Reeds vroeg in die tweede seisoen van The Last of Us – al sewe episodes is vooraf aan resensente beskikbaar gestel – hou skeppers Craig Mazin en Neil Druckmann die spreekwoordelike spieël op. Dis meer subtiel as hoe The Handmaid’s Tale oor ses seisoene heen as veranderlike boodskapper ingespan is, maar die weergee daarvan is ook meer dringend; dikwels verborge onder lae simboliek wat soos kledingstukke een vir een afgestroop en op die vloer neergeneuk word. Selde is die spieël in die dialoog. Maar wanneer realiteit wel só dié fiktiewe narratief binnetree, kom dit as ’n waarskuwing en ’n teregwysing vanaf een van die karakters:
“It’s either that or we do nothing. Because that is what everybody else is going to do for us. Nothing. A whole world of people who won’t lift a finger if something bad happened to me or you.”

Die tweede seisoen tel op vyf jaar ná Joel (Pedro Pascal) se leuen aan Ellie (Bella Ramsey) oor wat werklik gebeur het toe hy haar aan in die eerste seisoen se finale episode gered het. Terwyl Joel vir Ellie vertel het dat haar immuniteit tot die “infected” nie tot ’n geneesmiddel kon lei nie, is die waarheid egter dat ’n geneesmiddel wel moontlik is… Maar dat Ellie met haar lewe sou moes betaal.
Dis reeds in die openingstonele duidelik dat die tweede seisoen deels op dié leuen en sy gevolge – verreikend én onvoorsiene – bou. Nou woon Joel en Ellie in Jackson, Wyoming, ’n stad wat so suksesvol herbou is dat daar selfs elektrisiteit is. Maar tussen Joel en Ellie is daar ’n kloof wat haas onoorbrugbaar lyk as ons hulle weer ontmoet. Die redes is duister met die skrywers wat dié kaart tot amper die laaste oomblik versteek.
Diegene wat reeds bekend is met die gewilde en gelyknamige videospeletjie waarop dié reeks gegrond is, weet min of meer wat wag. Maar waar die eerste seisoen die eerste speletjie as grondslag gebruik het, het die tweede speletjie se propvol storielyn vereis dat dit eerder oor twee seisoene vertel word.
Neem dít ter harte met die kyk van dié seisoen se sewe episodes. Anders gaan die talle storiedrade wat nog tergend hang as die eindtitels begin rol erg pla. Dís ’n frustrasie, maar een wat slim gebruik word. Veral wat die toetrede betref van nog nuutgeskepte karakters wat nie in die videospeletjie verskyn nie. Een só karakter is Jackson se een en enigste sielkundige, Gail (’n briljante, uitmuntende, voortreflike Catherine O’Hara). By haar klop Joel vir hulp aan om die ontrafeling van sy verhouding met Ellie te hanteer.

En dan is daar die uiteindelike toetrede van Abby (Kaitlyn Dever) en haar trawante. Dever is, uiteindelik, gemaklik in ’n rol wat baie van sy speler vereis. Hieroor kan ’n mens niks kwytraak sonder om belangrike dele van die storie weg te gee nie. (Terloops, die lys spoilers wat resensente gevra is om te vermy, is twee blaaie lank). Behalwe om te sê dat Dever in dié uittog werk daarvan maak om kritiese konteks en begrip vir haar karakter te skep. Só word sy ook deel van die groter geheelbeeld wat uitdagende vrae opper oor die mensdom se vernietigende geweldsiklus waarin een groep se sondes deur ’n ander groep se sondes (en weer ’n ander en ’n ander en ’n ander ad infinitum) geregverdig word. Waar dié kringloop eindig, weet niemand. Kan dit eindig? Dís ’n groter vraagstuk. En hang in die agtergrond soos die stank van vrot vleis.
Terwyl hierdie ’n weerspieëling, hartverskeurend en morsig, wreed en dreigend, van ons wêreld is, is dit ook ’n verhaal oor liefde. Dit wat ons doen om dit te kry, te hou en te gee.
Die afwisseling van die groter geheel wat as ’n aksiebelaaide avontuur afspeel terselfdertyd as wat die karakters van nader beskou word, skep vir die kyker genoeg ruimte om te verhoed dat ’n mens deur een of die ander – die intieme emosionele warboel of die aanhoudende, indrukwekkende aksie – verswelg word. Die vernouing van die lens op Ellie werp veral baie vrugte. Ramsey se vertolking vat raak, en vat diep, maar onbeskaamd so. Dis gewortel in menslikheid én alles wat ons kan kwes. Weereens, daar is min wat ’n mens kan sê sonder om die storie weg te gee…
Die reeks word wyd beskou as die beste verwerking van ’n videospeletjie – TV én film – en dié seisoen bied selfs meer van daardie toorkrag, veral wat die uitnemende visuele effekte en kinematografie betref. Daar is ook dele van dié seisoen wat die videospeletjie skoot vir skoot volg. Só verhef Mazin, ’n TV-veteraan ook bekend vir die angstige Chernobyl, en Druckmann, skrywer-regisseur van die videospeletjies, dié seisoen tot ’n volgende vlak. Een waar die intensiteit van die visuele vertelling in absolute akkoord is met die verhaal se emosionele polsslag.
Die vertelling het, soos Ellie, grootgeword.

Uiteindelik is hierdie veel meer as net ’n post-apokaliptiese aksierillerreeks of die TV-verwerking van ’n gewilde videospeletjie. Terwyl hierdie ’n weerspieëling, hartverskeurend en morsig, wreed en dreigend, van ons wêreld is, is dit ook ’n verhaal oor liefde. Dit wat ons doen om dit te kry, te hou en te gee. As kykers word ons deurentyd gevra om Joel se besluit om sy surrogaat-dogter – ten koste van almal anders – te beskerm, uit allerlei oogpunte te beskou. Só besef ons dan hoe meervoudig die waarheid is. ’n Credo – een se held is ’n ander se vyand – klink hier op. Soos met The Handmaid’s Tale, en Netflix se Mo, word daar nie onnodige vrae hieroor gevra nie. Eerder ongemaklike vrae.
Ná episode sewe, en met die wete dat die derde seisoen (wat pas bevestig is) die verhaal verder neem, voel die Oostenrykse skrywer en joernalis Ernst Fischer se woorde gepas: “In a decaying society, art, if it is truthful, must also reflect decay. And unless it wants to break faith with its social function, art must show the world as changeable. And help to change it.”
The Last of Us doen hier die werk wat kuns moet doen, geanker in ’n zeitgeist waarin die mensdom skynbaar wéér menslikheid misken. Kringlope jong, it gets us every time.
Weekliks, vanaf Maandag, 14 April op Showmax. Ook regstreeks op M-Net (DStv-kanaal 101) om 04:00 met ’n herhaling om 21:00.
Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.