Menu terloops
In Gons [15 Apr 2025]

‘Niggies’: Kristen Raath, Cintaine Schutte en nog spelers pak die 80’s aan


Met die vertelling van kykNET se meesleurende waremisdaaddrama ‘Niggies’ wat oor meer as 20 jaar strek, is daar vanaf die vierde episode ’n hele nuwe lot akteurs wat hulle by die reeds indrukwekkende rolverdeling aansluit.

Kyk 'Niggies' op DStv Stream

‘Niggies’: Kristen Raath, Cintaine Schutte en nog spelers pak die 80’s aan

Die vierde episode van Niggies begin in 1966 en wys, onder meer, hoe André (Janru Steenkamp) besluit om by die polisie aan te sluit om ’n speurder te word en sy suster en niggie se moord te ondersoek.

In die middel van dié episode se verloop, skuif die gebeure egter na 1984. André (Beer Adriaanse) is nou ’n speurder en woon saam met sy vrou, Ria (Kristen Raath) en hulle twee kinders, Klippe (Emma Nelson) en klein André (Neels Clasen Jnr.), in Kroonstad.

Wie’s nou wie?

Niggies
Kristen Raath. Foto: Verskaf

Kristen, wat ’n BSc-graad in rekenaarwetenskap het en ook ’n talentvolle sangeres is, is veral bekend vir haar rolle in 7de Laan en Wyfie.

Emma en Neels Jnr. is beide die kinders van akteurs. Emma is Pierre Nelson, veral bekend as ds. Kassie in Nêrens, Noord-Kaap, se dogter, en Neels Jnr. is die seun van Neels Clasen wat die rol van Henning Nel in Niggies speel. Dit is die agtjarige Neels Jnr. se debuut in ’n TV-reeks.

Niggies
Neels Clasen Jnr. en Emma Nelson. Foto: Verskaf

Beer is bekend vir flieks soos Wonderlus en Kanarie, reekse soos Hotel, asook sy werk as draaiboekskrywer en regisseur.

Ook te sien in die tonele wat in 1984 afspeel, is Cintaine Schutte as die volwasse Henda, en Jane de Wet as Poppie, Henda en André se niggie.

Niggies
Beer Adriaanse. Foto: Verskaf
Niggies
Cintaine Schutte. Foto; Verskaf
Niggies
Jane de Wet. Foto: Verskaf

Jana Kruger (Een keer om die son) is Santjie Schoeman wat werksaam by die polisie in Kroonstad is. Carel Nel is steeds At van Wyk, maar sy rang is nou dié van kolonel.

Wilhelm van der Walt (Donkerbos, Skemergrond) is in episode 4 te sien as Spyker, ’n polisieman wat korrup geraak het en met ’n dwelmsindikaat deurmekaar is.

Stian Bam (KoekWaterfront), Wessel Pretorius (FynskrifStiekyt), Daneel van der Walt (Nêrens, Noord-KaapFraksie), Mienke Ehlers (Magda LouwWyfie), Melissa Myburgh (TrompoppieDinge van ’n kind), Morné Visser (Spoorloos, Dis ek, Anna) en Neels van Jaarsveld (Diepe watersFynskrif) tel onder die ander bekende akteurs wat later in die reeks hul verskyning maak.  

Sedert die eerste episode van Niggies uitgesaai is, is daar hernieude belangstelling in die saak. kykNET nou ook ’n spesiale podcast vervaardig om hul vertelling oor die ontvoering, verkragting en moord van die twaalfjarige niggies Issie Fourie en Petro Nel in 1966 aan te vul.

Niggies
Jana Kruger. Foto: Verskaf
Niggies
Wessel Pretorius. Foto: Verskaf

Wat sê kykers?

“Vanaand het my diep geraak,” het Elsabé Ras op kykNET se Facebook-blad geskryf ná die derde episode. “Terwyl die moordenaars wel later vir die moord vasgekeer is, wat van die emosionele skade wat hierdie moorde aan die familie gedoen het? Hoeveel is daar nie weggeraap van die ouers, die sussie, boetie, tannie en ooms nie?”

“Alle respek vir elkeen wat betrokke was om hierdie storie vir ons oop te breek. Stukkie vir stukkie,” skryf Elize Fourie.

“Mens lees daagliks van moorde en weet nooit van die tragedie wat daarna in families afspeel nie. Puik spel en reeks,” sê Bets Ferreira.

Terloops-skrywer Riëtte van der Wat het in haar resensie geskryf: “Elke skoot vertel ’n storie, of bevat ’n stukkie simboliek: twee skoolrokkies wat nooit gedra sal word nie, hang gestryk en reg vir die skooljaar wat die volgende dag sou begin; twee draad-tuinstoele, vrolik geverf, staan leeg voor die huis; twee lykies, onder wit lap, word van die moordtoneel af weggedra… Hoewel dit moeilike kykstof is, word dit in die hande van vernuftige storievertellers ’n moet-kyk wat wys misdaad is allermins ’n nuwe verskynsel in Suid-Afrika.”


Niggies saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Luister die podcast op Spotify, YouTube en ook DStv Stream.

Gaan ook saam met ons agter die skerms op die stel van Niggies.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies