Menu terloops
In Recaps & Resensies [22 Apr 2025]

‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud


Die Britse reeks ‘Adolescence’, oor ’n dertienjarige seun wat ’n klasmaat doodsteek, behoort verpligte kykstof vir ouers en kinders en by skole te wees. Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.

Deur Riëtte van der Wat
‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud
Kyk lokprent

Daar woon twee seuns onder my dak. Die een is nog klein, die ander is ’n amper-tiener. Omdat ek ’n ma is van seuns, was dit fisiek en emosioneel uitputtend om die Netflix-reeks, Adolescence, te kyk, en bly die boodskappe en waarskuwings daarin al twee weke lank in my onderbewussyn weergalm.

Deels oor die manlike woede en gebroke verhoudings tussen ouers, veral pa’s, en seuns wat dit uitbeeld. Ook oor die onmiskenbare rol van sosiale media en influencers, op tieners vandag én omdat dié reeks op Netflix die realiteit oopvlek dat ‘vandag se kinders’ dalk grootword in ’n wêreld wat geskep is deur volwassenes, maar dat ouers nog minder as hul kinders van hierdie ‘nuwe’ wêreld weet en verstaan.

As Adolescence enigiets so duidelik soos daglig maak, is dit dat kinders deesdae te vinnig moet grootword en blootgestel word aan idees en denkwyses waarvoor hulle (en ons) nog nie naastenby emosioneel reg is nie. 

Hel, hoe het dit gebeur dat ek soos ’n preutse tante met ’n stywe bolla klink? Die hemel weet ouers van my generasie beskou onsself as oopkop. Ons glo daar het verdieping plaasgevind teenoor hoe vorige generasies verhoudings met hul kinders aangeknoop het. Gentle parenting is all the rage. En tog is daar ’n al groter wordende kloof tussen (sommige?) ouers en kinders vandag, spesifiek soos dit in Adolescence uitgebeeld word. Hel die ouer-kind-verhouding dalk nou té veel oor na die kant van onafhanklikheid en te min verantwoordelikheid?

Nie ‘wie’ nie, maar ‘hoekom’?

Twee voorvalle van tienerseuns wat jong meisies doodgesteek het in die Verenigde Koninkryk het die skepper van die reeks, die briljante akteur Stephen Graham, só aangegryp dat hy wou probeer vasstel waarom hierdie dinge so gereeld in die VK gebeur.

Graham en die draaiboekskrywer Jack Thorne ondersoek hierdie vraag uit verskeie hoeke in die vier episode lange Adolesence. Die storie handel oor ’n dertienjarige seun, Jamie (Owen Cooper) wat sy veertienjarige klasmaat, Katie, op ’n parkeerterrein langs ’n speelgrond doodsteek met ’n mes. Graham speel sy pa, Eddie.

Adolescence
Owen Cooper as Jamie Miller in Adolescence. Dit is, hoewel moeilik om te glo, dié jong akteur se debuutrol. Foto: Netflix

“Die reeks,” het Graham in ’n onderhoud gesê, “was nooit veronderstel om ’n ‘whodunnit’ te wees nie. Dit is eerder ’n ‘why did he do it?’.” Die feit dat nóg die kyker, nóg die skeppers van die reeks ’n duidelike antwoord op hierdie komplekse vraag het teen die tyd wat die spookagtige laaste note speel, is een van die redes waarom Adolescence ekstra hard tref. En moontlik ook waarom dit binne weke ná vrystelling een van die mees gekykte reekse van alle tye op Netflix is.

Vier episodes met slaankrag

Daar is al op elke denkbare platform oor die reeks geskryf en kritici is dit eens dat dit sekerlik van die beste televisie-inhoud van die jaar is. Dit is deels te danke aan die skryfwerk, wat die fokus verskuif van die impak van die gebeure op die slagoffer se gesin, na hoe dit die oortreder se naastes raak. 

Binne die beperkte raamwerk van slegs vier episodes het Graham en Throne besluit om die gebeure oor sowat ’n jaar te laat afspeel. As kyker ervaar jy nie die hofsaak wat sekerklik op Jamie se inhegtenisname moes volg nie. En ook nie op sy eerste dae, en weke, in ’n jeug-aanhoudingfasiliteit nie. Wat jy wel sien, is genoeg om die prentjie so volledig as moontlik te in te kleur, met die maatstaf dat daar nie maklike antwoorde sal wees nie.

In die eerste episode word Jamie in hegtenis geneem by sy huis en na die polisiestasie geneem vir ondervraging. In die tweede episode besoek die speurspan, Luke Bascombe (Ashley Walters) en Misha Frank (Faye Marsay) Jamie en Katie se skool om antwoorde te kry. In die derde (en krities mees aangeskrewe) episode, besoek ’n sielkundige Briony Ariston (Erin Doherty) Jamie sewe maande ná sy inhegtenisname in die tronk. In die vierde episode probeer die Miller-gesin ’n mate van normaliteit handhaaf op Eddie se vyftigste verjaarsdag.

Adolescence
Erin Doherty as Briony Ariston, Owen Cooper as Jamie Miller in Adolescence. Foto: Ben Blackall/Netflix

Binne die bestek van elke uurlange episode vlek Graham en Thorne die gebeure vanuit ’n ander hoek oop en word nuwe vrae, en moontlik antwoorde, aan die lig gebring. Die kyker word ingetrek by die aksie, en deel gehou daarvan, met die nou reeds veelbesproke manier waarop Graham, Thorne en die regisseur Phillip Barantini, besluit het om die reeks in een, ononderbroke skoot (bekend as ’n ‘oner’ in die bedryf) te verfilm. Dis ’n geweldig geslaagde tegniek en die tegniese vernuf wat dit geverg het om reg te kry, is verstommend. Gaan kyk gerus video’s aanlyn van hoe die hoof van fotografie, Matt Lewis, dit reggekry het.

Die polisiestasie in die eerste episode is spesifiek gebou om te verseker die aksie sou ononderbroke wees, maar dis veral in episode drie, wanneer die emosioneel uitmergelende uur tussen die sielkundige en Jamie uitspeel, wat die impak van die ononderbroke skoot gevoel word.

As nuweling-akteur met geen vorige ervaring op sy kerfstok nie, is Owen Cooper besonders in die rol van die skoongesig-seuntjie Jamie. Hy lyk die een oomblik breekbaar en onskuldig, maar die volgende oomblik word hy vreesaanjaend en kan tierend van woede teen die vrou in die vertrek uitvaar. En Doherty is doodgewoon briljant as die sielkundige wat steeds bly hoop dat daar iets goed in Jamie steek, maar wat teen die einde van die episode heeltemal gewalg is. Soveel so dat sy nie eers aan die toebroodjie kan raak wat sy vir hom saamgebring het nie.

Adolescence
Owen Cooper as Jamie Miller, Erin Doherty as Briony Ariston, in Adolescence. Doherty is doodgewoon briljant as die sielkundige wat steeds bly hoop dat daar iets goed in Jamie steek, maar wat teen die einde van die episode heeltemal gewalg is. Foto: Ben Blackall/Netflix

Is Jamie dan dalk ’n psigopaat en is dít wat hom gedryf het tot sy wrede daad, en die volgehoue ontkenning ten spyte van videobewyse teen hom? Dis nog ’n moontlikheid, maar dis nie so eenvoudig nie. En dit bring ons terug by die ‘hoekom?’.

‘Nie net ouers se skuld nie’

Graham-hulle wou ouers nie blameer nie, maar tog vra Eddie en sy vrou Manda (Christine Tremarco) hulself weer en weer af wat hulle anders kon gedoen het. Of hulle beter ouers kon gewees het. Maar Eddie onthou in episode 4 hoe sy eie pa hom gereeld geslaan het met ’n belt en hoe hy homself belowe het om dit nooit aan sy eie kinders te doen nie.

Adolescence.
Christine Tremarco as Manda Miller, Stephen Graham as Eddie Miller, in Adolescence. Dié ouerpaar vra hulself keer op keer af wat hulle anders kon gedoen het. Foto: Netflix.

I’m a good dad. And he’s a good kid,” sê hy ook reeds in episode 1 vir die speurders. Maar maande later sê Manda vir hom dat hulle meer moes doen om Jamie werklik te kon ‘sien’. Want waarmee was hy nou eintlik besig in sy slaapkamer ná hy smiddae by die huis gekom het en die deur toegeslaan het? Hoe op aarde drentel ’n kind saans na nege op straat rond sonder dat sy ouers dit eers weet? Moes Eddie nie minder gewerk het en meer aandag gegee het aan sy seun nie?

’n Ontstellende werklikheid wat die Miller-gesin versinnebeeld, is die feit dat dit met enigiemand kan gebeur. Eddie en Manda is gelukkig getroud.  Hulle is lief vir hul kinders. Jamie se ouer suster, Lisa (Amélie Pease), is op pad universiteit toe. Hulle woon in ’n netjiese huisie in Wes-Yorkshire waar Eddie sy loodgietersonderneming bedryf.

How did we make her?” vra Eddie in ’n stadium nadat Lisa haar ouers met groot insig laat verstaan dat hierdie ding hulle altyd gaan bly volg.  Waarop Manda antwoord: “The same way we made him.”

Draai die gety

Speurder Bascombe, wat met intense, eerlike spel deur Ashley Walters uitgebeeld word, beliggaam die feit dat ouers dinge nog kan verander, as hulle net meer ingestel is op die dinge waarmee hul kinders te doen het. (Walters was glo self as tiener in die tronk ná ’n misdaadvoorval en dit het ’n groot impak op sy aanslag tot sy karakter gehad). Ná Bascombe se besoek aan Jamie se skool dink hy anders oor sy eie seun, Adam (broos vertolk deur Amari Bacchus), se onwilligheid om soggens skool toe te gaan en besef hy opnuut hoe belangrik dit is om sy eie kind te ken.

Adolescence
Ná speurder Bascombe (Ashley Walters) se besoek aan Jamie se skool dink hy anders oor sy eie seun, Adam (broos vertolk deur Amari Bacchus), se onwilligheid om soggens skool toe te gaan en besef hy opnuut hoe belangrik dit is om sy eie kind te ken. Foto: Ben Blackall/Netflix

As Adolescence enigiets so duidelik soos daglig maak, is dit dat kinders deesdae te vinnig moet grootword en blootgestel word aan idees en denkwyses waarvoor hulle (en ons) nog nie naastenby emosioneel reg is nie. 

Bascombe kry ook by die skool te doen met Jade, die vermoorde Katie se beste vriendin. Sy is seker een van die reeks se mees tragiese figure en al is Fatima Bojang se karakter slegs in enkele tonele, word die hopeloosheid en alleenheid wat sommige tieners ervaar ongelooflik kragtig deur hierdie karakter uitgebeeld. Nie net deur hoe Jade geskryf is nie, maar ook deur Bojang se spel. Jade kon immers nie die dag ná haar vriendin se moord tuis bly om te treur nie, omdat haar eie ma nie wil hê haar kind moet alleen in ‘haar huis’ wees nie.

Aanspreeklikheid strek ver

In dieselfde asem belig Graham en Thorpe die feit dat dit nie net die ouers is wat aanspreeklik gehou kan word nie. Die samelewing in geheel is aandadig. Regerings en skole ook. 

Die Britse skoolsisteem is ’n skrikwekkende ding, maar daar is iets geweldig universeel aan hoe die skool uitgebeeld word. Onderwysers skree op leerlinge, kinders boelie mekaar oop en bloot, twee seuns ignoreer ’n onderwyseres botweg as sy vra dat hulle hul hemde moet insteek en ’n mansonderwyser drentel laat by ’n klas in, net om ’n video aan te sit met die geskiedenisles daarop. Watter tipe (manlilke) rolmodel is hy? En hoe verwag die skool dat kinders volwassenes moet respekteer, as niemand in daardie omgewing juis tieners se menslikheid raaksien nie?

Speurder Frank som dit goed op in ’n gesprek met Bascombe: “Al wat jy nodig het wanneer jy op skool is, is een goeie onderwyser en een positiewe ding.”  

Hoewel goeie onderwysers in Jamie-hulle se skool nie heeltemal afwesig is nie, is daar te min van hulle.

Subversiewe dubbellewe

Dan is daar ook tieners self, wat aanlyn wegkom met die allerwreedste gedrag teen hul skoolmaats. Dis maklik om onderduims te wees in die kuberruim, waar jy in ’n mate verwyderd kan bly van die leed wat jy ander aandoen.

’n Ontstellende werklikheid wat die Miller-gesin versinnebeeld, is die feit dat dit met enigiemand kan gebeur. Eddie en Manda is gelukkig getroud.  Hulle is lief vir hul kinders. Jamie se ouer suster, Lisa, is op pad universiteit toe. Hulle woon in ’n netjiese huisie in Wes-Yorkshire waar Eddie sy loodgietersonderneming bedryf.

In ’n voorbeeld van Graham en Thorne se fantastiese skryfwerk, ry Eddie, Manda en Lisa op Eddie se verjaarsdag na die hardewarewinkel. Lisa sit tussen haar ouers, doenig op haar selfoon, terwyl haar ma haar vertel hoe Eddie by  ’n skooldisko rolbalskoene gedra het en sy naam met ’n plank geslaan het toe hy geval het. Kinders het hom weke daarna nog (goedig?) gespot, maar dit was oop en bloot en hy kon die humor insien. Sosiale media beteken kinders word deesdae gebrandmerk op ’n meer diepgaande manier.

Tieners word boonop gekondisioneer en geradikaliseer deur aanlyngemeenskappe en die sogenaamde ‘manosphere’, waar mans aangepor word om hul manlikheid ‘terug te vat’. Aanlyn ‘incel’-gemeenskappe (dit verwys na iemand wat nie uit eie keue selibaat is nie), is plekke waarna meestal jong mans aangetrek word in ’n soeke na betekenis en gemeenskap.

In hierdie subversiewe onderwêreld, gedryf deur selferkende-vrouehaters soos Andrew Tate, is daar simbole met betekenis wat ver buite die bereik bly van die van ons wat nie daardie wêreld ken nie. Op Instagram het tieners ’n hele emoji-taal geskep wat van ’n rooi pil iets veel skadeliker maak. Incel-kultuur is ’n geweldige komplekse onderwerp en kinders se vatbaarheid daarvoor is volgens kenners ’n noodkreet om verstaan te word.

Adolescence
Christine Tremarco as Manda Miller, Stephen Graham as Eddie Miller in Adolescence. Foto: Ben Blackall/Netflix

Should we have done more, love?” vra Eddie vir Manda in een van die laaste tonele van die reeks. Waarop sy antwoord: “I think it would be good for us to accept that we could have done more.

En dít is eindelik die hoofdoel wat Graham-hulle met hierdie belangrike reeks gehad het: om gesprekke tussen ouers en kinders in huishoudings te begin; om volwassenes bewus te maak van die kompleksiteite waarmee grootwordjare in die kuberruim gepaard gaan en om die samelewing in geheel aan die skouers te skud sodat ons dinge kan verander, voor dit vir nog Jamie’s en Katie’s te laat is.


Kyk dié reeks nou op Netflix.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies