen), en hul kinders, Vaatjie (Gerhard Odendaal) en Blapsie (Carien Botha).
Ek dink wat my die meeste van dié sitkom bybly, is die Visagies se daaglikse aansit-ontbyt. Wie eet so elke liewe dag?!
Nietemin, hierdie is vir ’n baie spesifieke mark bedoel. In daardie opsig doen Esterhuizen as skrywer en regisseur briljante werk tesame met ’n rolverdeling wat verstaan dat meer definitief meer beteken.
Getroud met Rugby

Première: 7 April 2009
Dié sepie was aanvanklik ’n dramareeks wat deur Deon Opperman en Hanli Rolfes vervaardig is, maar ná vyf seisoene is die reeks, wat draai om die hardnekkige Stryders-rugbyspan, in ’n sepie omskep. Dit was nie net akteurs soos Werner Coetser, Mandi Baard, Christel van den Bergh en Altus Theart wat kykers getrek het nie – boeiende storielyne was oor die hele verloop van Getroud met Rugby se bestaan ’n treffende kenmerk.
Allerlei intriges, skandale, huwelike, seksuele verhoudings, rugbypolitiek en verraad het van die veld af ontvou en kykers op ’n tuimeltreinrit van emosies geneem. Daar was byvoorbeeld Lienkie (Baard) se kanker-storielyn, Simon (David Louw) se selfdood, Henk (Quentin Krog) wat vir Kristien (Marlee van der Merwe) ontvoer het en wou vermoor, Ivy (Tené Minderon) se verkragting, en, natuurlik, ’n gay rugbyspeler op Afrikaanse TV (Adrian Steyn as Ryno).
Proesstraat
Première: 22 Januarie 2010
Van Suid-Afrika se skerpste tonge en flinkste grapmakers was deel van dié improvisasie-komedie – werklik enig in sy soort; toe en nou. Die reeks is op die Duitse improvisasie-komediereeks, Schillerstrasße, gegrond en deel van die (gevaarlike) pret was dat dit sonder ’n draaiboek voor ’n gehoor opgeneem is. Boonop is dit dan, om getrou te bly aan die improv-genre, grootliks ongesensor of geredigeer uitgesaai. Elke episode is improvisasie van hoek tot kant, gelei deur prompts wat via gehoorstukke aan die verskillende deelnemers gegee is. Waldemar Schultz was die spil waarom die stories gedraai het – die episodes speel immers in sy “woonstel” in ene Proesstraat af. Ook deel van die gedugte span was onder andere Melt Sieberhagen, Pierre Breytenbach, Esther von Waltsleben en Martelize Kolver.
eNuus
Première: 18 Julie 2010
Met die aanvang van dié Afrikaanse nuusbulletin, is kykers uiteindelik ’n onafhanklike Afrikaanse TV-nuusbron gebied. Tot in daardie stadium was kykers op die SAUK, die openbare uitsaaier, se televisienuusbulletin aangewese as hulle dit in Afrikaans wou kyk. Dié daaglikse bulletin word al vir meer as 14 jaar in samewerking met eMedia se eNews saamgestel en word klokslag om 19:00 op kykNET uitgesaai.
(Intussen is die SAUK se Afrikaanse bulletin sedert Maart vanjaar telkens oor kanale – en verskillende tydgleuwe – heen rondgeskuif. Soveel so dat kykers in ’n stadium nie geweet het waar en wanneer om dit te vind nie, het Thinus Ferreira op TV with Thinus berig.)
Bravo!
Première: 22 Maart 2012
Top Billing… maar in Afrikaans. En met meer glans. En beter.
Bravo! is, soos Kwêla, een van kykNET se ankerprogramme. Stapelkykstof mos. Die program word tans aangebied deur Ewan Strydom, Reynard Slabbert en Marciel Hopkins, en saam gee hulle vir kykers ’n agter-die-skerms-blik op ons plaaslike glanswêreld in die binnekringe van bekendes.
Kokkedoor

Première: 4 November 2013
Onthoukokke, kinkelkokke, beoordelaars wat soms eerder daai happie wil uitspoeg, en sweet wat by almal aftap… Hoewel kosprogramme geensins ’n nuutjie in 2013 was nie, was die uitstaande gehalte van dié produksie wel iets… onverwags. Op die beste manier. Boonop is die aard van dié realiteitsprogram só dat kykers nie kan help as om ’n span te kies en saam te stres en te swets nie.
Uit Kokkedoor het spin-offs soos Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie ook gespruit. En dan natuurlik Kokkedoor Vuur & Vlam waarin deelnemers die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braai-vaardighede moet beïndruk.
Suidooster
Première: 16 November 2015
Suidooster is die eerste Afrikaanse sepie wat in Kaapstad verfilm is, maar meer besonders is hoe dit ook die eerste Afrikaanse sepie is met ’n Moslem-gesin, die Samsodiens, as een van die storie se spilpunte.
Uit die staanspoor het dié sepie se storie-ontwikkelaars en skrywers ook ’n “let’s go”-benadering gehad wat moontlike taai storielyne betref – veral as iets nog nie plaaslik op skerm aangepak is nie. Daar is etlike voorbeelde, waaronder die meer onlangse verslawingsstorielyn wat gesien het hoe Mymoena (Jill Levenber) vir haarself en haar waardes aan dobbelverslawing verloor.
Jawaahier Petersen, wat die rol van Kaashifa in die sepie vertolk en ook as kulturele raadgewer op die stel van Suidooster werk, het in ’n onderhoud met terloops gesê dat al het hulle geweet die storie sou reaksie ontlok, die groot fokus was om die storie so outentiek en eg as moontlik te vertel. “Daar is ’n baie fyn lyn tussen storievertelling en sensasie in ’n TV-produksie. Maar in die geval van Suidooster, en baie ander produksies wat uit die Afrika-bodem kom, is elke storie ’n uitbeelding van die waarheid en wys dit werklik wat gebeur, maar binne die realm van televisie,” het Jawaahier verduidelik.
Dís sulke storielyne wat kykers vasgenael hou – al vir nege jaar lank.
Die Boekklub
Première: 12 Januarie 2016
Die Boekklub het betower met sy storie oor skrywer Tom Niemandt (Armand Aucamp) en die groep mense wat hy ontmoet as hy ’n onverwagte draai in ’n Karoo-dorp, Merweville, maak. Ook in die rolverdeling tel onder andere Jana Cilliers, Nicole Holm, June van Merch en Anrich Herbst.
Met die aanvang van die derde seisoen (daar is ongelukkig net drie) het die reeks se skepper en skrywer, Louis Pretorius, die lys boeke wat Tom en sy boekklub gelees het, met terloops gedeel. Van Dalene Matthee se Susters van Eva tot Marita van der Vyfer se Wegkomkans – hier is die volledige lys.
Hotel

Première: 11 Julie 2016
Met Hotel het skeppers Bennie Fourie en Stiaan Smith werklik hoog – en met ’n vriendelike middelvinger aan geykte vertellingsmetodes – gemik. Die skryfwerk was ewe laf as slim, en sommer gou het dié mokumentêre-komediereeks ’n houvas op kykers gekry.
Soos Watkykjy vir terloops oor dié reeks geskryf het: “Daar was sedert Orkney Snork Nie in die laat tagtigs weinig Afrikaanse komediereeks met karakters wat Suid-Afrikaners so laat skater én so diep in ons harte gekruip het – dis nou totdat Hotel sy buiging op die kassie gemaak het. Kortom, die gebeure van Hotel speel by die fiktiewe Fransen Hotel in die ewe fiktiewe dorpie van Fransenberg in Mpumalanga af. Hier probeer die onbekwame personeel hul bes om dié substandaard hotel se deure oop te hou midde allerlei komiese krisisse, wanbestuur, en dan sélfs onse nimmereindige pandemie in die finale seisoen… Dink aan Hotel as The Office wat so paar kopieë van Pharos se Afrikaanse Verklarende Woordeboek ingesluk het.”
Die Byl

Première: 12 Julie 2016
Is daar ’n meer ikoniese speurder in Afrikaanse televisie? Methinks not. Waldemar Schultz lewer al vir vyf seisoene ’n geïnspireerde vertolking van Piet van der Bijl, ’n speurder wat steeds genadeloos jag maak op die land se boosaardigste reeksmoordenaars.
Die reeks is geskoei op die ware loopbaan van sekerlik die bekendste speurder in Suid-Afrika, Piet Byleveld. Byleveld het glo ’n 99%-sukseskoers oor sy 38 jaar diens in die Suid-Afrikaanse polisiediens gehad.
Die Byl is een van Suid-Afrika se langdurigste misdaadreekse – en waarlik een een van bestes vir meer as net Schultz se fynbesnaarde spel. Die karakters, met ’n rolverdeling wat Lika Berning, Marvin-Lee Beukes, en Milan Murray, insluit, is volrond en goed ingekleur. Veral die wreedaardige verskeidenheid haatlike moordenaars – die een oënskynlik meer diabolical as die ander – is uitstekend uitgepluis en vertolk deur nommerpas spelers, waaronder Deon Lotz en Laudo Liebenberg. Dis ook danksy die weldeurdagte tekste dat die karakters se boë noukeurig met die oorkoepelende storielyn verweef word.
Arendsvlei
Première: 1 November 2018
“Van die eerste gay troue op ’n plaaslike sepie tot die lekkerte van die ergste TV-skurke in Audrey (Taryn Hess) en Wengrid (Rehane Abrahams) – Arendsvlei was ’n fees wat kykers aand ná aand laat huil, lag en naels kou het,” skryf Tarren-Lee Habelgaarn kort voor dié telenovela sy laaste episode vroeër vanjaar uitgesaai het.
Arendsvlei se impak strek veel verder as hoe dit as kykNET se eerste Afrikaanse telenovela die weg vir produksies soos Diepe Waters en Skemergrond gebaan het. Dié storie, wat aanvanklik net drie keer ’n week uitgesaai is, het mettertyd so gewild geword dat kykers op nog ’n aand se intrige en drama aangedring het. Lee-Roy (Roberto Kyle) en Wesley (Craig Adriaanse) se troue in 2021 was ook ’n eerste van sy soort vir Afrikaanse televisie.
Ons het ook destyds op terloops oor die impak van hoe dié gay verhouding op TV uitgebeeld is, geskryf: “Om openlik gay te wees, is dikwels ’n moeilike realiteit, veral op die Kaapse Vlakte en in die bruin gemeenskap. Arendsvlei is een van die eerste sepies wat mense dwing om soms gemaklik met hul ongemak te word met hul uitbeelding van hul verhouding. Só speel dit ’n belangrike rol om bewusmaking vir die LGBTQ+ gemeenskap te skep.”
Dié telenovela het ook van die beste skurke op TV gehad. Case in point: Wendy (en toe later Ingrid) het al die hare op ons arms laat rys. Vir dié vrou moes jy woes koes.
Baie van die akteurs het ook die geleentheid gekry om van die episodes te regisseer, ’n besluit wat Roberta Durrant, die kreatiewe vervaardiger van Arendsvlei, geneem het met die doel om potensiaal te ontgin en te ontwikkel.
Alles Malan

Première: 9 Julie 2019
Alles Malan begin as ’n tipiese coming-home verhaal as Frik (Ivan Zimmerman), sy vrou, Tessa (Nadia Valvekens), hul tienerdogter, Elani (Greteli de Swardt), en aangenome seun, Freek (Mateo Olivier), uit Engeland na tuisbodem in die Paarl terugkeer. Dis ’n bekende premis wat familiedramas betref, maar ook eie genoeg aan die plaaslike konteks. Dis geskoei op die realiteite van die alledaags – elke gesin het immers hul geheime, kry swaar én vind vreugde op verskillende maniere, en ja, meeste families kan lekker baklei.
Die reeks, met die gedugte Van Rooyen-span (Corné en René) agter die stuur, vat raak juis omdat dit uit en uit ’n mooi storie is. Midde ’n amperse “allergie” vir earnestness in storievertel, vind Alles Malan se twee seisoene ’n versigtige balans om te keer dat sy opregtheid in stroperigheid omtiep.
Nêrens, Noord-Kaap

Première: 31 Augustus 2021
“Om Nêrens, Noord-Kaap se premis op te som as die verhaal van drie vervreemde broers wat sukkel om heling te vind na hul ma se dood, is om dit van sy besonderse veelvlakkigheid te verhinder,” skryf ek destyds in my resensie oor Deel I.
“Nico Scheepers se aanslag is ’n digterlike een. Melodies, selfs. Daar’s geen haas om die storie van die Adendorff-broers (vertolk deur De Klerk Oelofse, Geon Nel en Albert Pretorius) te vertel nie. Hulle was nog klein toe hul ma dood is – ’n trauma waarvan ook nie hul pa al genees het nie. ’n Mens gaan aan, ja, maar dit beteken nie jy lewe nie. En dis ook hoe ’n mens pa Lourens (Frank Opperman) ontmoet – half-dood, ’n amperse zombie wat voed op die verdraagsame geduld – en selfs tot ’n mate die bejammering – van sy naastes. Dit is ’n moeilike en wipplank-verhouding wat hy met die kyker moet bou – verafsku jy hom, of is jy hom genadig? Dat só ’n tweedrag gelyktydig in die agtergrond afspeel (bewustelik vir kykers, al dan nie), is te danke aan ’n weergalose interpretasie van ’n fynbesnaarde teks.”
Dieselfde is waar van Deel II. Dieselfde toorkrag en vindingrykheid is in elke sin en gebaar en kinkel in die storielyn te vinde. Dit was reeds wonderbaarlik hoe Scheepers, wat Nêrens, Noord-Kaap gegrond het op sy gelyknamige toneelstuk, ’n storie vol vleis en bloed en binnestes vir TV geskep het. Dat hy die storie sinvol, met deernis en sonder om die karakter- en emosiegedrewe aard daarvan prys te gee, nog verder kon uitbrei, is iets magies. En die sielomwentelinge bly volop.
Wie word ’n miljoenêr
Première: 27 Oktober 2021
Die eerste Afrikaanse weergawe van dié internasionale reeks met Rian van Heerden as quiz master is een van die lekkerste op-die-voorpunt-van-jou-stoel-skree-uit-die-kombuis-uit-vasvraeprogramme op TV. Kyk, as Rian eers begin om die deelnemers in hul eie antwoorde en kennis te laat twyfel deur oor en oor (en oor) te vra, “Is jy seker? Wil jy jou antwoord verander?”… Bygesê, dit sit nie in enigeen se broek om met ’n reguit gesig só genadeloos te tart nie. ’n Groot rede hoekom die reeks so goed werk, is omdat dit Rian se hande op die stuurwiel as aanbieder is.
Magda Louw

Première: 2 Januarie 2023
Magda Louw is aanvanklik deur Desiré Gardner, wat ook die naamrol vertolk, as ’n eenvrou-verhoogproduksie geskep. Nadat dit eers in 2021 deur kykNET tot ’n storiefilm ontwikkel is, is dit toe in ’n komediereeks omskep.
Die storie draai meerendeels om Magda en haar man Erhard (’n heerlike Hannes van Wyk), wat aan ’n werklikheidsreeks deelneem. So gebeur dit dan dat daar ’n kameraspan is wat hulle oral volg om hul lewens vas te lê. Desiré het al voorheen gesê dat is Magda Louw ’n “tong-in-die-kies” en “knop-in-die-keel”-kykie op die onvermydelike dinge in die lewe is. Dinge soos ouer word, en die onkeerbare draai van die horlosie.
Wat van dié storie een van kykNET se komedie-kroonjuwele maak, is die kombinasie van Gardner se briljante skryfwerk, en die akteurs wat dié ratse kwinkslae oor ons allesomvattende alledaags met intieme herkenbaarheid vertolk.
Juffrou X

Première: 30 April 2024
“Juffrou X is moeilike kykstof, maar dis ʼn fantastiese en realistiese blik op ʼn donker wêreld van skoolgeweld, bendes, dwelmmisbruik – en oor ʼn enkele onderwyser wat met Wiskunde en waagmoed, haar leerlinge se lewens wil verander,” skryf Riëtte van der Wat in haar resensie oor dié besonderse dramareeks deur die bekroonde dramaturg Tertius Kapp.
“Juffrou X,” skryf sy verder, “is ʼn storie wat nog lank by ʼn mens bly spook en wat jy wéér wil kyk, sodat jy kan probeer verstaan. Dit gee gesigte en name aan die mense wat elke dag in bendeverwante-misdade doodgaan; aan elke kind in ons land wat self moet sien kom klaar; vir daai onderwysers wat hulle lewens spreekwoordelikheid neerlê vir hulle leerders en oor wie daar dalk, as hulle gelukkig is, in die verbygaan ʼn brokkie oor die skerm flits terwyl die hoofnuus oor korrupte politici en goedbetaalde rugbyspelers op die voorgrond rammel.”
Wat is jou gunsteling kykNET-program? Praat saam op ons sosiale media-kanale op Facebook en Instagram.