“Sisterhood above all” is ’n alomteenwoordige refrein in die eerste vier episodes van Dune: Prophecy. Maar, soos een van die jong vroue in dié einste organisasie later in ’n desperate pleidooi die waarheid hardop uiter, “Sisterhood. Not sister.”
Dune: Prophecy is ’n sci-fi-reeks in herkoms en erfenis, losweg gegrond op die eerste boek in die Great Schools of Dune-trilogie, Sisterhood of Dune. Dis een van vele stories in die Dune-wêreld wat nie deur die oorspronklike skepper, Frank Herbert, geskryf is nie, en eerder deur sy seun Brian, tesame met Kevin J. Anderson, ná Frank se dood. Die reeks is egter ook, getrou aan sy grondslag en Herbert se invloed, ’n drama wat ingewikkelde en verweefde politieke en etiese vraagstukke en metafore in sy are het.

Hoewel dié reeks die visuele en ruimtelike grootsheid van Denis Villeneuve se 2021- en 2024- Dune-duet mis, bied dit wel ’n tekstuur wat dié flieks in filmformaat ontwyk het. Ja, Prophecy kom wel soos Game of Thrones en House of the Dragon uit die HBO-stal, maar die Dune-wêreld is een van besonderse storiedetail, ’n skepping uit ’n sonderlinge verbeelding. Waar die films die maksimum voordeel van die medium kon geniet om ’n epiese visuele ervaring te skep, word daardie omvangrykheid in ’n veel meer uitgebreide narratiewe vertelling as televisiereeks omgesit.
Dis ’n kompromie, en as jou bekendstelling aan Dune en Paul Atreides eers via Timothée Chalamet in die Villeneuve-flieks was, gaan jy dalk moeiliker byt. En jy gaan geduld moet hê: Die eerste tien minute van die loodsepisode is sonder fanfare of drama – dis eerder ’n oorsig wat die geskiedenis en redes vir die stand van sake soos die reeks begin, uitlê. Dis ’n vreemde keuse om só plat te begin; die teenoorgestelde van die oeroue, goue storievertel-reël, show, don’t tell. Maar, ja, die konteks waarin die storie afspeel – sowat 10 148 jaar voor Paul Atreides se geboorte – is geweldig fynbesnaard en lywig.
Die reeks draai grootliks om die ontstaan en bestaansrede van wat later die Bene Gesserit sou word, maar wat ons hier in Prophecy as die Sisterhood leer ken. Valya Harkonnen (Emily Watson, met Jessica Barden as ’n jonger Valya in tydspronge na die verlede) regeer die Sisterhood met ’n ysterhand en irriterende skynheiligheid. Haar suster, Tula (Olivia Williams in die hede, en Emma Canning in die verlede), is aan haar sy. In die reeks se hede staan die twee aan die hoof van ’n skool waar jong vroue van reg oor die Imperium leer hoe om menslike leuenverklikkers te word.
Teen dié agtergrond is die vertelling se ryp politieke kommentaar dus selfs meer treffend en goed uitgeplot, met ’n warrelende gehamer op wie kwansuis mag het teenoor wie werklik mag het.
As hoof besluit Valya watter van die hooggeplaaste families een van dié jong vroue ná hul studies in diens kan neem. Die waarheid is ’n duur kommoditeit en Valya bestuur die waarde daarvan vir die Sisterhood se gewin. “For the sisterhood” mos. Maar dis uit die staanspoor duidelik dat wraak een van haar grootste dryfkragte is en dat die Sisterhood nie die volle omvang – of hoe dit hul bestaansrede beïnvloed – besef nie.
Op die oppervlak is die Sisterhood se vaardighede belangrik om te keer dat die wêreld in die hande van korrupte magjagters beland. Maar dis nie so eenvoudig nie. Die Sisterhood se stigter en Valya se voorganger en mentor, Mother Raquella (Cathy Tyson), het absoluut geen geloof in die mensdom gehad nie. As daar iets is om te vernietig, dan sal hulle, glo sy. Sy skep toe ’n DNS-argief van die magtigste families in die heelal. Deur die “regte” verhoudings en huwelike te fasiliteer, glo Raquella dat die Sisterhood leiers kan “kweek” wat hulle dan kan beheer. Uiteindelik, glo Raquella en later ook Valya, sal hulle só ook die einste prophecy in die titel kan beheer en self bepaal wie die stukkende heelal se oorblyfsels gaan red.

Ons weet hulle kry dit uiteindelik, 10 148 jaar later, reg. (Paul Atreides, Messias, at your service.) Maar daar is baie dinge wat eers moet gebeur. Baie bloed wat moet loop. Baie brûe om te brand. Brandstapels van wraak wat een ná die ander vlamvat.
As ons hoor, “Sisterhood. Not sister,” is dit asof die tafel gedek word vir die begin van daardie struwelinge. En nie net in die Sisterhood nie. In die groter prentjie is daar rebelle wat teen die keiser (Mark Strong) in opstand wil kom, terwyl ander in die keiser se binnesirkel begin twyfel of sy verbod teen die sogenaamde “thinking machines” nie te eng is nie. Die belange van een mens teenoor dié van die groep, of die belange van ’n heersende groep teenoor dié van onderdruktes, is ’n ewigdurende tema. In life and in story. Teen dié agtergrond is die vertelling se ryp politieke kommentaar dus selfs meer treffend en goed uitgeplot, met ’n warrelende gehamer op wie kwansuis mag het teenoor wie werklik mag het.

Die hoofspelers volbring dié temas met spel wat wél gehoor gee aan storievertel se goue reël van show, don’t tell. Watson se Valya is ’n kil vrou wat haar dom hou vir haar eie geveinsdheid, terwyl sy ook as ’n strategiese meester die pionne ronddonner. Williams, daarteenoor, speel met ’n ferm sagtheid wat daarvoor sorg dat ’n allemagtige kinkel in episode drie jou geheel en al (liewe genade!) onverwags betrap. Vikings se Travis Fimmel is hier as Desmond Hart ’n vreugde (op die eienaardigste manier) om te aanskou. Strong as Emperor Javicco Corrino speel hom so bedees, jy wonder eintlik hoe hy keiser geword het. En dan ontmoet ons sy vrou (Jodhi May) en dinge maak veel meer sin…
Dune: Prophecy se grootsheid lê in die ongesiene oorloë wat afspeel in die gedetailleerde narratiewe tekstuur; geanker aan hoë oktaan politiekery wat selfs in jou alledaags herkenbaar is. Ongetwyfeld meesleurend.
Nuwe episodes is weekliks op M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Stream) en Showmax beskikbaar.