Menu terloops
In Onderhoude [11 Apr 2025]

Twee karakters, een aktrise: Sandi Schultz vertel oor haar dubbele rol as tweeling op ‘Diepe Waters’


In ’n verstommende wending soos net die ‘Diepe Waters’-skrywers kan, het kykers onlangs uitgevind dat Zelda (Sandi Schultz) ’n geheime tweelingsuster, Hilda, het. En sy’s nie hier om saam om die kampvuur by die familiereünie te sing nie…

Kyk 'Diepe Waters' op DStv Stream

Twee karakters, een aktrise: Sandi Schultz vertel oor haar dubbele rol as tweeling op ‘Diepe Waters’

Sandi Schultz se Zelda is ’n gewilde karakter op Diepe Waters – deels vanweë die aard van dié komplekse karakter self, maar ook danksy Sandi se toegewyde vertolking wat van Zelda so ’n seldsame karakter maak. Maar vir dié storielyn moet Sandi ook in die skoene van Zelda se tweelingsuster, Hilda, staan. Hilda – ’n rou, harde vrou met ’n baie donker verlede – het met haar dogter, Kelsey (gespeel deur Robyn Rossouw), se hulp vir Zelda ontvoer en haar identiteit oorgeneem.

In ’n gewaagde en spanningsvolle storielyn probeer Hilda dan om haar suster se lewe geheel en al oor te neem, maar die fyn verskille tussen die twee is besig om ander karakters agterdogtig te maak…

Die storie tot hier

Kelsey, wat onlangs by SkinInvestment begin werk het, het geleidelik Zelda se vertroue gewen – maar agter haar onskuldige glimlag het ’n donker plan geskuil. Sy en haar ma het saamgespan om Zelda te laat verdwyn. Nou, met Zelda uit die prentjie, het Hilda haar plek ingeneem en probeer om elke deel van haar lewe na te boots. Dís egter makliker gesê as gedaan.

Want, hoewel Hilda alles probeer om soos Zelda te wees, is sy beslis nie dieselfde fors en elegante vrou nie. Haar growwe kant begin deurskemer – en mense begin dit opmerk. Zelda se dogter, Pam (Tracey-Lee Oliver), en Gys (Justin Strydom), begin wonder hoekom ‘Zelda’ dan nou so vreemd optree. Sal hulle agter die kap van die byl kom voordat dit te laat vir die regte Zelda is?

‘Alles moes verander’

Vir Sandi was die kans om twee totaal verskillende vroue tot lewe te bring ’n opwindende uitdaging.

“Die moeilikste deel was om vir Hilda ’n eie agtergrond, eie wrokke en oortuigings te skep,” vertel sy. “Zelda is ’n gesofistikeerde, stylvolle vrou, maar Hilda – wat tronk toe is – het ’n heel ander pad geloop. Hulle moes verskillend praat, beweeg en optree.”

DIEPE WATERS, SANDI SCHULTZ
Vir Sandi Schultz was die kans om twee totaal verskillende vroue tot lewe te bring ’n opwindende uitdaging. Foto: Verskaf

Om Hilda ten volle geloofwaardig te maak, moes Sandi alles aan haarself verander – van haar naels tot haar postuur en aksent. “Hilda het hangskouers, sy rook, en sy loop en praat anders. Ek moes van my gemanikuurde naels ontslae raak. Maar die stem was die moeilikste – dit het nie natuurlik vir my gekom nie,” vertel sy. 

“Die aand voor ons die eerste toneel met Hilda geskiet het, het ek begin paniekerig raak. Dit het net nie reg geklink nie. Gelukkig het my kollega, Stephanie Baardman (Lettie), my oor die foon gehelp om die karakter meer geloofwaardig te laat klink. Dít het baie gehelp.”

Agter die skerms het regisseur Gert van Niekerk ook sy hande vol gehad. “Hierdie storielyn het van die draaiboekafdeling af gekom – hulle is gereeld in werksessies waar hulle sulke briljante idees uitdink wat ons dan op die skerm moet sit,” sê hy. 

“Maar hierdie een was ingewikkeld omdat Sandi albei rolle moes vertolk. Ons het baie tyd spandeer om Hilda se voorkoms en gedrag die teenoorgestelde van Zelda s’n te maak. Selfs haar lyftaal moes verander sodra sy Zelda se klere begin dra het.”

Hoe werk dit agter die skerms?

Tonele waar albei susters saam in een skoot moes verskyn, was ’n groot tegniese uitdaging. Die aktrise Chantal Stanfield het ingestaan as een van die twee susters wanneer hulle in dieselfde toneel verskyn het.

DIEPE WATERS, SANDI SCHULTZ
Hilda begin om Zelda se lewe geheel en al oor te neem, maar die fyn verskille tussen die twee is besig om ander karakters agterdogtig te maak… Foto: Verskaf

“Ons het op verskillende dae geskiet – eers Zelda se kant en dan Hilda s’n,” verduidelik Van Niekerk. “Ons het ’n stand-in gebruik vir Sandi vir oor-die-skouer-skote, en alles baie fyn beplan. Die moeilikste tonele was waar Hilda moes optree asof sy Zelda is. Dit moes net geloofwaardig genoeg wees sodat die ander karakters nie dom lyk om dit te glo nie.”

Al het hierdie storielyn dubbel die tyd geneem om te skiet, was die uiteinde die moeite werd – nie net vir die reeks nie, maar ook vir Sandi as aktrise. 

“Die lekkerste was beslis die oordrewe tonele,” sê Sandi. “Hilda is so ’n bietjie over the top, en dit was lekker om daardie verskille in liggaamstaal en stem te bemeester.”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies